157. Glo jy in sprokies?

[Johannes 6]

Ons word oorweldig met fantasie deesdae. Boeke en flieks vermaak met ‘n vernuwing in die ganse genre wat min of meer definieer soos volg:

 Fantasie is opgemaakte stories met elemente van die onmoontlike of onwaarskynlike. Karakters het magiese kragte. Dit is dikwels ‘n goeie manier om die hede te verken, hoewel die storie of sprokie in die verlede of toekoms afspeel. ‘n Hooftema is dikwels die stryd tussen goed en kwaad en die betekenis van dood en lewe.

Daar is te veel titels om op te noem. Ouer sprokies soos die Verhale van Narnia en The Lord of the Rings en nuwer stories soos Harry Potter en die reekse draakverhale vind almal hulle tuiste in die biblioteke van kinders en baie volwassenes.

Kritici daarvan, dikwels uit die Christengemeenskap is volop. Voel ons so desparaat om te ontsnap uit ons lewenstryd dat ons gryp na die verbeeldingsproduk van iemand anders? Ons is, na alles. die post-modernistiese gemeenskap wat trots is op ons status as die agente van realisme, feitelike argumente en die gesaghebbende wetenskap van die werklikheid om ons. Ons behoort nie die mistige satisfaksie van wonders, tekens en ander ongegronde storietjies te geniet nie.

Het ons die orcs van die Ring-trilogie nodig om goedheid en boosheid te verklaar? Steun ons op ‘n weermag van half-bok half-mens (fawns) om ons in die stryd te bemoedig? Het jy dan nie ‘n groot sug van verligting uitgeblaas toe die arende Frodo en Sam teen die oorweldigende hordes uit Mordor kom help nie?

Ek wil glo in die arende wat kom as die oorlog hopeloos teen my draai. Ek wil al die verstommende eienskappe van die arend tot my beskikking hê. Ek wil ‘n arend WEES. Ja, ek verklaar ek IS ‘n arend. Ek kan omdat ek elke simbool en kragtige belofte in die woorde van Die Woord glo.

…maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie. (Jesaja 40:31, OAB)

Die skrywer van Narnia beskryf dit so:

The value of the myth is that it takes all the things we know and restores to them the rich significance, which has been hidden by “the veil of familiarity”. The child enjoys his gold meat (otherwise dull to him) by pretending it is buffalo, just killed with his own bow and arrow. And the child is wise. The real meat comes back to him more savoury for having been dipped in a story; you might say that only then is it the real meat. If you are tired of the real landscape, look at it in a mirror. By putting bread, gold, horse, apple, or the very roads into a myth, we do not retreat from reality: we rediscover it. As long as the story lingers in our mind, the real things are more themselves.

(CS Lewis – On stories) [My emphasis]

Hier in Johannes 6 vra die mense ‘n teken. Hulle wil die onmoontlike sien. In hulle eie poging om vas te klou aan die hoop op die Messias wat hulle uit al hulle swaarkry sal red, weet hulle hy moet getoets word met die wonderwerke van Eilia en Moses.

Jesus verklaar self Hy is die Messias. (Johannes 6:30-40)

Nou moet Hy dit bewys.

Die wonderwerk wat hulle nou net ervaar het, het hulle herinner aan die manna in die woestyn. Die manna was die brood van God. Die Messias moet dit bring. Die brood in die wonderwerk was nie genoeg nie. Die manna wat deur Jeremia versteek is, moes aan hulle getoon word. Hulle wou ware hemelse brood hê, nie die wonderwerk wat uit die aardse kom nie.

Jesus herinner hulle dat die manna van God af kom, nie van Moses af nie. Die manna is die simbool van die brood van God. Hy was die ware brood wat die diep innerlike honger sal versadig. Fisiese honger is oppervlakkig.

Die Brood van die lewe gee lewe. Jesus is die Brood van die lewe, meer as net fisiese lewe. Ware lewe is ‘n verhouding met God, wat net moontlik is deur Jesus. Sonder Jesus is daar geen lewe nie, selfs al het jy brood vir elke dag. Hy is die ware voeding – die brood wat innerlike lewe gee.

Jesus nooi ons om Hom in die Woord te sien, na Hom te kom want Hy is toeganklik, dan in Hom te glo en aan Sy beginsels te onderwerp en in Hom toegang tot God verkry. Hierdie hele proses is ‘n werk van die Heilige Gees.

Meer nog, in Jesus het ons die ewige lewe, veilig selfs in die dood. Die ewige lewe is ‘n nou-lewe, ‘n God-lewe voor die dood.

Herken ons God se boodskap in ‘n pakkie wat ons nie van hou nie? (6:41-51)

Ons klou vas aan ons eie opinie, vooroordele en doelstellings. Dit is die pad na nederlaag. Ons luister sonder om te leer. Ons kritiseer die kerk, die Christene om ons en in ons selfsug en arrogansie is ons blind vir die waarheid.

Die Here trek ons. Die woord wat Hy gebruik is helkuein, wat beteken Hy trek ons met goedertierenheid. Dis een van die ou Totius-woorde van die Ou Vertaling (OAB). Die woord het ‘n ryk betekenis wat God se onvoorwaardelike liefde en Sy onstuitbare goedheid insluit. Die woord veronderstel weerstand. Dit is dieselfde woord wat gebruik word om ‘n swaar, vol visnet wat ingetrek word, te beskryf, of om ‘n swaard te trek (Johannes 18:19) of soos Paulus en Silas voor die owerhede te sleep (Handelinge 16:19).

As jy in die beloofde land ingaan nie, sal jy in die woestyn ronddwaal. As jy die reuse en vyande van die beloofde land vrees, het jy geen deel aan die belofte nie.

Die mense het bekende dinge gehoor. (6:51-59)

In die rituele van dieroffers van ouds, is ‘n deel van die vleis aan die priesters gegee en ‘n deel aan die een wat die offer bring. By die fees is die god self genooi en die heidene het geglo as jy die vleis eet, “eet” jy die god en word so deel van hom. Dis hoe die lewe van die god en alles wat hy is deel van jou word.

Die misterie-godsdienste van die eerste eeu het ook die storie van ‘n god wat ly en sterf en dan weer lewe, gehad. Dit is dikwels in ‘n passiespele opgevoer sodat die gelowige die identiteit van die god kon aanvaar. Hy moes met die dood en lewe van die god identifiseer en so die dood ontkom.

Antieke mense het gedroom om een te word met ‘n god. Hulle het geëet en gedrink om dit te verkry. Die “taal” wat Jesus praat is bekend. Johannes verduidelik hoe hierdie proses met die hulp van die Heilige Gees plaasvind.

Jesus was die gedagte van God self in menslike vorm. Aanvaarding van Jesus maak jou een met God.

Bloed is lewe. Sonder bloed is daar geen lewe nie. Die Jode het geglo dat die bloed aan God behoort en hulle kon nie die bloed van ‘n dier eet nie. (Genesis 9:4; Deuteronomium 15:23)

Jesus is buite ons, totdat ons ons lewe aan Hom onderwerp, dan word Hy een met ons. Ons voed ons harte en siele in Hom sodat ons die lewe van God kan leef.

Dit is die ware leer van die Nagmaal. Nie net die brood en wyn nie, maar elke keer as ons aansit om te eet, word ons deel van die God wat dit voorsien. God is nie beperk tot die kerk nie. Hy is alle lewe. Die sakrament van die Nagmaal sluit ons hele bestaan in, oral waar ons gaan en almal wat ons teëkom.

Sommige het dit moeilik gevind om dit te glo. Dit was ‘n intellektuele struikelblok. (6:59-65)

At the heart of a religion there must be mystery, for the simple reason that at that heart there is God. In the nature of things man cannot ever fully understand God. Any honest thinker will accept that there must be mystery. [William Barclay – Daily Study Bible] (My beklemtoning)

As jy Jesus aanvaar word die misterie ontsluit.

En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid. (1 Timoteus 3:16, OAB)

And without controversy great is the mystery of godliness: God was manifested in the flesh, Justified in the Spirit, Seen by angels, Preached among the Gentiles, Believed on in the world, Received up in glory. (1 Timothy 3:16)

Jesus self sê:

And He said to them, “To you it has been given to know the mystery of the kingdom of God… (Mark 4:11)

Paulus praat dikwels oor die misterie van Jesus. Hy beskryf dit pragtig in Efesiërs (1:9 en meeste van die derde hoofstuk). Hy ontwikkel die tema verder in Kolossense. (1:26,27; 4:3)

My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus. (Kolossense 2:2)

Die bewys van die geheimenis is die Opstanding en die Hemelvaart.

Die krag om te glo kom van die Heilige Gees. Aardse lewe is net die moeite werd met hemelse perspektief. Deur die Heilige Gees kom diep en volledige insig. Ons leef in volle bewustheid van die Bron van lewe.

My WOORDE, sê Jesus, is Gees en lewe. (6:63)

Jesus is bewus van weerstand en verwerping.

Selfs al in hierdie hoofstuk van Johannes, kom ons onder die indruk van die begin van die einde. (6:66-71) Jesus voorspel Judas en die kruis.

Die skare is opgwerk. Groot dinge is aan die gebeur. Baie word gedoop (4:1-3). Die tonge is los oor die hele land – Jerusalem, Samaria en Galilea.

Nou, is daar sommige wat begin wegdwaal. Hulle sien sommer wat aan die kom is. Jesus is opgestel vir ‘n botsing met die Romeine en die kerkleiers. Dis maar beter om uit die moeilikheid te bly en nie die ystervuis van Rome te voel nie.

Hulle is halfhartige volgelinge. Die kruis moet vermy word ten alle koste. Hulle word uitgedaag.

Hulle het gekom om te ontvang, maar nie daarmee rekening gehou dat dit ‘n kruis kan wees nie.

Is die pakket van Jesus nie vir jou aanvaarbaar nie?

Jare is wreed, lyding voel altyd lank en uitgerek. Drome sterf en lojaliteit verdwyn. Ons word klein en bitter. Net Jesus kan ons daaruit haal en groot maak – soos wat oorspronklik bedoel is.

Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,    

(Jesaja 43:4)

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s