194. Wonderwerke – van binne en buite.

As ons praat van wonderwerke dan kan ons nie anders as om magteloos te voel nie.  Ons lewe is onderworpe aan die natuurwette en dinge gebeur daarvolgens.  Dink vir ‘n oomblik wat ‘n wonderwerk is. Die eenvoudigste manier om ‘n wonderwerk te beskryf is seker om te sê: jy wonder hoe dit werk.  Dit is iets buitengewoon, bo en buite die natuurwette.  Dit beklemtoon ons onvermoeë in die verband. Dit is iets wat gebeur wat nie in die gewone omgang van die lewe verklaar kan word nie.

In die woordeboek word ‘n wonderwerk as ‘n verrassende en welkome gebeurtenis omskryf, wat nie in wetenskaplike terme verklaar kan word nie, en daarom slegs as die ingrype van ‘n goddellike wese beskou kan word. Wonderwerke is altyd positief. Nêrens in die definisie is daar ‘n sweempie van negatiwiteit nie.  Die buitengewone, hoogs onwaarskynlike, onmoontlike gebeurtenis word verwelkom met verligting en vreugde.

Selfs die mees verwoede ateïs en agnostikus moet erken dat daar een historiese figuur in hierdie wêreld is wat onmiskenbaar en onmiddellik met wonderwerke assosieer word, of jy die wonderwerke glo of nie – naamlik Jesus.  Soveel male in die debatte van die Nuwe Ateïste word die wonderwerke van Jesus en diegene wat dit glo en verkondig, met bespotting en vernedering aangeval. Deur al die eeue, het die opgetekende wonderdade van Jesus bly voortbestaan as ‘n bron van hoop en uitkoms in die slegste en mees katastrofiese omstandighede.

Wonderwerke word gewoonlik beskryf in die woorde van mense wat dit self ervaar het of ooggetuies daarvan was.  Sulke wonderwerke het te doen met die onverklaarbare en buitengewone verandering in ‘n mense se omstandighede of persoon wat ook deur ander waargeneem kan word.  ‘n Drastiese positiewe draai in slegte omstandighede of ‘n persoonsverandering wat deur ander waargeneem kan word – soos iemand wat vrede maak in ‘n twis of vergewe waar hy te na gekom is, is in ons wêreld ‘n buitengewone gebeurtenis.

Daar is dinge wat ons lewe beskryf en dinge wat ons lewe definieer.  Slegte omstandighede en fisiese siekte kan dalk ons lewe beskryf, maar dis ons keuse of ons toelaat dat dit ons lewe defnieer.  As ‘n volwasse mens kan mens in ‘n groot mate bepaal wat jou lewe defnieer, veral in omstandighede wat nie positief is nie, of selfs binne-in ‘n lewenskrisis.  Jy kan besluit wat die kenmerk van jou lewe is – jou omstandighede of jou innerlike keuses.

Dit bring ons by ‘n belangrike geestelike beginsel.  Ons innerlike wese is die enkel grootste bepalende faktor van ons menswees.  Ons is mens soos God – drie in een – gees, siel en liggaam.  Ons gees maak op ‘n diep vlak met God se gees, die Heilige Gees, kontak wanneer ons besluit om ons lewe aan hom oor te gee en weer gebore word.  Ons siel is ons persoonlikheid wat uitgedruk word in ons wil, verstand en emosie.  Tot die mate waartoe ons gees, aan die Heilige Gees onderworpe, ons persoonlikheid bepaal, is die mate waartoe ons geestelik groei.  Dit is ‘n wilsbesluit, net soos die kragtige wilsbesluit om aan God te behoort ons hele lewe in ‘n ander rigting stuur.

Dit bring ons by die volgende belangrike geestelike beginsel – die hemelse rangorde van besluitneming.  Die kind van God leef anders en besluit anders as die ongelowige.  Ons prioriteite word in die sterkste moontlike terme met die van die wêreld gekontrasteer.  Ons lewensbeginsels en besluite word aan die Gees van God onderwerp.  Ons gees ontvang leiding van die Heilige Gees en dit bepaal ons besluit op sielsvlak wat dan deur ons liggaam uitgevoer word.  Die liggaam is die laaste in die hemelse rangorde van leefbeginsels.

God se kind = Heilige Gees > gees > siel > liggaam.

Die insentief vir ons lewe vind ons in die ondeurgrondelike wysheid van God.

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

 Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (Romeine 11:33, 36)

Die ongelowige leef andersom.  Sy liggaam se behoeftes en gemak, bepaal sy besluite op sielsvlak – wat hy wil, hoe hy voel en wat sy denke beïnvloed. Dit bepaal sy gedrag met die noodwendige gevolg in sy diepste wese – sy gees.

Wêreld se kind = liggaam > siel > gees.

Die gebrokenheid van die wêreld, die gebrek aan moraliteit en die skerp fokus op liggaamlike behoeftes wat verkeerdelik verhef word tot die hoogste goed, het stukkende mense tot gevolg. So dikwels kan tragedie en verskeurde harte na sondige besluite terugherlei word.  Owerspel, onbetroubaarheid, verraad, liefdeloosheid, hardheid, vrees en woede en die algemene aanbidding van die liggaam is die oorsaak van gebroke verhoudings en verskeurde kinders wat onskuldig in hierdie proses ingesleep word met katastrofiese gevolge.

Ons het verlede keer Jesaja 61 bespreek. Hoe kosbaar is dit om te weet Jesus het gekom om:

…te verbind die gebrokenes van hart… (61:1,OAB)

Die wonderwerk van binne!  Bodemklipvriende, is dit nie wonder-woorde van genesing nie!

Het jy Jesus-verbande nodig?  Het jy ‘n gebroke hart wat elke nou en dan bloei? Hoor weer en weer:

He has sent me to bind up and heal the brokenhearted (AMPC)

Hoe sal dit kan gebeur?  Wat is Jesus-verbande?

Die antwoord is in Jesaja 61:3 – weer die AMPC:

To grant consolation and joy to those who mourn in Zion—to give them an ornament (a garland or diadem) of beauty instead of ashes, the oil of joy instead of mourning, the garment [expressive] of praise instead of a heavy, burdened, and failing spirit—that they may be called oaks of righteousness [lofty, strong, and magnificent, distinguished for uprightness, justice, and right standing with God], the planting of the Lord, that He may be glorified.

Die sleutel-woorde in die vers is: grant en give en in Afrikaans – gee.

Strong’s se definisie verklaar  GEEin hierdie vers soos volg:

 …to put, place, set, appoint, make, ordain, establish, found, appoint, constitute, determine, fix,

maar ook verder die woorde:

…transform into, constitute, fashion, work, bring to pass.

Dit is die wonderwerk van binne.  Dit is die transformasie-misterie, ‘n kragtige werk van die Heilige Gees, wat uitgevoer word volgens ‘n hemelse opdrag op grond van ons besluit om ons stukkende hart in die hande van ons genadige en liefdevolle Pa te plaas.

Volgende keer bespreek ons hoe dit gebeur.  Die sleutel hiervoor is Romeine 12:2.  Mediteer en studeer hieroor tot ons weer gesels.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

139. Wat van jou?

[Johannes 1]

Het jy al ooit jouself in die geskiedenis in verbeel? Waar sou jy geleef het in die dorpies van die Middeleeue, ‘n edelman in ‘n kasteel, ‘n ridder wat vir die hertog veg of dalk die hertog self? Dis redelik moeilik om as vrou te ambisieus oor die geskiedenis te dink, hoewel die geskiedenis vol sterk vroue was. Ek is beslis nie Joan of Arc nie! Vroue wat ek bewonder is selfs verder terug in die geskiedenis – Deborah in Rigters en Huldah in 2 Konings 22. Lees gerus.

Kom ons reis saam na die walle van die meer in Galilea waar almal gepraat het van ‘n man wat mense gesond maak, met die Fariseërs en Skrifgeleerdes argumenteer en na die armes uitreik. Kan jy jou die gepraat rondom die pleine en putte van die Judese dorpies voorstel? Miskien was jy ‘n suksesvolle besigheidsman in die visbedryf om die meer, waar jy die vars vis in sout ingelê het, om te verskaf aan die Romeinse goewerneurswoning in Caeserea of Herodes se paleis in Jerusalem.

Die afgelope Paastyd was ek in die kerk by ‘n preek oor Jesus se intog in Jerusalem op Palm Sondag. Op die skerm was ‘n pragtige foto uit een van die Jesus-flieks wat die gebeure uitbeeld. Terwyl ek na die mense om Jesus kyk, het ek skielik gewonder waar ek sou wees. Ek moet erken ek het ‘n lewendige verbeelding, maar ek het al verskeie kere ondervind dat die Heilige Gees beheer van my verbeelding neem om my geloofsbeelde te wys. Dit is onmoontlik vir my om te dink dat ek self in staat sou wees om dit uit te dink. Een van die mees kragtige geleenthede was toe ek van ‘n oorweldigende vrees verlos is, in die oomblik toe die Here vir my Sy voorsiening en beskerming wys.

Terwyl ek na die skerm staar, het ek vreeslik hartseer geword. Ek het myself nie daar voor met ‘n tak in die hand gesien nie. Ek kon net dink dat ek met my natuurlike supisieuse en huiwerige geaardheid, meer die agterhoede sou vorm en eers sien hoe hierdie ding uitspeel. In gebed wou ek die Here om verskoning vra dat ek so ongelowig sou wees in die werklikheid om Jesus. Ek het Maria Magdalena en Johannes se toewyding bewonder, wat ten spyte van groot risiko Jesus tot by die kruis gevolg het.

In daardie oomblik het die Heilige gees my van die teenoorgestelde gedagte oortuig. In my gees het ek Sy liefdevolle stem “gehoor” wat sê dat ek presies sou wees waar ek nou is. Ek was bewus van die wonderwerk van geloof, saligheid en geestelike insig in die misterie van God wat im my lewe die heel kosbaarste ding is.

Die stap om jou lewe aan Jesus te onderwerp, is ‘n koue rasionele besluit, gevolg deur die wonderwerk van wedergeboorte wanneer die Heilige Gees in jou innerlike wese woonplek opneem. Ek was vol vreugde oor die insig dat Jesus bonatuurlik in die lewens van mense openbaar word, toe net soos nou.

Vir my was dit ‘n oomblik van groot blydskap. Ek was sommer lus en skreeu Hosanna! Ek weet hoe lief ek Hom het en hoe kosbaar Sy woord vir my is, bo alles in hierdie wêreld. Deur die res van die diens het ek my eie intog in Jerusalem geniet, reg daar aan Jesus se sy.

Hoe het die mense geweet Hy is die Messias was hulle so lank verwag het? Dit is juis die tema van hierdie eerste hoofstukke van Johannes. Hy stel Jesus se saak soos ‘n advokaat in ‘n hof, met getuies en bewyse uit die ou geskrifte wat die titel Messias, onderskryf.

1:32-34

Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

Die geleentheid van Jesus se doop was vir Johannes die Doper ‘n diep en onderskeidende gebeure. Daar by die waters van die Jordaan het God Homself as ‘n drie-eenheid openbaar met ‘n stem uit die hemel, Jesus in die doopwater en die Heilige Gees in die vorm van ‘n duif wat op Hom afdaal. Dit was iets wat net die geestesoog met geïnspireerde insig kon sien.

Die doop (Grieks = baptizein, wat beteken om te onderdompel) van Jesus was ‘n kernbelangrike gebeurtenis.

Die duif was ‘n heilige dier. Dit is nie gejag nie en nie geëet nie. Die simbool van ‘n duif was iets baie bekend en geliefd. Die duif het aan Noag die olyftak gebring – ‘n simbool van God se voorsiening. (Matteus 3:16)

Dit was met Jesus se doop dat die Heilige Gees op Jesus kom rus het, op ‘n manier wat vir Johannes die Doper duidelik was.

Die Hebreeus vir Gees is ruach en dit beteken wind. Die Gees van God gee ons drie dinge:

  • KRAG: dit word in Handelinge 2 as ‘n geweldige stromwind beskryf.
  • LEWE: die bestaan van ‘n mens is deur die asem van God.
  • GOD: dit is die manier waarop ons hier op aarde ‘n verhewe, goddellike lewe kan lewe.

Die Gees het die profete geïnspireer. (Miga 3:8,Jesaja 59:21,Jesaja 61:1, Esegiël 36:26-7)

Die Gees bring God se waarheid, gee die mens insig om die waarheid te sien en die vermoë om die waarheid te leef en te verkondig. Vir die Jode was dit nie nuut nie.

Johannes gaan uit sy pad om te verklaar dat die Gees van God op Jesus bly. Dit is nie tydelik nie, dit is ewig. Net soos dit vir ons ‘n ewige inwoning is. Die Heilige Gees deurweek ons wese om die Woord te verstaan en ‘n gees-beheerde lewe te leef. Dit is waarlik God se vuur in ons binneste. ‘n Geesgebed is ‘n uitroep van die hart met geen gedagte aan teologie of liturgie nie, Dit is ‘n wonder-ontmoeting met God self in die privaatheid van die binnekamer soos Jesus self leer. (Matteus 6)

Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. (Jesaja 11:2)

Dit was die belofte oor die Messias. Net so word ons die belofte deelagtig in ‘n Geeslewe.

1:35-39:

Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!” Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?” Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.

Johannes die Doper wys na Jesus as die groot leermeester, terwyl hy weet dat sy dissipels Jesus gaan volg. Hy het geen jaloesie gevoelens nie. Sy oog was op die visioen van die Messias, waarvoor hy die mense voorberei het.

Dit is ‘n ware dissipel – sy oog bly op die visie en die hoër roeping van die Koninkryk van God.

Wat is die visie vir jou lewe?

Neem ‘n oomblik en vra die Heilige Gees om jou gedagtes te inspireer. Skryf dit neer. (Habakkuk 2:15)

Jesus draai om en praat met die volgelinge. Dit is Sy karakter – Hy nader tot ons, as ons die eerste stap gee. Hy maak deure oop. (Jesaja 45:1 en Openbaring 3:8)

Jesus wat omdraai is ‘n pragtige voorbeeld van God se initiatief. Hy kon ons tegemoet, net soos die pa in die storie van die verlore seun. Maak die prentjie van jou hemelse Vader wat jou in Sy arms opvang.

We seek God when He has already found us – Augustinus.

 Die kernvraag is natuurlik: Wat soek jy?

Jou begeerte moet uitgespreek word. Die mense wat Jesus volg kan dalk wettiese argumente soek, of nasionaliste wat ‘n geweldadige oplossing soek. Hulle was nederige mense wat hulle Messias gesoek het. Hulle het heel moontlik verward en onwaardig gevoel en ‘n diepe sielsleemte ervaar. Dit is die perfekte plek om te wees – donker lewens wat by die Lig uitkom om vir altyd te verander.

WAT SOEK JY?

Soek jy veiligheid en materiële voorspoed? Dis nie verkeerd nie. In die geestelike realm tel dit as lae ambisie. Dit is onbevredigend om God te soek net as ondersteuning vir jou eie doelstellings in die lewe. Dit is heeltemal anders as jy Hom soek om waarlik jou lewe in Sy te lig te beskou.

Die dissipels vra: Waar woon Jesus?

Hulle noem Hom rabbi, wat letterlik beteken: my groot meester. Dit was ‘n titel van respek vir ‘n wyse man. Johannes skryf aan die Grieke en gebruik die woord vir onderwyser.

Wat beteken hulle vraag?

Hulle wil nie die kort antwoord hê nie. Hulle wil sit en lank praat, baie vrae vra. Dit is nie net ‘n oppervlakkige nuuskierigheid nie. Hulle wil Hom ken.

Jesus antwoord: Kom saam en kyk.

Sy woorde was bekende woorde wat ‘n leermeester vir sy studente gesê het. Dit het beteken dat hulle saam ‘n pad van leer-ondervinding sal stap, verkieslik oor ‘n lang tydperk.

Johannes was sonder twyfel een van die dissipels waarvan hy skryf. Hy maak ‘n nota van die tyd – 4nm – net soos in ‘n dagboek. Hy dink terug aan daardie middag in Galilea toe sy lewe vir ewig verander het.

 

 

 

114. Ou woorde, nuwe betekenis.

[Openbaring 21]

Almal verstaan die emosies van verandering. Daar is dikwels so ‘n hartsverdeeldheid oor die ou dinge, goed of sleg. Soms kan die verlede spook en selfs byt. Sielsveranderings is die moeilikste. Slegte gewoontes, ou wonde, bitterheid en aanstoot wat in ons hart amok kom dikwels as gevolg van ander mense se sonde in ons lewe.

Met al die uitdagings en stryd in ons lewe, lyk ons harte dalk soos wilde, ongesnoeide tuine, waar bitterheidswortels diep groei en waar die blomme en struike van liefde en omgee sukkel om te blom tussen die dorings en distels van woede en onvergenoegdheid.

Ek juig in die beloftes van vernuwing in die Woord van God. Nie net nou en dan nie – elke liewe dag! Die Here doen nuwe dinge, vergewe altyd en laat ons leef in die nuwe hemel en die nuwe aarde so dikwels as wat ons ons lewe op Hom en Sy realm fokus. Die uitnodiging staan vir tyd en ewigheid:

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet. (Jesaja 1:18,19)

 …deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. (Klaagliedere 3:22,23)

Hoofstuk 21 van Openbaring lei ons in die uiterste, hoogste nuut wat God vir ons berei en wat moontlik is om met aardse taal te beskryf.

Verdoemenis vir die ongelowige word in kontras met die salige heerlikheid van die gelowige gestel. Dit is die droom scenario vir ‘n nuwe begin soos deur Jesaja besing word (65:17).

 Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie.

Wanneer God nuut skep, is die ou dinge in alle dimensies uitgewis en kan dit nie eers onthou word nie.

Kom ons juig in die opskrif van hierdie hoofstuk – Alle Dinge Nuut.

Mediteer oor die elemente van nuut. Hartseer is verby, sonde is weg, duisternis is lig en die tydelike is vervang met die ewige.

Die belofte dat daar geen see meer sal wees nie, was ‘n welkome verligting vir antieke denke. Begrip vir die see kom hoofsaaklik uit mitologiese bronne en slegte ondervinding met skepe wat vergaan in verwoestende storms. Aanvanklik het alle seevaart met die oog op die kuslyn plaasgevind, sonder kompas. Later het kennis van die sterre navigasie ondersteun, maar as ‘n storm die lug donker maak, was daar geen alternatiewe navigasie moontlikheid nie. (Handelinge 28)

Die Nuwe Jersusalem (21:2) se oorsprong vind ons in Griekse filosofie. Plato het die wêreld grootliks beïnvloed met sy idees oor die sienlike en onsienlike. Hy het geskryf dat alles op aarde is onvolmaakte kopieë van die volmaakte hemelse teenkant. Volgens hierdie denkpatroon was daar ‘n perfekte hemelse Jerusalem in teenstelling met die gebrekkige aardse een.

Paulus praat van die hemelse Jerusalem in Galasiërs 4:26 en so ook die skrywer van die Hebreërs (12:22).

Die idee van voorafbestaande vorm mag dalk snaaks klink, maar die konsep dat die ideale en perfekte reeds bestaan beklemtoon dat God die bron van alles is. Daar is groot verwagting vir ‘n hoër en beter lewe.

Na Christus is die nuwe Jerusalem die kerk. Joodse denke het die volle herstel en oorheersing van die Jode as doelwit gestel. Dit is oor eeue heen deur die profete voorspel en besing en gelykgestel aan die fisiese herstel van Jerusalem.

Die kerk is die ware stad, groot genoeg vir al die inwoners en die voorsiening in al hulle behoeftes. ‘n Stad voorsien in alle lewensbenodigdhede. Dienste en mense is beskikbaar in teenstelling met die woestyn en wildernis, waar God op wonderbare maniere voorsien. Dan bring Hy jou in die kerk, die Nuwe Jerusalem, waar jy omring word met Sy voorsiening. Hy is die Bron, altyd.

Die strate van goud is die gawes van die Heilige Gees wat ons wandel en verblyf in die stad bepaal. Die siele van mense is die edelstene (Maleagi 3). God voorsien die lig; daar is geen son nie. Alles waaraan ons gewoond is word vervang met die Goddellike teenkant. In die kerk geniet ons die ononderbroke gemeenskap met God waar Hy die trane wegvee (21:3,4) en die hartseer troos (Esegiël 40:1 – 48:35).

Johannes bring hier al die visioene van die volmaakte bymekaar sodat alle drome en verwagtinge in Jesus vervul kan word. In die lig van die vernietiging van Jerusalem in 70nC, net kort voordat hy hierdie dinge skryf, bemoedig hy in geloof die verhewe verlange na die hemelse Jerusalem.

Die nuwe Jerusalem, die kerk, is ewig en kosbaar. Dit kan nooit vernietig word nie. Ons het gesalfde oë nodig om die volmaakte te “sien”. Dit is ons uitdaging, vandag en elke dag. Om Hom te “sien”, op Sy troon binne in ons omstandighede, is ‘n koninkrykslewe.

Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” (Exodus 14:13)

 Moses daag die volk uit om die teenoorgesteld van hulle vrees te sien. Net soos hulle moet ons die “Egiptiese weermag” in ons lewens hanteer. Ons lewe binne die realm van God se vyand met die krisis en paniek wat dit veroorsaak. Ons enigste skuilplek is die teenwoordigheid van God (21:3-4)

‘n Harde stem, ‘n stem met gesag, kondig die tabernakel aan. Dit is die woonplek van God by die mense. Die woord wat gebruik word is skene, wat beteken. Die woestyntabernakel was ‘n tydelike struktuur wat opgepak en vervoer kon word. Dit is net ‘n voorsmakie van die glorie wat kom. God woon by Sy mense.

Hier op aarde ondervind ons die hemel in die konstante bewustheid van Sy teenwoordigheid.

Die Griekse woord skene en die Hebreeus schecinah is saam gebruik onder die vroeë Christene, miskien ook oor die woorde baie dieselfde geklink het. Skene is gebruik om die woning van die mense by God aan te dui en schecinah is gebruik om God se woning by die mense te beskryf. In Salomo se tempel (1 Konings 8:10-11) het die shechinah glorie die tempel gevul.

[Hierdie konsep is alom bekend in die Ou Testament: Levitikus 26:11-12, Jeremia 31:33 en 32:39 – 41, Esegiël 37:27, Hooglied 6:3]

Al die voordele van die hemelse Jerusalem word deur Jesaja, eeue voor Jesus besing. (25:8, 35:10, 65:19). Geen trane meer, geen hartseer. Die belofte word in Matteus 5:4 en Filippense 3:10 herhaal

In Christus is alle dinge nuut (21:5-6). ‘n Kind van God is ‘n nuwe skepsel (2 Korintiërs 5:17). Nuwe dinge word belowe in Jesaja 43:18-19.

Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

Johannes word opdrag gegee om dit neer te skryf. Dit is soos ‘n kontrak, bindend en betroubaar. Ons kan altyd teruggaan en seker maak van die bepalings.

Alles is voltooi in Christus. Daar is geen ander God nie. (Jesaja 44:6)

Hy is die Begin, arche wat die bron van alle dinge beteken en die

einde, telos wat meer as net die einde beteken; dit beteken die doel van alle dinge.

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (Romeine 11:36)

…één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.. (Efesiërs 4:6)

Is daar enigiets om by te voeg oor God. Sy belofte staan:

Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. (21:6)

Ons het toegang tot al die geestelike luister en luukse van die hemel. Is daar enigiets wat meer as dit kan beteken? (21:7-8)

Die grootste gawe van alles (21:7) is die vaderskap van God aan ons. Dit het Hy belowe aan:

  • Abraham – Genesis 17:7
  • David oor Salomo – 2 Samuel 7:14
  • Psalms 89:27 – Hy sal My aanroep met die woorde: ‘U is my Vader, my God, die rots wat my redding is.
  • Vir ons dieselfde as bogenoemde.

Daar is geen beter loon moontlik nie.

Die verdoemdes (21:8) word uitgespel: “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars

 Al hierdie sonde het ‘n geestelike implikasie en interpretasie. Dit is die realm van die dier waarin onsedelikheid en leuens regeer, towery in die vorm van dwelms ons jeug steel en soveel soorte verslawings menselewens vernietig; die afgode van die moderne lewe.

Dit is onmoontlik om daarvan gered te word sonder die versoeningsbloed van Jesus.

Ons erfenis is die stad van die lewende God (21:9-27). Dit is ons woonplek, by God in Christus.

Die bruid word aangekondig deur dieselfde engel wat die bakke van verdoemenis hanteer het – verrassend. Die engel spreek die opdrag wat hy van die Troon kry.

 Johannes word na ‘n hoë berg gedra, net soos in Esegiël se visioen (40:2). Hoogte bring nuwe perspektief, verhewe bo die omstandighede. Ons is nog aardsgebonde, maar “sien ” en “hoor” in die Gees vir ‘n dieper en voller lewe. Daar is werklik ‘n berg net buite Jerusalem wat die Psalmis besing (48:1,2):

Die Here is groot! Aan Hom kom al die lof toe hier in die stad van ons God, hier op sy heilige berg, mooi, hoog geleë, en ‘n vreugde vir die hele aarde, Sionsberg teen die noorde, die stad van die Groot Koning.

Now it shall come to pass in the latter days that the mountain of the Lord’s house shall be established on the top of the mountains, and shall be exalted above the hills; and all nations shall flow to it.  (Jesaja 2:2)

Dis die kerk, dis ons, Bodemklipvriend.

Die lig van God is soos die skynsel van jasper. God se glorie reflekteer in die edelstene. Die edelstene is die heiliges. (Filippense 2:15)

Die stadsmuur beskerm ons teen boosheid.

 Daar kom ‘n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word: Ons het ‘n sterk stad, God beskerm ons met mure, met ‘n vesting. (Jesaja 26:1).

Hy belowe beskerming wat nie kan faal nie. Sagaria (2:5) praat van ‘n muur van vuur met Sy heerlikheid daarbinne.

Die twaalf poorte verteenwoordig die twaalf stamme. Dit is deur die Jode wat die Messias aan die wêreld gegee is, sodat almal toegang kan hê. Die woord vir poort is pulon (normaalweg moet dit pule wees.) Pulon kan twee dinge beteken: ‘n groot huis wat om ‘n binneplein gebou is met ‘n groot hek in die buitemuur of ‘n ommuurde stad.

Daar is meer as een ingang deur die openbaring van Jesus. Daar is drie hekke in elke rigting (Esegiël 48:30-35)

In die Ooste waar die son opkom simboliseer diegene wat in die oggend van hulle lewe tot inkeer kom en Jesus aannneem terwyl hulle jonk is.

Die Noorde simboliseer koue en diegene wat deur rasionalisasie en intellek tot inkeer kom.

Die Suide is warm en simboliseer diegene wat tot Jesus kom deur barmhartigheid, liefde en omgee.

Die Weste is waar die son ondergang en simboliseer die sonsondergang van die lewe en diegene wat in ouderdom eers die Here vind, selfs sterfbed-bekerings.

Die twaalf fondamente is die apostels wat die kerk gebou het. Die stamme en die apostels kombineer die oue en die nuwe .

Die afmetings (21:15-17) herinnner aan die meetstok van Esegiël (40:3).

Die vorm van die stad is ‘n vierkant. Dit is die perfekte kubus, ‘n simbool van volmaaktheid in die Griekse Filosofie. Die Jode was bekend met die vorm van die brandofferaltaar , die wierookaltaar en die borsplaat van die hoëpriester. (Exodus 27:1,30:2,28:16) In Esegiël se tempel en die van Salomo was die Allerheiligste deel in die vorm van ‘n vierkant (1 Konings 6:20). Die perfekte kubus voorveronderstel genoeg ruimte vir almal. Die woonplek van God is nie uitsluitend nie. So moet die kerk op aarde ook wees.

Die hoogte van die muur is verrassend laag. Dit is nie vir verdedigingsdoeleindes nie. Dit is net om die buitegrense van die stad aan te dui. Dit wys die verskil tussen diegene buite die stad en die wat binne die stad woon.

Die goud van die stad lyk wit in die son, soos kristalhelder opaal. Skoon en blink spieëls was nie so algemeen in daardie tyd nie. ‘n Spiëel was dikwels gevlek en dof.

Die fondamente is met edelstene versier. Opaal is ‘n deurskynende groen kleur, saffier is in Exodus 24:10 beskryf as ‘n indigo-blou met goudvlekker (amper soos lapis lazuli), agaat is groen soos koper wat verkleur en die groen van ‘n pou se stert. Smarag is bekend en die groenste van alle groen stene. Sardoniks is soos oniks met rooi en bruin lae soos ‘n kameo. Karmeool is bloedrooi, chrisoliet is goudkleurig, beril is see-blou en topaas is deurskynenede groen-goud (Job 28:19). Chrisopaas is appel-groen, Hiasint is diep blou-pers en ametis pers.

Agt van hierdie edelstene word in die bosrplaat van die hoëpriester gevind (Exodus 28:17).

Oorspronklik is die stad van die Griekse gode met twaalf astrologiese tekens gebou en elkeen van hulle het ‘n steen gehad, soos daar vandag nog gepraat word van geboortestene wat toegeken is onder die sterreteken waaronder mens gebore is. Johannes wou al die verwarring oplos en die gode-aanbidding aan die ware God onderwerp. Dit was vir meeste heidene goeie nuus. Hulle het gesukkel om hulle gode te plesier. Hulle was verlig om te hoor daar is een god wat alles kan doen. Johannes gee die astrologiese tekens in omgekeerde volgorde en onderwerp hulle almal aan God se gesag.

Dit is verstommend om een reuse pêrel as ‘n poort voor te stel. Pêrels het besondere waarde in die antieke wêreld gehad. Pêrelduikers was aan groot gevare blootgestel en pêrels was skaars. Jesus het ‘n gelykenis vertel oor die waardevolle pêrel, wat alles wat jy besit kan vervang in Matteus 13:46. Sy toepassing was natuurlik geestelik, maar Hy het die waarde van ‘n pêreld besef en dit in Sy verhaal gebruik. ‘n Pêrelpoort is ‘n simbool van onberekenbare waarde en skoonheid.

God self woon in hierdie wonderlike stad. (21:22-23). Dit is ‘n stad met geen tempel. Die tempel was alles vir die Jode, maar hier is daar geen tempel nodig nie. Die hele stad is die Allerheiligste.

God is ons ewige lig (Jesaja 60:19-20). In Sy lig sien ons die ware lig (Psalm 36:9). Dit is slegs in die lig van God wat ons waarlik kan sien en die waarheid herken..

In die stad is daar geen ligbron. Waar God is, is geen duisternis moontlik nie. Die antieke wêreld het duisternis gevrees. God se lig dryf alle vrees uit.

Daar is genoeg ruimte vir al die nasies. Dit is ‘n tema wat deur die Ou Testament en die profete ego. [Jesaja 2:2-4, 11:12, 45:22, 49:6, 51:5, 55:5, 56:6-8, 66:19. Jeremia 3:17, 16:19-21. Daniël 7:14. Zefanje 2:11, 3:9. Sagaria 2:13, 8:20-23, 14:9, Joël 2.]

Die Joodse geskrifte is vol van die Messias wat ‘n Redder vir al die nasies is. Johannes voltooi die prentjie van goddellike hoop vir al die nasies en die Jode.

Die nasies bring die rykdom en luister na die stad. Die Grieke bring hulle wysheid en filosofie waarin hulle deurgaans na God gesoek het. Die Romeine bring hulle adminstrasie en regspraak en die Hebreërs die ware God en die Messias. Net so bring ons ons talente en vaardighede in diens van die Koninkryk.

 Alle onreinheid en onsedelikheid en valsheid is daar nie meer nie. Dit is die ideale toestand van die kerk van Jesus. Dit is die mense wie se name in die Lam se Boek van die Lewe geskryf is.

God se gawe aan ons was Jesus. Dit is Sy beste.

 

 

69. Waar is jou God?

Die post-moderne mens trek met ‘n grinnik sy neus op oor geloof in God. Hulle maak wye verklarings oor inkonsekwenthede in die Bybel en koester ‘n gemaklike bitterheid oor verwonding in die kerk en algemene teleurstelling in God. Indien die gesprek verder as ‘n sin of twee vorder, maak hulle ongetoetsde en oppervlakkige uitlatings oor wat God sou moes wees vanuit ‘n rasionele benadering tot onsienlike dinge. Die meeste Christene, soos ek ook, vermy argumente en het ook nie altyd antwoorde op so ‘n diskussie nie. Ek voel myself nie in staat om God se bestaan of optrede te bewys nie. Ek los dit vir die “professionele” apologete, wat die debat op akademiese en wetenskaplike vlak voer en vir wie ek die grootste respek het.

Meer as ooit is ek dankbaar vir die geloof wat ek saam met moedersmelk ingekry het. Slaaptydliedjies het geloof gebou en vertel van die liefde van ‘n wonderwerkende God: Omdat Hy leef het ek hoop vir môre, Net goedheid en guns sal my volg al die dae wat ek leef, My God can do anything, Got any problems you think are impossible ensovoorts. Stories van my grootouers en agter grootouers van wonderbare uitkoms in oorlog, finansies en verhoudings en goddellike genesing is met vreugde aan my oorgedra. Ek dank die Here daarvoor.

Oor die afgelope maande was daar in ons vriendekring twee persone wat erken het, dat hulle alles wat tradisionele geloof betref, verwerp het. Hulle vind die Bybel slegs ‘n fabrikasie van ou stories en gebeure wat geen toepassing het nie en geen indruk maak nie.

Ek het myself afgevra hoe dit moontlik is dat enigiemand so ‘n besluit sou kon neem. Ek is daagliks afhanklik van Jesus. Ek het Hom nodig in alles wat ek doen. Ek maak staat op Sy voorsiening, beskerming en seën. Ek smag na Sy stem oor dinge in my lewe en verlang na die antieke wysheid van die woorde in die Woord. Hoe is dit moontlik om so ‘n skat te verwerp?

My gevolgtrekking is dat mens nie iets kan verwerp wat mens nooit gehad het nie. Dit is nie ‘n verwerping nie, maar slegs ‘n erkenning van ‘n diep leemte wat nog nooit gevul is nie. Die Christendom kan maklik in kerklidmaatskap getel word, liefdadigheid is visueel en kerkbywoning kan enige mens sus in die gedagte dat mense aan die Here behoort as hulle fisies aan kerkaktiwiteite deelneem. Ware verhouding met God, kan egter nie getel of gesien word nie. Dit is moeilik om een mens te bestudeer en seker te maak dat die vrug van die Heilige Gees gesien en ervaar kan word. ‘n Boom word tog aan sy vrugte geken soos die Bybel sê. Wie kan egter die diep oordenkinge van die hart beoordeel?

1 Korintiërs 2:10:

But God has revealed them to us through His Spirit. For the Spirit searches all things, yes, the deep things of God.

 Vir almal wat wil hoor:

Die seën en genade van die werking van die Heilige Gees in elke mens om in goddellike wysheid en kennis te wandel, kan nooit oordryf word nie.

Hierdie diep verhouding met die Gees van die Here, is onvervangbaar en dit is die enigste manier wat die diep leemte in elke mens vervul word, sodat jy tot die gevolgtrekking kom dat daar absoluut niks bestaan wat die plek daarvan kan neem nie.

Handelinge 17:28

…want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons…

 Dit is die kernwaarheid van die goeie nuus van Jesus. God in ons – Immanuel – op ons uitnodiging in ons gees om te leef, te dink en te werk.

Johannes 15:5

Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

En die wonderlike belofte om alles te kroon:

Vers 7:

As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

Dit is voorwaar ons heerlike bestemming – in Christus. Sonder ‘n bewustelike innerlike ingesteldheid op die teenwoordigheid van die lewende Christus in ons, is ons kragtelose kerkgangers sonder enige hoop op transformasie of nuwe denke. Geestelike deurbraak bly ‘n vae hoop sonder vasberade, bewese, geloof.

Jesus gaan voort om die belangrikheid van gehoorsaamheid te beklemtoon as voorwaarde vir hierdie wonderbare inwoning van God self.

Johannes 15:9 -12:

Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.

 As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

 Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.

 Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.

Bodemklipvriend – waar is jou God? Binne-in jou.

Hoe sal mens dit weet? Jy sal getoets word aan jou liefde. Dis die bewys van God in jou.

Waaraan sal jy jouself onderskei van ongelowiges? Aan jou liefde – vir Jesus en vir jou naastes.

Wat is die gevolg, die bewys hiervan? Volkome blydskap soos dit uitgespel word in die Amplified vertaling van Judas 24:

Exceeding joy…unspeakable, ecstatic delight not dependent on any circumstances.

Die toets van liefde is geweldig en wyd. Dit is slegs moontlik in diepe afhanklikheid van die Heilige Gees. Dit is God in ons om te wil en te werk.

Fillipense 2:13:

…want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

…for it is God who works in you both to will and to do for His good pleasure.

 Dit is die werk van die Heilige Gees. God in ons.

Dit kan slegs gebeur op uitnodiging in ‘n lewe van gehoorsaamheid.

Lukas 5:46 – 48:

Why do you call me, ‘Lord, Lord,’ and do not do what I say.

 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?

 Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen – Ek sal julle wys soos wie hy is.

 Hy is soos ‘n man wat ‘n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was.

 Dit was laatmiddag op die plaas vroeg in April 1972 toe my ma sê ons ry Johannesburg toe die volgende dag. Dinge was deurmekaar. My pa was reeds weg stad toe om sy ou beroep as elektriese ingenieur weer op te neem. Ek was 12 jaar oud. Oud genoeg om te weet ons geld is op en die skuldlas is groot. Die verband by die Landbank was R85 000. ‘n Nuwe Mercedes Benz het R5000 gekos.

Op een of ander stadium teen die bergpas af daar by Rankins Pas, het ek vir my ma gevra: Wat is die Heilige Gees?

Sy het later vertel dat sy dadelik gebid het. Sy was so vol sorge en spanning dat sy glad nie geweet het wat om te antwoord nie. Sy moes diep delf in die lering waarmee sy groot geword het vir duidelikheid oor die derde Persoon in die Godheid.

Oor middagete van Goeie Vrydag het ons in Johannesburg ingery. Ons motor was oud en stukkend en ons het die volgende aand met my oom se bakkie na die kampkonferensie gery om die diens by te woon. Die kamp te Maranatha Park was die groot jaarlikse Paas byeenkoms van ons kerk. Vir 10 dae lank het almal kerk toe gegaan en gekuier – vroegoggend tot laataand. Dis waar my ma gaan hulp soek het vir al ons probleme.

In die diens by Sonskynhoekie, die Sondagskoolbyeenkoms waarheen ek saam met niggie is, het hulle gebid vir kinders wat die doping met die Heilige Gees wou ervaar. Na my gesprek in die kar was ek baie ingenome daarmee en het ook uit my sitplek opgestaan om vorentoe te gaan vir hierdie nuwe avontuur. Ek het nie baie ver gekom nie. Die kinders het die paadjie vol gestaan. Ek het teen een van die pale geleun, toe een vandie helpers vir my vra of hy vir my kan bid. Hy het my aangemoedig om saam met hom die Here te loof vir alles waarvoor ek dankbaar is. Ek het saam met hom gebid en gehoor hoe ek in ‘n vreemde taal begin praat. Hy was vol vreugde en het die Here geloof vir Sy getrouheid.

Bodemklipvriend – ek weet hierdie ondervinding word nie in al die kerke verkondig nie. Ek weet ek het dit ervaar omdat ek dit so diep begeer het en ek praat daaroor omdat daardie ondervinding en die daaropvolgende beoefening van bid in tale vir my ‘n krag in my lewe was en is, wat ek vir almal bid en begeer.

Moet dit asseblief nie uit die staanspoor verwerp nie. Indien jy verward voel oor lering en dogma, neem jou Bybel en lees weer Handelinge 2 en 1 Korintiërs 12 en 14 met al die Skrifverwysings daarby. Vra die Here om vir jou duidelikheid daaroor te gee. Dis net by Jesus self wat ons oor Sy gees kan leer. Die belofte is vir ons en ons kinders volgens Handelinge 2:38 en 39.

Volgende keer: Die toets vir gehoorsaamheid – die sleutel tot kragtige deurbraak.

67. Nuutgemaak – oorgeplant!

In die noordelike halfrond is lente in die lug. Die hele omgewing het ‘n groen skynsel van baba-blaartjies in heerlike verwagting op die verloop van warmer dae. Blomme dra vet knoppies, gereed om oop te gaan. Die vernuwing wat ‘n volgende seisoen bring is duidelik sigbaar. In die suidelike halfrond is winter oppad in die warmer kleure van rooi en bruin blare met ‘n verwagting van kaggels, bredie en mooi serpe. Selfs in die koue en op die kaal bome, is lente reeds ‘n verwagting. Kyk mooi en naby. Die sekerheid van die belofte van Genesis 8:22:

Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.

Hier in ons woud het ‘n natuurverskynsel afgespeel wat vir my ‘n belewenis is. In September verlede jaar toe die bome nog groen blare gehad het en herfs nog nie eers sigbaar was nie, het ons ‘n onverwagte sneeustorm gekry. Binne ‘n paar uur was alles wit en die sneeu het swaar op die groen blare bly lê. Die gewig het baie takke gebuig en ander laat breek. Een tak wat geknak het, hoër op in ‘n boom hier agter die huis, se blare het bruin geword maar nie afgeval nie. ‘n Hele winter later, hang die bruin blare nog steeds aan die geknakte tak. Dit is slegs ‘n lewende tak wat die blare afgooi en gereed kry vir die nuwe seisoen en nuwe blare. ‘n Dooie tak se dooie blare hang bruin en dood tussen die groen vernuwing rondom.

IMG_2142

Ons beleef die dae na die opstanding. Dae van verwagting. Hoe duidelik Jesus se woorde oor die kruis en Sy oorwinning oor die dood ooit aan Sy disspels was, dit was nie ingebrand in ervaring nie, totdat hulle die opgestane Jesus met hulle eie sinne beleef het. Die verwagting van ‘n nuwe seisoen in hulle lewens was met die ervaring van Jesus in persoon, ‘n brandende vuur in hulle harte. Skielik was enigiets moontlik. Hy leef!

Maar die oomblik van afskeid het gekom. Hy het gereed gemaak om weg te gaan. Hy het geweet Hy sal hulle nooit weer op dieselfde manier as daardie oomblik sien nie. Nuwe dinge het voorgelê.

Laaste woorde voor ingrypende verandering is super-belangrik. Hoor (weer en weer) wat Hy sê: Lukas 24: 36-53:

En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle!

Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien.

En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.

En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.

En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet?

Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.

En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.

Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.

En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge.

En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.

En Hy het hulle uitgelei tot by Betánië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem. En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank. Amen.

Hier is ‘n hele paar uitstaande oomblikke in hierdie kort beskrywing van sekerlik die hoogtepunt van daardie mense se ganse lewens. Jesus spreek hulle skrik en vrees aan. Hy weet dat Sy verheerlikte Teenwoordigheid vir hulle ‘n bonatuurlike en ingrypende ervaring is. Hy beklemtoon sy woorde aan hulle voor Sy dood en bring hulle onder die gesag en krag van die Skrifte. Sy woorde:

So is dit geskrywe ….. en julle is getuies hiervan.

Hy doen ‘n wonderwerk in hulle verstand. Hy open hulle verstand om die Skrifte te verstaan. Hy doen die wonderwerk omdat dit noodsaaklik is. Jesus het nie Sy wonderwerke op onnodige goed gedoen nie. ‘n Wonderwerk gebeur slegs in groot nood en behoefte. Om ‘n getuie te wees van hierdie gebeure vra ‘n wonderwerk, ‘n spesiale aanraking, a touch of glory, ‘n salwing van insig. Hy ontsluit die Heilige Gees krag binne in hulle om Sy woorde te begryp, te verwerk en te praat.

Maar dis nie klaar nie. Is dit dan nie genoeg nie? As Jesus sê daar is nog iets nodig, dan kan ons nie daarmee stry nie. Sy woorde:

En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.

Krag om te getuig, krag om te praat, krag vir hierdie oorweldigende taak om Sy teenwoordigheid uit te dra. Dit is die belofte van die Vader – Jesus self in ons. Daarvoor moes hulle gaan wag. Hoekom?

Jesus is nie ‘n kaartmannetjie wat ons aantrek soos ‘n papierpop se rok nie. Hy is die lewegewende bron van alle waarheid en goedheid in alles, deur alles en tot alles. Sy Woord lewe en raak ontslae van al die dooie werke in ons lewe. As ons die kaartpop van wettisisme en vooroordeel verkondig is ons getuienis van alle krag ontneem. Dan bly die dooie werke aan ons hang soos verlede seisoen se dooie blare al lyk dit dalk asof jy nog aan die boom behoort. Jy is geknak en dood en moet opnuut inge-ent word. [Johannes 15:4,5]

Net so min as wat ‘n een dimensionele papierpoprok naaktheid kan bedek, so min krag het een dimensionele godsdiens. Jesus as persoon in al Sy volheid in ons deur die Heilige Gees is ons wit klere van glorie en prag.

Romeine 8:26,27:

En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.

Dit is daardie diep hartsug wat nie met woorde uitgedruk kan word nie.

En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.

Romeine 8:25-27:

But if we hope for what we do not see, with perseverance we wait eagerly for it. 26In the same way the Spirit also helps our weakness; for we do not know how to pray as we should, but the Spirit Himself intercedes for us with groanings too deep for words; 27and He who searches the hearts knows what the mind of the Spirit is, because He intercedes for the saints according to the will of God.

Henry Matthew Concise Commentary:

The Holy Spirit is the spring of all desires toward God, which are often more than words can utter. The Spirit who searches the hearts, can perceive the mind and will of the spirit, the renewed mind, and advocates his cause. The Spirit makes intercession to God, and the enemy prevails not.

Hierdie beskrywing van die werking van die Heilige Gees is die sleutel tot die begrip van die transformasie wat in die disspels plaasgevind het. Hulle het geskrik vir Jesus in Sy opgestane heerlikeid, verstom gestaan voor die bonatuurlike. In Handelinge 2 met die uitstorting van die Heilige Gees het dieselfde vernederde Petrus 3000 mense tot bekering gepreek en aan hulle die weg van saligheid uitgespel – ‘n nuwe manier – sonder besnydenis, sonder Joodse etniese groepering, sonder die Tempel, sonder die bloed van diere. Petrus se woorde in Handelinge 2:37,38 en 41:

Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.

Ek was nog nooit by ‘n doopdiens vir 3000 mense nie. Wat ‘n ervaring van transformasie.

In die volgende hoofstuk praat Petrus woorde wat die bonatuurlike, wonderwerkende kragtige bediening deur die Heilige Gees bevestig.

Handelinge 3: 1-10:

Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!

Bodemklipvriend, jy behoort aan ‘n Almagtige God wat wonderwerke doen. Roep saam met Moses in Exodus 15:11:

O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?

Who is like You, O Lord, among the gods? Who is like You, glorious in holiness, awesome in splendor, doing wonders?

Waar is jy op hierdie oomblik? Bekend met die bonatuurlike, wonderwerkende God of verval in twyfel, onsekerheid en moedeloosheid?

Kyk weer mooi na Handelinge 2:39:

…want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is…

Dis jy, dis vir jou. Juig saam! Die krag wat daardie dag van Petrus ‘n magtige prediker gemaak het, kan jou lewe verander. Gryp die Woord vas en skud af die ou dooie blare van vooroordeel, leringe van mense en kerke en dooie werke. Vra die Here vir dieselfde aandoening van krag met al die gawes van die Heilige Gees wat 1 Korintiërs 12 en Romeine 12 van praat. Dit word aan jou gegee volgens die behoefte. Jesus het belowe ons gaan groter werke doen. [Johannes 14:12]

Ek is seker almal stem saam dat ons in hierdie wêreld, in hierdie tyd, in alle omstandighede die volheid van die belofte van die Heilige Gees nodig het.

Mooi bly tot volgende keer.