Ek het groot geword met Goeie Vrydag. Ek kan nie almal van hulle so goed onthou nie, maar ek weet hulle was daar. Vir omtrent 25 jaar het ons die Paasnaweek tydens kampdienste gevier. Tien dae lank het mense vanoor die hele land op ‘n groot stuk grond net buite Johannesburg met tente, karavane, ‘n paar houthutte en ‘n paar permanente geboude hutte van die môre tot die aand kerk gehou. As mense nie kerk toe gegaan het nie, het hulle gekuier en geëet.
Later, in hoërskool- en universiteitsjare het ek deur meeste Paasnaweke geswôt. Selfs dan het ek nooit die “groot” dienste gemis nie – Goeie Vrydag oggend en die feesdiens vir die Opstanding die Sondagoggend. Die dienste is in ‘n rowwe, koue baksteengebou met ‘n sinkdak gehou. Die struktuur kon ‘n hele paar duisend mense sitplek gee. Voor was ‘n groot platform vir die uitgebreide orkes en sitplek vir die leierskap. Die sang was hemels en elke jaar het almal huis toe gegaan met nuwe liede op hulle lippe en meer belangrik, in hulle harte.
Soveel getuienisse is met die ou gebou geassossieer. In meeste dienste is die mense aangemoedig om gebedsversoeke op klein papiertjies te skryf en dit in ‘n mandjie voor die platform te kom sit. Daar was ‘n groot heen en weer gelopery voor die dienste begin het. Tydens die voorbiddingsgebed het van die leiers hulle hande op die mandjie gelê en die wonderkrag van ons hemelse Vader daaroor afgebid.
Een maal het my ma “gesien” hoe een van die sinke van die dak oplig en die papiertjies met ‘n rukwind weggeraap word, in die hemel in. Ek het die prentjie in my kop gehou totdat ek die mooi skrif in Openbaring 5:8 leer ken het en weet dat ons gebede in die goue bakke voor die Troon is.
My ouer twee seuns het saamgekuier op die Kamp. Niemand kon ooit die laaste Sondag se totsiens-diens mis nie. Ons het dik duvets saamgedra sodat hulle op die vloer kon slaap as die drie-uur diens te lank raak. Ja…drie ure! Ons het ‘n uur gesing en voorbidding gedoen vir baie versoeke en rustig gesit vir preke wat ek vandag nog ‘n paar van onthou.
My broer het ‘n houtstruktuur laat opsit, waar ons na die dienste kon bymekaarkom en op opslaanstoele en piekniektafels die heerlikste, mobiele feeste uit ons huiskombuis in koelsakke en mandjies aangedra, kon geniet. My seuns het sy hut die Ark genoem. Op die laaste Sondagaand het ons 40 of 50 pannekoeke met kaneelsuiker by een van die kerkstalletjies gekoop vir al die mense wat kom groet het en bly sit het vir ‘n getuienis of twee.
Ek sal nooit die gesprekke vergeet nie. Die mense het oor die Here gepraat, die heeltyd – vry, vol passie en heelhartig. Al die ouderdomme, veral die ou veterane het getuienisse en insig oor die voorsiening en goedheid van God met almal wat entoesiasties kom sit het, gedeel.
Dan was daar die kinders, saamgebondel in ‘n saal van hulle eie. Sonskynhoekie het menige kinders onder twaalf die evangelie van Jesus geleer. ‘n Neef van my pa en sy gesin het met illustrasies en musiek die goeie nuus in kinderharte ingebrand. Die lied vir die laaste aand sing ek nog steeds – die laaste versie van Psalm 23:
Net goedheid en guns
sal my volg
Al die dae, al die dae van my lewe
En ek sal woon in die huis van my Heer vir ewig
En ek sal aansit aan die tafel berei vir my
Net goedheid en guns…
Die afgelope naweek was Paasnaweek en ek is ‘n miljoen myl in tyd en afstand van daardie dae. Hoekom onthou ek?
Ek weet hoekom.
Heel paar jaar later in my volwasse lewe was, ek saam met my pa-hulle in ‘n diens van die United Kerk in Hermanus. Die predikant was Martin Holt, bekend vir sy radiopraatjies en preke. Ek was altyd lief vir Latyn, op skool en universiteit en Martin Holt het daardie oggend die Latyn in my kop ingebrand, wat nou nog, hier waar ek skryf en die trane vrylik vloei, uitroep – Vivit – Hy leef!
Dis hoekom ek onthou. Geen Paas, geen kerk, geen getuienis, geen gebed is moontlik sonder die kreet van die heelal, saam met die vroue daardie eerste Opstandingsondag – Vivit – Hy leef!
Hierdie een feit verander alles. Dit is die kontras van ‘n Saterdag in duisternis en dood en ‘n Sondag in lig en lewe.
Ons is nou in die week na daardie dag wat Jesus daar in die tuin vir Maria gesê het:
Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” (Markus 16:7)
Waar is jy in hierdie dae na Paas? Is jy vasgevang in dood en duisternis van Saterdag en voel soos Petrus die nederlaag van verraad en verbryselde drome?
Jesus praat met jou, net so spesiaal as wat Hy Petrus aanspreek. Gaan na die plek waar jy Hom ontmoet het – jou Galilea. Hy weet wat jy nodig het. Hy weet watter effek Sy teenwoordigheid op jou lewe het.
Hy wag vir jou… Jou lewe sal verander as jy Hom sien.
Gaan met die uitroep – Vivit – Hy leef … omdat Hy uit die dood opgestaan het.