108. Die lied van die hemel – sing dit nou!

[Openbaring 15 – Nuwejaar 2017]

Uit my hart geseënde Nuwejaar – 2017. Kom sing saam met my die lied van Moses en die lied van die Lam. Vir die Oujaar het die Here die perd en die ruiter in die see gewerp – al die ou dinge van die Oujaar is onder die bloed van die Lam en ons getuienis van uitkoms. Vir die Nuwejaar is daar niemand soos Hy nie. Ons jaar se inhoud is God se beloftes.

“I will sing to the Lord,
For He has triumphed gloriously!
The horse and its rider
He has thrown into the sea!
The Lord is my strength and song,
And He has become my salvation;
He is my God, and I will praise Him;
My father’s God, and I will exalt Him.  (Exodus 15)

Beelde van ellende vul ons televisieskerms daagliks. Die behoefte en verdriet van die mense sowel as die diere is hartverskeurend. Vrywillige ondersteuningspanne en noodhulp van verskeie wêreldorganisasies word opgeroep om die uitgebreide hande van die God te wees. Bodemklipvriend, ons is die kerk van Jesus op aarde. Ons het die antwoord, ons is die antwoord. Ons wandel in liefde en genade is die Jesus-loop op aarde en goedheid, liefde, genade het net een Bron. Laat ons gee wat ons kan.

Op hierdie oomblik terwyl ek skryf, is die verslaggewing oor Aleppo in die Siriese oorlog skokkend. Fisiese uitkoms mag nou moontlik wees, maar die innerlike verwonding van daardie mense sal tyd neem om te genees en uiteindelik die littetekens van hulle siele word. Beelde van hulle lyding sal hulle altyd bybly, maar in genade vervaag. Is dit nie ons eie ervaring ook nie? Slegte dinge gebeur met goeie mense in ‘n gebroke, bose wêreld.

Hoe weet ons dis boos en die duiwel wat sy vernietigingswerk versprei? In die woorde van Jesus:

Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. (Johannes 10:10, OAB)

Die dief word in kontras met die herder gestel.

Dit is wanneer ons vrede, vreugde en lewensvolheid “gesteel” word, dat ons weet dit kan nooit van God af kom nie. Hy definieer Homself as oorvloedig in waarheid en goedheid (Exodus 34).

Ons stap aan in Openbaring 15. Die seëls is oopgemaak, die trompette het die bose vernietiging oor die aarde aangekondig en nou neem die engele die goue bakke van verskrikking en rampspoed. Dit is tipies van apokoliptiese skrywe om groepe van sewe en drie te maak. Die derde reeks rampe op aarde is die voltooiing van die oordeel.

Die toneel in die hemel is glas, ‘n spieëlgladde see en vuur gemeng. Die beeld herinner aan die wonder van die Rooi See toe die volk van God tussen die see en die Egiptiese weermag vasgevang is en die see gekloof is vir hulle uitkoms. Hier staan die gereddes, die oorwinnaars op die see met aanbiddingsinstrumente. In dieselfde wonderwerk is hulle vyande vernietig. God se teenwoordigheid was die vuurkolom in die nag. Onse God is ‘n verterende vuur sê Hebreërs 12.

Die verlostes sing die lied van Moses – Exodus 15. Dit is ‘n pragtige lied wat die wonderwerke en die krag van ons almagtige Vader besing.

Die dier kom uit die see van chaos. Daardie selfde see is die ondergang van ons vyande. God gebruik die chaos om ons te verlos. Ons het dikwels so weerstand teen ons omstandighede, terwyl dit juis dit is wat ons nader aan Hom bring en met ons vyande klaarspeel.

Die glasesee, soos die ou lied sê, is ‘n simbool van God se majesteit en ontoeganklikheid behalwe vir die wat deur die Kruis nader. In sy magtige teenwoordigheid is daar ‘n vloei van aanbidding. Die liede besing die oorwinning van die verlostes en die almag van God.

Dit is die funksie van ons aanbidding op aarde vandag. Ons fokus is op God en Sy wonderwerkende krag. Dit is bemoedigend in ons omstandighede om ons verwagting vir ‘n wonderwerk te verhoog.

…want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. (Matteus 16:25)

Daar word twee liede in Openbaring genoem: die lied van Moses en die lied van die Lam (Openbaring 14:3). Die verlossing uit Egipte en die wonderwerk van die Rooi See is simbolies van ons verlossingspad uit die slawerny aan sonde, deur die doop as seël van redding in die teenwoordigheid van God wat ons lei deur die woestyn van die lewe met vuur en wolke.

Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop. (1 Corinthians 10:2)

Die woorde van die lied van Moses word dikwels in die Ou testament herhaal. Jesaja sing die woorde herhaaldelik: Wie is soos U, o God? In die Psalms weerklink dit keer op keer. ((Psalms 92:5, 98:1,145:17, 86:9, 99:3, 111:9, 98:2, 1 Samuel 2:2)

Wat volg is ‘n uitbarsting van lofprysing oor die grootheid van God. Hoor die woorde van die lied van die Lam:

Groot en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies. Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en U aanbid, want hulle sal sien dat u handelwyse regverdig is.”

In die chaos van ons lewe, is dit ons lied. Ons oorwinning kom nie as gevolg van ons eie prestasies en pogings nie. Soos die kommentaar sê:

“In the perfect vision of God self is wholly forgotten.”

 Juig in die lied van Miriam, die lied van Hanna en die lied van Maria. Die fokus is op God en Sy werk. Vir Hom is niks onmoontlik nie. Dit is die beste illustrasie van die rol van lofprysing in ons lewe en die seël van ons getuienis.

In die hemel word die tempel van God oopgemaak (15:5). Die tent van getuienis is die beeld wat in Numeri gebruik word. (9:15,17:7 and 18:2)

Die dag toe die tabernakel, die tent met die getuienis, opgerig is, het ‘n wolk dit oordek. In die aand het die wolk oor die tabernakel soos vuur geword en dit het so gebly tot die môre toe. (Numeri 9:15)

Dit is in die atmosfeer van God se teenwoordigheid dat Aaron se staf uitgeloop het, gebloei en vrug gedra het – alles in EEN dag.

Toe Moses die volgende môre by die tent met die getuienis kom, was daar botsels aan die kierie van Aäron, wat daar was vir die stam Levi. Trouens, daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra. (Numeri 17:8) Sien ook 18:2.

Dink net vir ‘n oomblik. Sou jou uitkoms in een dag kom? Kyk op na die God van wonderwerke en verhoog jou verwagting.

Dit is die woord van God vir die nuwe jaar.

Die tabernakel van getuienis is die simbool van die teenwoordigheid van God. Dit is in Sy teenwoordigheid waar wonderwerke gebeur.

Die engele kom van God af met priesterlike klere – egte linne met ‘n goue gordel. Dit is duidelik dat die oordeel van die hemel kom.

Een van die lewende wesens (ons weet nie watter een van die leeu, os, man of arend nie) gee sewe goue bakke met plae daarin aan die engel. Die natuur self neem deel aan die oordeel.

In Jesaja 6:4 word die teenwoordigheid van God met rook beskryf. Rook is nie aangenaam nie – oë traan, neuse brand en verwarring heers. In Exodus 40:34-35 kan Moses nie in die tabernakel ingaan nie.

 Moses kon nie in die tent van ontmoeting inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul.

Dit is dikwels so in die uitvoering van die Plan van God. Dinge is nie duidelik nie en kan selfs verwarring en hartseer bring. Dit is altyd deur die Kruis dat ons in Sy Lig kan staande bly. Bly naby Jesus, hou vas aan die goedheid van God. Die rook weerhou ons daarvan om onwaardig in Sy teenwoordigheid in te kom.

Hy het vir Moses gesê: “Sê vir jou broer Aäron hy mag nooit sommer in die heiligdom agter die voorhangsel ingaan na die deksel van die verbondsark toe nie. Ek verskyn telkens in ‘n wolk bokant die deksel van die ark en as Aäron sommer ingaan, sal hy sterwe. (Levitikus 16:2)

Die deksel van die ark was die sitplek van genade. Dit is altyd van daar dat God praat. Dit is uiters belangrik om te weet dat Sy plan altyd vanaf die genadestoel op die verbondsark uitvoering kry. Die Ou Afrkaanse vertling (OAB) noem dit die versoendeksel. Engelse vertalings noem dit die “atonement cover” of “mercy seat”. Ons weet “mercy” beteken om die straf terug te hou. Dit is hoe God oordeel. Hy oordeel uit genade – onverdiende guns van Hom en “mercy” – hy hou die straf wat eintlik moet uitgedeel moet word, terug. Onthou die straf was op Jesus (Jesaja 53).

Die plae in die goue bakke van die volgende hoofstuk is ‘n verduideliking van die straf vir sonde wat op die aarde uitgegiet word, wat mense tot bekering roep.

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s