103. Eet hierdie boek…

[Openbaring 10]

Ons moderne wêreld is redelik gefokus op eet. Kos is kultuur en in ‘n mate wat ons definieer. Ek het een maal gelees dat 95% van gesprekke in Frankryk oor kos gaan (en die ander vyf persent oor hoe om belasting te ontduik!). Dis dalk nie waar nie, dis nie amptelike statistieke nie. Kos en die kuns rondom ‘n maaltyd is dominante kultuur faktore, wat oor landsgrense heen in- en uitgevoer word. Hongersnood en die gebrek aan kosbronne gee aanleiding tot harverskeurende menslike katastrofes.

Kos is lewe. Ons is so afhanklik van gereelde kosvoorsiening dat ons voortdurend dankbaar behoort te wees as ons in sekerheid van ons volgende maaltyd kan leef. Hier in Hoofstuk 10 van Openbaring leer ons die metafoor om die Woord van God te eet. Dit is inderdaad ons daaglikse brood wat ons aan die lewe hou. Ons het die eer om die Een, die Brood van die Lewe, wat Sy liggaam aan die kruis vir ons gegee het, te ken. Dit is die fokus van die nagmaal. In sy evangelie noem Johannes Jesus die Woord en in hierdie hoofstuk word hy (Johannes) opdrag gegee om die boekrol te eet. Eet en versadig word in Jesus en op Sy woord, is net soveel die opdrag wat na ons uitgaan, as na Johannes in hierdie kerntoneel van die visioen.

Psalm 119 is die langste Psalm in die boek genoem Psalms en die langste hoofstuk in die hele Bybel. Dit is een van die alfabetiese gedigte in die Bybel. Die 176 versies is verdeel in 22 strofes en elke strofe begin met ‘n letter van die Hebreeuse alfabet. Binne elke strofe begin elkeen van die agt versies met dieselfde letter van die alfabet. Die hele Psalm gaan oor die vreugde en waarde van die Woord van God en hoe die Woord God se liefde, goedheid, Sy voorneme en redding verkondig. Dit is ons daaglikse noodsaaklikheid.

Die Woord is ons voedsel. Dit is die kern van ‘n uitnemende lewe; ‘n lewe volgense Sy goddellike voorneme. In die woorde van CS Lewis:

He who has God and everything else has no more than he who has God only. (The Weight of Glory)

Weer eens is die toneel dramaties en gevul met gespanne verwagting verwagting. Die engel met ‘n gesig soos die son, herinner aan Jesus op die berg van verheerliking (Matteus 17:2). Bene van vuurpilare en ‘n reënboog oor sy kop spreek van die gesag en belofte van die Verbond asook die glorie van die Troon van God (Esegiël 1:28).

Dit is duidelik dat die engel uit die Teenwoordigheid van God kom – hy is bekleed met ‘n wolk.

…en vir U ‘n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind… (Psalms 104:3)

Hoofstukke 10:1-11 en 11:1-14 is ‘n tussenspel tussen die sesde en sewende trompet. Die sesde is alreeds geblaas en die sewende word eers in 11:15 geblaas.

In hierdie tussenspel word die misterie van God openbaar – die rol van die kerk.

Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. (Efesiërs 1:9,10)

Die engel staan met sy regtervoet op die see en die linkervoet op land. Sy gesag is oor land en see en dit beteken die hele aarde. God se krag is nie beperk nie, dit is oral. Hy praat met ‘n stem wat klink soos ‘n leeu wat brul. Die leeu-beeld is bekend – Joel 3:16, Hosea 11:10, Amos 3:8. Sommige kommentators is van mening dat hierdie engel die verheerlikte Christus self is. Sy stem dwing gesag en bewondering af. Niemand sal ‘n leeu wat brul ignoreer nie. Die boodskap gaan uit oor die aarde. Sy stem is God se stem soos dit in Psalms 29:1-11 beskryf word. ‘n Voorbeel in vers 3,4 en 5:

Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters!

Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit.

Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop.

Die sewe donderslae antwoord die stem en beveel Johannes om nie hierdie deel van die visioen op te skryf nie. Die tyd daarvoor word bepaal. Dit klink vir die aarde soos dondersale, maar Johannes hoor die boodskap. Die klanke word slegs met gesalfde ore interpreteer. Almal kan nie die misterie en voorneme van God herken nie, slegs diegene wie se ore deur die Heilige Gees aangeraak is “om te hoor wat die Gees aan die gemeente sê” (Openbaring 2 en 3). Dikwels is die geraas van die wêreld so groot, ons hoor nie die boodskap nie.

Hy laat sy stem, sy magtige stem, weerklink! Psalms 68:34

In die geval van Jesus het die mense ook die donderslag-stem gehoor.

Toe het daar ‘n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.”. (Johannes 12:28,29)

Mag ons ore so ingestem wees om die harmonie van die hemele te herken en te juig as God praat, selfs al klink dit soos ‘n donderslag.

Die boekrol is klein en onoopgemaak. Dit dui op ‘n beperkte openbaring vir ‘n spesifieke tyd. Johannes word aangesê om nie die openbaring te skryf nie. Dit is ‘n wonderbare onderwerping aan God se tyd. In 2 Korintiërs 12:4 beskryf Paulus sy eie openbaring van die hemel en behou die misterie vir homself. Hy weet dit is vir hom persoonlik en nie vir die mense om hom bedoel nie. Dit was die bron van sy krag en volharding tot sy eie marteldood. Ons openbaring van die hemele is ons krag en inspirasie om teenstand te oorwin.

Ons word gewaarsku om nie oor alles te praat nie. God is die enigste een wat waardig is om ons geheime te hou. Geheime kan vernietig en teleurstel. Skinder en die gebrek aan vertroue is die siekte van ons tyd en lê in die realm van die vader van leuens, ons vyand. ‘n Leuengees is in elke skinderstorie. Net ‘n ander stemtoon kan die kwaliteit van die woorde verander. Laat ons woorde die waarheid wees, in genade sonder oordeel. (Jakobus 3)

Hier word geheimhouding bepaal. Daar is krag in geheime. Daar is ook rede daarvoor. Net soos ons vyand sonde in die geheim wil hou om ons te verswak, so is God se geheime om ons sterk te maak.

“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet.” (Deuteronomium 29:29)

Die eer van God lê in wat Hy verborge hou; konings se eer lê in wat hulle aan die lig bring. (Spreuke 25:2)

Hier op aarde sal dinge nooit heeltemal duidelik wees nie. Ons lewe met beperkte openbaring. Dit is die heerlikheid en genade van die Here wat vir ons openbaar soos die noodsaaklikheid vereis.

Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. (1 Korintiërs 13:12)

Die opdrag om stil te wees oor die openbaring kan ook verwys na die evangelie van Johannes, wat hy geskryf het na die Openbaring en sy terugkeer na Efese.

Die misterie van God is ‘n tema regdeur die Bybel. God het ‘n plan wat Hy openbaar aan wie Hy wil. (Romeine 16:25,26. Efesiërs 1:9,10 & 3:1-11); ook met betrekking tot Israel (Daniël 9:24, 26).

Die engel maaak ‘n aankondiging, verseël met ‘n eed. Hy verklaar dat daar nie meer vertraging sal wees nie. Dit kan beteken dat die tyd beperk is tot die blaas van die sewende trompet. Dit beteken eerder dat die vernietiging van die Antichris nie langer afgeweer kan word nie. (Hebreërs 10:37)

Die uur om die sonde oop te vlek het gekom. (2 Thessalonicense 2:3) Die toneel is gereed vir die finale stryd. Die misterie van God is reeds openbaargemaak. Die volle voorneme van God met die mensdom is bekend. Die misterie van God is Jesus. Hy is die hemel se geheim – Sy lewe, dood en opstanding op aarde.

Die lewe is moeilik, boosheid heers, maar die uiteindelike oorwinning is gewaarborg. Al die vrae sal beantwoord word, al die verkeerde dinge, sal reggestel word.

Johannes het ‘n keuse om die boek te neem. Hy word twee maal voor ‘n keuse gestel, met die opsie om te weier. Openbaring is altyd vrywillig, nooit afgedwing nie. Hy vra die engel om dit te gee. (10:9)

Hy eet en beskryf die gevolge.

Om iets te eet, is om dit toe te laat om deel van jou wese te word. Die Here is nie ‘n bykomstigheid om te dra wanneer dit jou pas nie. Esegiël moes die boekrol eet.

Die stem het vir my gesê: “Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel.” Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet. Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol.” Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond. (Esegiël 3:1-3)

Die Woord word beskryf as soet soos heuning, soos ‘n lekkerny. Die beskrywing ego deur die Skrif.

Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ‘n heuningkoek. (Psalms 19:10) Sien ook Psalms 119:103.

In die Joodse tradisie het die kinders die alfabet op ‘n kliptablet met ‘n mengsel van meel en heuning geskryf. As hulle die letter korrek geleer het, kon hulle die tablet lek.

Vir Johannes is die boodskap bitter en soet. Dit is “soet” om die openbaring van God se liefde en goedheid te verkondig, maar bitter om die gevolge van die mens se harde harte en weerstand teen die liefde van die Here te ervaar. Dit is altyd ‘n voorreg om die geheimenisse te verstaan, maar die voorspelling van verwoesting en tragedie is harverskeurend, selfs in die lig van uiteindelike oorwinning.

Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my ‘n vreugde; ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is, Here, almagtige God. (Jeremia 15:16)

En jy, mens, luister na wat Ek vir jou sê. Moenie weerbarstig wees soos hierdie weerbarstige volk nie, maak oop jou mond en eet wat Ek jou gee.” (Esegiël 2:8)

In die woorde van hierdie grootse profeet wat hierdie openbaring ondervind en opskryf:

God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.   (Johannes 3:17)


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s