104. Meters, meetstokke en mylpale.

Berekeninge en beraminge is die kwasstrepe van die wetenskap om ons wêreld in ‘n verstaanbare beeld te illustreer. Ek staan in verstomming oor die fisici, die astromome, die geoloë, argeoloë en soveel ander dissiplines was tel, benaam en verduidelik wat ons wonderlike aarde behels. Ons wetenskappe word uitgedruk in die resultate van die meetstokke van ons tyd, soveel meer gesofistikeerd as van ouds. Dit alles het in die Tuin van Eden begin toe God aan Adam opdrag gee om die wêreld om hom te benoem. Oor die afgelope duisende jare is ons aarde gemeet en opgeteken. Soveel is reeds ontdek, wat die oorweldigende wonder waarin ons leef, aan ons verduidelik. Ten spyte van al die jare se toewyding van mense wat ‘n leeftyd van passie aan ‘n sekere dissipline wy, is daar nog soveel om te ontdek. Die roeping, wat die hoogste geleerdes met verstommende vergenoegdheid in die ontdekking van die ruïnes tot die sterre en alles tussenin absobeer, kleur ons wêreld in die prag van die Plan van ‘n Opperste Intellegensie – ons liefdevolle Vader. ‘n Onlangse voorbeeld is pragtig uitgespel in die film: The Man Who Knew Infinity (2015).

Meetstokke en maatlyne was algemeen in die profete van die Ou Testament. Dit is geen verrassing om die opdrag om te meet in die begin van hierdie hoofstuk te kry nie. Die maatstok lyk soos ‘n septer van ‘n koning wat mag simboliseer. Die mate is om te beskerm en te seël. Die kerk word gemeet. God ken Sy kerk; dit wat aan Hom behoort. Elke fluistergebed van oorgawe word gehoor. Niks word oorgeslaam, niks is verlore. Dit is altyd noukeurig en volledig.

‘n Maatstok was ‘n biesietak met afgemerkte maateenhede.

Hy het my daarnatoe gebring en daar sien ek toe ‘n man wat gelyk het of hy van brons is. Daar was ‘n linnetou en ‘n meetstok in sy hand, en hy het by ‘n poort gestaan. Die man het vir my gesê: “Mens, jy moet goed kyk en luister, jy moet oplet na alles wat ek vir jou wys, want jy is hiernatoe gebring om alles vir jou te wys. Wat jy gesien het, moet jy dan vir Israel gaan sê.” Daar was ‘n muur buite-om die tempelgeboue. Die meetstok wat die man in sy hand gehad het, was drie meter lank, langer dus as ‘n gewone meetstok. Die man het die muur gemeet, en dit was drie meter breed en net so hoog. (Esegiël 40:3-5)

Dit is die opdrag aan Esegiël om die manjifieke Tempel van God te meet en op te teken. Dit is die wonderbare beskrywing, uit die menslike beperktheid van die profeet, van die kerk van Christus. Daar word melding gemaak van die perfekte kubus, waar plek vir almal is, net soos die 144 000 van Openbaring 7.

Dalk was die beskrywing van Sagaria meer in Johannes se gedagtes tydens hierdie deel van die visioen.

Ek het weer ‘n gesig gesien. Daar was ‘n man met ‘n maatlyn in die hand, en ek het gevra: “Waar gaan u heen?” Hy het vir my gesê: “Ek gaan Jerusalem uitmeet om te sien hoe breed en hoe lank hy moet wees.” (Sagaria 2:1,2)

Net ‘n paar verse verder belowe God die kern kenmerk van Sy kerk. Dit is die primêre maatstaf van die ware kerk. 

Die Here sê: Ek sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.” (Sagaria 2:5)

Amos (7:7-9) sien ook God met ‘n maatlyn in die hand.

Meting vind plaas in voorbereiding vir bouwerk, maar ook vir sloping. In hierdie geval beteken die meting beskerming en behoud. Dit gaan saam met die seël van God op Sy eie soos in Openbaring 7:2-4 beskryf. Die Tempel wat gemeet word is die simbool vir die onsigbare kerk van Jesus oor die hele aarde.

Die Tempel in Jesrusalem het vier voorhowe gehad, voor die Heilige deel waar net die priesters toegelaat is. ‘n Balustrade het die voorhof van die heidene van die voorhof van die vroue en die voorhof van die Joodse mans geskei. ‘n Mens kan jou skaars voorstel hoe streng die skeiding was. Oortreding daarvan het die doodstraf tot gevolg gehad.

Die Tempel wat hier in Openbaring beskryf word, is die kerk van Jesus, ‘n vry en oop, verwelkomende plek van genoeg, waar toegang tot die Allerheiligste aan die Kruis met die dood van Jesus vir ons moontlik gemaak is . Ons is die lewende stene (1 Petrus 2:5) en Jesus is die hoeksteen (Efesiërs 2:20-21). Ons word beskryf as die tempel van God in 1 Korintiërs 3:16,17 en 2 Korintiërs 6:16:

Hoe kan ‘n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”

In die Engelse vertalings word die frase “time, times and half a time” genoem, wat in die NAB 42 maande en in die OAB 1260 dae genoem word. Dit is alles dieselfde as die drie en ‘n half jaar wat in ander vertalings gebruik word. Dit verwys terug na Daniel 7:25 en 12:7. Dit dui op ‘n beperkte tyd van boosheid.

Sover dit die Jode aangaan was die toppunt van boosheid in hulle geskeidenis die oorheersing van Antiochus Epiphanes [215vC – 164vC]. Hy was ‘n Hellenistiese Griek wat oor Sirië geheers het en homself as die profeet van die Griekse kultuur gesien het. Hy was vasbelsote om Griekse kultuur, aanbidding en taal in Palestina te vestig. Die Jode het weerstand gebied met die gevolg dat Antiochus Jerusalem binngeval het en ‘n vark in die Tempel se Allerheiligste deel geslag het, onder ‘n beeld van Zeus. Die tempelkamers is as bordeel gebruik. Tagtigduisend Jode het of hulle lewe verloor of slawe geword. Gehoorsaamheid aan die Wet van Moses, was met die dood strafbaar. Die Joodse aanvoerder, Maccabees het met sy vyf seuns en ‘n strafekspedisie, die eerste godsdienstige oorlog van die geskiedenis suksesvol geveg. Die Tempel is herstel. Die vervolging van Antiochus het presies 1260 dae (42 maande of 3,5 jaar) geduur. Hierdie oorwinning is die bron van die Joodse Hanukkah fees wat rondom Kersfees gevier word. Toe die oorwinnaars die lampstaander in die Heilige deel van die Tempel wou aansteek was daar net olie vir een dag. Die een dag se olie het agt dae lank gebrand om aan hulle genoeg tyd te gee om weer olie vir die Tempel bymekaar te maak.

Die twee getuies het verskeie verklarings. ‘n Aantal kommentatore is van mening dat dit die Wet en Profete is, of die Wet en die Evangelies. Ander is van mening dat daar van Moses en Elia gepraat word, as gevolg van die wonderwerke van hulle albei wat herkenbaar is in die beskrywing hier. Hulle was die twee figure op die Berg van Verheerliking (Markus 9:4). Vuur het uit Elia se mond gekom en sy vyande verskroei (2 Konings 1:9,10). Hy het opdrag gegee dat geen reën sal val in Israel in die tyd van Agab se regering nie. Moses word met die plae van Egipte assosieer.

Jerusalem was ‘n kernbelangrike, simboliese stad, maar word met aaklikge name genoem. Sodom was die simbool van sonde en geestelike onreg en Egipte was ‘n simbool van weerstand teen God se plan. Albei maak van hulle inwoners sonde-slawe. Die ergste was Jerusalem se rol in die kruisiging van Jesus. Die naam word weggeneem en aan die kerk van Christus gegee wat die doel en plan van God sal volvoer. Ons is die Nuwe Jerusalem.

In antieke tye was dit ‘n groot skande om nie begrawe te word nie.

Hulle het die lyke van u dienaars aan die voëls gegee om te vreet, die vleis van u troue dienaars aan die wilde diere. Hulle het die bloed van u dienaars rondom Jerusalem laat vloei soos water. Niemand het hulle begrawe nie. (Psalms 79:2,3)

 Selfse erger is dat die dood van die twee getuies rede vir feesviering is. God se getuies word oor duisende jare al doodgemaak en uitgeroei, net soos die profete van ouds en die martelare oor al die eeue, ook vandag. Hulle word egter na ‘n beperkte tyd (drie en ‘n half dae) weer opgewek tot groot konsternasie van die moordenaars.

Soos Jesus, het die dood geen mag oor die waarheid nie. Die getuies, soos die kerk, verkondig die waarheid en die fisiese dood sal nooit oorwin nie. Selfs die natuur kom in opstand oor die valsheid en moord. Die aarde bewe toe Jesus sterf en ook hier toe Sy getuies sterf. Die wat God aanroep word gered – altyd. Ons sien om ons in die wêreld dat selfs binne groot rampe, die mense se harte verhard teen God.

Die enigste manier hier op aarde om God te verheerlik is deur sondebelydenis en bekering. Hier word die Kruis van Jesus en die redding waarvan dit spreek weer beklemtoon. ‘n Lewe word geoffer en word weer gegee.

In die proses word die boosheid oorwin – nie deur geweld nie, maar deur ‘n lewe en ‘n opstanding.

Die sewende trompet is die opsomming van dit wat nog kom. Dit lyk soos die einde, maar meer besonderhede word in die volgende hoofstukke gegee.

Dit word alles genoem in die aanbiddingslied van die 24 ouderlinge, die kerk.

Volmaakte oorwinning van die gesalfde Een – Psalms 2:2

God se almag en die Millenium – Openbaring 11:7
Die aanval van die bose en die finale oorwinning – Openbaring 11:18.

In die heel laaste versie is ons saam met Johannes in die visioen van die hemelse Tempel wat ‘n spieëlbeeld van die kerk van Jesus op aarde is. Die verbondsark is die simbool van Sy teenwoordigheid en die verbondsverhouding van almal wat in Jesus glo.

Dit is die beeld van oorwinning oor God se vyande, God se heerlikheid en glorie en saam met Hom vir ons wat die kinders van die belofte is.

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s