85. K.E.R.K.

 

Dit is nou maar eenmaal so dat die woord kerk sekere gevoelens en gedagtes ontketen. Vir sommige mense is die onwillekeurige reaksie negatief. Bitterheid teenoor mense en leiers in die kerk is algemeen. Soveel pyn spruit uit teleurstelling en veroordeling in die verlede, wat oor jare in die gesprek oor kerk ingemessel word en aanleiding gee tot ‘n skerp afkeur van mens en organisasie in individuele harte.

Ek is waarlik dankbaar dat ek as tiener in die kerk ‘n sosiale kring gevind het, wat my deur moeilike jare ondersteun het. Ek kan nie regtig die lering of preke onthou nie, maar ek onthou die vriendelikheid van die leiers, die organisasie om saam pret te hê, en die ander jongmense baie goed. Die kerk was egter vir my oudste twee seuns in hulle tienerjare ‘n teleurstelling. Hulle het nie so ‘n gemaklike tuiste in die tienerbediening gevind nie en ons as ouers kon niks daaraan doen nie, al het ons so begeer dat hulle moes ondervind wat ons gehad het.

Dit is met opset dat die opskrif van hierdie Bodemklip soos ‘n afkorting geskryf is. Binne die woord kerk, moet ons ‘n nuwe konsep vestig – positief en vars. Daar is sekerlik heelwat moontlikhede, maar ek sou graag die grondbeginsel van kerk vestig met die woorde: Kom Eers Reguit Kruis [toe].

Die kruis van Jesus staan sentraal – altyd. Net dit wat volgens die volle impak van Jesus se kruisdood gebeur, het plek in die kerk.

Met hierdie beginsel in plek as prioriteit, kan ons terugkyk na Esra se aankoms in Jerusalem om die tempel te herstel. Die Here wek hierdie geleerde man op om die volk te ondersteun in die herstel van die tempel. Hy kom met die goedkeuring van die magtigste heerser van die Antieke Wêreld. So het Esra die reis aangepak:

[…] en wat my guns laat vind het voor die koning en sy raadsmanne en voor al die magtige vorste van die koning. Toe het ek moed geskep, omdat die hand van die HERE my God oor my was, en ek het die hoofde uit Israel versamel om saam met my op te trek. (Esra 7:28, OAB*)

Kerkorganisasie begin reeds op die reis. Esra beskou die families wat saamtrek noukeurig en vind geen Leviete nie. Tradisioneel het die stam van Levi tempeldiens gedoen. By die uitdeel van die grondgebied deur Joshua by die aankoms in die beloofde land, het die Leviete geen grond ontvang nie, omdat hulle hulle lewe sou wy aan aanbidding en lering in voltydse bediening en deur die volk onderhou sou word.

Esra organiseer 220 tempeldienaars uit die stam van Levi nog voor sy aankoms in Jerusalem (Esra 8:15–20.) Verder het hy twaalf priesterowerstes afgesonder en aan hulle die kosbaarhede vir die tempel oorgegee. By hulle aankoms in Jerusalem het die priesters en die Leviete die silwer en goud afgegee en brandoffers aan die Here gebring.

By die herstel van aanbidding het die volk se sonde duidelik geblyk en Esra tree in om by God om vergifnis te smeek. Hy het sy klere geskeur en sy hare en baard uitgetrek (Esra 9:3). Hy was diep ontsteld oor die afvalligheid van sy volk en het in gebed ingetree vir hulle. Hy het so gebid dat die mense om hom kom staan het en aan die huil gegaan het. Diep berou het hulle harte geraak. Hulle het met trane hulle sonde besef en bely.

Hierdie geleentheid is gekenmerk deur gebed, sondebelydenis en ‘n diepe besef van God se woord. Dit is betekenisvol dat Esra se reaksie op sy eie moedeloosheid en ontsteltenis ‘n lang, ernstige gebed waarin hy God se almag en soewereiniteit beklemtoon, was. Hy bid en bely namens die volk totdat hulle saam met hom kom bid. Hy het nie uitgegaan en links en regs tereggewys, veroordeel en blaam uitgedeel oor die jammerlike toestand van die tempel en stad nie. Hy het gebid en uit die gebed kom ‘n oproep tot suiwering en bekering.

Voordat die tempelherstel kon begin, moes die volk die vreemde vroue wat hulle getrou het, skei en die vrouens en kinders van hulle wegstuur. (Esra 10:44)

Vir ons moderne ore is dit geweldige drastiese maatreëls tot suiwering. Die Ou Testament is egter vir ons die simboliese voorbeeld van ‘n goddelike lewe. Sekulêre leefwyses wat soos ‘n “getroude vrou” in die Christelike lewe tuis is, erodeer die kerk van binne en maak die Christen kragteloos. Ons weet tog almal dat die kerk soveel maal al die slagoffer was van kwaadpraat, skinder, aanstoot, hoogmoed, trots, liefdeloosheid, selfsug, statusbeheptheid – ag, ‘n lang lys aaklighede. Al hierdie sondes verhinder die teenwoordigheid van God, maak die kruis van Jesus tot niks en skep ‘n speelveld vir die duiwel waar hy boelie en boks tot die bloed loop. Onthou hy is besonder ingestel daarop om die kerk te neutraliseer.

In Johannes 8 lees ons van die vrou wat in owerspel gevang is en deur die Fariseërs voor Jesus gebring is. ‘n Interessante stukkie “kerk” wat in die strate van Jerusalem afspeel. Ek veronderstel almal ken die toneel wat beskryf word in Johannes 8:1–11.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes is aktief in dit waaraan hulle hulle lewens wy. Hulle is die leiers van die Joodse volk, wat in wese deur hulle geloof in Yahweh gekenmerk word. Sy wette en voorskrifte is die fondament van hulle samelewing en die leiers van die kerk is verantwoordelik vir die lering en toepassing daarvan in die daaglikse lewe van hulle medeburgers. Indien daar enige dispuut oor die toepassing van ‘n wet ontstaan het, was dit heeltemal normaal om dit voor die rabbi te bring.

Hoewel hulle Jesus nie eintlik as ‘n rabbi wou erken nie, bring hulle ‘n vrou wat in owerspel gevang is, voor Hom. Enige Jood sou weet dat owerspel, afgodediens en moord sondes is wat die doodstraf dra. Levitikus 20 en Deuteronomium 22 skryf die doodstraf voor vir albei partye wat owerspel gepleeg het. Interessant dat die man in hierdie geval nie saam aangekla is nie.

Dit is duidelik dat die doodstraf vir die vrou volgens die fel oordeel van die wet van Mosesnie te betwyfel is nie. Die kerkleiers was oortuig dat hulle ‘n perfekte teologiese strik vir Jesus kon span. Soos William Barclay dit stel: …and here they thought they had impaled him inescapably on the horns of a dilemma. [New Daily Study Bible]

Indien Hy deelneem aan die doodstraf sou Hy nooit weer sy boodskap van liefde en genade kon verkondig en ‘n vriend van sondaars genoem kon word nie. Hy sou terselfdertyd in stryd met die Romeinse wet en owerhede optree aangesien die Jode nie toegelaat is om iemand ter dood te veroordeel nie, selfs in die lig van hulle godsdienswette. Rome het wet en orde beheer en oor doodstraf die finale uitspraak gemaak. Het hulle dalk gedink Jesus besef dit nie en dat dit Hom in die moeilikheid by Rome sou bring?

Indien Hy haar sou vryspreek en vergewe, sou Hy direk in stryd met die wet van Moses optree. Hulle sou vry voel om Hom van permissiwiteit aan te kla, aangesien Hy mense dan indirek vrymaak van die sonde van owerspel.

Jesus het neergekniel en in die sand geskryf. Op hierdie punt is die kommentare ‘n vryspel van fikse denke oor ‘n magdom moontlikhede. Sommige meen dat Hy nie meer die haat en veroordeling in die kerkleiers en skare kon verdra nie en vir krag en insig gebid het. Sommige meen dat Hy die sondes van die klipgooiers opgeskryf het en hulle skynheiligheid so ontbloot het dat hulle bang was hulle dade word openbaar gemaak. Die Griekse woord wat vir skryf gebruik word is graphein. In hierdie geval word die woord katagraphein gebruik wat beteken om iets op die rekord teen iemand op te skryf.

Sou dit wees dat Jesus die rekord van hierdie sadistiese skare teen hulleself opgeskryf het?

Tog het die kerkleiers op ‘n antwoord aangedring. ’n Antwoord het hulle gekry:

Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” (Johannes 8:7, NAB*)

Die luidkeelse aanklaers het stil-stil verdwyn. Die stille aanklag teen hulle het sekerlik soos donderweer in hulle binneste gedruis. Hulle het weggeglip, weg van die Bron van vergifnis, wat ook hulle sou kon vryspreek.

Toe Hy alleen met die vrou agterbly het Hy haar gevra of sy iemand sien wat die oordeel oor haar gaan voltrek. Daar was wel oordeel oor haar sonde. Sy het sonde gedoen; dit is nooit ontken nie. Jesus het haar vrygespreek. Hoe kon Hy dit doen? Owerspel is ernstig – volgens Hom ‘n grond vir egskeiding soos in die Bergpredikasie van Matteus 5 duidelik uitkom.

Jesus het geweet Hy is op pad kruis toe vir haar sonde ook. Hy was altyd bewus van sy hoë roeping om die finale prys te betaal. Hy kon haar vryspreek op grond van wie Hy is.

In kerkverband is sy afskeidswoorde aan haar betekenisvol.

[…] Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie. (Johannes 8:11, NAB)

Jesus het haar nie na die sinagoge gestuur vir onderrig in die wet van Moses nie, hy het haar nie na die rabbi vir geestelike lering en leiding gestuur nie, hy het nie ‘n lang voorskrif oor ‘n rein lewe en ‘n lang relaas oor ‘n nuwe leefwyse gegee nie. Hy het haar weggestuur met woorde van genade, in volle vertroue dat sy woorde genoeg is om haar hele toekoms in Hom te verseker.

Engels het twee woorde vir genade – grace en mercy. Grace se definisie, volgens Strong se Konkordansie, is: the unmerited favour of God. Dit beteken God se guns oor ons is nie iets wat ons verdien of kan verdien nie; dit word oor ons uitgestort uit sy liefde tot ons voordeel. Mercy word so gedefinieer: compassion or forgiveness shown toward someone whom it is within one’s power to punish or harm.

Volgens Merriam-Webster: mercy implies compassion that forbears punishing even when justice demands it.

Mercy word soms in Afrikaans met die woord barmhartigheid vertaal. Dit is egter belangrik om die betekenis daarvan ten volle te begryp. Dit het te doen met die terughouding van straf. Dit kan net toegepas word deur ‘n persoon wat in ‘n posisie van outoriteit tot ‘n ander persoon staan. Ek kan die straf oor my kind versag of terughou. Daar is ‘n verkeerde daad wat straf veronderstel. Die persoon wat die straf moet uitvoer besluit om dit uit genade te weerhou.

God het Homself aan Moses openbaar as ‘n barmhartige God. Hy is dus die Bron van strafopheffing! Nie net dit nie – Hy is die Een wat ons straf op Hom geneem het. Dit is weer eens die sentrale tema van die Kruis – strafopheffing.

[…] Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. (Jesaja 53:4, NAB)

Dit was die “kerk” van Jerusalem se strate. Dit was nie ‘n plek van veroordeling nie. Dit was die plek van vryspraak en vrymoedige voortgang in ‘n toekoms van ongebondenheid aan die sonde en skande van die verlede.

Jesus het geweet as Hy haar daar vryspreek is sy in die hande van sy Vader en die Heilige Gees – geborge en veilig. Die Heilige Gees sal leer en lei. Hy oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (Johannes 15.) Dit is nie die kerk wat die sonde uitskreeu, veroordeel en straf nie. Die kerk is die plek van liefde en barmhartigheid SODAT die Heilige Gees die oortuigingswerk kan doen. Sonder liefde is daar nie sprake van konstruktiewe sondebewustheid nie.

Die Heilige Gees wat werk laat die mense saamkom, saam bid en saam huil. Diep oortuiging kom deur ware verootmoediging en daar in die kerk moet die vryspraak in die Naam van Jesus geskied. Dis kerk aan die voet van die Kruis!

 

 

 

*OAB = Ou Afrikaanse Bybel

*NAB = Nuwe Afrikaanse Bybel

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s