Die wêreld is ‘n gevaarlike plek. Daaroor is geen twyfel nie. Gevaar is oral. As dit nie roof en doodslag is nie, is dit terrorisme en natuurrampe. Daar is eenvoudig nie ‘n waarborg vir veiligheid nie. Boonop klim ons daagliks in ‘n motor waarvan die statistiese risiko’s skrikwekkend is. Indien ons ‘n denkoefening in risiko-analise sou doen, sou ons sekerlik in ‘n kasteel op ‘n berg agter slot en grendel wou woon… en krepeer.
Gevaar is ons konstante metgesel. Laat net jou gedagtes los en jy kan die gevare opnoem. Dis nie eers nodig om diep te dink nie. Ons verbeelding kan die ergste rampspoed ongevraag in groteske besonderhede opdis. Dis met moeite, en vir my, met groot geloof dat ek vrees bewustelik onderdruk. My ma het altyd gesê sy kan die gevaar om die draai sien en betyds waarsku. Ek het eers later in my lewe besef dat mens eintlik in ‘n staat van voortdurende paniek is. ‘n Mens kan nie so leef nie.
Jesus het vrees, angs en bekommernis dikwels aangespreek en ons het al in Bodemklippe daaroor gesels. Hy weet goed waarmee ons te doen het. Meer nog – Hy weet meer. Hy sien die werklike gevaar, die demoniese aanslag om ons te vernietig en met vrees ons lewe te steel. Hy sê, moet jou nie bekommer nie.
Ek is oortuig dat ek in die geestelike realm, met volle insig in die liefde en almag van God, my sal doodskaam oor my vrees. Die probleem is my beperkte begrip van hoe lief Hy my werklik het, en in hoe ‘n mate elke belofte van beskerming en bewaring elke oomblik ‘n werklikheid is. Indien dit nie die geval was nie, was ek lankal dood. Ek weet van ‘n paar noue ontkomings en is baie seker daar soveel meer is, wat ek nie gesien het nie.
My skoonma vertel altyd hoe haar pa haar teen ‘n sekere draai op die grondpad daar tussen Hartbeesfontein en Klerksdorp oppad Johannesburg toe, gewaarsku het. Hy was onbewus van die veel groter gevare verder aan op die pad, om nie te praat van die hele lewe in die stad nie. Net so is ons insig in wat waarlik om ons aangaan, so beperk. Ons is soos die hamster in die hok wat vroetel by die deurtjie om te ontsnap, terwyl die huis se Jack Russel sy ore spits elke keer as die deurtjie van die hok beweeg. Die hamster sien nie die hond nie, maar die hamsterbaas weet dat die veiligste plek vir die hamster binne-in die hok is. Net so kan ons God vertrou met die groter prentjie.
Esra het reeds die altaar op sy plek, aanbidding is herstel, sonde is bely en die herstelwerk aan die tempel is op dreef. Dit is ‘n reuse taak en die vyande is aktief. Buiten die fisieke teenstand van naburige volke is die moedeloosheid en vrees in hulle harte die rede dat bouwerk gestaak word. Die profete word opgeroep om te bemoedig en perspektief te herstel. Selfs al kan die vorige prag en praal van die tempel van Salomo nie weer bereik word nie, moet die bouwerk voortgaan en die plek van aanbidding klaarkom.
Jare gaan verby. Die gebeure in Esra strek oor ‘n tydperk van 81 jaar. Die tempel word herstel, maar die muur is nog ‘n ruïne, ‘n hoop rommel waaroor enige vyand maklik oor kan klouter en aanval. Dink maar net aan al die gevare waarin die terugkerende ballinge deur die jare met die tempelherstel en die opbou van eie plase en woonplekke. Selfs met ‘n rommelhoop vir ‘n muur, het die prioriteit van aanbidding die volk beskerm. Menslik gesproke moes hulle sekerlik eerste die muur herstel het. Dis mos logies. ‘n Antieke stad sonder ‘n muur was totaal blootgestel.
Dis op hierdie punt waar ons Nehemia ontmoet – 24 jaar na die hervatting van die tempelherstel. Die historiese tydperk van Esra en Nehemia saam dek ongeveer 110 jaar. Dit is eers met die vertaling van die Bybel in Latyn (die Vulgaat) dat Nehemia ‘n afsonderlike boek word. In die Hebreeuse Bybel is Esra en Nehemia een boek, onder Esra se naam. Nehemia beteken Yahweh troos.
Nehemia stel homself voor as die skinker van koning Artasasta van Persië. Die skinker was ‘n belangrike posisie aan die hof van die heerser. Hy was ‘n vertroueling van die koning en moes keer dat die koning vergiftig word. Hy het in die luuksheid van die paleis gewoon, tog was sy hart in Jerusalem.
Hy ontvang berig van die beroerde toestand in Jerusalem deur een van sy broers, Hanani, en word sommer hartseer daaroor.
En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel. (Nehemia 1:4)
Nehemia se gebed is te pragtig. Hy pleit by die grote God van hemel en aarde vir vergifnis van die volk se sondes en herinner God aan die beloftes aan Moses aangaande die land. Slegte nuus laat hom bid. Drome wat in skerwe lê, laat hom gryp na die wonderwerke van ouds en die beloftes van die God wat hy liefhet en dien.
Die koning sien sy bedroefde toestand. Dit was ‘n ramp wat baie slegte gevolge kon hê. Die koning was nie in diens van die mense nie. Jy kon nie jou depressie en terneergedruktheid in die teenwoordigheid van die koning wys nie. Jy kon jou lewe verloor as jy persoonlike emosie op jou gesig vertoon het, selfs al breek jou hart. Dit is duidelik dat Nehemia so ‘n gevestigde verhouding met die koning het, dat sy gemoedstoestand bespreek word – hoogs onreëlmatig.
In daardie oomblik wat die koning hom aanspreek, bid Nehemia (2:4). Ons het in Bodemklippe 13 [Noodkreet van die heelal] Nehemia leer ken as die meester van die skietgebed.
Die koning is onmiddellik betrokke by die toestand van ‘n onbelangrike ruïne stad op een van die ver uithoeke van sy magtige ryk. Is dit nie verstommend hoe God die hart van die heerser kan roer om Nehemia guns te gee, en alles wat hy nodig mag hê om die muur te herstel, beskikbaar te maak nie? Dit is genoeg om geloof te bou in enige situasie waarin ons met ongelowige owerhede te doen het, al lyk die saak onmoontlik.
Toegerus met briewe aan die goewerneurs van die streek om aan hom al die rou materiaal vir die bouwerk beskikbaar te maak, vertrek Nehemia Jerusalem toe om die bouwerk aan die muur te begin. In Jerusalem aangekom, bly hy tjoepstil oor die ware doel van sy reis. Hy ry in die nag om die stad en maak ‘n opname van die projek, sodat hy toegerus met al die inligting, met die stadsleiers kan praat. Hy benader die projek met strategie omdat hy besef dat daar opposisie mag wees. Hy is ‘n nuwe aankomeling wat met ‘n groot projek wil begin en hy wil nie die mense in die stad aanstoot gee nie, eerder bemoedig om met groot entoesiasme die muurbouery aan te pak.
Toe hy die projek aan hulle voorstel, is dit in die lig van die getuienis wat hy reeds het van die koning se guns en die boumateriaal wat reeds verkry is. Nehemia slaag daarin om hulle te inspireer om die werk te begin. (2:18)
Die vyand hoor ook van die projek.
Maar toe Sanbállat, die Horoniet, en Tobía, die Ammonitiese kneg, en Gesem, die Arabier, dit hoor, het hulle ons bespot en ons verag en gesê: Wat is dit vir ’n ding wat julle doen? Wil julle teen die koning rebelleer? (Nehemia 2:19)
Het jy al ooit entoesiasties ‘n plan gehad en oorgedra aan ander mense, wie dan soos ‘n nat vadoek, ‘n regte pretbederwer met ‘n lang gesig, die probleme uitlig? Meer nog, wat openlik vyandig die spot dryf met jou ambisie. Dit voel soms so as mens met burokrasie te doen het – eindelose papierwerk, nors gesigte, bot opdragte wat meer tyd, moeite en koste vereis. Gee dit ‘n naam: die Sanballat-proses.
Nehemia se antwoord aan hierdie vyande is die belofte van God. (2:20):
Toe antwoord ek hulle en sê vir hulle: Die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk, en ons, sy knegte, sal ons klaarmaak en bou; maar julle het geen deel of reg of gedagtenis in Jerusalem nie.
Bodemklipvriend – jou God het ‘n naam. Hy is die God van die hemel. In die Naam van sy Seun is alles moontlik.
As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. (Johannes 14:14)
Met die belofte van God in plek, kon die bouwerk begin. Dit is die uiters belangrike prioriteit. Eers bid, eers die belofte in plek, eers die vyand aanspreek en op sy plek sit – dan bou.
Die reuse taak is in sektore verdeel. Poort, pilare en muur is afgemeet deur toegewysde bouers. Die hoëpriester en die priesters het begin. Wat ‘n wonderlike voorbeeld. Die kerk neem die leiding, werk vooraan. Bid, bou, bid, bou, bid – so het dit begin en so het dit aangehou. Sodra die poort gebou is, het hulle dit geheilig en dan voortgebou tot by die volgende toring.
En Éljasib, die hoëpriester, het hom klaargemaak met sy broers, die priesters, en hulle het die Skaapspoort gebou; hulle het dit geheilig en sy deure ingesit; verder tot by die toring Hamméa wat hulle geheilig het, tot by die toring Hanáneël. (Nehemia 3:1)
Die ou grappie – hoe eet jy ‘n olifant? Happie vir happie – natuurlik. Ons kan gou moedeloos raak as ons ‘n hele onderneming met al die moontlike probleme tot diep in die toekoms moet beplan. Die beplanning is noodsaaklik, maar slegs planne deurweek in geloof kan ons in staat stel om die vyand en gevare te oorwin.
Die belangrikste is die aksieplan. Nehemia se eerste reaksie by die aanhoor van die taak, was gebed. Toe hy die projek aan die koning stel, het hy gebid. Hy het gebid vir beskerming en sy vyande aan die God van die hemel oorgegee. Sagaria, het die profetiese onderbou aan hierdie aksie gegee.
Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik:
Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare. (Sagaria 4:6)
So sal ons die muur bou. So sal ons die vyand afweer. So sal ons veilig wees. Deur die Gees van die Here. Hy sal ons veilig hou, ook deur al die jare waarin die muur ‘n ruïne is.
Miskien weet jy nie eers wat die swak plekke in jou “muur” is nie. Onthou jy is ‘n burger van die onsigbare koninkryk van God. Jy is alreeds in die onsienlike realm, binne hierdie wêreld. Ons aarde is vervloek, vol gevare en vol vyande. Ons is beskerm. Ons pa is die God van die hemel.
Nehemia se gebed in die Amplified vertaling: (1:5,6)
“Please, O Lord God of heaven, the great and awesome God, who keeps the covenant and lovingkindness for those who love Him and keep His commandments, please let Your ear be attentive and Your eyes open to hear the prayer of Your servant which I am praying before You, day and night…