Net as inleiding wil ek weer die belang van verskillende vertalings beklemtoon. Ons is almal bevoorreg om twee tale te ken. Lees asseblief die Engelse Bybels wat ‘n groter verskeidenheid vertalings aanbied as Afrikaans. Ek sal nooit my liefde vir die Afrikaanse Bybeltaal verloor nie. Die Totius-woorde van die 1933-vertaling is kosbare taalgoud. Lees die Amplified en die Spirit Filled as studie-Bybels, die New International Version (NIV) en die New Living Translation (NLT). Ek gaan voort om dikwels uit die Engels aan te haal vir die rykdom van taal wat dit vir ons byvoeg.
Die volk het ‘n koning! God gee wat hulle vra. Hy wys op die verkeerde motief en oordeel hulle harte, maar bly betrokke en aktief – dis ons God. Hy sal jou nooit verlaat nie, ten spyte van jouself.
Samuel is woedend. Hy neem aanstoot namens God en laat nie ‘n geleentheid verbygaan om dit onder die volk se neus te vryf nie. Sy verwyte is ernstig en skerp. 1 Samuel 10:19,25 , 1 Samuel 12:12, 17-19.
God dui vir hom die eerste koning aan en Saul kom op die toneel van Israel se geskiedenis. Hy was “tall, dark and handsome”, sag op die oog – soos sommige sal sê. Sy pa was ‘n gesiene man – a mighty man of power. Die Bybel sê so:
1 Samuel 9:2:
…and he had a choice and handsome son whose name was Saul. There was not a more handsome person than he among the children of Israel. From his shouders upward he was taller than any among the people.
Saul en sy bediende word uitgestuur om sy pa se donkies te gaan soek. Na ‘n lang, vrugtelose soektog stel die bediende voor om die profeet op te soek om oor die verlore donkies te vra en so kom Saul en sy bediende by Samuel uit. Saul se diensbaarheid en nederigheid is duidelik in sy huiwering om leë hande by die profeet aan te doen. 9: 7 : What shall we bring the man? For the bread in our vessels is all gone and there is no present to bring to the man of God……
Die bediende stel voor om die bietjie silwer wat hulle byderhand gehad het, te gee. Ek kry die indruk dis al wat hulle nog oor gehad het. Saul ondersteun die gedagte en sê: Dis ‘n goeie plan. Kom ons gaan.
Die vorige dag het die Here aan Samuel openbaar dat ‘n man uit die stam van Benjamin by hom sal aandoen en dat hy hom as koning oor Israel moet salf. 1 Samuel 9:16.
Samuel is voorbereid op Saul se koms en ontmoet hom in die poort. Hy stel hom gerus oor die donkies en praat oor sy pa se stand in die gemeenskap. Weer blyk Saul se nederigheid uit sy antwoord.
1 Samuel 9:21:
Ek is maar net ‘n Benjaminiet, uit die swakste stam van Israel. Boonop is my familie die kleinste in die stam Benjamin! Waarom praat u so met my?
Samuel plaas Saul en sy bediende op ‘n ereplek tussen die sowat 30 gaste en geeaan hom voorkeurkos. Hy verhef hom dadelik tot die plek wat God vir hom beplan. Die volgende dag kry Samuel hom egter alleen om hom die Woord mee te deel, dat God hom as koning oor die volk aanstel.
God se Woord tot individue kom meestal op a need to know-basis. Ek dink dikwels terug aan Maria wat die nuus oor haar swangerskap alleen moes aanhoor. Josef se reaksie is om haar te beskerm, haar weg te steek, totdat God hom in ‘n droom gerusstel. Matteus 1:19. Maar, hulle besondere openbaring was hulle geheim en God het nie die aankondiging aan die hele dorpie gemaak nie. Hulle moes self die skande en skinder van ‘n onverwagte, onbeplande swangerskap dra. Die Woord van God het hulle krag gegee om die gepraat van mense aan die belofte van God te onderwerp. Die mense se opinie kan nooit God se plan van koers af stuur nie.
Die profesie wat Samuel oor Saul uitspreek is kragtig om hom toe te rus vir die taak wat aan hom opgedra word. Hy sê dat die donkies reeds gevind is, en voorspel aan Saul in detail wie hom op sy pad terug sal ontmoet, sodat Saul besef dat die profesie bevestig word deur die daaropvolgende gebeure. Die Woord wat van Samuel uitgaan verander Saul in ‘n oogwink diep en duidelik. Samuel sê in 10:6 :
Then the Spirit of the Lord will come upon you and you will prophecy with them and be turned into another man.
Die wonder van bekering: jy onderwerp aan God se Woord en God verander jou hart. 10:9 bevestig hierdie kragtige, geestelike metamorfose:
So it was, when he turned his back to go from Samuel, that God gave him another heart; and all those signs came to pass that day.
Die ommekeer was so kragtig dat die volk dit gesien het. Saul se profetiese optrede saam met die profete, was so besonders dat dit oral bespreek is onder die mense. Soveel so – dat die hele voorval ‘n idioom in die volksmond geword het. Dat iemand wie se pa nie ‘n profeet is nie, skielik begin profeteer, was so uitsonderlik dat die profetiese gawe slegs van God self af kon kom. Die frase: is Saul ook onder die profete? het gedui op enigiemand wat iets doen wat radikaal verskil van die gewone.
Saul word deur sy oom uitgevra oor die besoek aan Samuel en vertel alles, behalwe die deel oor die koningskap. Samuel kry die volk bymekaar en roep Saul uit as koning, maar toe hulle hom soek toe kruip hy tussen die donkies weg. [Onthou donkies was in die oë van die antieke wêreld nie ‘n nederige, belaglike pakdier nie, maar ‘n waardige dier wat rykdom aangedui het. Daarom het Jesus op ‘n donkie gery by die intog in Jerusalem toe hulle hom as koning vereer het.]
Alles is gereed om van die koningskap ‘n groot sukses te maak. In die volgende hoofstukke word die oorwinnings van Saul beskryf. Verskeie kere word genoem dat hy onder leiding van die Gees van God optree (11:6) en die Here die eer gee vir oorwinning (11:13).
By die kroning waarsku Samuel die volk om die Here met hulle hele hart te dien sodat dit met hulle goed kan gaan, anders (1 Sam 12:24 en 25) : you will be swept away, you and your king.
Maar as julle opsetlik verkeerd doen, sal julle sowel as julle koning uitgewis word.
Nou die skok: Skaars twee jaar na Saul se kroning lei sy seun Jonathan die Israeliese leër in ‘n oorlog om Israel se onafhanklikheid van die Filistynse oorheersing finaal af te skud. Die oormag van die Filistyne maak weer die Israeliete bang en Saul besluit om self ‘n brandoffer te bring voordat Samuel opdaag. Sy paniek oor die vrees van sy soldate en sy leierskap wat wankel omdat Samuel laat opdaag vir die offer, laat hom buite die voorskrifte optree. Samuel voorspel dat sy koninkryk nie sal voortduur nie.
Jonathan verslaan egter die Filistyne in ‘n slag waarin die Here verwarring in die kamp van die Filistyne bring en hulle mekaar aanval. Groot oorwinning en eer vir Saul. Die stryd is egter nie oor nie en die oorlog duur voort om finaal die juk van Filistynse oorheersing te breek. Saul doen ‘n dwase ding om sy soldate te verbied om te eet, met ‘n vervloeking op ongehoorsaamheid aan die verbod. Hulle kom op ‘n plek wat volop heuning het en die hele leër raak dit nie aan nie.
Toe kom Jonathan daar aan en eet van die heuning. Die soldate kla toe by hom. Hy lig die verbod en sê dat sy pa ‘n ramp oor die land gebring het met die verbod. Die honger soldate vaar onder die buit van die verslane Filistyne en eet die geslagte diere met die bloed. Die voorskrifte was duidelik om die dier te laat uitbloei sodat die bloed oor die altaar as offer uitgegiet word. Die dwase voorskrif van Saul veroorsaak sonde. Saul probeer die situasie red en bou self ‘n altaar vir die Here. Hy hou toesig oor die offerbloed wat oor die altaar uitgegiet moet word en vra die Here se leiding in die oorlog. Met lootjies (algemene praktyk in daardie tyd) bepaal hy die skuld van Jonathan as die oortreder van sy eie verbod en bepaal dat Jonathan moet sterf. Die volk tree in en wys daarop dat Jonathan hulle in oorwinning gelei het, en weier om toe te laat dat hy tereggestel word.
Hierdie gebeurtenis verswak die koningskap van Saul, maar hy gaan aan en oorwin meeste van Israel se vyande aan sy grense. Die Here belowe oorwinning as Saul die Amalakiete heeltemal uitroei. En dit beteken : geheel en al en totaal: man, vrou, kind en dier. Die Amalekiete, afstammelinge van Esau, het Moses en die volk op die uittig van Egipte toegang deur hulle land geweier.
In ‘n heilige oorlog is die buit uitgehou vir die offer, maar in hierdie geval was die opdrag duidelik – geen oorlewendes en daarom geen offer, ‘n afwyking van die gewoonte en ‘n toets vir gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here vir ‘n spesifieke situasie. Saul hou die beste van die diere vir homself en bring die koning van Amalek, Agag, lewend terug na Israel. Dit was ‘n statussimbool om die oorwonne koning in jou eie land te verneder. Direk teen die opdrag van God, gaan hy voort soos tradisie en gewoonte voorskryf. Soos ons weet uit die storie van Esther, veroorsaak hierdie ongehoorsaamheid van Saul die oorlewing van die koningin van Agag en die ontstaan van ‘n nasie wat die Jode haat waaruit Hamman gebore word, wie die algehele uitwissing van die Jode in Persië beplan 500 jaar na hierdie gebeure.
Saul se geestelike oë is reeds dof. Samuel is natuurlik bewus van die ongehoorsaamheid en soek na Saul. Hy hoor dat Saul op die berg Karmel is om ‘n monument vir homself op te rig. Die oorwinnings en sukses van sy oorlogskampanjes lei hom op die gevaarlike pad van eiewaan en trots. Toe Samuel hom met sy ongehoorsaamheid konfronteer, toe sê hy in 1 Samuel 15:20:
But I have obeyed the voice of the Lord…. en gaan aan om die volk te blameer omdat die beste diere nie doodgemaak is nie om hulle uit te hou vir die offer aan die Here…..to sacrifice to the Lord your God….!!
Skielik is God Samuel se God. Ongehoorsaamheid breek die verhouding. Samuel se bekende woorde wat die kern van ons godsdiensbeofening moet uitmaak is die antwoord op Saul se verontskuldiging:
Behold to obey is better than sacrifice…….. For rebellion is as the sin of witchcraft and stubbornness is as iniquity and idolatry.
As mens die hoofstuk lees dan vra Saul meer as een maal vergifnis en mens wonder waarom sy houding deur Samuel met hardheid beantwoord word. Dan lees mens in 1 Samuel 15:30:
I have sinned, yet honour me now, please, before the elders of my people and before Israel, and return with me, that I may worship the Lord your God. (my beklemtoning)
Godsdiensbeoefening is nie jou saak nie, dis God se saak. As jy dit op jou manier doen, word dit leeg en uiteindelik sonde. Saul diagnoseer homself in vers 24……. because I feared the people and obeyed their voice. Dit was sy gehoor, die bewondering van die mense in al sy oorwinnings.
Tradisie en rituele in ons godsdiensbeoefening kan nooit voorrang geniet bo die stem van die Here nie. Sy Stem hoor jy deur Sy Woord – die Bybel en dit is die hoogste gesag. Net ons vekleefdheid aan Sy Woord en die begeerte om Sy teenwoordigheid te ervaar hou ons nederig, bewus van ons sonde en beskerm ons teen hoogmoed.
As jy derubraak nodig het in jou geestelike lewe. Kniel in nederigheid voor die troon van die Here en laat toe dat Sy Woord jou aanspreek. Hy sal die koers aandui. Moenie huiwer om te gehoorsaam nie – gehoorsaamheid is beter as jou rituele, jou vooroordeel, jou populariteit, jou beeld in die gemeenskap. Ervaar die krag en die oorwinning!