In die laaste week of wat toe ek weer die storie van Hanna lees, het ek sommer lus gekry vir ‘n studie van die vroue van die Bybel, waaronder ‘n paar uitsonderlike, verrassende karakters tel. Die vroue van die Ou Testament word dikwels as vae figure onder die algemene dominansie van die mansfigure gesien en dis ver van die waarheid.
Ek het al voorheen so bietjie gefilosofeer oor die inzoem-kwaliteite van die Bybelstories. Soms kry ons ‘n oorsig en vinnige tydsverloop en soms word daar in die grootste besonderhede ‘n gebeure oorgedra. Net in twee hoofstukke word ‘n hele paar karakters bekendgestel, ‘n vrou se hartseer, gebed en uitkoms, die beëindiging van die priesterlike geslag soos ons dit ken tot op daardie stadium en die roeping van die profeet wat ‘n onuitwisbare impak op die volgende paar dekades van Israel se geskiedenis gemaak het.
Sentraal in hierdie agtergrondsoorsig is ‘n kinderlose vrou se uitroep na die Here. Kinderloosheid is as ‘n vloek beskou in die antieke gemeenskappe. Mens kan dink in ‘n landbougeorïenteerde omgewing dat baie kinders die voortbestaan van die familie moes verseker. Hebreeuse mans het die gewoonte van die heidennasies van meer as een vrou aangeneem, hoewel daar geen aanduiding was dat God hierdie gebruik goedgekeur het. Jakob met sy twee vrouens, plus die twee slavinne as byvroue, het opgeëindig met 12 seuns en ‘n paar dogters waarvan Dina een was. Die jaloesie en hartseer van Lea teenoor haar jonger suster Rachel, die geliefde een, word in die storie van Elkana en sy twee vroue ge-ego. Penina het kinders gehad, ons weet nie hoeveel nie, maar die storie praat van seuns en dogters. Hanna niks, maar Elkana het haar liefgehad. Hy het Hanna ‘n dubbelporsie van die offerande-vleis gegee, asof sy ‘n kind het. In haar onsteltenis het sy nie geëet nie en Elkana het gepleit en gesê: Hoekom is jy so hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie? Magteloos in haar kinderloosheid, wou hy opmaak met sy liefde aan haar.
Dit was nie vir Hanna genoeg nie. Penina se vermakerigheid oor haar onvrugbaarheid het haar innerlik verwond en selfs haar man se liefde kon nie daarvoor kompenseer nie. Elkana se moedelose opmerking dat hy wil instaan vir 10 seuns dui op Hanna se ontroosbare, heel moontlik depressiewe toestand. Elkana het nie meer troos oor nie. Hy besef sy eie magteloosheid en Hanna besef dit ook. Sy wend haar na die enigste oplossing wat sy van kleintyd af ken. Die God van haar volk. Sy besef die geleentheid wat sy het daar by die tabernakel en rig haar desperaatheid na die simbool van God se teenwoordigheid en uitkoms daar by haar.
Sy het gedoen wat enige gelowige moet doen. Na die feesmaal, sê die Bybel, is sy tabernakel toe. Dit klink asof sy nie eers aan die feesmaal deelgeneem het nie. Sy het in die tabernakel gesit en huil toe Eli haar teëkom. Haar trane en bewegende lippe van haar stille gebed en belofte aan God, het hy as dronkverdriet interpreteer en haar summier daaroor aangespreek. Selfs in haar hartseer respekteer sy die amp wat haar aanspreek en verduidelik nederig haar behoefte.
1 Sam 1:15 en 16.
No, my lord, I am a woman of sorrowful spirit. I have drunk neither wine nor intoxicating drink, but have poured out my soul before the Lord. Do not consider your maidservant a wicked woman, for out of the abundance of my complaint and grief I have spoken until now.
Eli het seker sleg gevoel dat hy haar hartseer so verkeerd interpreteer, want hy profeteer haar antwoord oor haar en spreek die God van Israel se guns oor haar uit.
Onmiddellik verander Hanna se houding. Haar uiterlik optrede spreek van geloof en versekering van antwoord op haar gebed.
Die tabernakel is in die woestyn volgens die voorskrifte van God aan Moses gebou. Dit was ‘n opslaan-kerk. Niks was permanent nie. Dit was eers die tempel wat deur Salomo gebou is, wat ‘n permanente struktuur in Jerusalem was.
Maar dis hier in die woestyntabernakel wat Hanna haar antwoord kry. Die struktuur van die tempel was gerig op die simboliek van redding en aanbidding. In die voorhof was die brandofferaltaar en die koperwaskom. Op die brandofferaltaar het die onskuldige bloed van ‘n dier gevloei vir die sonde van die volk, die waskom was die simbool van die waterdoop. Die priester het sy hande gewas met die water voordat hy in die heilige deel ingegaan het. Die patroon van ons gebed – gedagtig aan die Kruis bely ons ons sonde met die onskuldige bloed van Jesus en die doop wat ons vereenselwig met Sy dood.
In die heilige deel van die tabernakel was drie elemente. Die tafel met die toonbrode, die lampstaander en die goue bak met wierook. Die brood is die Woord, wat Johannes in sy evangelie duidelik maak is Jesus self. Jesus het die brood geneem en gesê dit is Sy liggaam en ons moet dit eet en deel daaraan hê. Die Skrif wat deur Jesus self aan ons gebreek word, maak rein en gesond. Die lampstaander is die lig wat op die Woord gegooi word. Sonder die Lig van die Wêreld is die Skrif net lettertaal. Die Lig van Jesus maak dit Geestaal – lewend en lewegewend. Ons kan nie lees sonder Lig nie – maak seker dat jy die God-Lig aansit as jy die Woord in jou hand neem.
Die noodwendige gevolg van die Woord van God met die Lig van Jesus daarop is aanbidding. Dit is die simbool van die wierookbak – lofprysing en aanbidding oor die grootheid en genade wat in jou hart brand as jy insig kry in die Woord en die karakter van Jesus.
Is die simboliek daar uit die antieke tyd wat vandag die standhoudende gebedsbeantwoording van die God van Hanna nog onderstreep, nie pragtig nie? Ons het die broodwoord wat lewe gee met die insig van die Heilige Gees, en waar is die wierookbak? Lees saam met my in Openbaring.
In die eerste drie hoofstukke van Openbaring ontmoet ons Johannes in gevangeneskap op Patmos. Dit is ‘n eiland in die Middellandse See, waarvan ontsnapping onder Romeinse bewaking so te sê onmoontlik was. Johannes het hierdie gevangeneskap oorleef en het sy laaste dae in Efese deurgebring waar hy die Openbaring en daarna die Evangelie geskryf het.
In sy visioen van God in al Sy glorie, val hy soos ‘n dooie (1:17) en word deur Jesus opdrag gegee om die woorde van die profesie op te skryf met die spesiale seën op almal wat die woorde lees. Moet nooit wegskram van Openbaring nie. In die volgende twee hoofstukke word die sewe gemeentes van Asië aangespreek met komplimente en kritiek. Dit was werklik plekke in Asië waar daar wel gemeentes was, maar word algemeen interpreteer as God se Woord oor die kerke en gelowiges van alle eeue.
Uit hierdie kritiek word Efese, Johannes se tuiste, die liefdelose kerk genoem. Almal ken Johannes as die geliefde dissipel. Ek glo werklik dat Jesus nie Johannes meer as enigiemand anders liefgehad het nie, maar wel dat Johannes ‘n spesiale openbaring van God se liefde deur Jesus ervaar het. Johannes het besef hoe oorweldigend lief Jesus hom werklik het en het sy lewe daarvolgens gerig. Die kritiek op Efese moes vir Johannes ‘n skok gewees het. Hy moes God se Woord oor die kerke in die bekende wêreld van daardie tyd absorbeer in sy eie magteloosheid om iets daaraan te doen. Wat is God se antwoord vir hierdie toestand van Johannes?
Hy roep hom op in die troonkamer van die Allerhoogste God. Gee vir hom ‘n hemelperspektief. Dit is wat aanbidding doen. In die mees onmoontlike omstandighede is die besef van God se plan en Sy teenwoordigheid die antwoord. Hier sien en hoor Johannes die manjifieke, verstommende prag en praal van die troonkamer. Die Alpha en Omega tussen die sewe lampstaanders (die sewe kerke), priesterlike klere met ‘n goue band oor Sy bors, hare soos wol, oë van vlamme en ‘n stem soos die van baie water, ‘n gesig wat skyn soos die son en die twee-snydende swaard in Sy hand. In die vierde hoofstuk sien hy die 24 ouderlinge (die 12 stamme van Israel en die 12 apostels van die kerk van Christus) voor die troon neerval en hulle goue krone (alles wat vir hulle waarde het) neerwerp in hulle spontane aanbidding by die aanskoue van God as oorwinnaar op Sy troon.
Johannes as prisonier, is getuie van die triomfantelike Jesus se aankoms in die hemel na die kruisiging. Hy huil oor daar niemand waardig is om die boekrol se seëls oop te maak nie, toe troos een van die ouderlinge hom en vertel hom van die Leeu van Juda uit die wortel van Dawid wat oorwin het (5:5). Hy sien Jesus as die geslagte Lam – die vervulling van die profesie uit Daniël 7: 9-14. In die oomblik toe die Lam die boekrol neem, val die 24 ouderlinge neer met ‘n harp (aanbidding) en ‘n goue bak met wierook – die gebede van die gelowiges. (5:8)
Is dit nie absoluut wonderlik om te weet waar jou gebede is nie? Voor die troon van die Almgtige God in Sy troonkamer met die geloofs- en gebedshelde van alle eeue!
Geen wonder Hy sê in Psalm 2:8:
Ask of me, and I will give You the nations for Your inheritance, and the ends of the earth for Your possession.
As Jesus moes vra, hoeveel te meer moet ons vra. Ek kan julle verseker Jesus hét gevra en daarom is ons sy eiendom. Hy het die eindes van die aarde as Sy erfenis ontvang en jy is deel daarvan. Vra vir God. Roep uit na Hom. Vra Hom vir die siele van jou kinders. Steek jou hande in die lug soos Klaagliedere 2:19 sê:
Arise, cry out in the night, at the beginning of the watches; Pour out your heart like water before the face of the Lord. Lift your hands toward Him for the life of your young children, who faint from hunger at the head of every street.
Kyk net wat voed die wêreld ons kinders en ons sal met geestelike oë sien dat hulle van honger beswyk op die hoeke van die strate.
Terug by Hanna. Eli spreek die antwoord van haar uitroep en gelofte aan die Here oor haar uit en dadelik verander alles. So the woman ate and went her way and her face was no longer sad.(1 Sam 1:18) Haar optrede word geloof in aksie. Sy skud haar diepe hartseer af en gaan voort met haar lewe.
Samuel word gebore, sy wy haarself heeltemal aan sy opvoeding tot speenouderdom (in Bybelse tyd so 4- 5 jaar oud) en bring hom na die disfunskionele kerk waar sy haar belofte afgelê het, in die vaste vertroue op God en Sy plan. Haar oog is op God en nie op die korrupsie en perwersiteit van die leierskap nie. Kragtige geloof, moedige optrede vir ‘n ma – groot geestelike sukses. Sy bring elke jaar vir hom ‘n nuwe kleed as sy hom besoek. Eli profeteer nog kinders oor haar en Elkana en sy het 3 seuns en 2 dogters na Samuel. (2:20 en 21). Ver bo wat sy bid of dink – dis die antwoord!