28. Hoor jy die Stem?

Ons gaan bietjie ver terug in die geskiedenis – ongeveer ‘n 1000 jaar voor Christus – na die lewe van ‘n man wie deur God geroep word om die orde en aanbidding in Israel te herstel. Ons het ongelukkig nie tyd om die hele storie te lees nie, maar ek hoop dat die storie van Hanna en Samuel julle sal aanspoor om self te lees, met oop ore!

Na Joshua se dood is Israel deur die rigters regeer wat deur God opgeroep is om leiding te neem in van die donkerste tye van Hebreeuse geskeidenis. Moreel, polities en geestelik is die volk verval en verward. Die Filistyne is ‘n konstante doring, of liewer swaard in hulle vlees met genadelose plundering en aanvalle. Die tempel in Silo, so 60 km noord van Jesusalem, is in verwaarlosing en die leierskap korrup. Die priester Eli, bedoel goed, maar hou nie sy twee losbandige en korrupte seuns in toom nie. Hulle is eintlik veronderstel om die hoë roeping van die priesterskap voort te sit. In die tweede hoofstuk van Samuel word hulle sonde en ongehoorsaamheid uitgespel.

Dit is kosbaar hoe die Woord dikwels sonder omhaal van woorde die bron van die probleem aanspreek. In die vertelling van die seuns se ongehoorsaamheid, begin die gedeelte met die woorde: they did not know the Lord. Die Afrikaanse vertaling – nie erken nie, of nie mee rekening gehou nie – dra net meer spesifiek die gedagte oor dat hier nie sprake was van die vrees vir die Here nie. Net in die vorige hoofstuk word die woord know gebruik vir seksuele omgang, met ander woorde ‘n baie intieme verhouding. ‘n Intieme verhouding met die Here bewaar jou van sonde en ongehoorsaamheid. Liefde vir die Here bring die “goeie” vrees vir Sy heiligheid en ‘n bewustheid van Sy groot genade oor jou, wat jou weerhou van dade om Hom teleur te stel. Sonder ‘n bewustheid van die God se teenwoordigheid is jy afgestomp en dikvellig.

Eli het sy lewe in toegewydheid begin. Dit is duidelik uit sy hantering van Hanna se versoek nadat sy hom inlig oor die aard daarvan. Hy het haar eers uit onkunde aangespreek en selfs geinsinueer dat sy dronk is, omdat sy haar hartseer daar in die tempel uitgestort het. Hy spreek haar aan sonder enige geestelike onderskeiding van haar ware nood.  Direk daarna spreek hy die beantwoording van haar gebed profeties oor haar uit. God het groot geduld met sy leiers en laat Eli toe om onder die salwing van die Heilige Gees Hanna se nood met God se Woord te antwoord.

Nadat Samuel in die tempel agterbly en die stem wat hom roep hoor, gee Eli aan Samuel die regte advies om die stem van die Here te hoor. Sy lewe eindig egter tragies. Hy is ‘n onseker ouer, wat reageer op probleme, sonder om pro-aktief op te tree. God as sy Vader, waarsku oor die ongehoorsaamheid en kondig die straf aan op geen onseker manier nie. Ten spyte daarvan, doen Eli niks om sy seuns aan te spreek in hulle flagrante en blatante misbruik en bespotting van tempelvoorregte.

Eli se lewe van verval in godsdiensbeoefening, waarin hy meer klem plaas op die simbole van die tempel as op die Skepper, waarna die simbole verwys, veroorsaak chaos in die tempelaanbidding. Dit is duidelik uit die feit dat sy seuns die verbondsark, die allerheiligste simbool van die tempel, sonder seremonie en ootmoed na die slagveld aandra as ‘n soort good luck charm. Dit veroorsaak dat die ark meer as 7 maande in Filistea bly.

Die ark word in die Filistynse god, Dagon, se tempel gebêre en oornag val die beeld van Dagon op sy gesig.  Die tempeldienaars sit Dagon weer op sy plek en die volgende nag val Dagon weer om, maar hierdie keer breek sy kop en twee hande af en lê op die drumpel van die tempel. Toè skrik hulle! Die storie het veroorsaak dat geen Filistyn ooit weer op die drumpel van hulle tempel getrap het nie. Pes breek uit onder die Filistyne in Asdod. [Die Filistyne het in 5 stadstate gewoon] Hulle stuur toe die ark Gat toe (‘n ander stadstaat) en dieselfde gebeur. Die storie versprei en toe hulle met die ark aankom na Ekron, die volgende stad, toe skreeu die Ekroniete dat hulle die ark bring om hulle dood te maak – dis nou hulle eie mense.  Daar is chaos.  Pes breek uit – aaklige pesswere, mense sterf en die res is verward en bang.  Die geskreeu van die stad kon baie ver gehoor word. Selfs in heidenland is daar vrees vir die almagtige God en word die ark uiteindelik, op aanbeveling van die Filistynse waarseêrs en priesters, word die ark na Israel teruggestuur, met die grootste respek en ootmoed. Die aanbeveling van die afgodsaanbidders is dat die ark met die afbeeldings van die pesswere en vyf muise wat die vyf regeerders van Filistea simboliseer in goud gemaak word en saam met die ark na Israel teruggestuur word. Filistea-konings is muise in die teenwoordigheid van God.

Skielik is die storie van die harkoppigheid van die Farao in Egipte weer aangehaal. Die Filistyne het die “skinder” gehoor van die wonderlike verlossing van die slawevolk uit Egipte en hierdie is nou al meer as twee geslagte na daardie gebeure. 1Samuel 6:6.

[‘n Geslag in die Bybel word bereken as 40 jaar].

[Net vir interessantheid – Filistea was geleë in die omgewing van die huidige Gaza wat nou nog vir Israel meer as hoofbrekens besorg.]

Die gevolg is dat God se wonderwerke beter onthou word deur die vyande van Israel as Israel self en die ark kom terug – op ‘n skinkbord met geskenke – aangedra deur die Filistyne en almal in die wêreld van daai tyd wèèt – God se heilige simbool is nie ‘n “good luck charm” nie.

Maar, die Israeliete is net so onbevoeg om die ark te ontvang as gevolg van die verwarring na Eli se dood [hy het agteroorgeval en gesterf by die aanhoor van die nuus dat beide sy seuns in die nederlaag teen die Filistyne dood is] en die jonge Samuel bly alleen agter in die tempel.  Die ark word meer as 20 jaar “gestoor” in die huis van Abinadab. Eers Dawid het die ark teruggebring na Jesrusalem. Daaroor meer later.

Klem op godsdiensbeoefening en religieuse simbole is deur die eeue van die Christelike kerk die oorsaak van chaos. Net sodra dit gebeur word die profetiese stem stil, veroordeling en vooroordeel heers, moraliteit verval en die liefde vervaag om plek te maak vir die skor stem van wettisisme, oordeel en skuld. Kyk maar na die geskiedenis van die kerk. Die Heilige Gees verdwyn stadig en stil, saam met wonderwerke en bevrydende leerstelling. Die sekerste teken hiervan is die afwesigheid van liefde, genade en vergifnis. Jesus en Jesus gekruisig, soos Paulus sê moet die kern van ons boodskap wees, is nie meer sentraal nie, eerder rituele en mensgemaakte wette. Kerksimbole en gebruike word gereduseer tot sinnelose rituele en tradisie word verhef tot die maatstaf van moraliteit, sonder die fondament van die lewende Woord van God.

Maar, terug by toentertyd en die arme Eli. Moeilik om die verkeerde opvoeding reg te stel wanneer kinders eers in die verkeerde gewoontes verval het, sonder korreksie. Sy seuns is boos. Hulle “steel” die beste vleis van die offerhande. ‘n Deel van die offerhande vleis was regmatig die priesters s’n. Hulle moes met ‘n vurk in die pot gaar vleis insteek en alles wat aan die vurk vassit kon hulle neem. Eli se seuns het die vurk in die rou vleis ingesteek omdat daar meer vleis daaraan kon vassit. Dit het hule gedoen voordat die vet, wat aan die Here gewy moes word, afgesny is. Dit was blatante minagting van die wet, waarvan hulle die voorbeeld moes wees.  Indien die mense nie wou toestem tot hulle misbruik nie, het hule met geweld gedreig. Die straf van die optrede was eintlik die doodstraf. Eli het hulle vrygespreek.

Die Here roep ‘n profeet op – hy word net genoem ‘n man van God, sy naam word nie gegee nie – om Eli te waarsku en ‘n oordeel oor hom en sy geslag uit te spreek. (1 Samuel 2:27 – 36) Die profesie veroordeel Eli se slapheid oor die voorskrifte van die wet. Dit voorspel die dood van Hofni en Pinehas en bevestig dat die eer van priesterskap van Eli en sy nageslag weggeneem sal word. Die profesie eindig met die belofte van ‘n betroubare priester. Skrikwekkende gevolge van die ligtelike en oppervlakkige omgaan met die simbole en gemeente van die Here.

Praat van ‘n disfunksionele kerk. Eli se tempel. Binne-in hierdie onvolmaakte priesterskap en bose misbruik van alles wat heilig is, rig God een van die grootste profete van Israel op. Samuel. Hy kan die heel beste uitkoms bewerkstellig uit die heel slegste stel omstandighede.

Wat sê hierdie woord vir ons. Hebreërs 12:28 is ons antwoord.

Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur.

Sleutelwoorde hier: Soos Hy wil.

Weer gee Hebreërs vir ons die antwoord: 3:7 en 4:7: Vandag as julle Sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie. (Ou vertaling sê: Verhard nie jou hart soos in die verbittering nie. )

‘n Harde hart maak die stem stil. Godsdiensbeoefening maak nie jou ore oop nie. ‘n Blote ritueel sal nooit jou verhouding herstel nie. God onderskei Homself van alle ander gode as die God wat praat. In Jesaja 52:6 sê God:

Therefore My people shall know My name; therefore they shall know in that day, that I am He who speaks: Behold it is I.

Dit is die stem van God wat jou oplig en ophef wanneer jou nood die grootste is – net soos Hanna, na wie ons volgende keer gaan kyk. As die stem stil word is daar verwarring. God is in die eerste plek bo alles in verhouding met Sy kerk, Hy woon in die lofprysinge van Sy mense. Hy is nie ingestel op leë rituele nie. Wat is die inhoud van ons Nuwe Verbond? Dit is die verbond wat met bloed in liefde in ons hart ingeskryf is.

Hebreers 8:10: For this is the covenant that I will make with the house of Israel after those days, says the Lord: I will put My laws in their mind and write them on their hearts; and I will be their God and they will be My people.

Dit is die kern van die nuwe verbond. Hebreërs 10:5 sê: Dit is nie diereoffers en graanoffers wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U my gegee het. Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek [Jesus] gesê: Kyk Ek het gekom o God, om U wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe.

Jesus het die Wil van God gedoen, omdat die plan in Sy hart was van Sy geboorte af. Net so gee die Here Sy wil en wet in ons hart en skryf dit in ons verstand. Dis waar jy hoor. Daar in die diepste oortuiging van jou binneste deur die werking van die Heilige Gees. Daar word die Woord [Bybel] vir jou oopgebreek en daar kom die begrip vir dit wat jy lees. Dit is brood wat vir jou gebreek word en nie die leerstellinge van mense wat jou red nie.

Jesus sê in Matteus 15:9:

These people draw near to Me with their mouth, and honour Me with their lips, but their heart is far from Me. And in vain they worship Me, teaching as doctrines the commandments of men.

Hoe hoor jy die stem? Kniel by die kruis. Neem ‘n rukkie stilte en neem jou gedagtes gevange en maak dit aan Christus gehoorsaam (2 Korintiërs 10:5).

Die gevolg: Hoor wat sê die Here vir Samuel in die eerste profesie wat hy bring. 1 Samuel 3:11:

Ek gaan ‘n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor se twee ore sal laat tuit!

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s