65. Die donker dag…uitgemerk in die hemel.

[youtube:https://youtu.be/UfFreicQgls%5D%5D

Ons tel ons lewe in dae. Of ons nou wil of nie. Dis so bepaal. Een dag is net so lank; hy kom en gaan verby. Goeie dae voel kort, slegte dae voel lank, maar dis net ons illusie. Almal is ewe lank – presies, op die minuut. Ons weet die dag kom met lig en eindig met donker. Ons is gemaklik in die sekerheid van patroon en geskiedenis. Van altyd af het duisternis en lig ons telling van tyd in ‘n vaste roetine gevestig wat medoënloos ons lewe regeer.

Ons beplan en sien uit na spesiale dae. Dae word uitgemerk as feesdae, troudae, vakansiedae en verjaarsdae. Donker dae vang ons onverhoeds. Ons kyk terug en onthou die hartseerdae, tranedae, verlangdae, pyndae en depressiedae – dae wat in die donker nag van die siel voortgesleep het en diep verwond het. Dae soos dit word nie vooruit op die kalender gemerk nie.

God se donkerste dag is voor tyd getel is alreeds gemerk.

In ‘n tuin, een Donderdagnag, het ‘n Man geworstel met Sy volgende dag. Hy het geweet die pyndag kom. Dit was so bestem al van die begin van dae af. Menswees het weggeskram van die pyn; gebed en uitroepe het die hemelse wese gebring om Hom te versterk. Die volgende dag het gebreek, net soos gewoonlik, maar dit was ‘n dag wat in die hemel uitgemerk was.

Die lig van die oggend daardie Vrydag het die soldate gebring en die Romein se woorde.

Johannes 19:5:

En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon en die purperkleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens!

When Jesus came out wearing the crown of thorns and the purple robe, Pilate said to them, “Here is the man!”

Pilatus het Jesus hanteer soos ‘n gewone Joodse misdadiger. ‘n Kruisiging is die eerste maal opgeteken deur die Persiërs, omdat hulle die liggaam van ‘n bose mens nie in die grond wou laat opneem nie. Die misdadiger is aan ‘n kruis opgehang sodat die aasvoëls en kraaie sy vlees letterlik vernietig. Die Kartagiërs het dit oorgeneem en die Romeine het dit by Kartage geleer. Dit was ‘n skande-dood en geen Romeinse burger is ooit daaraan onderwerp nie. Meestal is slawe en erge misdadigers gekruisig. Dit was ‘n besondere wrede dood. Die soldate wat dit moes uitvoer is met genoeg alkohol bedien om hulle sinne af te stomp, sodat hulle die wreedheid kon aanskou. Die kenners meen dat die gekruisigde uiteindelik stadig versmoor omdat die longe nie in so ‘n posisie kan funskioneer nie.

‘n Kruisiging is gewoonlik voorafgegaan deur ‘n géseling. Die ontblote rug van ‘n gevangene is met ‘n sweep, waaraan stukkies skerp been gebind is, geslaan totdat hy flou word of sy bewussyn verloor. Baie mense het nie eers hierdie stadium oorleef nie.

Die bebloede mens is dan met die kruis op sy skouers deur die strate na die plek van kruisiging gelei. Die rede vir die vonnis is op ‘n plakaat geskryf en vooruit gedra. Die roete was die lang pad, sodat mense langs die straat versagtende getuienis kon bring voor die teregstelling plaasvind,. Indien iemand na vore getree het, is die prosessie gestaak en die saak is weer aangehoor. Jesus se plakaat het gelees: die Koning van die Jode. Die Joodse leiers het daaroor gekla, maar Pilatus het geweier om dit te verander.

Toe Jesus langs Pilatus in die purperkleed staan, was Hy reeds bebloed en swak. Die blote feit dat Hy kon staan in hierdie finale stadium van die verhoor, is verstommend en getuig van bonatuurlike krag.

Die woorde van Pilatus is betekenisvol. In Grieks was sy woorde: ho anthropos, wat beteken sien die man. Pilatus het natuurlik Latyn gepraat, maar sy woorde is so in Grieks geskryf, wat die normale aanduiding vir ‘n mens is. Dit was duidelik dat Pilatus die simpatie van die Jode wou opwek vir die verskriklike wreedheid wat alreeds aan Jesus aangedoen is. Die skare het gekreet: Kruisig hom.

Die Griekse denkers het kort hierna dieselfde woord gebruik vir ‘n perfekte mens, ‘n hemelse mens, ‘n held van die mensdom. Jesus se durf en krag in Sy donkerste uur het die benaming gevestig.

In moedeloosheid met die skare wat geen woord van versagting kon bring nie, het Pilatus hom oorgegee en weer Sy onskuld uitgespreek. Selfs die Romein in beheer van die hele gebied se versagtende woorde, kon nie die teregstelling stuit nie. Die dag was gemerk – uit die hemel.

Die kenmerk van die dag was duisternis in die middel van die dag. Vir die meeste mense in die woestynerige uithoek van die Romeinse ryk, het die besondere Vrydag soos enige ander voor- Paas Sabbatdag gebreek, met die roetine verpligtinge van Joodse rituele om die dramatiese uitredding uit die slawerny van Egipte te vier. Die voorskrifte was in elkeen se lewe in graniet uitgekerf, net so blywend soos die woorde op die kliptafels van Moses wat saam met die Verbondsark verlore geraak het. Die wette en woorde was in hulle binneste ingeskryf met rituele en oorlewering, met die klokslag van die jaarlikse feeste, met die eet van elke stukkie lamsvleis van die lammers wie se bloed om die Tempelfondament deur die priesters uitgegiet is.

‘n Paar jaar na die kruisiging is daar tydens die Paastyd in Jerusalem ‘n sensus geneem. Na beraming is daar toe 256 000 lammers geslag. Stel jou voor hoe die Tempelomgewing gelyk en geruik het met die bloed wat die priesters teen die fondamente gooi – amper ondenkbaar vir ons moderne ingesteldheid. Volgens voorskrif het 10 persone ‘n lam gedeel vir die Paasoffer. Dit gee mens ‘n estimasie van 2,5 miljoen net Jode in Jerusalem. Die geheime nagtelike vergadering van die Sanhedrin het die opdrag laat uitgaan dat hulle Jesus voor die Sabbat wil laat terregstel. Dit gee mens ‘n idee waarom hulle ‘n verraaier nodig gehad het om Jesus tussen al daardie mense te kry. [Sien Bodemklippe 22]

Daardie Vrydag is die lammers se bloed in duisternis uitgegiet. Op die uur wat die lammers gesterf het, het Jesus gesterf. Die tyd was belangrik, sodat die mense kon weet en die woorde onthou – die woorde van Moses en die woorde van Jesus wat Homself as offerlam voorgehou het. Die priesters het gefokus op die belangrikheid van die Paasfees en dalk alreeds vergeet van die wrede gille van ‘n skare wat ‘n bloedbedekte rondloop-prediker kruis toe aangepor het. Die priesters en die skare om die Tempel het sekerlik opgekyk en die skielike, onwelkome duisternis in verbasing onder mekaar bespreek. Het hulle besef dat hulle rituele met die lamsbloed en die Fees en die Tempel die laaste dae beleef? Klaarblyklik nie. Veertig jaar na die kruisiging is Jerusalem vernietig en die kernbaken van die ganse volk van Israel, die Tempel, in puin gelê. Die offerrituele van die Jode is gestaak. Die lammers word nie meer geslag nie. Die bloed vloei nie meer nie. Die Bloed van die finale Offerlam het ‘n einde gemaak aan die bloed van diere.

Jesus se laaste woorde aan die Kruis het Sy dood op ‘n besondere manier vir die omstanders ingeskerp. Sy laaste woorde was in ‘n harde stem gepraat – nie die swak fluistering van ‘n gekruisigde nie. Die woorde: Dit is volbring is een woord in Grieks en Aramees. Jesus het soos ‘n oorwinnaar uitgeroep: Klaar!

Hy is dood met ‘n gebed op Sy lippe. Hy het Psalm 31:5 gebid:

Into your hands I commit my spirit;

    deliver me, Lord, my faithful God.

Dit was die bekende gebed waarmee elke Joodse moeder haar kind in die bed gesit het elke aand. Jesus het aan die kruis Sy Vader aangespreek en soos ‘n kindjie in Sy Vader se arms gesterf. Lukas 23:44:

En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe; en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur.

Moenie wegskaram van die donkerte nie. God is daar. Hy ken die dag en Hy merk die dag. Die voorhangsel skeur sodat Sy Teenwoordigheid toeganklik is. Dit is in die duisternis wat jy Hom sal ervaar.

Exodus 20:21:

So the people stood afar off, but Moses drew near the thick darkness where God was.

God is daar in jou donkerte net soos Hy daar was vir Jesus. Hy sal jou donker dag vir jou ook in oorwinning laat eindig. Volg Hom deur die duisternis. Jy lê in Sy Ewige arms, veilig, al voel dit nie so nie.

Jesaja 60:2

For behold, the darkness shall cover the earth, And deep darkness the people; But the Lord will arise over you, And His glory will be seen upon you.

Ons is duur gekoop.

1 Petrus 1:18-21:

For you know that it was not with perishable things such as silver or gold that you were redeemed from the empty way of life handed down to you from your ancestors, but with the precious blood of Christ, a lamb without blemish or defect.  He was chosen before the creation of the world, but was revealed in these last times for your sake. Through him you believe in God, who raised him from the dead and glorified him, and so your faith and hope are in God.

Soveel jare na hierdie gebeure is die Dag nog steeds gemerk en sal so bly vir tyd en ewigheid. Ons staan stil en merk weer die dag, sodat ons nooit vergeet nie.

Liewe Bodemklipvriende, voor ons Paasnaweek vakansie hou, dalk by die see lê, fokus op lekker eet en kuier saam met vriende en familie – dink diep en merk die dag as die heel belangrikste dag op ons Kalender. Dag van duisternis, dag van bloed, dag van redding, dag van oorwinning, dag van krag.

So sal ons die bose draak oorwin…

Openbaring 12:11:

En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis…

Volgende keer: Dag van Lig – die opstanding.


1 thoughts on “65. Die donker dag…uitgemerk in die hemel.

Lewer kommentaar