262. Die tyd tussen-in

Tyd het karakter.  Daar is feestye, treur-tye, werktye, speeltye, wagtye, woestyn-tye, tye van vernuwing, tye van verkwikking en vele meer.  Elke aspek van ons lewe wat in tyd gemeet word, kan beskryf word in terme van ‘n soort tyd.  

Sekerlik die mees uitsonderlike tyd op aarde was die tyd tussen die Opstanding en die Hemelvaart van Jesus.  Die vroue het die nuus gebring.  Die graf was leeg – Petrus en Johannes het in ‘n resies van vrees-gevulde verwondering daarvan seker gemaak.  Maria se tyding was genoeg om hulle agter geslote deure uit te haal en op ‘n dolle vaart reguit graf toe te stuur.  So beskryf Johannes dit – onthou hy self is die “ander” dissipel.  Hy skryf hoe hy vooruit hardloop en die resies “wen”, maar nie in die graf ingaan nie.  Tipies Petrus hardloop hy in die graf binne en sien die doeke van Jesus se liggaam lê en die kopdoek eenkant opgevou.

Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 

Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 

Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 

Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. (Johannes 20:3-6)

Maria het Jesus gesien.  Die nuus versprei volgens die opdrag aan haar – Gaan sê vir sy dissipels en vir Simon Petrus… (Markus 16:7) met die belofte van ‘n heerlike ontmoeting in Galilea.  Die ontmoeting wat daar plaasvind – ‘n vroegoggend-braai op die strand – word in Johannes 21 beskryf.  

Nog dieselfde dag stap Jesus saam met die Emmaus-gangers en gesels saam oor die “sake van die dag” – die diepe hartseer en teleurstelling van die afgelope dae se bloed en dood wat soos ‘n stink donker wolk oor Jerusalem hang, van die Een wat hulle gehoop het is die Een wat hulle harte so na verlang.  Vir die tyd wat dit neem om die twaalf kilometer tussen Jerusalem en Emmaus te stap – stap-tyd – kry daardie twee reisigers die heel beste teologie wat ooit in die geskiedenis van die ganse mensdom gebring is – Jesus wat homself in terme van Ou Testamentiese profesie oor die Messias verklaar.  (Lukas 24:27) 

Onthou dit van teologie en preke – selfs met die hoogste en beste het hulle hom nie herken nie.  Dit is eers toe hulle hom, die persoon Jesus, innooi en Hy aan hulle tafel sit, dat hulle geestelike oë oopgegaan het.  Jesus het die brood gebreek – ‘n bekende gebaar van hom wat hulle dalk dikwels vantevore gesien het.  Hulle geestelike insig het nie met ‘n gepraat en redenasies die Messias openbaar nie.  Hulle uitnodiging het daardie besondere tyd vir altyd in hulle harte ingebrand.  Staptyd word openbaringstyd en wysheid.  Die gewone word ongewoon.  Reistyd word onthou-tyd.

Dit is vandag nog net so.   Jesus openbaar homself aan ons op uitnodiging.  Dit is die oomblik wat Hy die gewone betree, wat Hy die grootste verskil maak aan ons alledaagse.  

Sy teenwoordigheid wanneer Hy ingenooi word na klop-tyd, sal die maaltyd in sy teenwoordigheid word, met die insig wat nodig is om woestyn-tyd oorwinningstyd te maak.  (Openbaring 3:20)  Die tafel in vallei van doodskaduwee is die feesmaal waar ek ‘n eregas is en met hartlikheid oorlaai word. (Psalm 23)

Terug by die braai op die strand in Johannes 21.  Die karakter van die  dissipels het al so verander in die tyd saam met Jesus, dat hulle wel die vroue se tyding geglo het.  Dit was ‘n tyd waar ‘n vrou nie eers as getuie in ‘n hofsaak  geroep kon word nie.   Die dissipels wag by die meer.  Wagtyd word vervelig.  Onsekerheid eis sy tol, soveel so dat Petrus teruggryp na sy ou lewe  – hy gaan visvang.  Die ander spring saam in die boot – enigiets is beter as om in onsekerheid rond te staan.  

Na ‘n nag op die water het hulle niks en mik vir die strand.  ‘n Man op die strand vra of hulle iets te ete gevang het.  Hulle herken hom nie, maar toe die wonder op sy opdrag om die net aan die ander kant van die skuit uit te gooi, gebeur, toe is die bevestiging van die wonderwerk van jare gelede oorweldigend.  

Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!”

Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek – want sy bolyf was kaal – en in die water gespring. 

Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep. 

Toe hulle aan land kom, sien hulle ‘n vuur brand en ‘n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. 

Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.”

Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.

Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.”  (Johannes 21:7-11)

Is dit nie wonder-woorde in hierdie paar verse nie?  Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, is natuurlik Johannes wat skryf.  Die Evangelie van Johannes is na die Openbaring geskryf.  Johannes het vir Jesus verheerlik  in die onsienlike realm gesien, voordat hy die Evangelie, wat onder die mees gerespekteerde literatuur van alle tye beskou word, geskryf het.

Jesus was ook nie vir Johannes meer lief as vir die ander dissipels nie.  Johannes  het ‘n baie spesiale openbaring van die liefde van God gehad.  Dit “hoor” mens in die woorde van sy sendbriewe.  Johannes het die liefde van Jesus ervaar, daarom kan hy skryf asof hy die witbroodjie was.

Petrus, onse Petrus, gooi sy lyf in die werk van die oomblik sonder hemp, maar toe Johannes sê dat dit Jesus is, toe hardloop Petrus deur die vlakwater sy geliefde Jesus tegemoet.  Sy vergifnis het in sy hart gebrand.  Sy vorige ontmoeting agter die geslote deure van vrees, was herstel-tyd, ophef-tyd.

Ewe prakties maak Jesus vuur en braai vis met brood daarby.  Hy sorg, soos Hy altyd sorg, vir die alledaagse honger-tyd.  Daaglikse brood is kern in die gebed wat Hy ons leer. Gewone ontbyt word wonder-tyd in die teenwoordigheid van die Meester.  

Toe sê Jesus: Kom eet!

Waarvoor wag jy?  Het toekomsplanne of geo-politiese chaos jou tussen-in tyd gesteel?  Waar is jy terwyl jy hierdie woorde lees?  

Natuurlik – in die tussen-in tyd tussen nou en later.  Wat is jou stemming op hierdie oomblik – ‘n sug van beswaardheid of ‘n oorweldiging van opgewondenheid vol hoop en belofte?

Jesus kan nou jou alledaagse betree – op uitnodiging.  Spring uit die boot en hardloop deur die vlakwater.  Daar is vars vis op die vuur.

Jesus sê vir jou: Kom eet!


2 thoughts on “262. Die tyd tussen-in

  1. Dankie Ansophie. Dit is aangrypend en so gepas vir die tyd waarin ons is Die ander tyd waaroor ek ook altyd wonder is die 400 of so jaar tussen die ou en nuwe testament.

    1. Daardie 400 jaar was inderdaad ‘n interessante tyd. Die uitstaande gebeure van die tyd is sowat 163vC tydens die Hellenistiese onderdrukking van Judea, toe Judas Maccabees ‘n opstand teen die Griek Antiochus Epiphanes gelei het, waaroor die profesie in Daniël 12 gegaan het. Hy het ‘n vark in die Tempel geslag en wou die beeld van Zeus in die Allerheiligste oprig. (Daniël 12:11) Dit is die oorsprong van die Joodse Ligfees, Hanukkah en die rede waarom die Joodse kandelaar agt arms het en nie sewe soos die oorspronkelike voorskrifte in Exodus nie. Bodemklippe 167.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s