319.  Geduld…o geduld.

Die woorde kom uit ‘n gedig.  Meeste lesers sal dit dalk nie kan onthou nie.  Een van die ou digters in Afrikaans, C Louis Leipoldt, skryf kort ná die Tweede Vryheidsoorlog (1899 – 1902) ‘n gedig met die titel: In die konsentrasiekamp. 

Jou oë is nat met die trane van gister;

Jou siel is gemartel, deur smarte gepla;

Van vrede en pret was jy vroeër ‘n verkwister;

En nou, wat bly oor van jou rykdomme? Ja,

‘n Spreekwoord tot steun – daar’s geen trooswoord beslister:

Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!’

Die spreuk oor geduld kom uit ‘n gedig van Dante (Paradiso Canto XXI – La Divina Commedia) wat in die vroeë 14e eeu geskryf is.  Selfs sonder kennis van Italiaans is die woorde amper verstaanbaar in die musikale ritme van sy gedig:  O, pazienza, pazienza che tanto sostieni! 

Ons spot met die belangrikheid van geduld.  As frustrasie en woede uitbars voel mens amper geregverdig oor die onreg van ‘n saak en geduld is ver op die agtergrond van ons patetiese pogings om “reg” te lewe.  In die meeste gevalle is ander mense die oorsaak van ongeduld, maar tegnologie en apparate is dalk nie te ver agter nie.  In die geval van dooie stukke toerusting is ons ongeduld ons eie skande of grap.  In die geval van ander mense kan dit uitbars tot die verbreking van verhoudings en diep hartseer.  Aanstoot is die siekte van gekrenkte gevoelens en hartsbloed wat vloei. 

Ons het al dikwels oor die lokval van aanstoot gepraat.  Jesus waarsku daarteen in Lukas 17 en wys op die noodwendigheid daarvan.  Dit is waar die 70×7-gesprek opgeteken is.  Ja, inderdaad – vergifnis wat ‘n lewenstyl is.  Dit is nie iets wat natuurlik kom nie.  Dit is so menslik om ‘n saak net van een kant af te sien.  Dink maar aan die duisende bladsye regsargumente wat by die bakkie-vragte vol by regters afgelewer word om uitspraak oor net een kwessie met ‘n mate van regverdigheid en waarheid te kan lewer.

…oefen jou in die godsaligheid. (1 Timoteus 4:7, OAB)  

Dit help nie om net die Woord te ken nie.  Ons moet doeners van die Woord wees. 

…en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, (1 Petrus 1:6)

Dit is geestelike “gym”.  Geduld met die gekheid en gemeenheid van ander verg ‘n afhanklikheid van Jesus in gebed vir konstante innerlike krag om jou eie siel en hart vry van aanstoot te hou.

Die beloning is groot.

Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. (1 Timoteus 6:6, OAB)

Ons wonder-voorbeeld is altyd Jesus.  Blaai saam met my na Matteus 20 waar Jesus sy dissipels waarsku oor die swaar wat kom. 

Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”  (20:17-19; Markus 10:32-34; Lukas 18:31-34)

Dit is die derde keer dat Jesus sy dissipels waarsku oor die Kruis wat kom. (Matteus 16:21; 17:22-23).  In die derde aankondiging van Sy lyding is Jesus meer uitdruklik as in die eerste twee en verwys Hy na die kastyding deur die heidene en die kruisiging.  Hy gee meer besonderhede.  

Markus en Lukas verwys na ’n atmosfeer van onheil en verwagting van tragedie wat sou volg.  Jesus het alleen vooruit geloop, en die dissipels was verbaas en bang. (Markus 10:32-34).

Jesus wou hulle voorberei en het hulle die profetiese woord gegee om hulle aan te moedig om die moeilike tye te verstaan en met hoop te verwerk.  

In die volgende verse vra die seuns van Sebedeus (Jakobus en Johannes) se ma die vraag oor hulle posisie in die Koninkryk.  Dit klink so ongevoelig!  Sou hulle dan reg verstaan?  Dit is uitgespel – daar is verraad, marteling en dood wat voorlê.  Is dit onbegrip of diep vertroue in die uiteindelike oorwinning? 

Jesus praat van die lydensbeker wat Hy moet drink.  Is dit blote parmantigheid sonder enige aandag aan dit wat Hy nou net gesê het, wat hulle met groot vertroue laat sê: Ons kan.

In die lig van die gebeure wat volg, waarop ons met die luuksheid van terugblik die woorde van Johannes en Jakobus opweeg, weet ons dat die realiteit van die fel wreedheid van ‘n Romeinse teregstelling, hulle voortvarendheid diep en deeglik getoets het.  Ten spyte van ‘n vlug van vrees en agter geslote deure wegkruip, sou nie een van die dissipels, behalwe die verraaier, Judas wat Jesus vir sy eie politieke ambisies wou gebruik, hulle volle potensiaal in die Koninkryk verbeur nie.  Jakobus was die eerste martelaar uit die Twaalf en Johannes het Patmos oorleef en die Evangelie, sendbriewe en die Openbaring geskryf.

Maar eers terug op die pad na Jerusalem.  Jesus is geduldig om hulle te lei na die regte denke oor die saak.  Sy verduideliking oor die aard van grootheid in die Koninkryk, staan vir tyd en ewigheid.  

Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” (20:26-28)

Jesus som die gehele doel van sy lewe op aarde in een sin op.

Die Seun van die mens het gekom om te dien en sy lewe te gee.  Dit is die kern van geduld – diensbaarheid en opoffering.  In hierdie gedeelte het ons die paradoks van tyd – lyding en hartseer wat voorlê met die belofte van oorwinning.  Geen waarskuwing kan ons ooit voorberei vir ons reaksies en denke in die donker tye. Maar… ons leef in die waarborg dat God sy beloftes gestand doen – ALTYD!  

Geen hartseer of teëspoed sal ons beroof van ons volle potensiaal in die Koninkryk van God.  Hartseer en teëspoed aan God oorgegee, sal ons juis lei na die hoogste goed  – godsvrug en vergenoegdheid.  Dit is wins. 


2 thoughts on “319.  Geduld…o geduld.

Lewer kommentaar op Ansophie Joubert Kanselleer antwoord