[Pinkster 2023]
Die oproer van die gebeure in Jerusalem oor die afgelope Paasfees was nog vars in die geheue van soveel mense. Die storie van Jesus se opstanding het soos ‘n veldbrand versprei. Die tonge het geklap, sommige in woedende verwerping, sommige in ‘n ongeërgde afmaak van “skinder”, sommige in versigtige navraag en ander in vreugdevolle verwagting, net soos Matteus dit beskryf: bang maar baie bly. (Matteus 28:8)
Dink net – as dit sou kon waar wees – het Hy regtig opgestaan? Jesus het ongeveer tien maal in ‘n verheerlikte liggaam aan dissipels verskyn, sy broer Jakobus en Paulus op die Damaskus-pad word hierby ingesluit. Paulus noem dat Hy aan 500 mense verskyn het. (1 Korintiërs 15:3-8)
Op die dag van Pinkster vind ons 120 in die bokamer wat wag op iets onbekend. Jesus het gesê: wag! Wag in onsekerheid is seker een van die moeilikste dinge wat van ons vereis kan word. Wag – dalk wag jy verniet en voel ‘n gek. Dit is iets wat mens sou wou vermy.
Geloof en vertroue in die misterieuse wese van ‘n onsienlike God is ‘n werklikheid van ‘n Christen-lewe. Die verwagting van die mense in die bokamer, was op die woord van Jesus self gebaseer.
Woorde is na alles net woorde, wat ‘n abstrakte uitdrukking van ‘n belofte is. Wag het ‘n onmiskenbare toepassing op die toekoms. Mens wag nie vir die verlede nie. Ons oordeel die waarheid van iets in die toekoms so dikwels op grond van dit wat in die verlede gebeur het. Woorde kan lieg-woorde wees, leë belofte-woorde wat teleurstel en verwond. Mense belowe en vergeet, belowe en verwaarloos sodat mens-beloftes ons skool in huiwerende verwagtings. “Moenie jou hart daarop sit nie”, is dikwels ‘n uitgesproke demper of ten minste ‘n gedagte wat ons verwagtinge temper.
Al ons “bagasie” oor verwagtinge word “weggebrand” in vuur van Pinkster. Daar het die getroues vertoef vir die belofte. Is daar dalk twyfel uitgespreek? Heel moontlik – geloofshelde is maar net mense soos ons voor ‘n kragtige openbaring van God. Al wat ons kan sê van die 120 wat die eerste Pinkster na die Opstanding ervaar het, is dat hulle nie op grond van vertwyfeling opgetree het nie. Selfs al het hulle gewonder oor die wag, het hulle bly wag.
Hulle het tien dae gewag. Daar word ook van tien dae in Openbaring (2:10) gepraat. Die tydperk van tien dae is nie letterlik nie – dis simbolies – ‘n uitdrukking vir ‘n beperkte tyd wat ten einde loop. Die vervolging van die Christene is onder God se beheer. Die tyd word bepaal – die nie vir ewig nie.
Ons het al so baie van kairos-tyd gepraat. Dit is die konsep wat tyd beskryf in die lig van ‘n ewige God wat in liefde die lengte en aard van jou dae bepaal. Net soos wat mens nie altyd kan beheer wat in jou lewe gebeur nie, so beskou ons ’n tyd van swaarkry en stryd met gesalfde oë. (Openbaring 3:18) Kairos is God se tyd, die volheid van tyd, die regte tyd.
Kan ons God vertrou met beperking op lyding? Is die dae in die woestyn getel, net soos in die tyd van Israel? Kan ons reken op die Beloofde Land.
Daar is wonder-beloftes in woestyn-tye. God se rus, ‘n feestafel in die wildernis, bome wat nie skrik vir hitte en vrug dra in droogte. Al hierdie beloftes se vervulling is gesetel in ‘n dieper verhouding met die Here. Die deurslaggewende atmosfeer van vertroue en aanbidding begin vandag in stilwees en vertroue. (Jesaja 30:15)
God het immers weer ‘n dag bepaal, naamlik “vandag”, wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê:
“Vandag, as julle sy stem hoor,
moet julle nie hardkoppig wees nie.” (Hebreërs 4:7)
Die sleutel tot ‘n sagte gees wat nie hardkoppig is nie, is die “stem” van God. Dit is ‘n wonder-konsep van ons pad saam met Jesus.
Die Israeliete het in die Herfs die Fees van die Trompette gevier. Die trompet is simbolies van die Stem van God.
God het homself onderskei as ‘n God wat praat. (Jesaja 52:6) Dit is in kontras met al die ander gode van hierdie wêreld – oud en nuut, antiek en modern. Psalm 29 besing die Stem van God. In Openbaring 1 het Johannes die Stem van God beskryf. Hy was in die Gees-dimensie in die visioen van die onsienlike.
Hoe “hoor” mens dan die Stem van God as elkeen nie soos Johannes “in die Gees” die “geluid van ‘n trompet” en die “gedruis van baie waters” hoor nie? (Openbaring 1:10,15)
God het dan belowe Hy sal met ons “praat”. In die geskrewe woorde van die Woord van God, word die woorde wat ons saam met die Heilige Gees lees, gesproke woorde van God self. Ons lees die Woord en God “praat” uit die wonder-beloftes wat vir ons opgeskryf is.
Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. (Johannes 6:63)
Vyftig dae na die opstanding “praat” God in sy Drie-eenheid in die rukwind, die tonge van vuur en tale. Net soos Hy by Babel die tale van die mense verwar het om boosheid te beperk, verenig Hy die Kerk, die wonder van Pinksterdag, met taal, bekend en onbekend – lingua en glossolalia.
Vier fees Bodemklip-vriende! Die Here is in ons midde om toe te rus en die wonder-Evangelie wat ons ken, te bekragtig vir die redding van die mense uit boosheid. Sy “stem” sal ons rus gee, hoop wat ons vul met energie in die verwagting dat elke belofte van God die inhoud van ons toekoms is.
The outward teaching of the outward Christ, whatever other influences it may have exercised, was not sufficient to redeem them from the power of indwelling sin. This could be achieved only by the indwelling Christ. Only when Jesus descended into them by the Holy Spirit did they undergo a complete change. [Andrew Murray]
Op die dag van Pinkster het Jesus gekom net soos Hy belowe het, sodat Hy by almal kan wees.
“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
Nog net ‘n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.
Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle. (Johannes 14:18-20)
Gee aandag en kom na My toe,
luister, en julle sal lewe.
Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit,
Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid. (Jesaja 55:3)
Bodemklippe 3 [3. Geregverdigde gierigheid]