[Johannes 1]
Ons het al daaroor gepraat. Nuut soos ‘n nuwe pen is iets wat al lankal bestaan. Daar is ook ander soort nuut. ‘n Nuwe een soos in absoluut die heel eerste wat bestaan. God maak iets nuut. Wat Hy nuut maak het nog nooit vantevore bestaan nie. Hy is die Skepper. Hy maak mense nuut. Hy maak die mees bose en aakligste gemors iets wonderbaar met ‘n unieke plek in die wêreld.
Ek is altyd oorstelp met die idee van ‘n nuwe begin. Het ons ou wêreld dit nie vreeslik nodig nie? Hoeveel keer sien ons lewens wat so verkeerd loop in die oppervlakkige soeke na plesier, rykdom en sukses wat lei na roekelose en onverantwoordelike besluite. In die duisternis van die gevolge van sulke oortredings, ego die hulproep na ons God wat kan nuut maak.
Hierdie glorieryke Skepper-God het mens geword om in die stof te leef en ly en hier by ons sy genesende en restorerende krag te bevestig. Johannes stel dit so:
1:14: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
Hierdie vers is die kern van die ganse Evangelie van Johannes.
Die Woord wat die wêreld geskep het, die rede van God wat die wêreld in stand hou het ‘n mens geword sodat ons Hom met ons eie oë kon aanskou. God het vorm aangeneem sodat dit vir ‘n gewone mens moontlik was om Hom te sien.
Hierdie redenasie van Johannes onderskei sy Evangelie van alles anders wat ooit geskryf is. Dit was iets waarvan niemand nog ooit bewus was of verstaan het nie. Augustinus het daarna verwys en verklaar dat daar niks in enige filosofiese geskrifte bestaan, wat verduidelik hoe die Woord, vlees geword het.
Vir die Grieke was dit onmoontlik – ‘n god kon nooit mens word nie. Die wêreld en die fisiese was so korrup dat God nie eers naby dit kan kom nie.
Johannes maak hierdie skokkende stelling: God het ‘n mens geword; God het ewigheid vir tyd verruil; God het ‘n gewone lewe kom leef en sigbaar vir die mens geword. Paulus gebruik die woord VLEES om die mens se natuur en geneigdheid tot sonde te beskryf. Om dit aan God toe te skryf was ongehoord.
Sommige het gesê Jesus is ‘n spook wat nie werklik koue en honger kon ervaar nie. So sterk het hierdie gedagte posgevat, dat dit ‘n sekte geword het. Johannes maak ‘n sterk argument teen dit.
In Jesus sien ons God ons lewe leef, soos wat Hy dit sou leef as Hy op aarde moes woon. Jesus het God in ons lewe ingeleef.
Johannes skryf in klassieke Hebreeuse styl – dieselfde konsep word herhaal, bietjie anders die tweede maal vir impak en beklemtoning.
Hierdie vers bevat die twee mees belangrike woorde in die ganse Jesus-saga – genade en waarheid.
GENADE:
Genade is heeltemal onverdiend, iets wat ons nooit self in ons guns kan laat werk nie. Dit is aksie van God, voortspruitend uit Sy liefde om die hulpeloosheid van die mens uit die onbeperkte goedgesindheid van God te hulp te kom.
In Grieks beteken genade ook charisma of sjarme. In Jesus sien ons God se wonderbare, sagmoedige geaardheid.
Genade verduidelik God se eensydige uitreiking na die mens, sonder om enigiets terug te verwag.
Net in die daaropvolgende verse verduidelik Johannes die onbeperktheid en onuitputlikheid van God se genade.
Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. (Johannes 1:16)
Dit beskryf een wonder wat tot die volgende lei. Daar is altyd meer – mooier en mooier. Musiek, kuns en letterkunde het geen einde nie. God is nog soveel meer as ons aardse konsep van skoonheid. Hy is onbeperk.
In sy onbeperktheid voorsien Hy AL die genade wat ons ooit mag nodig hê. Genade is dinamies en genoeg en kan alles bedek en red. God is lief vir die mens en gee genade sonder maat. Dit mag dalk nie so duidelik uit die wet van Moses en die Ou Testament blyk nie, maar in die lewe en boodskap van Jesus is daar geen twyfel nie.
WAARHEID:
Wysgere oor eeue soek na waarheid. Hoe kan mens ooit seker van die standaard en oorspronklike, waaraan waarheid gemeet kan word, wees? Waarheid word defineer as die feit, geloofwaardigheid of realiteit in ooreenstemming met ‘n oorspronklike of ‘n standaard.
Jesus se: Ek is die waarheid (Johannes 14:6). Om die waarheid te ken, moet ons Jesus ken. Hy is toeganklik vir almal. Sommige mense vind dit moeilik om abstrakte idees te verstaan. Dit is moeilik om skoonheid te beskryf, maar almal kan iets mooi herken en met sekerheid in sy eie opinie weet dis mooi. Ons kan na Jesus wys en sê: Dit is God. In Hom weet ons wat die waarheid oor God is.
Jesus het nie vir ons kom vertel van God nie. Hy het in lewende lywe kom wys wat God is, sodat die eenvoudigste denke God kan begryp en aanvaar, net soos die mees ontwikkelde intellektuele denke met die diepte van filisofiese studies Hom kan begryp.
Jesus kommunikeer waarheid; Hy is die waarheid (Johannes 8:31) en Hy is ‘n getuie tot die waarheid (Johnannes 18:37). Hy is die oorspronklike, die standaard. Jesus wys ons die regte pad, maar stel ons ook in staat om reg te kies en dan reg te leef. Sy Gees is die gees van waarheid (Johannes 14:17; 15:26; 16:13)
Die Heilige Gees help ons om die Bybel te lees, te verstaan en te leef.
Dit is die waarheid wat ons vry maak (Johannes 8:32).
‘n Kind wat werklik weet wie hy is, is vry en vrymoedig om ten volle te leef. Die vyand wil ‘n skewe, leuenagtige beeld van onsself vir ons laat glo. Dit is hoe vrees en ongeloof in ons denke vastrapplek kry.
Die waarheid kan weerstaan word. Jesus is doodgemaak daarvoor (Johannes 8:40).
Geen mens kon nog ooit die waarheid vernietig deur dit te weier nie.
Die waarheid kan verwerp word (Johannes 8:45). Soveel mense kan nie in Jesus glo nie, net omdat dit so eenvoudig en maklik is. Sommige is so vasgevang in halwe waarhede en vals leerstellinge wat soms die groter gevaar vir die waarheid is.
Waarheid is nie abstrak nie. Dit is prakties en moet geleef word (Johannes 3:21). Dit kan geken word, aanvaar word en uitgeleef word. Om die Jesus-lewe te leef deur Sy genade is die ware lewe.
Dit is die nuwe begin, na groot tragedie, na groot rampspoed. ‘n Hele nuwe lewe, hier op die aarde binne al die gebrokenheid.