88. Hoe vorder jou muur?

Opinies is baie persoonlik. Dis ook reg so. Ons dink verskillend oor sake en ‘n groot persentasie van gesprek is om opinies uit te spreek en bewustelik of onbewustelik te toets teen ander. Soms wil ons juis die opinie van ‘n geleerde of prominente persoon hoor of lees. In ‘n groter of kleiner mate sou so ‘n opinie ons eie denke oor ‘n kwessie vorm of sterk beïnvloed. Hoe groter die chaos, hoe meer argumente word gevoer oor die moontlike oplossings.

Wêreldgebeure is chaoties. Dit kan niemand betwis nie. Meeste mense stem saam oor die oorweldigende vernietiging en ellende in wêreldnuus. Mens en dier ly onder boosheid op alle vlakke wat lewens bedreig, lewens versuur en verwond en selfs lewens neem. Ons veg eintlik almal teen boosheid. Elke dokter wat in elke hopsitaal van die wêreld wonde verbind en siekes behandel, veg vernietiging in die mens se liggaam. Elkeen van ons wat daagliks stof, modder en besoedeling om ons skoonmaak, veg teen die vullis wat ons en die natuur bedreig. Net so word ons siele met die afkraking van waardes en kultuur bedreig en bevuil. Die media, selfs onder die naam van die kunste, spot met amper alles wat waarde het, soos verhoudings met familie en vriende en die huwelik. Dit wat heilig (afgesonder vir ‘n spesifieke doel) is, word afgemaak as alledaags, van minder belang of ‘n bespotting.

Dit is duidelik dat die vyand ‘n agenda het, wat ons op alle vlakke aanval sodat vrees, moedeloosheid en frustrasie ons lamlê en keer dat ons ten volle leef. Jesus het gekom dat ons lewe in oorvloed kan hê en ‘n lewe van depressie en vrees is nie Sy plan nie. (Johannes 10:10) Dit moet duidelik wees. Hy belowe vrede en vreugde en dit is nie moontlik om in vals vrede of aangesitte vreugde te bestaan nie. Vrede en vreugde word in ons gees deur die Heilige Gees gebaar sodat dit ons gedagtewêreld beheers. In die mate waarin die vrede, “wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7) ons gemoed bepaal, het ons ‘n lewe van oorvloed.

Die deurlopende aanslag op ons gedagtes, word strategies in boosheid beplan sodat die besetting van ons gemoed, lei tot oorgawe aan negatiewe denkpatrone en vernedering. Die persepsie is, dat alles wat ons aan dink, ons eie gedagtes is, terwyl dit eintlik bose saad is wat in die vrugbare grond van vrees en verwonding gesaai word. Gedagtes word so geplant. Sodra hierdie gedagtes ontkiem en wortel skiet, gee dit aanleiding tot die oorheersing van vrees en angs. Bose saad moet duidelik onderskei word en onmiddellik verwerp en uitgewerp word. Dit is geestelike muur wat ons gedurig herstel teen die vyand wat daarop uit is om ons diepste wese te roof en ruïneer totdat dit soos Jerusalem van ouds in puin lê. Net soos die bannelinge sal ons die muur eers kan bou, as die altaar in plek is en die Tempel herstel is. Persoonlike aanbidding en gesonde lering maak ons sterk om soos Nehemia en sy spanne met die troffel in die hand en die swaard om die heup te bou – gereed vir onverwagte aanvalle.

Ek is verstom oor skaamtelose katterigheid en openlike beledigings in die openbare domain vandag, so asof goeie maniere en geweegde woorde met die afsterwe van ons grootouers oor boord gegooi is. Optredes tydens talentvertonings, entrepeneurs met besigheidsplanne en selfs kokke in kookprogramme word deur beoordelaars afgekraak soos wafferse speelgrond boelies. Selfs in die politiek is daar nie meer sprake van basiese ordentlikheid nie.

Die vernietiging van die woorde uit ons mond, breek die muur van beskerming om ons af.

Bodemklipvriend, dood en lewe is in jou woorde.

Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra. (Spreuke 18:21, NAB)

Jakobus 3 skilder ‘n gruwelprent van die tong se mag en die boosheid daarin vervat. Die impak van hierdie beskrywing, behoort mens se hart en verstand tot stilstand te ruk, sodat al ons woorde noukeurig aan die Heilige Gees onderwerp word.

Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.

Besef dit weer, roep uit na die Heilige Gees om jou woorde te weeg sodat jy woorde van God praat.

As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God… (1 Petrus 4:11, OAB)

Sien in jou geestesoog die muur wat verkrummel deur jou eie negatiwiteit en geskinder. Gaan gerus na die webblad van die Bybelgenootskap (http://www.bybel.co.za) en tik die woord “tong” in die soekfunksie. Lees hoe indringend die Woord van God ons waarsku oor ons woorde.

Bou jy of breek jy af? Hoe praat jy?

Alles in die media poog om ons sensitiwiteit oor waardevolle en goeie sedes te verdof. Skinder is vermaaklik – daar is tydskrifte vol daarvan. Voel jy vrymoedig om kwaad te praat oor iemand wat jou aanstoot gee of te na kom? Deel jy in die tydverdryf om te lees oor politici wat hulle sleg gedra of bekendes wie se foute en vernedering met ‘n opgehewe maatlepel “schadenfreude” uitbasuin word? Hoe maklik kom oordeel en woordmoord oor jou lippe net omdat dit gemaklik verwyderd van jou is?

Praat jy soos iemand wat ryklik vergewe is?

Verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord. (Jesaja 58:9, OAB)

 Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. (Jesaja 59:3, OAB)

Nehemia se antwoord op die aanslag van bespotting en vyandigheid was skietgebede en getuienisse.

Sanballat en Tobias maak ‘n bespotting van die projek en raak desperaat in hulle beledigende taal in Nehemia 4.

Nehemia se antwoord is nie die vrome gebedjie wat mens sou verwag van ‘n ” goeie” Christen nie. Hy bid al sy woede en wraak voor die Here uit! Net soos Dawid, is hy glad nie bang om “skerp” te bid nie. Sy woede stort hy voor God se aangesig in gebed uit – dis die regte manier! Lees die wraakgebed van Dawid in Psalm 109. Hoor die woorde van Nehemia en bring jou vyande voor die Here saam met hom.

Hoor, onse God, dat ons ’n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof terug en gee hulle oor aan plundering in ’n land van gevangenskap. En dek hulle ongeregtigheid nie toe nie, en laat hulle sonde nie uitgedelg word voor u aangesig nie; want hulle het U geterg teenoor die bouers. (Nehemia 4:4,5 OAB)

Super belangrik – “hulle het U geterg”. Glo jy, jy behoort aan die Here? Enigiemand wat jou te na kom, raak aan die appel van Sy oog!

“Oh listen to us, dear God. We’re so despised: Boomerang their ridicule on their heads; have their enemies cart them off as war trophies to a land of no return; don’t forgive their iniquity, don’t wipe away their sin—they’ve insulted the builders!” (The Message)

Jou vyand sal ook hewig ontsteld wees – 4:7. Jou vyande sal ook beplan om aan te val en verwarring te saai – 4:8. Nehemia neem praktiese stappe om die gevaar af te weer. Hy stel wagte op wat waarsku dat die vyand kom. Hy deel die volk in volgens families, bewapen hulle en stel hulle op as vegters. (4:13)

Verder maak hy ‘n inspirerende, bemoedigende toespraak voor die hele volk, ook die ampsdraers en vooraanstaandes:

Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.” (4:14)

Kosbaar! Dit is die regte reaksie teen die aanslag.

Van daardie dag af was een helfte van my manne aan die werk en het die ander helfte die spiese, skilde, pyle en boë en harnasse gereed gehou. Die gesagvoerders het plek ingeneem agter elke familiegroep Judeërs wat aan die muur gebou het. Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand ‘n wapen vasgehou. Die bouers het elkeen sy swaard om die heupe vasgegord gehad. Die ramshoringblaser het naby my gebly. (4:17,18)

Dis hoe ons bou – gereed vir die aanval. Luister vir die ramshoring van God in gebed. Hy sal waarsku as die aanval kom en die geveg se oorwinning waarborg. Waar was die leier? Nehemia was self op wag met die ramshoringblaser naby hom. Hy het nie sy klere uitgetrek nie. Hy moes wakker en gereed wees.

Terug na die hede – die geestelike dispensasie.

Ons word beklee met Christus:

… want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. (Galasiërs 3:27 OAB)

Dit is ons wit klere van Openbaring 3:18. Jy kan nie waag om jou klere uit te trek nie. Jy is op wag ten volle gekleed en met die wapenrusting van Efesiërs 6. Naaktheid stel jou bloot en daar is nie tyd om aan te trek as die ramshoring blaas nie. Die dwase maagde was uitgesluit toe hulle eers olie moes koop. Maak jou nou vol olie van die Heilige Gees, sodat jy gereed is as die bruidegom kom – as die krisis uitbars. [Sien Bodemklippe 75]

Stel vir jouself die ramshoringblaser naby jou op. Die Woord van God en gebed sal jou versterk om die aanval af te weer. Een van die gawes van die Heilige Gees is onderskeiding van geeste – jy sal weet dis die grynslag van die vyand en sy skor stem van moedeloosheid en vrees in jou ore.

Die bouery aan die muur het goed gevorder self gedurende die bedreiging, terwyl hulle  wapens ook moes dra. So bou ons met ons Woordkennis en God se beloftes aan ons om ons gedagtes gegord, terwyl ons vir Hom luister in gebed. Daar waar Sy belofte in jou lewe staan, sal die vyand nie deurbreek nie.

I will also meditate on all Your work, and talk of Your deeds. (Psalm 77:12 NKJV)

Bou die muur met wonderwerke. Bou met die goud en edelstene van jou getuienisse en insigte in die Woord en nie met hout, hooi en stoppels wat maklik brand in die vuur van krisis nie. (1 Korintiërs 3:12, OAB)

Jou getuienisse sal jou muur wees en jou woorde en opinies bepaal.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s