16 . Wil jy regtig weet?

Een van die heel belangrikste dinge wat ‘n mens ervaar in jou kontak met die Almagtige God is openbaringskennis. Hierdie kennis stel mens in staat om die hele lewe in ‘n ander perspektief te sien. Dit is in die eerste plek ‘n openbaring van wie God is en in die tweede plek ‘n openbaring van wie jyself is. Beide hierdie insigte vind dikwels gelyktydig plaas.

Die beste voorbeeld hiervan is Petrus se eerste ontmoeting met Jesus, beskryf in Lukas 5:8 : Gaan weg van my Here want ek is ‘n sondige mens. In dieselfde oomblik as wat Petrus besef dat die man voor hom is werklik God, kom hy onder die besef van sy eie onwaardigheid. Hierdie openbaringskennis is genoeg om jou hele lewe te verander, na gees, siel (onder siel verstaan ons die wil, verstand en emosies) en liggaam (as jy so onder die indruk van die teenwoordigheid kom dat jy sommer trane in jou oë kry, jou hande ophef en glimlag of sommer lag by die aanhoor van ‘n wonderlike antwoord op gebed).  Die verandering in jou gees vind op die diepste vlak plaas, daar waar die Heilige Gees jou diepste wese aanspreek. In die mate waartoe hierdie openbaringskennis van die Heilige Gees jou sielsvlak (wil, verstand en emosies) begin bepaal is die mate waartoe jy geestelik groei.

Hierdie openbaringskennis kom deur gebed en tyd met die Woord van God. Ek noem gebed en Bybelstudie in een asem omdat dit dikwels saamgaan. Meditasie van die Skrif is dikwels ons kragtigste gebede, waaronder ons denke verander.

Dink net vir ‘n oomblik – die krag van die ganse onsienlike wêreld is tot ons beskikking deur gebed. Dit is inderdaad die hoogste en heiligste aktiwiteit wat die mens hom mee kan besig hou.  In gemeenskap met die Almagtige God, by Sy voete, die bron van lewe en voorsiening vir elke aspek van jou bestaan. Gebed is so eenvoudig dat selfs ‘n klein kindjie se gebed kragtig is en geantwoord word, daarby is dit die bepalende faktor van jou ganse bestaan.

Dit is kern van jou Christelike lewe, en die kanaal van al jou seëninge. Dit is jou geheime krag, jou “beheer” oor jou geliefdes en selfs oor die wêreld. Dit is deur gebed dat die beloftes van God tot vervulling kom, dat Jesus se Koninkryk sy beslag kry, dat die volle heerlikheid van God in die wêreld openbaar word. Dis deur gebed wat getuienisse gebore word, wat ‘n mens se lewe kan verander en ‘n impak op die geskiedenis van die mensdom het.

Wat ‘n heerlike gedagte? Klink dit nie baie belangrik nie? Is jou eerste gedagte nie dalk – sjoe, ek weet nie of ek dit kan doen nie, ek faal heeltemal, ek is nie so ‘n geestelike reus wat hierdie geweldige taak op my kan neem nie.

Kom ons kyk na die gesprek van Jesus met die Samaritaanse vrou. Hy sê vir haar in Johannes 4:23, 24:

But the hour is coming and now is, when the true worshipers will worship the Father in spirit and truth; for the Father is seeking such to worship Him. God is spirit, and those who worship Him must worship in spirit and truth.

Kom ons staan ’n oomblik stil by hierdie woorde van Jesus – so vol betekenis en so rigtinggewend.

Tydens hierdie gesprek is hy in Samaria. Die Samaritane was aartsvyande van die Jode, soveel so dat die ware godsdienstige Jode nie eers deur Samaria gereis het nie. Van die See van Galilea, waar Nasaret, Bethsaida en Kapernaum was, was dit ‘n 3 dae per voet- draai om Samaria mis te loop, letterlik. Die Samaritane was oorblyfsels van die ballingskap wat met die heidense volke vermeng het, nadat Juda deur die Babiloniërs weggevoer is. Toe Nehemia terugkeer na Jerusalem en die volk opkommandeer om die muur te herbou, wou die oorblyfsel saamwerk, en is deur Nehemia weggejaag. Daarna het daar soveel vyandigheid ontstaan, dat geen aanbidding saam kon plaasvind nie. Die Jode wat nie suiwer genoeg bevind is nie, het hulle eie aanbiddingsplek in Samaria gevestig en nog verder van die wet afvallig geword het. Lees gerus Amos se bediening aan die stad Samaria.

In die tyd van Jesus was die vyandigheid steeds skerp. Hy besluit om deur Samaria te loop en daar te vertoef om kos te kry. Geen goeie Jood so daarvan droom om kos in Samaria te moet kry nie. Hulle sou dalk kos geweier word en wou nie eers in die posisie wees om te vra nie. ‘n Mens sou kom dink dat Jesus sy dissipels moes oortuig om kos te gaan kry of dat hulle alreeds so onder Sy invloed was dat van die skerp vooroordeel teen ander rasse al reeds aan die verbrokkel was.

Terwyl die dissipels weg is om kos te kry, sit Jesus by ‘n historiese put – die put van Jakob, die put op ‘n stuk grond wat Jakob gekoop het in Genesis. 33. Dit was nie ‘n borrelende fontein van water nie, meer syferwater wat ‘n rukkie neem om deur die sand te kom. Mens moes ‘n houer hê om die water uit die put te kry. Gewoonlik het elke wandelaar in daardie tyd ‘n diervelhouertjie by hom gedra om water uit ‘n put op te hys.

Die vrou wat haar weg na die put vind op hierdie uur van die dag kom alleen. Dit kan ‘n paar dinge beteken. Gewoonlik het die vroue van die omgewing by die put bymekaargekom vir kosbare kuiertyd, terwyl hulle hierdie harde, roetinewerk moes verrig. Die feit dat sy alleen kom dui op ‘n verwerping deur die gemeenskap. Uit haar verdere gesprek met Jesus kom mens agter dat sy al ‘n paar keer getroud was en nou in ‘n saambly-verhouding was. Sekerlik het die wettisisme van daardie tyd nie voorsiening gemaak vir so ‘n lewe nie.

Jesus breek deur die hindernisse van ‘n hele paar gemeenskapswette – hy praat met ‘n Samaritaan, hy praat met ‘n vrou, met ‘n reputasie en ook nie sommer ‘n paar woorde nie – ‘n hele lang teologiese gesprek. Hy kies ‘n verworpe vrou om homself as die Messias in Samaria bekend te maak. Die toegewyde Jode het glad nie met ‘n vrou in die openbaar gepraat nie, nie eers met hulle eie vroue of dogter nie!! Daar was van die Fariseers wat die “bloeiende” Fariseers genoem is. Hulle het hulle oë toegemaak as hulle by vrouens verby loop en dan in pale en mure vasgeloop. Dink net hoe ‘n kontras was Jesus se gemaklike gesprek met die vrou.

Sy gesprek was in die gewone patroon van Sy stelling wat verkeerd verstaan word en eintlik geestelik geinterpreteer moet word, gevolg deur ‘n volgende stelling wat weer misverstaan word. Hy begin die gesprek en vra vir water. Sy is dadelik vasgevang in die stryd van die tyd – hoe sal ‘n Jood vir ‘n Samaritaan water vra? Hy sê dadelik vir haar wie Hy is en praat van die lewende water. Lewende water was vir die Jode lopende water. Sy is by die realtieit van ‘n syferwater put en dat daar geen sprake van lopende water is nie. Buitendien sien sy dat hy niks by Hom het om die water uit die put uit te kry nie. Sy praat van “ons” vader Jakob, om Hom uit te lok oor die gemeenskaplike wortels van die Jode en Samaritane.

Hy praat verder van die geestelike water en dors wat vir tyd en ewigheid geles word. Sy spreek haar begeerte uit – net daar – binne-in die teologiestryd, vra sy water – dis haar gebed en die hele gesprek draai. Hy openbaar haarself aan haarself en praat oor haar man. Sy antwoord die waarheid oor haar situasie wat seker moeilik was om uit te spreek en die reaksie van Jesus is ‘n kalm opsomming van haar hele verlede. Onthou Sy woorde is altyd in volmaakte liefde, sonder veroordeling en dit moes sy aangevoel het, want sy reageer met ‘n begeerte tot aanbidding. Die verwarring van die teologiese stryd laat haar die vrae vra oor die plek van aanbidding en Jesus spreek haar vry van ‘n plek. Hy gee die patroon van ware aanbidding vir die toekoms en dit is:

Plek en tyd: maak nie saak nie

Wyse: Gees en waarheid – dus met ‘n eerlike hart.

Dis die wonderlike vryheid van die geestelike dispensasie. Jesus onderskei tussen ware aanbidders en ander. Hy onderskei nie tussen Jode en Samritane, groepe, kerke, rasse of enige ander skeidslyn waaraan ons dalk waarde heg nie.

Dit lyk asof die vrou met al haar sorge die verwagting van die Messias nie verloor het nie. Diep in haar gemoed roer Jesus hierdie verwagting en sy spreek dit teenoor Hom uit. In eenvoudige direkte woorde sê Hy, dit is Hy. In haar gesprek / gebed, noem dit soos jy wil, ontmoet sy die Messias in ‘n tyd wat niemand van haar groep Hom nog ontmoet het nie. Skielik verloor sy die beperkinge van verwerping en gaan roep haar gemeenskap om in haar vreugde te deel. Heerlike bevryding, oorkoming van die hindernisse, nuwe lewe.

Dit alles wag vir jou in ‘n hart tot hart gesprek met die Here.

Tot volgende keer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s