296.  Hosanna – kom red nou

En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” (Lukas 10:20)

Aan die begin van ‘n jaar koester ons die verwagtinge van nuwe dinge, planne, hoop vir iets beter en dalk ‘n nuwe koers vir ons lewe – hetsy dit gesondheid, fiksheid, Bybelstudie, gebed of oor die algemeen ‘n beter roetine van dinge gedoen kry, mag wees.  Soos die jaar sy verloop neem en die ritme van die lewe die drom van eise en aansprake op ons tyd en aandag hard in ons ore slaan, vergeet ons die groter prentjie, die idealistiese planne van begeertes oor verandering, wat ons dalk aan niemand uitgespreek het nie.

Dis goed om planne te maak.  Vir my is dit ‘n inspirasie en gee my energie om dinge aan te pak en beter te doen as in die verlede.  Daar is tog iets “oud” wat my bybly in die eerste dae van hierdie Januarie van 2024 – dankbaarheid oor wat reeds is, wat ek reeds het, wat reeds vir my gedoen is. 

My naam is in die hemel opgeskryf.  Ek kan goed onthou dat my ma gefassineerd was met die skriba in die hemel.  Haar verbeelding oor mooi penne, mooi boeke en mooi meubels het haar prentjie ingekleur – ‘n lewende hout wat ons net van kan droom, ‘n groot engel met ‘n goue stilus en ‘n boek, groot genoeg vir die Koninkryk-administrasie van ons God van die heelal.  Daar, het sy gesê, word jou naam opgeskryf.

Dit is natuurlik weer ‘n beklemtoning van Maleagi 3:16-18.  Ek het dit al so dikwels in Bodemklip-stukkies aangehaal, dat almal dit sekerlik reeds ken.  Ek kan egter nie genoeg kry van die wonder-gevolge van skryf, hemelse skryf, name wat opgeskryf word en die verhewe status wat daaruit voortvloei nie. 

Toe het die mense wat eerbied vir die Here het,

onder mekaar geredeneer,

en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan.

Daar is ‘n gedenkboek voor Hom geskryf

met die name van dié wat eerbied vir die Here het

en waarde heg aan sy Naam.

17Hulle sal vir My ‘n kosbare besitting wees

die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige.

Ek sal goed wees vir hulle,

soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk.

18Dan sal julle weer die verskil sien

tussen wie goed doen en wie goddeloos is,

tussen wie My dien en wie My nie dien nie.  (Maleagi 3:16)

Die Bybel is ‘n boek van name.  Ganse hoofstukke word aan lyste name gewy.  Afstammelinge en voorsate het status en verpligtinge (soos die Leviete vir Tempeldiens) in die antieke Hebreeuse beskawing bepaal.  ‘n Hebreërs se voorsate was sy lewenslisensie en hy moes dit kon bewys. (Esra 2:62)

In die Nuwe Testament praat Jesus met mense wie se name nooit genoem word nie.  Hulle is verteenwoordigend van die massas armes, ellendiges en onderdruktes wat nooit met die optekening van ‘n naam vereer word.

Jesus se ontmoeting met drie vroue, wat die kern van die boodskap van Sy bediening oordra, is kragtig en simbolies tot die opheffing van vroue wat in daardie tyd op geen status kon aanspraak maak nie.  Hulle geslag het hulle verdoem tot ‘n uitgemesselde, voorafbepaalde rol in die gemeenskap.  Die Samaritaanse vrou by die put, die vrou wat in owerspel betrap is en die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, het onverwagse ontmoetings met Jesus en lewensveranderende gesprekke wat vir ons opgeteken is – sonder hulle name.

Die verlamde by Betesda se naam word nie genoem nie.  So het ons ook geen name vir die regeringsamptenaar se seun (Johannes 4:46), die man met die onreine gees (Markus 1:21, Lukas 4:31), Petrus se skoonma (Matteus 8:14), die melaatse (Matteus 8:1), die man met die verdorde hand (Matteus 12:9), die hoofman oor honderd se bediende (Matteus 8:5), die weduwee van Naïn (Lukas 7:11) en so kan daar nog ‘n hele lys bygevoeg word – die meerderheid van die 26 genesings van Jesus.  

Dit is asof Jesus vir sy dissipels wil leer waar name werklik saak maak – net  in die hemel.  Selfs in sukses, wanneer die wêreld van name kennis neem, is hulle sukses, toe hulle uitgestuur word met die Evangelie en terugkom om van genesing en bevryding te getuig, ontvang met die woorde wat aan die begin van hierdie stukkie aangehaal is.

Dit is asof Jesus wil sê dat die dinge wat in die gemeenskap van waarde geag word, vir God nie saak maak nie.  Hy kyk in die boeke van God, die Boek van die Lam.  (Openbaring 21:27) God soek nie ons name in die kronieke van die Jode, of die koerante van ons dag, of die ererol by die universiteit, of die korporatiewe bevorderingslys, of die sosiale meriete-lys nie.  

God self skryf op.  Hy het Sy eie ererol van die mees onbeduidende mense wat in Sy rekords saak maak – die Boek van die Lewe.

Aan die begin van hierdie jaar is ek bly my naam is opgeskryf.  My eerste gedagte is by diegene wat nie opgeskryf is nie, almal vir wie ek so lank al bid.  Ek bid met nuwe inspirasie.  Ek bid dat die liefde van God my familie en vriende jaag met die genade en goedheid wat ‘n lewe omdraai en waarheid openbaar.  

In die Kerk van Jesus kan ons ook “presteer” met die wonders van die gawes van die Heilige Gees.

Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene [bose magte en manifestasies] te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.  (Lukas 10:19)

Dit is egter die Waarheid wat ons vry sal maak, nie prestasie, geld, status, of enigiets wat die wêreld kan bied nie, en selfs nie wat die aardse kerk mag waardeer nie.

By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

(Lukas 10:21).

In die krag van die Heilige Gees “trap” ek vandag op die “slange en skerpioene” van leuens, misleiding, valse leerstellings, vooroordeel, en vooropgestelde idees oor Christenskap, geestelike blindheid, en gebrek aan visie.  Ek dank God vir my naam in die hemel, en ek bid die name van my ongelowige familie en vriende in die goue bak voor die troon van die Almagtige (Openbaring 5:8).

Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; 32en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Johannes 8:32,33)

Hosanna – kom red nou.  Juig Bodemklipvriend – jou naam is opgeskryf.

Niks onreins en niemand wat iets losbandig en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.  (Openbaring 21:27)

Sometime in the spring (Trinity Sunday was May 22 that year, 1929) Lewis came to believe in God, though not yet in Christ:

You must picture me alone in that room in Magdalen, night after night, feeling, whenever my mind lifted even for a second from my work, the steady, unrelenting approach of Him of whom I so earnestly desired not to meet. 

That which I greatly feared had at last come upon me. In the Trinity Term of 1929 I gave in, and admitted that God was God, and knelt and prayed: perhaps, that night, the most dejected and reluctant convert in all England. 

I did not then see what is now the most shining and obvious thing; the Divine humility which will accept a convert even on such terms. The Prodigal Son at least walked home on his own feet. But who can duly adore that Love which will open the high gates to a prodigal who is brought in kicking, struggling, resentful, and darting his eyes in every direction for a chance of escape? 

The words compelle intrare, compel them to come in, have been so abused by wicked men that we shudder at them; but, properly understood, they plumb the depth of the Divine mercy. The hardness of God is kinder than the softness of men, and His compulsion is our liberation. (Surprised by Joy, Chapter 14)

From The Collected Letters of C.S. Lewis, Volume I
Compiled in Yours, Jack

https://www.biblegateway.com


Lewer kommentaar