Vergewe ons dat ons die indrukwekkende verwar met dit wat betekenisvol is.
Een van die groot gevare van die Kersverhaal is ‘n oor-familiariteit met die besonderhede, wat die impak daarvan afwater. Ons is so gewoond aan die storie – ‘n maagd wat swanger raak nadat ‘n engel met haar praat, ‘n man wat droom dat hy moet voortgaan met die verhouding met haar, ‘n donkie-reis na ‘n ander dorp, ‘n geboorte in ‘n stal, herders, engelekore, ‘n besondere ster, eksotiese besoekers van ver, babamoord en dan ‘n vlug na Egipte van alle plekke.
Daar is soveel legende ingebou en soveel wat nie gesê word nie, dat dit baie woorde en lang gesprekke sou verg om bietjie nader aan die ware gebeure te kom. Dit is egter nie waaroor ons gesprek vandag gaan nie, want soos almal weet is Kersfees verby. Die Advent-seremonies en -boodskappe hoort in die eerste deel van Desember totdat die hoogtepunt bereik word en die Christus-kers aangesteek word. Ons praat oor die Lig van die wêreld, die Kind wat gebore is, liefde, hoop, vrede en vreugde met al die verwagting en afwagting tot by die Oukersaand-diens met al die drama en gewydheid van die heel belangrikste gebeure in die geskiedenis van die mensdom.
Dan is dit Kersdag en dis verby.
Die week na Kersfees is anders. Ek sien uit na die verposing in kosmaak en voorbereidings wat altyd met groot entoesiasme in ons huis aangepak word. Ek rus heerlik, geniet die stilte sonder lysies en die vryheid van niksdoen. Dit is in hierdie tyd dat die werklikheid van wat ook al voorlê stadig in ons gedagtes terug kruip en miskien dink jy wat op aarde het verander? Kersfees het gekom en gegaan. Ek het myself ingestel om die impak van die Fees te besef en te vier, maar my lewe, probleme, siekte en swaarkry kleef om my soos ‘n hardnekkige bloedsuier wat ek nie kan uitsny nie.
‘n Integrale deel van die Kersverhaal is die lewe van Johannes die Doper. Van hom sê Jesus hierdie merkwaardige woorde:
“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy”. (Matteus 11:11)
Net in die vorige versie word verduidelik wie hy is. Nie die aardse, ietwat ongewone Elia-figuur nie, maar die hemelse perspektief van ‘n lewe wat sy doelstelling, sy Goddelike Plan volmaak uitleef.
Dit is hy van wie daar geskrywe staan:
“ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit;
hy sal die pad vir jou regmaak.’ (11:10)
Net verder in die hoofstuk sê Jesus uitdruklik dat Johannes Elia is, wat die Jode verwag het om te kom om die weg vir die Messias voor te bereid. (11:14)
Johannes preek en doop die Joodse doop van bekering. Tot die argwaan van die Fariseërs en Skrifgeleerdes, sommige wat ook gekom het om deur hom gedoop te word, ontbloot hy hulle eie onsekerheid en vrugtelose bediening wat ‘n verkreupelende las wettisisme op hulle volgelinge laai, wat moet gehoorsaam uit vrees dat die “kerk” van die tyd hulle sal verwerp.
Johannes het al die mense voorberei op die Een wat kom:
“Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.” (Markus 1:7)
Op ‘n dag stap ‘n Man, wat net so gewoon lyk soos die res van die mense, op die doop-toneel af en die gewone word die uitsonderlike – sonder waarskuwing.
Die Heilige Gees praat in die mond van Johannes.
Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (Johannes 1:29)
Johannes die Doper is ‘n getuie van die wonder-gebeure by doop van Jesus. Johannes, die Apostel, skryf sy getuienis neer in Johannes 1. In Matteus word die grootse oomblik waar die God van hemel en aarde homself as Drie-eenheid openbaar so beskryf:
Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ‘n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook ‘n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” (Matteus 3:16,17)
Soos ons weet begin die bediening van Jesus kort daarna. Dinge werk vir Johannes die Doper anders uit as wat hy verwag het. Sekerlik het hy die vreugde ervaar van die wonder rondom Jesus. Sy verwagting het net meer en meer opgebou toe hy hoor van die wonderwerke, toe sy dissipels, met sy goedkeuring, hom verlaat en Jesus volg; toe Jesus se bekendheid begin versprei.
En toe…word Johannes in die tronk gegooi en sy deelname aan die grootsheid met wrede ongeregtigheid kortgeknip deur ‘n bose heerser wat alles wat sleg is, simboliseer.
In al die wonderwerke van bevryding en genesing, is daar dalk een vir Johannes se vrylating uit die duisternis en lyding van ‘n Herodes-kerker?
Blykbaar nie. Jesus gaan voort, terwyl Hy weet Johannes ly. Soveel so dat twyfel in Johannes opspring. Wat moes hy gedink het? Jesus is familie, Hy weet ‘n tronk is nie kinderspeletjies nie en tog… is daar niks spesiaal uit die wonders wat rondom Jesus verkondig word nie.
Johannes se verwagtinge stel teleur. Het hy dalk ook heimlik gedink die tyd van Joodse oorheersing het aangebreek? Het hy ook gehoop dat Jesus sal klaarspeel met Romeinse onderdrukking? Wanneer kom die groter gebeure, die indrukwekkende, die hoop op herstel na die glorie van Salomo en wêreld heerskappy? Al wat hy hoor is Jesus se bediening onder die uitgeworpenes van die gemeenskap, die laagste klasse, die siekes en ellendiges en om alles te kroon, belastinggaarders en vroue, selfs die met verwerplike sedes.
Dis duidelik dat sy dissipels besorg oor hom is en hom in die tronk besoek, want deur hulle stuur hy ‘n boodskap aan Jesus.
Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ‘n boodskap aan Hom gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” (Matteus 11:2)
Verskeie teoloë wil nie erken dat Johannes self twyfel nie en verduidelik sy vraag asof hy namens sy dissipels vra. Daar is vir ander geen probleem om sonder terughouding te erken dat Johannes ‘n geloofskrisis beleef. Dinge werk nie uit soos wat hy gedink het nie. In die wonder rondom die doop van Jesus is dit waarvoor hy geroep is en waarvan hy met groot oortuiging en onverskrokke durf verkondig het, met hemelse goedkeuring bevestig. Wat nou?
Jesus antwoord hom – deur die dissipels – met hierdie woorde:
Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.” (Matteus 11:4-6)
Is ons dan geseënd as dinge nie uitwerk soos wat ons gehoop het nie? Die OAB stel dit so: En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.
Aanstoot is ‘n interessante woord. Die letterlike betekenis in Grieks is “lokval”. In Afrikaans sou ons seker kon sê dat dit struikelblok beteken. Dit is wanneer ons emosioneel en geestelik verwond word, seerkry, teleurstelling en hartseer oor mislukking ervaar. Dit is die teelaarde vir bitterheid en woede.
Is die wonderwerke wat Jesus kies om te doen, dan nie so indrukwekkend soos die verwagtinge van wêreld-heerskappy, indrukwekkende globale ingrepe en populêre openbare politiek nie? Verwar ons die indrukwekkende met dit wat werklik betekenis het en vir elke individu ‘n lewe-ommekeer kan bied?
Verstaan ons God se Plan? Is jy in jou siekte, probleme en teleurstelling presies die plek waar jy moet wees om die ware betekenis van die koms van die Messias te begryp? Sien jy die betekenisvolle in jou teleurstelling met die indrukwekkende?
Gaan… vra vir Jesus!