Ons gesels al lank saam oor die hoogste beginsels van bestaan. Dit is die wonder van die Bybel. Ek luister graag na die slim mense in teologie, filosofie en letterkunde sodat ek iets van hulle diep-dink kan ervaar. Ek dank die Here vir hulle. Hulle bestudeer die groot en moeilike dinge waarmee Dawid sê hy hom nie mee bemoei nie (Psalms 131:1). Bemoei is so ‘n goeie woord. ‘n Mens kan amper die moeilikheidsgraad van bemoei in die woord-atmosfeer optel. Die filosowe verduidelik die mens se groot vrae aan die hand van vier aspekte. Elke wêreldbeskouing, of dit nou Christen, Islam, Ateïsme, Boedisme of Hindoeisme is, of enige ander filosofie of godsdiens wat ‘n mens sou kon aanhang, moet vier vrae kan antwoord: oorsprong, moraliteit, betekenis en lotsbestemming of toekomsbeskouing (Engels=destiny). Dit is slegs die Christen-lewensbeskouing wat hierdie vier vrae almal bevredigend antwoord. [Luister gerus na Ravi Zacharias op Youtube vir meer hieroor: https://youtu.be/aRChfvNYEqI]
Dit laat my dink aan die geheel van ons lewe en die dinge wat deurgaans ons bestaan bepaal. So is ons besluit om Jesus te volg en hom in ons lewe in te nooi, ‘n stap wat al vier vrae vir ons beantwoord op so ‘n wyse dat ons die “dinge waarop dit aankom” in ons lewe met genade en liefde kan leef en beleef.
Een van hierdie dinge is geld. Baie mense wil nie oor geld praat nie. Hulle dink Jesus het afwysend oor geld gepraat toe Hy gesê het dat ons nie God en Mammon kan dien nie (Matteus 6:24). Mammon word gedefinieer as die bose invloed van welvaart. In die Middeleeue is Mammon gebruik om die god van hebsug te beskryf – onversadigbare gierigheid.
Natuurlik is hierdie diepe en oorheersende begeerte vir meer en meer verkeerd. Net een kyk om ons en ons sal die vernietigende invloed van die geldgod kan uitwys. Geld word jou god as dit in jou denke die oplossing van jou probleme word. As jy so na jou situasie kyk, en jy dink dat meer geld vir jou die enigste uitkoms kan wees, dan dien jy Mammon. Dit is dikwels mense wat ‘n gebrek aan geld het, wat die meeste oor geld dink. Ryk mense weet een ding verseker en dit is, dat geld nie die oplossings bied wat ander so graag sou wou sien nie. Geld bou nie verhoudings nie; dit genees nie verhoudings nie. Geld is dikwels die faktor wat verhoudings versuur of vernietig. Geld maak jou nie gelukkig nie. Daar is net soveel dinge wat jy kan koop, klere en skoene wat jy kan hê, mooi goed in jou huis of ‘n mooi huis, konstante vakansie met al die weelde en wonder van die beste wat die wêreld kan bied. Die oordadigheid van ‘n spandabelrige ingesteldheid is ‘n siek soeke na bevrediging wat geld nooit kan bied nie.
Jare gelede was daar ‘n reeks oor die lewe van die Woolworth miljoenares. Dit het niks met ons Woolworths-winkels te doen nie. Haar nooiensvan was Woolworth en sy het ‘n derde van haar pa se fortuin ge-erf, wat saam met erfporsies van haar ouma en haar ma, haar die rykste vrou in die hele wêreld gemaak het. Sy het daarin geslaag om $900 miljoen voor haar dood in 1979 te spandeer. Haar ma het selfmoord gepleeg toe sy vier jaar oud was en sy het haar pa omtrent nooit gesien nie. Sy het van aanvang aan moeilikheid opgetel in verhoudings en uiteindelik sewe keer getrou, meestal met hooggeplaaste getiteldes wat agter haar geld aan was. Hoewel soveel mense haar bewonder het vir ‘n lewe van plesier en die luukste wat die wêreld kan bied, was sy diep ongelukkig en het haar toevlug na dwelms en alkohol geneem. Elke mislukte huwelik het ‘n groot hap uit haar fortuin beteken. Haar enigste seun het in ‘n vliegtuigongeluk op die ouderdom van 36 gesterf. Sy was gebroke oor sy dood. Sy self is op 66 dood, op die rand van totale bankrotskap. Dit was algemeen bekend dat sy, in haar soeke na liefde en stabiliteit, finansieel uitgemergel is. Dit waarna sy werklik gehunker het, kon sy nie “koop” nie.
Die enigste titel wat ons ooit nodig het, is die “voorreg om kinders van God” genoem te word.
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. (1Johannes 3:1)
Verder sê Petrus ons is koninklike priesters, ‘n uitverkore volk en kinders van die lig (1 Petrus 2:9). Ons titels gee ons toegang tot die heel beste van die lewe – die onsigbare koninkryk van God op aarde met die weelde en wonder van ons hemelse Vader se teenwoordigheid.
Maar wat van die praktiese eise van ons lewe hier? Dit is tog die toets. Ons het geld nodig. Ons kan nie daarsonder nie en selfs al oorheers dit nie ons denke en begeertes nie, is ons hele bestaan daarop ingestel om geld te verdien sodat ons kan lewe.
God weet dit goed. In sy Woord is daar soveel beloftes oor voorsiening vir die alledaagse.
Die beloftes staan sodat ons nie moet bekommer nie, maar daar is ‘n dieper uitdaging in sy onderneming om te voorsien. In ‘n baie donker tyd van politieke chaos en verwarring in Jerusalem en Juda, het Habakuk met die oorblyfsel gepraat en gesê: Die regverdige sal uit die geloof lewe.
Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe. (Habakuk 2:4, OAB)
“Behold the proud, His soul is not upright in him; but the justshall live by his faith. (Habakkuk 2:4)
Sy woorde word in die briewe van Paulus en in Hebreërs herhaal – woorde wat deur die eeue ego sodat die waarheid daarvan ons grondbeginsel van lewe kan wees.
In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” (Romeine 1:17)
En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” (Galasiërs 3:11)
En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.” (Hebreërs 10:38)
In al hierdie Skrif is die refrein van die Ou Afrikaanse Bybel die pragtige woorde: Die regverdige sal deur die geloof lewe. Die NAB gee die verduideliking van ‘n “regverdige” en dit is superbelangrik: vrygespreek deur God omdat hy glo. Dit is nie ons pogings tot ‘n perfekte lewe wat ons regverdig nie – dit is God se vryspraak oor ons lewe omdat ons glo!
Nou, vrygespreekte, hoor en luister na die belofte van voorsiening.
Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. (Maleagi 3:10)
Bring jou tiende (die Ou Testamentiese riglyn vir finansiële vryheid) en TOETS die Here. Dit is werklik verstommend dat die Here ons uitdaag om hom te toets – en dit met geld! Dit is ‘n geloofstoets met die belofte van oorvloed.
Dit is onmoontlik om al die beloftes oor geld te bestudeer. Laat my toe om nog een kort opmerking hieroor te maak, dan kan ons in die volgende stukkie dit verder beskou.
Jesaja 58 is ‘n sleutel hoofstuk in die Ou Testament om die “gees” in die wet van Moses te onderskei. Lees dit gerus in geheel, sodat die Heilige Gees die stem van die Here vir jou spesifiek in jou hart laat uitbasuin, veral oor gee aan die armes en die Sabbat.
Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?
Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel…
Lees dit asseblief met aandag maar hoor veral die gevolge van ‘n oop hart na jou medemens in vers 11:
Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.
‘n Lewe van uitnemendheid sonder bekommernis. Gee oor, Bodemklipvriend, en laat geloof jou onderbou in geldsake wees.
Volgende keer: Nuwe Testamentiese riglyne vir finansiële vryheid.