[Johannes 21]
‘n Mens sou eerstehandse kennis van die Galilese vissermanne moes hê om hierdie storie te skryf. Die vangs wat hier beskryf word, het dikwels op die meer plaasgevind. Die manne met nette op die bote het staatgemaak op iemand op die wal wat effens hoër geplaas is om die skole visse te sien beweeg. Hy het dan met handtekens of ‘n klok die bote gelei. Jesus het daadie dag hierdie funksie vervul.
Mense herken Jesus as Hy homself aan hulle openbaar. Miskien was die grys van dagbreek nog te donker om Hom duidelik te sien. Liefde het egter deur die grysheid gedring en Johannes het gesien en gepraat. Petrus het gesien en gehardloop. Hy het net ‘n lendedoek gedra, soos alle vissermanne as hulle in die water en om die meer besig was. Hy het sy bokleed aangetrek. Om iemand te groet was ‘n heilige handeling en hy het homself aangetrek vir die geleentheid.
Hierdie hoofstuk is duidelik bygevoeg om die werklikheid van die opstanding te beklemtoon. Baie sou sê dat Jesus se verskynings net visioene van die dissipels kon wees, selfs hallusinasies. Die Evangelies benadruk dat Jesus na die opstanding ‘n persoon was.
Dit was onwaarskynlik dat ‘n hallusinasie daar op die strand ‘n vis sal braai om met sy vriende te deel. Die graf was leeg en Jesus het die wonde in Sy hande en sy gehad om dit te bewys. Jesus dring daarop aan dat hulle aan Hom raak om die werklikheid van die waarheid by hulle te laat insink.
Jesus het die dood oorwin. Hy het seker gemaak dat hulle nie twyfel nie.
Johannes noem die getal visse vir ‘n rede. ‘n Vangs van 153 visse moes onder die vissers verdeel word. Dit was ‘n besondere groot vangs, maar daar is simboliek in die getal.
Volgens die syfer-simboliek van die antieke wêreld het honderd die volheid van die kudde uitgebeeld (Matteus 18:12). Die goeie saad in vrugbare grond het honderdvoudig oes opgelewer. Die getal vyftig het die orrblyfsel van die Jode aangedui en drie is vir die Drie-eenheid wat alles moontlik maak.
Die net is die kerk met geen uitsluiting en geen verwerping. Dit is altyd groot genoeg vir almal. Die kerk moet soos Jesus alle mense innooi.
Petrus het Jesus drie maal verloën. Jesus gee aan hom die geleentheid om drie maal sy liefde vir Jesus te bevestig. Jesus het sekerlik besef dat Petrus vol skuld en skande was. Hy lei Petrus na die plek waar liefde die onderwerp is en nie die verwonding van nederlaag nie.
Met elke verklaring van liefde, het Petrus ‘n taak ontvang. Sy verklarings moes hom toerus vir sy taak in die kerk. Liefde is ‘n voorreg maar ook ‘n verantwoordelikheid. Aan die einde van sy lewe het hy ook aan ‘n kruis gesterf. Hy is onderstebo gekruisig omdat hy nie waardig gevoel het om dieselfde manier as Jesus te sterf nie. Dit is merkwaardig dat die Romeine aan sy versoek voldoen het. Die durf en dapperheid van Petrus se teregstelling staan in sterk kontras met sy nederlaag in die binnehof van die Hoë Priester se huis. Die aanraking van die vuur van die Heilige Gees op Pinskterdag het hom sodanig bekragtig om sy taak te vervul.
Petrus se rol in die vroeë kerk was gevestig. Hy was ‘n herder en het die volk van Jesus innig liefgehad.
Jesus vra: : Petus agapé jy My? Petrus antwoord: Here ek phileo jou.
Agapé is die onvoorwaardelike, onbegryplike liefde van God vir die mens.
Dit word gedefinieer as onvoorwaardelike gewillige liefde wat kom uit ‘n besluit en nie ‘n gevoel, affiniteit of chemiese aangetrokkenheid nie. Die woord omvat ‘n onomkeerbare goedgesindheid en ‘n allesomvattende welwillendheid. Agapé soek altyd die hoogste goed vir ons medemens. Dit is ‘n woord wat amper eksklusief aan die Christelike letterkunde behoort. Buite die Nuwe Testament is dit onbekend. Dit is asof die woord in Grieks bestaan het om te wag totdat Jesus inhoud daaraan kon gee.
God het onvoorwaardelik lief. Jesus aan die kruis het God se liefde in die mees ondeurgronde wyse ooit bewys.
Petrus het besef dat hy nie in staat is om so lief te hê nie. Sy onsekerheid is in die woord phileo wat broederlike liefde beteken.
Die tweede keer vra Jesus: Petus agapé jy My? Petrus antwoord: Here ek phileo jou.
Die derde maal vra Jesus: Petus agapé jy My? Petrus antwoord: Here, jy weet alle dinge. Jy weet ek phileo jou.
Petrus erken sy gebrekkige liefde in waarheid. Hy weet daar is geen waarde in voorgee nie. Jesus ken sy hart.
Mens kan amper die rou hart tot hart kommunikasie ervaar. Petrus is vergewe en herstel. Sy verhouding met Jesus is vasgemessel in die woorde van liefde uit die mond van Jesus self. Jesus plaas die las van liefde vir die kerk op Petrus en op Pinksterdag word hy toegerus met wat nodig is om dit uit te leef in ‘n kragtige bediening. Hy weet Petrus het op ‘n diep vlak verander. Jesus weet hoe lief Petrus hom het.
In die volgende gedeelte (20:20-24) sê Johannes iets oor die woorde wat van hom gespreek is. Petrus is dadelik bekommerd oor sy mede-dissipels en Johannes was nog jonk. Sommige kommentatore meen dat Johannes maar 15 of 16 jaar oud was toe hy Jesus ontmoet het. Jesus maak Petrus gerus oor sy broers en verseker hom dat Hy sal sorg.
Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. (Johannes 10:28)
Johannes is die oggetuie van al hierdie dinge. Hy het in sy oudag daar in Efese alles opgeskryf. Hy was die een wat na Maria gekyk het.
Die Christendom is geseël in ondervinding. ‘n Ontmoeting met Jesus is die fondament van ‘n Christelike lewe.
Jesus sê hier dat ons nie moet bekommer oor die taak wat aan iemand anders opgelê word nie. Ons volg Hom en doen wat Hy van ons vra. Jesus is die volmaakte Herder oor ons almal. Hy sal ons bediening bestuur. As ons soos iemand anders wil wees, wag daar teleurstelling en nederlaag. Ons kan nie die hele kerk beheer nie. Ons kan net doen wat die Heilige Gees aan ons kommunikeer om te doen.
Jesus is sonder beperking. Sy opstanding is die werklikheid. Sy kerk is universeel. Niemand ding mee binne die Koninkryk nie. Petrus is die herder en Johannes die getuie.
Johannes dink aan die glans en glorie van Jesus en weet dat dit wat hy skryf net ‘n effense afskynsel van die werklikheid is. Die wêreld kan nooit werklik die volheid van Jesus begryp nie.
Wanneer jy dink jy weet, weet dat Hy soveel meer is.
Ons denke en boeke faal vreeslik as ons die oorweldigende onbeskryflike moet beskryf.
John ends with the innumerable triumphs, the inexhaustible power, and the limitless grace of Jesus Christ. [William Barclay]
Hiermee kom ons aan die einde van die studie van Johannes.
Ek dank die Here vir Sy kragtige woord en glo dat hierdie studie altyd ‘n inspirasie tot meer en meer sal wees.
Volgende keer – iets oor Kersfees.