87. Ligte, kamera… aksie!

Ons wêreld is honger vir leierskap. ‘n Man of vrou wat met grootheid van gees kan sin maak uit die chaos van geweld en gebrek en vorentoe beur met ‘n duidelike plan, sodat ons met vertroue kan volg. Die Europese krisis en die Amerikaanse verkiesing sou mens tot op die rand van paniek kon dryf met ‘n wanhooproep na iemand wat kan leiding neem en die vaandel vorentoe dra.

Een van die pragtige komplimente in die Bybel is aan die seuns van Issaskar gegee:

… en van die seuns van Íssaskar, met kundige insig wat die tye betref, om te weet wat Israel moes doen… (1 Kronieke 12:32, OAB)

Dit is werklik my begeerte vir die leiers van die wêreld. My hart roep uit – Here! Gee asseblief vir ons ‘n Nehemia wat in toewyding en gebed aan U, die magtigste heerser van die tyd se guns so swaai dat hy Jerusalem se muur laat bou. Ons het ‘n muur van verdediging nodig. Ons het skrikwekkende vyande wat veg met vrees en planne om te vernietig en te verjaag. Ons leef in die dispensasie van die Heilige Gees en daarom het ons ‘n heilige, geestelike muur nodig.

Toe hoor ek wat die Gees aan die gemeente sê. Jesus het Sy kerk geroep om Nehemia te wees en die muur te bou. Dis ons!

Nehemia dien al jare die koning. Hy het in Persië agtergebly toe die eerste golwe bannelinge na Jerusalem terggekeer het. Hy het sekerlik ‘n mate van lojaliteit teenoor die koning opgebou en duidelik in ‘n vertrouensverhouding met hom gestaan. Die skinker moes hom bewaar van vergiftiging en was baie ure van sy lewe in die koning se teenwoordigheid. Dit het daartoe gelei dat Nehemia ‘n vertroueling van die koning geword het. Sy hartseer oor die berigte van die bedenklike toestand van die muur in Jerusalem is dadelik deur die koning gemerk.

Ons het verlede keer die detail van sy gebede en versoeke bespreek. Hy reis veilig na Jerusalem, doen ‘n bestekopname in die nag en kry die inwoners gemobiliseer vir die bouwerk.

Nehemia 3 beskryf ‘n merkwaardige vertoning van eenheid. Dit is ‘n kerk in aksie, gees-inspireerd met sterk, seker leierskap. Selfs hier is nie almal aan boord nie, maar dit doen nie afbreek aan die suksesvolle samewerking van die meerderheid nie. Hoor ‘n bietjie hierdie stukkie van die verslag!

Die volgende stuk is herstel deur die mense van Tekoa, maar hulle vooraanstaande mense was nie gewillig om swaar werk te doen vir hulle Here nie. (Nehemia 3:5, OAB)

Die hoofstuk lees soos amptelike, gedetailleerde verslaggewing van ‘n triomfantelike projek. Party groepe het groot dele van die muur gebou, die poorte herstel, deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Party het die herstelwerk voor hulle eie woonplekke gedoen. Sommige het soveel as 450m van die muur gebou. Argeoloeë het met die opgrawings ‘n muur van 2,5m dik gevind. Dit was ‘n reuse taak wat in bonatuurlike eenheid voltooi is.

Dit is betekenisvol dat die herstelwerk voor sommige inwoners se privaat woonplekke as deel van die amptelike verslaggewing ingesluit word. Die muur word gebou deur elke persoon se persoonlike toewyding, hoe gering ook al. Net so sal die geestelike muur van die Christendom gebou word in privaathuise met die toewyding van individue. Elkeen se bydrae tel. Net een mens maak ‘n verskil. Dink maar aan Ester wat geroep en verhef is vir die spesifieke tyd waarin sy dapper moes optree en haar ganse volk red.

Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. (Sagaria 4:10 NAB)

Die eenheid en magsvertoon van die bouprojek het die vyand in ‘n storm van woede laat invaar met ‘n tirade wat amper komies oorkom.

Toe Sanballat hoor ons bou die muur, was hy woedend. Hy het met groot ergernis smalend teen die Judeërs uitgevaar en vir sy medeamptenare en vir die soldate in Samaria gesê: “Waarmee is die arme Judeërs besig? Wil hulle vir hulle ‘n stadsmuur bou? Wil hulle offerandes bring en in een dag klaarmaak? Wil hulle die klippe laat herleef uit daardie hope stof en as?” Tobija die Ammoniet het langs Sanballat gestaan en hy het gesê: “Laat hulle bou! Daardie klipmuur van hulle sal omval as ‘n jakkals daarteen spring!(Nehemia 4:1-3, NAB)

Dit klink na desperate pogings tot ontmoediging, so asof hulle klaar die oorwinning van God in die geestelike realm bespeur. Die kerk is die lig in die donker wêreld. Die kerk moet leiding neem. Dit is ons wat die muur bou, al is dit net voor ons eie woonplekke. Ons is die ore wat moet hoor wat die gees aan die gemeente sê. Die kerk is die lampstaanders van Openbaring 1, met Jesus wat tussen ons staan. Dit is Sy stem wat praat en roep: Ligte, kamera….aksie!

Hy het in sy Hand die boekrol van die geskiedenis geneem en die seëls gebreek sodat die tye kon uitrol. Ons ken Hom wat waardig is om die wêreld se storie te ontvou. Hy praat met Sy kerk as Hy die sewe gemeentes in Openbaring 2 en 3 aanspreek. Die vermaninge is om die hindernisse te verwyder sodat ons Hom in Sy volheid kan sien en Sy seën kan ervaar.

Hoe reusagtig en oorweldigend die taak ookal mag klink, is dit ons, die kerk van Jesus, wat die leiding moet neem en in die bres moet staan.

Die muur van Jerusalem het die stad beskerm. Dit moes die vyand uithou. Daar was 10 poorte om die regte mense in te laat. Net so is ons muur. Ons word beskerm teen die vyand en laat die regte mense en invloede toe om binne te kom.

Die muur is ook ons getuienis na buite. Dit spreek van ons herstel in Christus uit die ou lewe van vernietiging in nuwe lewe, saam met Jesus uit die dood opgewek.

Die muur is ‘n bewuswording van vyandskap. Die duiwel is dood tevrede as jy ‘n naam-Christen bestaan voer. Sodra jy egter met intensie die nuwe lewe in Jesus najaag, skrik hy wakker en begin aanval.

Daar is ‘n hele aantal vyande wat met hierdie vertelling identifiseer kan word.

  • Tydens jare van vreemde invloede het die volk van Israel mekaar onderduk. Volgens die gebruik is iemand wat nie sy skuld kon betaal nie, in slawerny verkoop. So het heelwat slawe hulle eie landgenote gedien. Ons maak ook slawe van ons naastes en geliefdes. Ons kritiseer en verneder, soms selfs in die kerk en gebruik ons erfenis in Jesus om te onderdruk. Ons soek ons eie belang, status en welvaart ten koste van ander.

Na ek dit oorweeg het, het ek die skuld op die vooraanstaande burgers en die ampsdraers gelê en vir hulle gesê: “Julle is besig om julle volksgenote uit te buit!” (Nehemia 5:7 NAB)

Hoor wat die Gees aan die gemeente sê:

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. (Filippense 2:3,4, NAB)

Net aan die voete van die Kruis in gebed sal die wortel van trots en onderdrukking uitgeroei word.

God se volk leef ook in ‘n staat van insolvensie, opgevreet deur skuld en rente. Indien dit opgeëis sou word, sou soveel in armoede verval het. Dit is nie die finansiële spanning wat die Here bedoel het nie.

Bou die muur, Bodemklipvriende. Die groot rots wat die muur stewig maak is tiende en die blymoedige, geesvervulde gewer van Korintiërs.

Hoor wat die Gees aan die gemeente sê:

Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.

Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie, sê die Here die Almagtige.

Dan sal al die nasies julle as gelukkige mense beskou; julle sal in ‘n begeerlike land woon, sê die Here die Almagtige. (Maleagi 3:10-12, NAB)

Paulus maak gehoorsaamheid aan die Heilige Gees noodsaaklik met betrekking tot gee.

Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. (2 Korintiërs 9:6,7,NAB)

Meer nog, dit is nie ons kennis van Jesus wat ons deur ander mense, volgens hoorsê, verkry wat ons in moeilike tye dra nie. Dit is ons eie ondervinding van God se stem in Sy woord en oortuiging in ons gemoed wat ons sterk maak. Ons moet Hom ken in die krag van Sy opstanding. (Filippense 3:10,11, Amplified)

Leef jy in armoede aan die gesproke Woord?

Dit is ook moontlik dat die kerk vir wêreldse gewin gebruik word en losbandigheid verdra. Probleme skei die koring van die kaf, die skape (wat die Herder se stem hoor) van die bokke, die wat sê dat hulle Christene is, maar eintlik aan die “sinagoge van die Satan” behoort. (Openbaring 3:9)

God sal self Sy kerk suiwer, net soos Hy aan die dissipels verduidelik het dat die engele die koring van die onkruid (wat soos koring lyk as dit jonk is) sal skei. Ons mag nie oordeel nie. Ons moet wel onderskei tussen die ware en die valse. (Matteus 13:30)

 

  • In die tyd van Nehemia is die Sabbat verontagsaam. Vir ons is die Sabbat ‘n persoon, Jesus. Dit is slegs in Hom wat ons volkome rus kan hê. Lees gerus Jesaja 58 oor die Sabbat en die groot seën wat die ware rus van God inhou.

Hoor wat die Gees aan die gemeente sê.

As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ‘n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê (Jesaja 58:13,14 NAB)

Jesus pas nie in by ons “gewone gang” nie. Ons moet by Hom aanpas.

Daar is werklik seën op die afsondering van ‘n rusdag as ‘n breek van daaglikse roetine, solank mens nie wetties daarmee omgaan en ander oordeel wat dit nie op jou manier doen nie. Onderhouding van die Sabbat is persoonlik. Hoor wat die Here sê, want Hy weet wat jy nodig het.

 

  • Die onderskeid tussen ware toewyding en oppervlakkigheid is onderstreep en word beskryf met burgers in die “buiteposte”.

Wat betref die nedersettings met hulle boerderygebiede, daar het van die Judeërs in Kirjat-Arba en sy buiteposte gewoon, in Dimona en sy buiteposte, in Kabseël en die nedersettings by hom. (Nehemia 11:25)

Nehemia het meer werkers nodig gehad en die mense buite Jerusalem ook genader. Sommige van hulle was onwillig en moes spesiaal aangemoedig word om deel van die plan te word.

Ons kry baie sulke Christene. Hulle is gemaklik deel van die kerk, maar wil nie ongebalanseerd voorkom nie. Hulle sien ‘n lewe van volkome toewyding as fanaties en kyk neer op mense wat ‘n “kruk” nodig het.

 

  • Vroue in die Ou Testament word dikwels as tipes of beginsels uitgebeeld en die verhouding met hulle as afvalligheid (hoerery) beskryf. Verhoudings met vreemde vroue (beginsels en ‘n lewenswyse verwyderd van God) veroorsaak ‘n gemengde nageslag.
  • Verder het amptelike teenkanting nie net die bouprojek bedreig nie, maar ook die toewyding van die volk. Nehemia moes teen hulle opstaan. Ons staan dikwels teen owerhede en hooggeplaastes wat projekte in die wiele wil ry. God is groter. Hy kan die koning se gesindheid swaai.

Ek het die vooraanstaande burgers van Juda sterk aangespreek en vir hulle gesê: “Hoe kan julle so ‘n verkeerde ding doen dat julle die sabbat ontheilig? (Nehemia 13:17)

Die kerk het die plan. Die kerk is toegerus met die Heilige Gees. Dit is al en alles wat ons nodig het.

Ons moet die muur bou, sodat ons vyande komies desperaat is omdat hulle hulle eie nederlaag sien kom.

 

 

 

 

86. Mure, pilare en poorte.

Die wêreld is ‘n gevaarlike plek. Daaroor is geen twyfel nie. Gevaar is oral. As dit nie roof en doodslag is nie, is dit terrorisme en natuurrampe. Daar is eenvoudig nie ‘n waarborg vir veiligheid nie. Boonop klim ons daagliks in ‘n motor waarvan die statistiese risiko’s skrikwekkend is. Indien ons ‘n denkoefening in risiko-analise sou doen, sou ons sekerlik in ‘n kasteel op ‘n berg agter slot en grendel wou woon… en krepeer.

Gevaar is ons konstante metgesel. Laat net jou gedagtes los en jy kan die gevare opnoem. Dis nie eers nodig om diep te dink nie. Ons verbeelding kan die ergste rampspoed ongevraag in groteske besonderhede opdis. Dis met moeite, en vir my, met groot geloof dat ek vrees bewustelik onderdruk. My ma het altyd gesê sy kan die gevaar om die draai sien en betyds waarsku. Ek het eers later in my lewe besef dat mens eintlik in ‘n staat van voortdurende paniek is. ‘n Mens kan nie so leef nie.

Jesus het vrees, angs en bekommernis dikwels aangespreek en ons het al in Bodemklippe daaroor gesels. Hy weet goed waarmee ons te doen het. Meer nog – Hy weet meer. Hy sien die werklike gevaar, die demoniese aanslag om ons te vernietig en met vrees ons lewe te steel. Hy sê, moet jou nie bekommer nie.

Ek is oortuig dat ek in die geestelike realm, met volle insig in die liefde en almag van God, my sal doodskaam oor my vrees. Die probleem is my beperkte begrip van hoe lief Hy my werklik het, en in hoe ‘n mate elke belofte van beskerming en bewaring elke oomblik ‘n werklikheid is. Indien dit nie die geval was nie, was ek lankal dood. Ek weet van ‘n paar noue ontkomings en is baie seker daar soveel meer is, wat ek nie gesien het nie.

My skoonma vertel altyd hoe haar pa haar teen ‘n sekere draai op die grondpad daar tussen Hartbeesfontein en Klerksdorp oppad Johannesburg toe, gewaarsku het. Hy was onbewus van die veel groter gevare verder aan op die pad, om nie te praat van die hele lewe in die stad nie. Net so is ons insig in wat waarlik om ons aangaan, so beperk. Ons is soos die hamster in die hok wat vroetel by die deurtjie om te ontsnap, terwyl die huis se Jack Russel sy ore spits elke keer as die deurtjie van die hok beweeg. Die hamster sien nie die hond nie, maar die hamsterbaas weet dat die veiligste plek vir die hamster binne-in die hok is. Net so kan ons God vertrou met die groter prentjie.

Esra het reeds die altaar op sy plek, aanbidding is herstel, sonde is bely en die herstelwerk aan die tempel is op dreef. Dit is ‘n reuse taak en die vyande is aktief. Buiten die fisieke teenstand van naburige volke is die moedeloosheid en vrees in hulle harte die rede dat bouwerk gestaak word. Die profete word opgeroep om te bemoedig en perspektief te herstel. Selfs al kan die vorige prag en praal van die tempel van Salomo nie weer bereik word nie, moet die bouwerk voortgaan en die plek van aanbidding klaarkom.

Jare gaan verby. Die gebeure in Esra strek oor ‘n tydperk van 81 jaar. Die tempel word herstel, maar die muur is nog ‘n ruïne, ‘n hoop rommel waaroor enige vyand maklik oor kan klouter en aanval. Dink maar net aan al die gevare waarin die terugkerende ballinge deur die jare met die tempelherstel en die opbou van eie plase en woonplekke. Selfs met ‘n rommelhoop vir ‘n muur, het die prioriteit van aanbidding die volk beskerm. Menslik gesproke moes hulle sekerlik eerste die muur herstel het. Dis mos logies. ‘n Antieke stad sonder ‘n muur was totaal blootgestel.

Dis op hierdie punt waar ons Nehemia ontmoet – 24 jaar na die hervatting van die tempelherstel. Die historiese tydperk van Esra en Nehemia saam dek ongeveer 110 jaar. Dit is eers met die vertaling van die Bybel in Latyn (die Vulgaat) dat Nehemia ‘n afsonderlike boek word. In die Hebreeuse Bybel is Esra en Nehemia een boek, onder Esra se naam. Nehemia beteken Yahweh troos.

Nehemia stel homself voor as die skinker van koning Artasasta van Persië. Die skinker was ‘n belangrike posisie aan die hof van die heerser. Hy was ‘n vertroueling van die koning en moes keer dat die koning vergiftig word. Hy het in die luuksheid van die paleis gewoon, tog was sy hart in Jerusalem.

Hy ontvang berig van die beroerde toestand in Jerusalem deur een van sy broers, Hanani, en word sommer hartseer daaroor.

En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel. (Nehemia 1:4)

Nehemia se gebed is te pragtig. Hy pleit by die grote God van hemel en aarde vir vergifnis van die volk se sondes en herinner God aan die beloftes aan Moses aangaande die land. Slegte nuus laat hom bid. Drome wat in skerwe lê, laat hom gryp na die wonderwerke van ouds en die beloftes van die God wat hy liefhet en dien.

Die koning sien sy bedroefde toestand. Dit was ‘n ramp wat baie slegte gevolge kon hê. Die koning was nie in diens van die mense nie. Jy kon nie jou depressie en terneergedruktheid in die teenwoordigheid van die koning wys nie. Jy kon jou lewe verloor as jy persoonlike emosie op jou gesig vertoon het, selfs al breek jou hart. Dit is duidelik dat Nehemia so ‘n gevestigde verhouding met die koning het, dat sy gemoedstoestand bespreek word – hoogs onreëlmatig.

In daardie oomblik wat die koning hom aanspreek, bid Nehemia (2:4). Ons het in Bodemklippe 13 [Noodkreet van die heelal] Nehemia leer ken as die meester van die skietgebed.

Die koning is onmiddellik betrokke by die toestand van ‘n onbelangrike ruïne stad op een van die ver uithoeke van sy magtige ryk. Is dit nie verstommend hoe God die hart van die heerser kan roer om Nehemia guns te gee, en alles wat hy nodig mag hê om die muur te herstel, beskikbaar te maak nie? Dit is genoeg om geloof te bou in enige situasie waarin ons met ongelowige owerhede te doen het, al lyk die saak onmoontlik.

Toegerus met briewe aan die goewerneurs van die streek om aan hom al die rou materiaal vir die bouwerk beskikbaar te maak, vertrek Nehemia Jerusalem toe om die bouwerk aan die muur te begin. In Jerusalem aangekom, bly hy tjoepstil oor die ware doel van sy reis. Hy ry in die nag om die stad en maak ‘n opname van die projek, sodat hy toegerus met al die inligting, met die stadsleiers kan praat. Hy benader die projek met strategie omdat hy besef dat daar opposisie mag wees. Hy is ‘n nuwe aankomeling wat met ‘n groot projek wil begin en hy wil nie die mense in die stad aanstoot gee nie, eerder bemoedig om met groot entoesiasme die muurbouery aan te pak.

Toe hy die projek aan hulle voorstel, is dit in die lig van die getuienis wat hy reeds het van die koning se guns en die boumateriaal wat reeds verkry is. Nehemia slaag daarin om hulle te inspireer om die werk te begin. (2:18)

Die vyand hoor ook van die projek.

Maar toe Sanbállat, die Horoniet, en Tobía, die Ammonitiese kneg, en Gesem, die Arabier, dit hoor, het hulle ons bespot en ons verag en gesê: Wat is dit vir ’n ding wat julle doen? Wil julle teen die koning rebelleer? (Nehemia 2:19)

Het jy al ooit entoesiasties ‘n plan gehad en oorgedra aan ander mense, wie dan soos ‘n nat vadoek, ‘n regte pretbederwer met ‘n lang gesig, die probleme uitlig? Meer nog, wat openlik vyandig die spot dryf met jou ambisie. Dit voel soms so as mens met burokrasie te doen het – eindelose papierwerk, nors gesigte, bot opdragte wat meer tyd, moeite en koste vereis. Gee dit ‘n naam: die Sanballat-proses.

Nehemia se antwoord aan hierdie vyande is die belofte van God. (2:20):

Toe antwoord ek hulle en sê vir hulle: Die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk, en ons, sy knegte, sal ons klaarmaak en bou; maar julle het geen deel of reg of gedagtenis in Jerusalem nie.

Bodemklipvriend – jou God het ‘n naam. Hy is die God van die hemel. In die Naam van sy Seun is alles moontlik.

As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. (Johannes 14:14)

Met die belofte van God in plek, kon die bouwerk begin. Dit is die uiters belangrike prioriteit. Eers bid, eers die belofte in plek, eers die vyand aanspreek en op sy plek sit – dan bou.

Die reuse taak is in sektore verdeel. Poort, pilare en muur is afgemeet deur toegewysde bouers. Die hoëpriester en die priesters het begin. Wat ‘n wonderlike voorbeeld. Die kerk neem die leiding, werk vooraan. Bid, bou, bid, bou, bid – so het dit begin en so het dit aangehou. Sodra die poort gebou is, het hulle dit geheilig en dan voortgebou tot by die volgende toring.

En Éljasib, die hoëpriester, het hom klaargemaak met sy broers, die priesters, en hulle het die Skaapspoort gebou; hulle het dit geheilig en sy deure ingesit; verder tot by die toring Hamméa wat hulle geheilig het, tot by die toring Hanáneël. (Nehemia 3:1)

Die ou grappie – hoe eet jy ‘n olifant? Happie vir happie – natuurlik. Ons kan gou moedeloos raak as ons ‘n hele onderneming met al die moontlike probleme tot diep in die toekoms moet beplan. Die beplanning is noodsaaklik, maar slegs planne deurweek in geloof kan ons in staat stel om die vyand en gevare te oorwin.

Die belangrikste is die aksieplan. Nehemia se eerste reaksie by die aanhoor van die taak, was gebed. Toe hy die projek aan die koning stel, het hy gebid. Hy het gebid vir beskerming en sy vyande aan die God van die hemel oorgegee. Sagaria, het die profetiese onderbou aan hierdie aksie gegee.

Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik:

 Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare. (Sagaria 4:6)

So sal ons die muur bou. So sal ons die vyand afweer. So sal ons veilig wees. Deur die Gees van die Here. Hy sal ons veilig hou, ook deur al die jare waarin die muur ‘n ruïne is.

Miskien weet jy nie eers wat die swak plekke in jou “muur” is nie. Onthou jy is ‘n burger van die onsigbare koninkryk van God. Jy is alreeds in die onsienlike realm, binne hierdie wêreld. Ons aarde is vervloek, vol gevare en vol vyande. Ons is beskerm. Ons pa is die God van die hemel.

Nehemia se gebed in die Amplified vertaling: (1:5,6)

“Please, O Lord God of heaven, the great and awesome God, who keeps the covenant and lovingkindness for those who love Him and keep His commandments, please let Your ear be attentive and Your eyes open to hear the prayer of Your servant which I am praying before You, day and night…

 

 

 

 

63. Jy gaan skaamkry…ek weet sommer!

Ek weet ek gaan verkrummel van skaamte. Daardie dag as ek Hom sien en waarlik weet hoe my lewe kon gewees het – as ek net Sy woorde aan my geglo het. Ek gaan my skaam vir al die vrees en onsekerheid, ek gaan my kop laat hang oor al my bekommernis en ek gaan opkrul in vernedering oor die rondgemaal in my gedagtes oor dinge wat dalk nie gaan uitwerk nie, plan B tot Z vir drome wat dalk nie werklik word nie en desperate grype na wêreldse maniere om dinge gedoen te kry. Selfverwyt en oneindige bejammering oor ‘n triomfantelike lewe van oorwinning wat ek gemis het, is my ewigheidslot – as ek nie nou reeds vrees hanteer, my lewe in rat kry  en leef in die volle plan wat my Vader vir my bepaal het nie.

‘n Paar geleenthede in my lewe het ek die Heilige Gees ervaar as dissiplineerder. Ek sê dit met huiwering want elke mens ervaar verskillend en ek wil weer beklemtoon dat God individueel met elkeen werk op ‘n unieke manier omdat Hy ons so vreeslik wonderbaar in ons moederskoot geweef het. [Psalm 139] Daarom vertel ek my teregwysing rondom vrees eerder as ‘n getuienis en nie as ‘n voorskrif of les nie.

Net ‘n bietjie agtergrond. So nou en dan kon ek saam met my man oorsee gaan. Hy het dikwels gereis en hier en daar was daar geleentheid vir ‘n naweek op ‘n mooi plek tussen vergaderings en afsprake. My drie seuns was laerskoollatte en die jongste so vier jaar oud, toe ek hulle by ‘n goeie vriendin laat bly om my ma die skoolryery te spaar – laerskool en kleuterskool. Ek het vir 8 dae weggegaan. Terug by die huis het die nuus my getref. Jongste het siek geword net nadat ek vertrek het. My ma het ingestaan met die huisdokter wat ons almal ken. Hy is gediagnoseer met erge blaasinfeksie (wat ek in ‘n gesprek met die huisdokter uitgeklaar het) en het naarheid en koors geveg vir ‘n hele nag lank. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat hy sieker was as wat ek hom nog ooit gesien het. Tussen my suster en my ma het hulle hom opgepas, met ‘n streng oog van my broer ook nog by, sodat hy piekfyn en gesond was toe ek tuiskom.

Die nuus het my hewig en diep ontstel. Ek was woedend dat niemand my die ware toestand vertel het nie. Hulle het mooi verduidelik dat hulle graag my die vakansie wou gun en nie vroeër laat terugkom nie, wat ek wel sou gedoen het. Ek was ontstel dat hy so siek was sonder sy ma by hom en het vreeslik sleg en goed skuldig gevoel daaroor. My kind in so ‘n toestand terwyl ek rondkerjakker – onaanvaarbaar! Ek was kwaad vir die familie en kwaad vir die situasie en in my woede het ek onderneem om eenvoudig nie weer weg te gaan nie. My oplossing – ek bly by die huis tot my kinders groot is. Ek sal hulle nie weer so skandalig in die steek laat nie.

Drie keer het die geleentheid om saam te gaan gekom en gegaan. Ek het geweier. Ek het besluit en so is dit – die saak is nie oop vir debat nie.

Eendag, drie jaar na die jongste se siekte, het my man gekom met ‘n besondere versoek. Dit sou ‘n wonderlike geleentheid wees om ‘n eiland te besoek. Nie een van ons was nog ooit op ‘n eilandvakansie nie en hy moes wel werk, maar ek kon saamgaan. My eerste gedagte was nee, want ek het gedink hulle is nog te klein. Een van my vriendinne het my aangemoedig om die geleentheid te gryp en my ma het my hard aangespreek. Ek en sy het ‘n hele vervolg-gesprek oor vrees gehad. Sy het geweet ek vrees oor my kinders en het ook gesien hoe hewig die siekword-reis my ontstel het. Een middag het ek en sy soos dikwels om die Woord gekuier en sy sê toe ek moet bietjie Openbaring 21:8 lees:

Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.

Sjoe – dit is ernstig. Die vreesagtiges word saam met die ongelowiges, die gruwelikes, moordenaars, hoereerders, towenaars en afgodedienaars genoem en die poel van vuur word vir hulle voorgehou. Vrees kan nie so erg wees nie – Here, hoe dan nou? Ek het geskrik vir die erns waarmee die Woord my vrees beskou. Is die Here dalk kwaad oor my bekommernis oor my kinders? Ek is mos maar net verantwoordelik? Is dit nou so verkeerd?

Ek het ewe vroom aangekondig dat ek sal bid daaroor en die Here self sal my antwoord in die verband. In werklikheid het ek in my hart met vrees en bewing besluit om ‘n hele navorsingsprojek oor vrees te doen en uit te vind wat die Here sê. Ek het voorheen in my lewe al geskrik as ek die erns van die Woord hoor en besef dat ek nie ernstig genoeg met ‘n saak of beginsel omgaan nie. Ek het in my gees ervaar dat Jesus voor my staan, Sy vinger na my uitsteek en vra:

Wat gaan hier aan? Glo jy dat Ek jou liefhet en vir jou sorg? Ek was in trane en skaam en het onmiddellik my ongeloof bely. By die huis het ek sommer ‘n klein rondlê Bybeltjie gegryp en oopgemaak. Toe ek die woorde lees was ek totaal omgestamp oor die direkte aanspreek van die Heilige Gees en het in ‘n oogwink besluit dat die reis vir my ‘n geloofstoets sal wees.

Die New Living Translation het oopgeval by Jesaja 8:11-14:

The Lord has given me a strong warning not to think like everyone else does. He said,

“Don’t call everything a conspiracy, like they do,

    and don’t live in dread of what frightens them. 

Make the Lord of Heaven’s Armies holy in your life.

    He is the one you should fear.

He is the one who should make you tremble.

    He will keep you safe.

Soos ‘n paar keer voorheen in my lewe het ek opgehardloop na my kamer toe, die deur gesluit en op my maag met my gesig op die vloer voor die Here gaan lê. Ek het weer my lewe en gedagtes oorgegee aan die Heilige Gees en daar gebly tot ek die loslating van my sondelas ervaar het en ek die Here kon vra om my met vrede en vreugde te vul.

Vrees is ongeloof – presies die teenoorgestelde van geloof. Vrees en twyfel is in geestelike terme sinonieme en die kragtige strategie van die vyand. Vrees word so dikwels aangespreek in geestelike literatuur omdat dit die siekte van die tyd is en heel moontlik nog altyd was. Vrees word nie geoefen nie – dis die natuurlike, instinktiewe reaksie op omstandighede.

Ons weet almal dat die skrik ‘n fisiese reaksie in ons brein veroorsaak. Vries, vlug of veg is die keuse wat deur ‘n adrenalien-vloed in breukdeel sekondes ons aksie bepaal. Dis oorlewing in krisis omstandighede, maar dit is nie en kan nooit ‘n lewenswyse wees nie. Langdurige vreestoestande veroorsaak soveel verkreupelende stres en siekte.

Vrees is nie skrik of bang word nie. Skrik is noodsaaklik. Bang word laat jou optree en aksie neem om jouself te verdedig en fisies uit ‘n situasie red. Vrees is die langdurige spanningstoestand wat jou bestaan so oorheers dat dit jou besluite beheers. Dit gebeur as vrees die bron van jou planne word en nie die beloftes van God in die Woord nie. Ons bron is Jesus. Ons leef uit Hom en vind ons hele bestaan in Hom. Handelinge 17:28:

for in Him we live and move and have our being

Vrees bepaal nie ons besluite en beplanning nie. Vir ‘n kind van God is vrees ‘n aanval van die vyand in die skor stem van satan wat ons met die Woord en op ons knieë verwerp en bind en nie toelaat om enige invloed op ons lewe te hê nie.

Daar is twee woorde in Hebreeus en twee in Grieks vir vrees.

Vrees vir die Here, wat jou respek en stom aanskouing in die lig van sy majesteit is, word onder andere in Jesaja 8:13 gebruik. Die Hebreeus = morah.

The Lord of hosts, Him you shall hallow;

Let Him be your fear,

And let Him be your dread.

Net die Here is ‘n objek van vrees. Vrees vir Hom sal jou weerhou van twyfel. Ek was waarlik in my hart bewus van God se teleurstelling oor my vrees en dit het my in bewing voor Sy aangesig neergefel.

Hosea 3:5 gebruik die woord in Hebreeus = pachad – wat skrik of skielike vrees beskryf.

They shall fear the Lord and His goodness in the latter days.

Weer eens is die Here en let wel – Sy goedheid – die faktor wat vrees ontlok. Soveel mense hoor God se karakter en Woord deur hulle lewe en dink daar niks van nie. In die laaste dae sal Sy karakter en die waarwording van Sy woord mense met vrees vervul.

In die Nuwe Testament word die Griekse woorde: phobeo en phobos gebruik vir paniekerige vrees en angs waarvoor jy wil vlug. In Matteus 10:26 :

Vrees hulle dan nie; want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.

Jesus praat van die vrees vir mense en hoe ons eerder God moet vrees. Vrees vir mense is destruktief en vrees vir God is konstruktief.

Spreuke 29:25:

Die vrees vir die mens span ‘n strik; maar hy wat op die Here vertrou, sal beskut word.

2 Timoteus 1:7:

Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

God se liefde dryf alle vrees uit. Dit is net ons keuse om te glo of nie. As ons glo, het dit wonderwerkende, bonatuurlike gevolge. Die besluit om God se woord te glo, is kragtig, net soos ander besluite. Dit bou op en bring dinge tot stand. Dit het standhoudende gevolge en verander die ganse verloop van jou lewe.

Hier is die slotreël, die laaste woord, God se Woord – glo dit!

1 Johannes 4:18

Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

Volgende keer kyk ons saam na Jesus se woorde en Sy reaksie op vrees en twyfel.

Die einde van die storie:

Ek en my man het ‘n heerlike week in Bermuda deurgebring binne-in orkaanseisoen. Toe ons die hotel bespreek, was hulle toegespyker vir Katrina. Ons het perfekte weer gehad vir die hele tyd en die week na ons teruggekom het, het Rita die strandjie en die restaurant waar ons kaalvoet in spoelgolfies gesit en eet het, weggespoel.

Dit was God se knipoog dat Hy my in die storm sal bewaar! Hoe sal ek ooit twyfel!