76. Staan – stabiel en triomfantelik.

Ons word daagliks met soveel inligting en vermaak gebombardeer. Ons het meer bronne daarvoor as ooit in die geskiedenis. Ons weet soveel van al die boosheid, geweld en verskriklikheid oor die hele wêreld en minder van die goedheid en genade wat subtiel en onopsigtelik ons aandag ontglip. Die wêreld is beskikbaar aan ons vingerpunte, maar ons verhoudings en gemeenskapslewe ly. Morele en geestelike waardes word bespot en verneder in die naam van vermaak. Familielewe en huwelike is die onderwerpe van komedie en rillers. Dis sekerlik nie verkeerd om te lag vir ons eie lomp pogings om dinge te maak werk nie, solank ons die agenda van afkraking herken en die belangrike waardes rondom die bron van gesonde en gebalanseerde verhoudings behou en beskerm.

Ek dank die Here vir Sy Woord wat duidelike beginsels daarstel wat ons lewe verhef en verlig. Die standaard is hoog, maar die resultaat is prysloos – hoop vir gebrokenheid, oplossings vir moedeloosheid, troos vir verslaenheid oor eeue en eeue. Dit is ‘n bekende feit dat die kerk dikwels pynlik en diep teleurstel, maar ten spyte van verwonding en misleiding, gaan die ware leiers en dissipels voort om in oorwinning en bemoediging voortdurend te bedien en te versorg. Moet nooit die belangrikste speelveld van die satan onderskat nie – die kerk.

Ons is in die bevoorregte posisie om ‘n verwarde en vertwyfelde wêreldgemeenskap met die Goeie Nuus te bedien. Ons het die handboek met hoop vir gebrokenheid en genesing vir verwonding in liggaam en siel uit die Bron van genade, vergifnis, vrede en onvoorwaardelike liefde.

Die grootste geestelike uitdaging is om te sien met “verligte oë van julle verstand” [Efesiërs 1:18] sodat “julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei.” [Filippense 1:8,9]

Dit is sonder twyfel een van die grootste geestelike gawes van alle tye, een wat dikwels oorgesien word – om presies te weet wat is belangrik vir ‘n situasie en tyd. Die beginsel wat hierdie wysheid onderskryf is LIEFDE. Oorvloedige liefde bou die regte kennis en ervaring sodat ons betekenisvol kan leef.

Met hierdie beginsel diep ingebrand, kan ons kyk na die derde posisie in die brief aan die Efesiërs – STAAN. Efesiërs 6:10:

 Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.

Dit word mooi gestel in die Message vertaling. Vers 13 – 18:

Be prepared. You’re up against far more than you can handle on your own. Take all the help you can get, every weapon God has issued, so that when it’s all over but the shouting you’ll still be on your feet. Truth, righteousness, peace, faith, and salvation are more than words. Learn how to apply them. You’ll need them throughout your life. God’s Word is an indispensable weapon. In the same way, prayer is essential in this ongoing warfare. Pray hard and long. Pray for your brothers and sisters. Keep your eyes open. Keep each other’s spirits up so that no one falls behind or drops out.

Ons stand in Christus teen die boosheid is in totaliteit afhanklik van ons “sit” in Christus. Jy sal nie kan veg as jy nie saam met Hom in die hemele sit en weet hoe om te loop in eenheid, liefde, lig en geloof nie. Die duiwel sou dit kon bekostig om jou heeltemal te ignoreer. Dit klink miskien na ‘n goeie stand van sake, maar dit impliseer ‘n verswakte en vernederde geestelike lewe sonder oorwinning. So ‘n verblinde, dwase voortstrompel in die geestelike is ‘n bejammeringswaardige posisie – een wat ek wil vermy met alles in my.

Met verligte oë sien ons dat ons stryd is nie teen die mense om ons nie, dis teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Hoe kan jy ooit bly staan sonder die volheid wat belowe word nie? Jy sal net kan staan as jy veg vanuit jou bloedgemerkte sitplek.

Die kerk is geroep om die satan te weerstaan en grondgebied te behou. Ons word verswak deur sonde en ons eie geestelike mislukking, soos skuld en bitterheid. Ons het egter ‘n kragtige oplossing daarvoor. Bely – vinnig en opreg – kry die kanale van kommunikasie met die Here oop sodat jy sterk kan staan.

Die Grieks vir STAAN is anthistemi – dit beteken om kragtig te weerstaan en dapper grondgebied te behou teen ‘n vyand wat dit beveg.

Die opdrag is nie om grondgebied IN te neem nie. Ons is defensiewe magte, met defensiewe wapens wat die grondgebied verdedig wat reeds deur Jesus se kruisdood gewen is. Jesus het die poorte van die hel oorweldig en die doderyk ontbind. Ons staan teen die bose magte wat teen die oorwinning van Jesus kom.

Ons is meer as oorwinnaars volgens Romeine 8:37. Oorwinnaars rus in die oorwinning wat hulle weet aan hulle gegee word uit die Hand van God. Ons staan in geloof in die wete dat God die ongeregtige met die asem van Sy mond sal verdelg. 2 Tessalonicense 2:8.

Oorwinning kom uit hierdie vaste vertroue op die oorwinning van Jesus. Dit is waarom ons kan dankie sê en Sy lof prys binne in slegte omstandighede en probleme. Ons bid die oplossing wat alreeds in die onsienlike is, in die sienlike in. Die kruis is die waarborg daarvan.

Voel jy dalk verneder en moedeloos. Lees weer Efesiërs 1:19-21:

…hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.

‘n Ou gesegde in Afrikaans het ligtelike gedreig: die duiwel sal jou haal. Ons is in Christus! Ons weet: Geen duiwel kan jou haal nie!

Daar is geen moontlikheid van nederlaag nie, selfs al lyk dinge donker. Die lewe werk nie uit soos wat jy dit beplan nie. Ons leef in die Naam van Jesus en Hy het Homself verneder en gely aan die Kruis om ons daarvan te red. Sy Naam is bo elke naam. Die waarborg is dat elke knie sal voor Hom buig en elke tong bely.Filippense 2: 9-11:

Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

Jesus gee aan ons Sy naam. Ons sou ons kon skuldig maak aan identiteitsdiefstal. Dis nie ons agenda wat die Jesus-stempel kry nie. Dit gaan alles oor God se Plan en ons wat daarby inval. Dit is sy kragtige werke wat die wonderwerke in ons lewe bewerkstellig. Jesus sit nie by ons op aarde nie. Ons sit by Hom in die hemele!

Sy Naam is nie iets wat opgewek word soos ‘n toorstokkie in die krisis nie. Dit is die vrug van gehoorsaamheid en ‘n lewe van aanbidding.

Johannes 16:23:

Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie. “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee.

Is jy goed bekend met Sy Naam en Sy hart? Die bose sal weet!

Handelinge 19:15:

Maar die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?

As jy effektief staan, sal die poorte van die hel bewe.

Hierdie wonderbare bemagtiging word in genade en krag aan ons gegee. Ons kan dit nie verdien nie. Die eerste vereiste is openbaringskennis.

Vier dinge is nodig vir God se meewerking:

  1. Ware openbaring oor die ewige plan van God. Soek Sy wil. [Efesiërs 1:9-12] Die toets: Jesus word verhef en vereer.
  2. Die plan is uit God gebore. Paulus was verhoed om in Asië te preek. [Handelinge 16] Soms moet mens stilbly vir die Here. Die toets: In die begin het God…
  3. Die voortsetting van die plan is net van God afhanklik. My eie natuurlike talente en vermoëns kan nooit die Heilige Gees vervang nie. Johannes 14 – sonder My kan julle niks doen nie.
  4. Die doel is die verering van die Here, nooit die opheffing van mense en mense-eer nie. As ons Sy Naam in gehoorsaamheid vereer sal satan en al sy trawante dit weet en erken.

In die antieke wêreld was gesag, wêreldmagte en verskillende vlakke van boosheid algemeen bekend. Paulus kyk na die Romeinse soldaat wat hom bewaak en beskryf ons geestelike stryd en wapens.

Gordel van waarheid – gee ons vryheid om te beweeg en hou die swaard byderhand.

Borsplaat van geregtigheid – geen aanklagte kan ons lamlê nie.

Sandale – toegerus en gereed om te beweeg.

Skild van geloof – nie die klein ronde handskild nie – die groot ovaal skild wat die hele liggaam beskerm.

Helm van verlossing – ‘n gesonde gemoed, helder denke, wyse optrede.

Swaard van die Woord – oplossings vir verlede, hede en toekoms.

Gebed – konstant, ernstig en onselfsugtig.

Verbly jou kragtige Christen. Die Kruis is voor jou. Die oorlog is gewen. Jou God regeer!

Jesaja 52:7:

How beautiful upon the mountains Are the feet of him who brings good news, Who proclaims peace, Who brings glad tidings of good things, Who proclaims salvation, Who says to Zion, “Your God reigns!”

Exodus 14:13:

Then Moses said to the people, “Do not be afraid! Take your stand [be firm and confident and undismayed] and see the salvation of the Lord which He will accomplish for you today; for those Egyptians whom you have seen today, you will never see again.


3 thoughts on “76. Staan – stabiel en triomfantelik.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s