53. Dis ‘n skaap… ek dog dis ‘n bok!

Dis goed om die gesprek voort te sit. Ons het gepraat oor respek vir ander mense en hulle denke, vryheid van godsdiens, pers en spraak en ander kernwaardes van ons beskawing wat ons oor ‘n lang tyd met bloed, sweet, argumente en filosofie gevestig het.

Daar is sekerlik baie definisies van die begrip beskawing, maar in hierdie verband aanvaar ons dat ‘n beskawing ‘n stel omstandighede daarstel wat sodanig bestuur word, dat elke persoon sy volle potensiaal binne so ‘n bestel kan bereik. In so ‘n beskawing word persoonlike vryheid en eie keuse beskerm. Dit is uiters belangrik om jou eie keuses te maak en self oor jou kernwaardes te besluit. Enige dwang maak ‘n besluit kragteloos. Noodgedwonge het persoonlike vryheid ‘n ingeboude beperking wat ‘n ander persoon se vryheid respekteer en in hierdie balans vind ons beskawing.

Die geskiedenis is lang pynlike verhaal van kerk en staat wat peuter met die vryheid van die individu. Die geveg vir vryheid is oor eeue en word vandag nog met bloed geskryf.

Vir die Christen is die keuse vir Christus net so ‘n bloedige verhaal wat nie ophou nie. Godsdiensvryheid en die verlies daaraan was en is veral ‘n bloedbad. As dit nie fisiese bloed is nie, is dit sosiale en emosionele bloed. Vandag meer as ooit, loop mens jou vas in ‘n ongeduld en onverdraagsaamheid met tradisionele waardes, wat eintlik die fondament van ons beskawing is.

Hoe sal ‘n mens weet? In die oerwoud van inligting wat aan ons vingerpunte beskikbaar is, was ons seker nog nooit so verward en onseker nie.

Ons het die antwoord. Ons is by die Bron.

U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. Psalm 119:105

Ons maak staat op die onwankelbare, bewese beginsels van die Woord van God.

I keep my eyes always on the Lord. With Him at my right hand, I will not be shaken. Psalm 16:8 NIV

Vir die kerk van Christus is die volmaakte plan van aksie in ‘n deurmekaar wêreld gegee. Ons het die grondplan, die hoeksteen, die seker fondament. Binne hierdie aksieplan is die belofte van rigting en leiding op ‘n individuele vlak. Ons hoef nie die las van die hele Koninkryk te dra nie. Ons hoef nie te oordeel nie. Selfs al sien ons dinge in die kerk wat ons ontstel, waarheid wat verdraai word en kerkleiers wat die grense van leiding en lering oorskry en misbruik. Dit is God se kerk, God se Koninkryk. Hy is in beheer en Hy regeer soewerein. Hy is volmaak in Sy beplanning, aksie en tydsberekening.

Jesus het dit self vertel in ‘n storie wat vir elke Israeliet sin gemaak het. Die Juda en Galilea waarin hy gewerk en gewoon het, was by uitstek ‘n landbougemeenskap. Hulle het boerdery geken. Daarom kon hy die gelykenis van die basterkoring vertel. Matteus 13 : 24 – 30.

Hy begin die storie deur die Koninkryk van die Hemele – dit is die onsigbare koninkryk wat Hy op aarde bevestig – te vergelyk met ‘n man wat goeie saad in sy land saai. Die vyand kom in die nag as hy slaap en saai bastersaad in dieselfde land. Die Afrikaanse vertaling gebruik die woord onkruid, maar dit verduidelik nie die les so goed nie. Onkruid sou onderskeibaar wees van koring. Die basterkoring, of wilde koring, het, vir meeste van die groeiproses, amper net soos die regte koring gelyk. As die koring ryp word en die saad in die ware koring vorm, word die aar swaar en buig om. Die basterkoring maak nie saad nie; daar is geen vrug wat geoes kan word nie, en die are waai regop en leeg in die wind. Dis slegs met oestyd dat die ware koring van die basterkoring onderskei kan word.

Die moontlikheid van ‘n vyand wat basterkoring saai, was werklik. Dit het gebeur. Jesus se luisteraars was bekend met hierdie krisis van ‘n gemengde land en die moeilike oes wat die ware koring moes red om darem ‘n oes te kry wat die boer se voortbestaan sou verseker. Die dissipels het met reg gevra of die basterkoring so gou moontlik uitgehaal moes word. Jesus het dit baie duidelik gemaak dat dit nie die kerk en die dissipels se plig is nie. Die onderskeid vind bonatuurlik plaas. God self sal oordeel.

But he said, No, lest in gathering the wild wheat (weeds resembling wheat), you root up the true wheat along with it.

Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.

God sorg vir Sy koninkryk. Hy sal self die oesproses bepaal en beheer in Sy volmaakte liefde en genade. Dit is nie die kerk se plig om die wilde koring uit te wan nie.

Hy kyk na die hart. Daarom het Hy in Matteus 7:21 – 23 hierdie ontstellende onderskeid gemaak:

Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

In dieselfde hoofstuk vers 16 gee hy die kenteken van die ware Christen.

Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!

You will fully recognize them by their fruits. Do people pick grapes from thorns, or figs from thistles?

Dit is die toets. Die oog van die wêreld is op ons en ons vrug is ons kenteken. Wat is die vrug? Hoe sal die wêreld ons herken as prinse in die Koninkryk?

Liefde is die vrug. Hulle sal ons ken aan ons liefde.

Ons antieke vriend Esegiël het hierdie storie van Jesus bevestig in ‘n gedeelte oor God se oordeel oor Sy skape. Esegiël 34:17 en 20:

And as for you, O My flock, thus says the Lord God: Behold, I judge between sheep and sheep, between the rams and the great he-goats [the malicious and the tyrants of the pasture].

Therefore will I rescue My flock, and they shall no more be a prey; and I will judge between sheep and sheep.

Vir die ongeoefende oog lyk skape almal dieselfde. Vir die opgeleide oog van ‘n herder is dit maklik om onderskeid te maak. Daarom is dit net God wat Sy kerk se mense kan oordeel. Ons kan rus in Sy oordeel. Hy sal die waarheid laat seëvier. Sy oordeel is altyd volmaak. Ons oordeel is kortsigtig en wreed, so dikwels hard en ongenadig.

Ons as kerk van Christus moet Sy Woord leef en mekaar so liefhê dat die wêreld graag in ons kring wil inkom. By ons moet hulle ‘n veilige hawe vind, nie die bloedige oordeel van vals herders nie. Lees maar Esegiël 34 oor die herders wat die skape verinneweer.

In die gelykenis van die basterkoring praat die Ou Vertaling van engele wat kom oes. Die oordeel oor vrug en die oesproses word uit die Hemel beheer. Hulle sal die struikelblokke en die wat ongeregtigheid bewerk identifiseer en in die vuuroond gooi. Dit is ‘n uiters belangrike beginsel vir elke Christen. Ons mag nie die oordeel oor die kerk en sy mense fel nie. Ons mag ook nie die wêreld oordeel en sondaars met die Bybel oor die kop slaan nie. Ons moet bid dat die Heilige Gees hulle van sonde oortuig. Heilige Gees oortuiging red en genees. Ons kan nooit die werk van die Heilige Gees doen nie. As ons onsself tot daardie plig verhef, is ons onuitstaanbare, geestelike monsters van liefdeloosheid en hoogmoed.

Kom ons rus in die volmaaktheid van ons Vader, wat Sy plan uitvoer. In gebed sal ons die hartklop van Jesus ervaar en Sy medelye met die gebrokenheid van die wêreld aanvoel. Teologie en dogma is nie ons kenteken nie. Liefde en genade is wel. Jesus en Jesus gekruisig is die boodskap.

DIe deurmekaarspul van etniese haat en oorlog onder die vaandel van godsdiens, verwar ons humanitêre sensitiwiteit. Ons sien hoe kinders in die spervuur beland, net soos die Kanaaniete in Jericho, hulle kinders in die vuur geggooi het as offers vir Moleg. Christene voel dat hulle hierdie afgryslike wreedheid in die gees van verdraagsaamheid nie kan afkeur nie.

Die opdrag om nie te oordeel nie, beteken nie om die bose te verdra nie. Ons het die onderskeiding van die Heilige Gees wat ons in staat stel om die verkeerde ding te identifiseer en teen te staan.

Hierin is die beste voorbeeld Jesus self. Jesus het in geen onseker terme skynheiligheid en sonde aangespreek. Hy belowe in Matteus 5 dat die sagmoediges die aarde sal beërwe. Hoe kan ons sterk standpunt inneem met die toets van sagmoedigheid?

Sagmoedigheid is nie ‘n swak, skyn-vriendelik-terwyl-jy-binne-kook – houding van toegee en ingee nie. Sagmoedigheid is reeds ‘n paar eeue voor Christus deur die Griekse filosoof Aristoteles gedefinieer as die perfekte balans tussen twee pole. Die twee pole is woede oor alles en woede oor niks. In die middel is woede oor die regte dinge op die regte tyd. Dit is merkwaardig dat sagmoedigheid in terme van woede verduidelik word.

Woede word getoets aan selfsug. Selfsugtige woede wat jou eie belang dien is altyd ‘n sonde. Selflose woede is ‘n groot morele dinamiek in die wêreld.

Jesus het kwaad geword oor liefdeloosheid en skynheiligheid. Hy het op die regte tyd, op die regte manier kwaad geword oor die situasie waarvoor dit nodig was vir solank dit nodig was . Sagmoedigheid is ‘n kragtige geestelike oefening in die wysheid en leiding van die Heilige Gees. Sagmoedigheid is deel van die vrug. Galasiërs 5:22.

 

Tot volgende keer.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s