41. Vra enigiets – wat wil jy hê?

Net vir ‘n oomblik – sit stil, maak toe jou oë en antwoord die vraag – wat wil jy hê?

Spreek dit uit ….of beter nog – skryf dit neer, met die datum. Beste – stop die video en dink. Soos die Psalmis sê – SELA pause and calmly think about it.

Dis eintlik ‘n moeilike vraag. Moeilik – omdat dit jou diepste wese ontbloot. Wat is vir jou die maat van sukses, oorwinning, die beste? Wat wil jy vir jou kinders hê? Ons kinders van die Here is nie dobberend op die lewensee van koue ambisie en wrede waardes en weelde nie. Ons is welvarend en suksesvol met ‘n doel! Ken jy die doel? Weet jy waarheen jy oppad is? Waarvoor werk jy?

Kom ons praat oor die toppunt van sukses – by die gebrek aan ‘n beter uitdrukking – jou ultimate. Ek kan nie regtig ultimate vertaal nie, want dit het in die Engelse idioom so ‘n ietwat groter betekenisnuanse as net die “uiteindelike” waarmee dit vertaal word. Ek praat nie van die einde van jou lewe nie. Ek praat van NOU.

Stap saam met my verder in die boek Samuel – ‘n belangrike hoofstuk en ‘n ou bekende storie – een wat jy as kind in die Sondagskool gehoor het. Mense wat skaars die Bybel ken, ken hierdie storie. Die storie van Dawid en Goliat ……… praat van sukses!

1 Samuel 17.

Dawid is reeds gesalf as die volgende koning, maar hy werk nog steeds vir sy pa as skaapwagter. Samuel se besoek aan Dawid se gesin word baie mooi vertel in die 16e hoofstuk. Hy is baie beindruk met Isai se seuns en dis vir hom duidelik waarom die Here hierdie gesin gekies het, maar God spreek hom aan in die 7e versie:

For the Lord does not see as man sees; for man looks at the outward appearance, but the Lord looks at the heart.

So verskyn Isai se seuns een vir een voor Samuel en die Here kies nie een van hulle nie. Dawid word uit die veld geroep en voor sy gesin as die volgende koning van Israel gesalf. Hoewel hy uitgesonder word, is Saul nog koning en gaan alles maar net so voort, asof niks verander het.

Die ewige doring in die vlees van Israel se bestaan, die Filistyne, trek op teen Israel. Saul stel sy weermag by die vallei van Elah op sodat die twee weermagte aan beide kante van die vallei mekaar kan sien en bedreig. Die Filistyne het ‘n kampioenvegter, ‘n soort middelman, wat die uitslag van die oorlog moet bepaal. Daar is dikwels in die antieke tyd van hierdie metode gebruik gemaak. Daar is volop voorbeelde in die Griekse mitologie ook. Achilles was so ‘n kampioen.

Die uitdaging word gestel – indien enigiemand hierdie reus kan oorwin, dan gee die Filistyne oor en Israel word as oorwinnaar verklaar.

Die wapenrusting van hierdie krygsman word fyn beskryf. Dis nie genoeg dat hy buitengewoon groot van postuur is nie, hy het die beste wat die antieke oorloguitrusting in terme van beskerming kan bied, aangetrek. Die figuur van Goliat is intimiderend en vreesaanjaend en met sy woorde van uitdaging weet mens hy is baie bewus van die vrees wat hy inboesem. Dis deel van die strategie – breek die gees, speel op die emosies, laat die oë van die Israeliete die boodskap van vernedering goed in hulle gemoed invryf.

Die strategie werk. Hulle is stilgeskrik, geen beweging en geen plan kom uit die Israeliese weermag nie. Drie van Dawid se broers is soldate in die weermag van Saul en sal deel in die heerlike oorwinning, maar hulle sit saam met die res in ‘n skoktoestand van hopeloosheid – 40 dae lank. Dis ongeveer 6 weke en mens kan amper dink die Israeliete is al gewoond aan hierdie dreigpraat. Al hulle kreatiwiteit en oorspronlikheid word lamgelê deur vrees.

Dawid kom vars op die toneel. Na so ‘n lang tyd het hulle pa seker bekommerd geraak oor voorrade en besluit om Dawid by die skape weg te kry en oorlogsveld toe te stuur. Hy arriveer op die toneel en hoor die woorde van Goliat wat Israel se weermag uitdaag. Hy ervaar die effek daarvan op die Israeliete en staan verstom toe hulle wegvlug van die dreigement.

Onder die Isrealiete is die groot beloning wat Saul bekend gemaak het vir die oorwinning van die reus, groot nuus. Die beloning is lewenslange voordeel – die koning se dogter, groot rykdom en vrystelling van belasting vir sy pa. Lewenssukses is gewaarborg in die beloning van die koning vir die man wat die reus oorwin. (v 25)

Dawid vra daarna in vers 26. Hy staan nie ongaangeraak deur die beloning nie en voeg sommer by:

For who is this uncircumcised Philistine that he should defy the armies of the living God?

Sy broer is sommer woedend en sien dit as ‘n belediging vir die soldate van Israel. Hy trap Dawid uit en in sy woorde van tipiese broerbaklei, vertel hy vir Dawid goed wat sy plek is en dat hy hoogstens ‘n toeskouer kan wees. Dawid is na alles net die kleinboet, nog nie eers as soldaat uitgestuur saam met die weermag nie. Dawid se uitdagende houding word aan Saul gerapporteer en Saul roep hom.

Voor Saul, offer Dawid om die reus te veg. Daarvoor is Saul glad nie te vinde nie en soos enige verantwoordelike persoon in daardie posisie wil hy vir Dawid ontmoedig. Maar Dawid steun op sy eie getuienis en vertel van sy noue ontkomings met wilde diere in die veld by die skape. Hy is gewoond om op die Here te vertrou, maar weet ook dat hierdie situasie ernstiger is as wat hy dusver ervaar het.

Ons het almal ons Goliat. Een of ander tyd moet hy gekonfronteer word. Soms is dit ‘n situasie buite onsself – moelike kollegas of werksomstandighede, kinders se dinge, verhoudings, maar dikwels is dit iets binne onsself – vrees, obsessionele gedagtes of bekommernis, onsekerheid, ongeloof, wantroue, woede, siekte van watter aard ookal, bitterheid en verwonding. Goliat staan en daag jou uit, praat jou negatief en moedeloos, breek jou geloof af totdat jy nie meer in staat is om die Almag van die lewende God te sien nie. Jy het ‘n vars perspektief nodig, ‘n nuwe fokus, bewuste optrede. Dis ‘n tree oor die afgrond, ‘n oefening in vertroue en geloof, ‘n vasgryp aan dit wat jy weet die Here kan doen, ‘n opvulling van die Heilige Gees wat nuwe woorde in jou mond sit.

Saul doen wat enige ouer vir sy kind wil doen. Trek vir hom sy eie wapenrusting aan. Hy het die ondervinding. Hy weet wat werk in oorlog. Sy wapenrusting het die toets van die tyd weerstaan. Wat kan nou beter wees as die koning se wapens! Enige ouer sal op enige gegewe tyd van ‘n jong kind se lewe, voel hy is nie naastenby toegerus vir die lewe wat hy moet ingaan nie. Tog kan hy nie ‘n tree verder kom in jou wapenrusting nie. Jou wapentrusting wat die Here oor jare vir jou aantrek, is nie vir iemand anders nie. Dawid het Goliat tegemoet gegaan met sy eie karige wapens.

Stel jou vir ‘n oomblik hierdie toneel voor met die kinematografie van die hedendaagse Hollywood. Hier stap die figuur van Dawid af in die vallei. Ek kan my voostel dat die Israeliese weermag doodstil word soos die nuus versprei dat Dawid na die reus oppad is. Die Filistyne wat sien iets is aan die gang, kom nader en staar ongelowig na die figuurtjie – miskien is hy net die boodskapper wat die oorgawe kommunikeer. Hy is duidelik nie ‘n soldaat nie.

Dan kniel Dawid. Hy moet kniel om die klippies vir sy slingervel op te tel. Hy lyk besonder blootgestel in hierdie omgewing, onbeskermd (sonder ‘n wapendraer soos Goliat het), heeltemal alleen in die vallei wat oor weke ‘n heksebroeisel van vrees en arrogansie geword het. Hy kniel tussen twee reuse – Goliat en Saul (onthou Saul het uitgestaan onder die volk). Hy ignoreer die woud van spiese en skilde wat aan beide kante wag. Op die oomblik wat hy daar kniel is die realiteit van die vyand onderworpe aan die dominansie van sy persepsie van sy God. In Dawid se gemoed (en noem dit verbeelding) is God groter as enige reus wat die wêreld vir hom opdis. Op sy knieë is hy besig om Heilige Gees wapens te kry, en in die oë van almal, teen-intuitief vir enige soldaat wat die gevaar van die oomblik onderskei, weerloos en ‘n oop teiken.

In die oë van die mense is dit dieselfde denkpatroon wat van Goliat ‘n reus maak, wat van Dawid ‘n klein onindrukwekkende figuutjie maak. Hulle sien nie soos God nie. Hulle kyk na die uiterlike. Daaruit maak hulle die afleiding van nederlaag en hulle is almal verkeerd.

In die veld by die skape is Dawid se bewustheid van God gevorm. Hy het Sy Teenwoordigheid ervaar, Sy uitkoms. Hy het met sy lier die grootheid en Almag van sy God besing. In sy verbeelding was God die reus en Goliat klein. Hy kon nie verstaan dat almal wat die lewende God dien, dit nie besef nie.

In daardie oomblik van bizarre omgekeerde magspel, kry Goliat se grootheidswaan ‘n ernstige knou. Toe hy besef Dawid maak gereed om te veg, kon hy sy oë nie glo nie. Hy vaar uit en beledig Dawid dat hy dink hy kom ‘n hond veg met stokkies. Hy vervloek hom en die Filistyne spot en lag en vertel hom hoe hulle sy lyf vir die voëls en die wilde diere sal voer.

Dawid se woorde is die onsigbare swaard wat hy optel, wat geen Filistyn ooit, antiek of modern, kan hoop om te sien nie. Die Naam van die Here. Sy uitdagende houding is Heilige Gees inspirasie wat profeties die nederlaag van die Filistyn uitspel. Dawid besef hy is in ‘n oomblik om die Almag van God sonder wapen te bewys. Dis God se oorlog, God se geveg, God gaan wen – nie Dawid nie. Sy mond is vol van die groot dade van God en die fokus is totaal van aardse wapens afgehaal……for the Lord does not save with sword or spear, for the battle is the Lord’s and He will give you into our hands. (vers 47)

Hy haal die klippie uit, swaai die slingervel en die klippie sink in die reus se voorkop in. Soos die kinderliedjie sê: Net een skoot en die reus was dood. In vers 50 van die hoofstuk staan interessante woorde:

So David prevailed over the Philistine with a sling and a stone, and struck the Philistine and killed him, but there was no sword in the hand of David.

Ek wil amper uitroep – ja, die swaard was in sy mond en natuurlik in God se hand.

Die gevolg – pandemonium. Ons is nog steeds in ons Hollywood-toneel. Die Filistyne se skok, hulle paniek-vlug, die Israeliete se vreugde-skok, oorwinningskrete en buitversameling. Ek dink dis veilig om te sê dat daardie dag nie verloop het, soos enigeen in daardie twee kampe verwag het nie. Dis ‘n Goddellike ingrepe – iets nuut, onverwags, onbekend. Die vrouens sing.

Dawid keer terug na Jerusalem met Goliat se kop as die simbool van sy oorwinning. Die voëls en wilde diere het sekerlik sy lyf opgevreet, net soos hy voorspel het met Dawid gaan gebeur.

Hierdie oorwinning is triomf op meer as een vlak. Dit het ‘n effek op die ganse volk. Israel was op die punt om sy identiteit as God se volk en sy wonderwerk-geskiedenis prys te gee. Dawid se sukses het invloed in die publieke sfeer gehad, net soos ons eie sukses, privaat sowel as publiek invloed uitoefen.

Ter afsluiting – wat wil jy hê? Oorwinning oor Goliat en die buit, plus die beloning en glorie wat daarmee gepaard gaan. Alles saam die waarborg van lewenssukses.

Kies nou – hemel en aarde word as getuie geroep – kies die lewe, kies die Woord, kies jou getuienis van oorwinning, versamel jou bodemklippe…..

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s