24. Ruk los – word vry!

Almal wat iets besit bekommer daaroor. Hoe meer mens besit, hoe groter is jou bekommernis. Oor alles op aarde geld die aftakeling van die mot en roes soos Jesus beskryf in Matteus 6. Daarby nog is daar diewe wat inbreek en steel, soos ons maar te bekend mee is.

Soos julle kan onthou het ons die beginsel van GEE genoem, toe ons oor Jesus se woorde oor gebed en vas in Matteus 6 gepraat het. Die illustrasie van ‘n sterk tou met drie repe was die beginsels wat ‘n Christelike lewe sterk en effektief maak. Die drie repe inmekaargevleg was GEBED, VAS en GEE. Sekere kenmerke is deur Jesus uitgewys as die wyse waarop hierdie drie dissiplines geLEEF moet word.

Al drie vind in die geheim plaas, al drie vir ‘n gehoor van EEN [die Vader wat in die hemele is] en al drie word beloon met die loon wat van die Vader self kom.  Ek wil weer beklemtoon dat as die Bybel van hemele praat, dan bedoel dit nie ‘n verre hemelruim wat as die tuiste van God gesien word nie. Dit bedoel die onsigbare wêreld hier om ons. Verander jou denke om hierdie konsep te aanvaar. God is hier by jou, langs jou, binne-in jou, oral HIER, nie DAAR nie. Daarom kan jy met Hom praat in jou gedagtes, met skietgebede, jy kan hoor in jou denke, jou oortuiging, jou gut-feel.

Lees saam met my Matteus 6: 1 – 4. Die Afrikaanse vertaling noem in vers 2 die mense wat gee om deur mense gesien te word – skynheilig. Die griekse woord is hypocrites. In die Bybelse tyd het akteurs maskers gedra. Die woord, hypocrites, is gebruik vir toneelspel omdat dit veronderstel het dat alles volgens ‘n teks gebeur. Dit impliseer dat die daad nie uit die hart kom nie, slegs volgens voorskrif.

Reeds hier vestig Jesus die beginsel dat Sy voorskrifte nie bloot rasioneel met die verkeerde motiewe nagekom kan word nie. Net ‘n hartsoortuiging is die regte manier en dit lyk vir my asof Hy frons oor die jou optrede om deur mense gesien te word. Openbare en geheime optrede is oor en weer uitsluitend. Die toets vir die regte motief is die toets van geheim. Dan sal jy weet of jou optrede werklik uitsluitlik die ander persoon se belang dien en dat jou eie status en applous-lus van geen belang is.

Reeds van vroeg af in die Ou Testament het GEE deel geword van die intieme verhouding met God. GEE, en daarmee saam ‘n vrygewige gees, staan sentraal in die voorskrifte van Levitikus en in die karakter van God. Die perfeksie en wonder van die Tuin van Eden was die eerste perfekte geskenk – ‘n plek van volmaakte GENOEG – vol vrede en vreugde. Vandag is hierdie Tuin herstel deur Jesus en lei die Heilige Gees ons in die Teenwoordigheid van God. Dis ons plek van volmaakte GENOEG. Vergelyk Psalm 91:1: Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.

God gee die beste vir die mens.  Hy word gekenmerk deur wat Hy gee en doen.

As iemand gedink het daar is niks oulik en opbouend in Levitikus nie – dalk weet jy van die voorskrifte oor bloed drink, bloedskande, stenigings, hoereedery, bestialiteit en ander aaklighede wat die mens in hierdie gebroke wêreld kan uitdink om aan te vang – dan kan jy vandag vir jou een van die pragtigste voorskrifte vir jou lewe uit Levitikus neem.

Levitikus 19: 9 en 10:

When you reap the harvest of your land, you shall not wholly reap the corners of your field, nor shall you gather the gleanings of your harvest. And you shall not glean your vineyard, nor shall you gather every grape of your vineyard; you shall leave them to the poor and the stranger: I am the Lord your God.

Die Afrikaanse vertaling: Jy mag nie die are wat bly lê agterna optel nie. Jy mag nie jou wingerd ‘n tweede keer oes nie, of die korrels wat val optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge.

Levitikus 23:22 herhaal dieselfde voorskrif.

Interessant dat dit bepaal dat die vreemdelinge by die armes ingesluit moet word. ‘n Vreemdling is ‘n onbekende faktor en word ingesluit by hierdie voordeel sonder voorwaardes. Jou vrygewigheid moet nie ingeperk word deur die aansien van persoon nie.

Hierdie skrifte is so pragtig in die groter prentjie van voorsiening. Hier is die landeienaar wat werk en oes (harde, veeleisende werk) en tog in ‘n gees van oorvloed en vrygewigheid, genoegsame oorskiet los vir die armes en ellendiges.

Dis een van die voorregte om in Suid-Afrika te bly en hoor mooi as ek dit ‘n voorreg noem. Ek sal altyd bly wees dat my kinders grootgeword het in ‘n plek waar hulle armoede en ellende in die gesig kon staar. Jy kan by die eerste robot in Johannesburg die kante van jou koringland kwytraak. Ek het hierdie beginsel jare gelede begin toepas en gesorg dat ek genoeg geld in die kar het om uit te deel. Dikwels het ek ‘n ekstra pak appels of lemoene gekoop, sodat die kinders vinnig iets deur die venster kan aangee. Het jy al opgelet hoe maer sommige van die mense is? Dis beter om te gee as om geirriteerd hulle te probeer ignoreer.

Daar was ook maar altyd in my hart die verskoning van sosiale verantwoordelikheid. Ek het aanvanklik gedink ek sal nie gee as ek vermoed my geldjie gaan reguit drankwinkel toe of word gomgeld. Toe ek eendag weer by die robot my oordeel wil fel, het die Heilige Gees in my gemoed my aangespreek en herinner dat oordeel nie my plig is nie, gee is my plig. God oordeel. Hy kyk nie of ek reg gee nie, Hy kyk of ek gee en hoe oop en jammer my hart vir hierdie mense is. Ek het onmiddellik bevry gevoel. Ek het met ‘n vreugde en ‘n vrymoedigheid my geld en vrugte uitgedeel. Die aanwending van my geld, indien dit ooit myne was, was tussen die arme en God. Tussen my en God moes die kanaal oopbly, sodat Hy ‘n honger wêreld deur my kan voed. Ek moes weet ek is slegs die kanaal in die groter prentjie, ek is nie die God nie.

Ek is seker almal ken die beginsel van TIENDE, of het al skrams daarvan gehoor. Reeds in Genesis 14: 20 gee Abraham ‘n tiende van die buit van die pas afgelope oorlog aan Melgisedek die hoë priester.  Dit was die gevolg van die maaltyd van brood en wyn wat hulle saam geëet het en was deel van die aanbidding van Abraham aan God. Melgisedek word gesien as ‘n tipe van Jesus in Sy rol as hoë priester en koning. Melgisedek beteken Koning van Geregtigheid.

In Numeri 18:21 – 32 word die beginsel van tiende inkomste aan die Leviete (dit was die stam wat afgesonder is vir tempeldiens en wat in die verdeling van die beloofde land deur Joshua geen grond gekry het nie) gevestig. Deuteronomium 14: 22 – 29 bevestig die bepalings van tiende met die voorskrif om die Here met vreugde te aanbid, jy en jou hele huishouding. (Vers 26.) Dit is duidelik dat die aanbidding met jou geld voortspruit uit ‘n dankbaarheid vir die seën van die Here (vers 24) en dit gaan gepaard met ‘n gees van feestelikheid waarin jy die geld kan spandeer op enigiets wat jou hart begeer. Lees gerus vers 26 van Deuteronomium 14 en moenie hierdie seën mis nie. [ook Deuteronomium 26:12]

2 Kronieke 31:5: stel dit so:

As soon as the commandment was circulated, the children of Israel brought in abundance the first fruits of grain and wine, oil and honey, and all the produce of the field; that they brought in abundantly the tithe of everything.

Dit was deel van die hervormings onder die regering van Hiskia.

Die gevolg van hierdie aksie word uitgespel in vers 10:

….Since the people began to bring the offerings into the house of the Lord, we have had enough to eat and have plenty left, for the Lord has blessed His people; and what is left is this great abundance.

Om te gee is aanbidding. Dit is die onderwerping van jou noodsaaklke lewensbehoefte, naamlik geld, aan God en Sy koninkrykswette. Net soos vas die onderwerping van jou noodsaaklike lewensbehoefte, kos, aan Hom is. Niemand kan sonder geld en kos lewe nie. Jesus het dit goed besef en meer oor geld as oor liefde gepraat.

In Maleagi 3:10 is die pragtige aanmoediging om jou tiende na die skathuis te bring. Dit is ‘n pilaarskrif – een om jou ganse finansiële bestaan op te bou.

Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar iets te ete in my huis kan wees., en toets my hierin, sê die Here die Almagtige. Toets my of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. Vers 11: Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie, sê die Here die Almagtige.

Hierdie seën op jou inkomste en arbeid is werklik en waar; daarvan het ons groter familie en vriendekring ‘n leeftyd van getuienisse. Die belofte is om die Vernietiger van jou weg te hou en vrug op jou arbeid te verseker. Sover ek weet is hierdie die enigste plek in die ganse Bybel waar die Here sê Toets My. Sjoe! En dit oor geld!

As kinders is ons geleer dat as jy jou tiende gegee het, het jy nog niks gegee nie. Jy kan sleg sê dat jy nie van God gesteel het nie. Maleagi sê dan dat ‘n tiende aan God BEHOORT.

Maar wat is jou tiende nou eintlik? Net jy kan bepaal. Kom ons kyk in 2 Korintiërs 9 vir die riglyn van die Nuwe Testament. Daar praat die Woord van die blymoedige gewer, wat gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het en nie uit dwang nie, dus nie uit ‘n wetsvereiste soos wat die Ou Testamentiese voorskrifte maklik gesien kan word. Die beginsel van saai en maai word beklemtoon en met die woorde karig en volop beskryf. Hierdie is ‘n hele nuwe en ryk onderwerp waarna ons volgende keer verder kyk.

‘n Stukkie huiswerk: 2 Korintiërs 8 en 9.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s