324. Naby om te hoor…en te sien.

Dit is die Fees van die Kruis.  ‘n Merkwaardige teenstelling in die woorde wat ons gebruik, merk die uniekheid bo alles anders ooit van die gebeure rondom die dood van Jesus.  ‘n Fees van die dood?  

Ons ken ander kulture wat dood vier.  In Meksiko is die Día de los Muertos, (Dag van die Dood), ‘n bekende parade van mense in kostuums wat lyk soos lyke, geraamtes, spoke en grafstene.  Dit is ‘n verskoning vir straatpartytjies en losbandigheid.  Halloween wat die dood, grafte en spoke verheerlik gaan gepaard met afsku, aakligheid en skrikmaak.  Daar is ander soos in Kambodja, die Pchum Ben, die Japanese Obon, sowel as Ierse tradisies, die Irish wake en die Tibettaanse hoë begrafnis waar dooies op hoë berge geplaas word sodat die roofvoëls die lyke kan verskeur, simbolies van die liggaam wat vergaan en die siel wat herleef in reïnkarnasie. 

Hoe is die Kruis-fees, wat die belangrikste dag op die Christen-kalender is, dan anders?  Paasfees het nog nooit lisensie gegee aan losbandigheid en dronk-partytjies nie.  Dit word gevier met ootmoed en ‘n eenvoudige maaltyd van brood en wyn.  Afsondering, studie, vas en ‘n bewussyn van sonde is, soos die Jode in die Fees van die Ongesuurde Brode in die week voor die Pasga gevier het, die kenmerke van die Christen-fees.

Ons lees weer die storie van die onregverdige verhoor, die wrede marteling, die kruisiging en die woorde van ‘n sterwende wat oor eeue weerklink en dan die klimaks van die Opstanding, die wonderwerk, die oorwinning oor die dood wat in geen ander kultuur gevier word nie.

In die verhaal van die Kruis is karakters wat uitstaan en in die weergawes van al die Evangelies in die onstuitbare verloop van gebeure hulle rolle uitspeel.  Indien enigeen van hulle dalk sou kon dink dat hulle die gebeure sou kon swaai, is dit baie duidelik dat Jesus soos ‘n meester-dirigent voor die simfonie van Sy doodsbestemming elke besonderheid bepaal.

In die werklikheid van Romeinse gesag en Joodse leierskap, het vrees en paniek in die volgelinge van Jesus die oorhand gekry.  Dit is een van die goeie voorbeelde van mense wat oor alles vooraf gewaarsku is en tog in die oomblik van realiteit nie “beter” opgetree het nie.  Dit is maklik om te praat maar die geweld en oorweldiging van wreedheid was net te veel.

Jesus het sy dissipels gewaarsku dat sy dood voorlê – Matteus 16:21-28; 17:22-23; 20:17-20; 26:1-2; Markus 8:31-33; 9:30-32; 10:32-34; Lukas 9:21-22; 43-45; 18:31-34 – kyk net op hoeveel geleenthede.  Volgens Matteus het Hy vier keer dit duidelik uiteengesit en in Matteus 26:32 die Opstanding uitgespel en hulle ‘n ontmoeting in Galilea belowe.

Soos ons al gepraat het, het Jesus op die woorde van die profete sy lewe op aarde “geloop”.  Elke voorspelling oor hom is tot in die fynste besonderheid in sy lewe en dood vervul.

Jesus praat direk met Judas aan die tafel as Hy in die algemeen sê dat een van die dissipels hom gaan verraai.  Meeste van hulle is verontwaardig en vra wie dit kan wees.  Het hulle swakheid van persoon en twyfel in eie bravade in die vraag: Is dit ek, Meester?deurgeskemer?  Heel moontlik!

Judas vra ook.  Hy moes geweet het dit is hy, aangesien hy sy plan van verraad al reeds in werking gestel het.  Hy het reeds betaling ontvang.  Was die Joodse leiers so desperaat dat hulle hom betaal het, voordat hy Jesus aan hulle uitgelewer het?  Blykbaar wel.  Hy het die geld in sy sak gehad om te gaan teruggooi nadat die arrestasie in die Tuin vir hom verkeerd geloop het.

Die Jode het hul drome van mag en heerskappy gehad.  Uiterste nasionalisme wou geweld gebruik om die Romeine uit te dryf.  Judas was deel van die groep wat bekend was as die Sikarii, die dolkdraers, met ’n doelbewuste strategie van sluipmoorde op Romeine.

Judas kon sy eie verwagtinge van Jesus as die groot leier gehad het.  ‘n Wonderwerker,  gestuur deur God, wat met sy bonatuurlike kragte die groot opstand sou lei.  Hy het dalk gesien dat Jesus doelbewus ’n ander pad gekies het. Jesus was nie die Christus wat Judas wou hê Hy moes wees nie.

Judas het dalk nooit bedoel dat Jesus moes sterf nie.  Hy kon gedink het dat Jesus te stadig beweeg.  Jesus moes, volgens hom, in ’n situasie gedwing word om op te tree.  Hy het Jesus verraai het met die doel om Hom te dwing om tot aksie oor te gaan.

Die tragedie van Judas is dat hy geweier het, om Jesus te aanvaar vir wie Hy was en waarvoor Hy gekom het.  Hy het probeer om Jesus te maak wat hy wou hê Hy moes wees.

Judas het gedink hy weet beter as God.  

Hy was heeltemal verstrik in die politiek van die dag en het die groter Plan heeltemal gemis.

Judas se ingesteldheid op politiek en wêreldmagte het sy geestelike insig en die onderskeiding van die tyd heeltemal verdof en verwar.  Dit behoort vir ons ‘n waarskuwing te wees.  Kom ons pleit om genade om ons oog “reg” te hou en die Hand van God in die lotgevalle van die nasies te “sien”.

In die woorde van Jesus: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”  (Matteus 6:22,23)

Aan die tafel was Judas naby genoeg om sy hand in dieselfde bak te sit, naby genoeg om Jesus in die oë te kyk.  Dink net hoe sy vooroordeel en eiewaan die krag van die Teenwoordigheid van Jesus, die oplossing vir alle onderdrukking, uitgeskakel – iets wat net in die volharding van sonde kan gebeur. 

Judas gaan voort met sy daad.  Hy bring die owerhede tot in die Tuin van Getsemane vir ‘n gemaklike, “privaat” arrestasie, uit die oog van die pelgrims uit Galilea wat Jesus as ‘n profeet beskou en dalk onrus sou veroorsaak.

Judas kom sy deel van die donker-daad na en gee Jesus die soen wat ‘n leerling aan sy geliefde rabbi sou gee.  Dan staan hy terug om die beplande wonderwerk te aanskou.  Net soos al die ander kere wat hulle Jesus wou doodmaak met steniging of Hom van ‘n krans wou afgooi en Jesus kalm tussen diegene met bose moordplanne deurgestap het, sou Jesus hier ook, nou met wonderbare geweld, die pad uit veg sodat Judas en sy vriende die rewolusie verder kan voer, met die wonderwerke van die Messias as waarborg van sukses.

Maar… maar helaas!  Dit is nie wat gebeur nie.  Jesus het homself aan die soldate geïdentifiseer en duidelik homself aan hulle oorgegee.  (Johannes 18:4,5)

In een verbluffende, verblindende, brandende oomblik moes Judas op daardie oomblik besef het hoe sy plan miserabel misluk. 

Hy het in die nag weg gestrompel – vir altyd ’n gebroke en geteisterde man.  Judas moes sekerlik op daardie oomblik die hel wat hy self geskep het, betree het, want die ergste soort hel is die volle besef van die verskriklike gevolge van sonde. 

Judas het die geld wat brand in sy sak.  Matteus beskryf sy missie om aan die priesters sy fout te kommunikeer. Hy het dit in die Tempel gaan neergooi.  Die woord wat gebruik word, verwys na die Tempel self.  In sy blinde wanhoop het Judas die Hof van die Heidene betree, deur dit gegaan na die Hof van die Vroue en verder na die Hof van die Israeliete.  Verder kon hy nie gaan nie.  Hy het so diep moontlik in die Tempel ingestorm tot by die Hof van die Priesters . Hy het hulle opgeroep om die geld terug te neem, maar hulle wou dit nie hê nie – die verraad van diegene wat sonde aanhits.  Hy het dit na hulle toe geskop, toe weggegaan en homself gehang.

Let op die woorde wat Judas gebruik: “Ek het onskuldige bloed verraai.”  Hy verwys nie na Jesus as die Messias of die Seun van die Mens (wat Jesus van Homself genoem het) nie, en ook nie as die Christus, die Seun van die Lewende God (die woorde wat Petrus gebruik het toe die volheid van wie Jesus is, aan Hom deur die Vader onthul is – Matteus 16:13-20) nie.

Die selfdood van Judas is sekerlik die finale aanduiding dat sy plan vreeslik en weersinwekkend verkeerd geloop het.  Hy het bedoel om Jesus as ’n oorwinnaar te laat skitter, maar in plaas daarvan het hy Hom na die Kruis gedryf.

Ons kan nooit die tyd terugdraai of regmaak wat gebeur het nie.  Sonde is sonde en sodra dit gepleeg is, kan dit nie uitgewis word nie – behalwe deur die Bloed van Jesus.  Onthou dit altyd en moenie die krag van die Bloed ooit vergeet nie – daar is werklik niks soos dit nie en ons as Christene is die enigste mense in die ganse heelal wat daartoe toegang het – waarlik ‘n wonder van God se genade vir ons sekerheid van saligheid.

Sonde laat jou dit wat jy eens begeer het, haat.  Die meeste mense sondig omdat hulle glo dat as hulle net die verbode ding kan verkry, dit hulle gelukkig sal maak.  Die teenoorgestelde is waar – dit wat soos ‘n pragtige roos lyk, word ‘n bed vol dorings.

Weet altyd dat God beter weet en ALTYD tot jou voordeel optree.  Hy noem homself goedheid en waarheid.  Laat ons opkyk en God raadpleeg in alles wat ons bekommer.  Weet dat self dit wat nie vir jou reg en regverdig lyk en is nie, tot jou voordeel sal uitwerk as jy God vertrou.

Loof die Here, want Hy is goed,

aan sy liefde is daar geen einde nie!”

Party het in die donker gesit, in diep duisternis,

hulle was gevangenes, in ellende en in boeie,

want hulle het hulle verset teen die bevele van God,

hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan.[verag]

Hy het hulle laat knak onder swaarkry,

hulle het inmekaar gesak, en niemand het gehelp nie.

Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp,

en Hy het hulle bevry van hulle ellende.

Hy het hulle uit die donker, uit die diep duisternis, laat uitkom,

Hy het hulle boeie stukkend gebreek.  (Psalms 107:1;10-14

Hier is die wonder van die toegang wat ons in die Kruis van Jesus het, reeds in die Psalms uitgespel.   Ons kan uitroep, al het ons gesondig en foute gemaak, al het ons God se leiding verag, al het ons ver afgedwaal – Hy hoor ons hulpgeroep.

Petrus het ook geknak onder die druk van vrees.  Hy was ook naby Jesus…

Ons gesels oor hom volgende keer.


Lewer kommentaar