‘n Mens kan nie eers begin om te skryf oor die wonder van water nie. See-en varswater bedek meer as 70% van die aarde se oppervlakte en die besoedeling daarvan is ‘n groot kopseer vir die omgewingsdeskundiges. Toegang tot vars skoon water is een van die basiese vereistes van lewe. Ons kan nie daarsonder nie en enigeen wat al watervoorsiening probleme gehad het, sal weet net hoe ongemaklik dit kan wees as gevolg van die impak daarvan op soveel aspekte van ons daaglikse lewe.
Vir ‘n groot deel van my laerskoolloopbaan het ons op ‘n plaas ver in die Waterberge gewoon. Een van die wonders van die plaasgrense was dat al die water wat ons kon gebruik uit fonteine op ons eie grond ontspring het. Dit het die beveiliging van waterbronne teen besoedeling makliker gemaak. My pa het die fonteine geïdentifiseer en mooi afgekamp sodat mens of dier nie naby dit sou kom nie. Ek kan die soet, suiwer water smaak van plaaswater nog baie goed onthou. Ons het geen ekstra haar-behandelings nodig gehad, as ons hare met tuisgemaakte seep en fonteinwater was.
Jare later het ek, op aanbeveling van die restaurant daar, by die helder stroom van Bettiesbaai se botaniese tuin ‘n glas gedompel en soet water gedrink. Dit was ‘n ondervinding wat my bygebly het.
Ek dink altyd aan die soet water tye van my lewe wanneer ek lees dat ons woorde die fontein van ons innerlike is.
Jakobus (3) praat oor wat ons kwytraak met woorde oor ons lippe wanneer hy ‘n verklaring oor volmaaktheid maak. Iemand wat nie struikel in dinge wat hy sê nie, is ‘n volmaakte mens en by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. ‘n Perd het ‘n stang om gehoorsaamheid af te dwing en ‘n skip het ‘n klein roertjie sodat die stuurman die wind en see kan navigeer.
Net so is die tong ‘n klein liggaamsdeeltjie wat groot mag uitoefen.
Hy gebruik die metafoor van water, net soos Jesus, om die soet en brak water van fonteine te beskryf. Slegte water kan nie uit ‘n fontein van soet water kom nie. Uit ‘n fontein kom net een soort water. Dit is ‘n kragtige beskrywing van die ontbloting van die innerlike mens.
Niemand sal weet wat binne-in jou aangaan as jy nie jou mond oopmaak nie. Dus, wanneer jy praat, wat kom uit?
Pithagoras, die groot wiskundige het gesê: “A fool is known by his speech, and a wise man by silence.”
‘n Dwaas praat hom in ‘n rusie in,
hy soek slae met wat hy sê.
‘n Dwaas se mond is sy ondergang,
sy eie woorde is ‘n dodelike strik. (Spreuke 18:6,7)
Die Prediker sê baie praat lei tot onverstandige woorde. (5:3)
Woorde het ‘n bron – die innerlike mens. Die bron moet teen besoedeling beskerm word, net soos natuurlike fonteine, sodat die water suiwer en betroubaar bly.
‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. (Jakobus 3:11)
Daar is net een manier om ons woord-fontein te beskerm en dit is om staat te maak op die belofte van Jesus.
Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!
Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” (Johannes 7:37,38)
Die Kerk van Jesus is die bastion teen boosheid in hierdie wêreld. Dit is veral duidelik in wat ons sê. Ons praat die taal van die Koninkryk. Die “taal” van die Koninkryk is die Woord – vol hoop en redding. Ons kan nie verval in skinder oor bekendes, of doemprofesie van politieke chaos, of openbare oordeel oor oorloë en die wreedheid van konflik nie. Ons moet woorde van lig en lewe praat.
Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid.
Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord. (Kolossense 4:5,6)
Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. (Matteus 5:13)
Is jou woorde die offer voor God in die Koninkryk? Gooi sout daarop. Dit moet smaaklik wees.
En jy moet hulle bring voor die aangesig van die Here ; en die priesters moet sout daarop strooi en dit as brandoffer aan die Here bring. (Esegiël 43:24)
As ons sout is, sal ons die wêreld “genees” met ons woorde en dade. Dit is ons werk. Ons kan nie bekostig om ingetrek te raak met allerhande nuttelose praatjies nie, veral nie die lokval van opinies wat moderne media vir ons skep nie.
Laat ons die bron van ons woorde beskerm en ons fontein “omhein” sodat ons uit die bron van hoop en liefde die wêreld en almal om ons aanspreek.
Ons kan die “water gesond maak”, met wat ons praat. Lewende water uit ons mond is die daaglikse, lewe-gewende voeding wat almal om ons nodig het.
Daarop gaan hy uit na die plek waar die water uitkom en gooi die sout daarin en sê: So spreek die Here : Ek het dié water gesond gemaak; daar sal geen dood of onvrugbaarheid meer van kom nie. En die water het gesond geword tot vandag toe volgens die woord van Elísa wat hy gespreek het. (2 Konings 2:21,22)
Suiwer, skoon en inspirerend! Dankie Ans!