Een van die uitstaande kenmerke van die Koninkryk van God is die waarde en waardigheid van elke “burger”. Dit het my ‘n rukkie geneem en dieper kennis van die Woord om myself as ‘n heilige te beskou – afgesonderd vir ‘n spesifieke doel. Ek moes eers leer dat my heiligheid nie my eie toedoen is nie, maar dat die eer aan my toegeskryf word geheel en eksklusief as gevolg van Jesus se werk aan die Kruis.
In die kerk-tradisie was dit ‘n “titel” wat toegeken is, gewoonlik post-mortem en met lang en noukeurige bespreking oor ‘n persoon. Uiteindelik word hy of sy “saint”-status gegee.
Daar is baie vrae rondom die proses. Wie is die getuies, wie het wat gesien of van so ‘n persoon ervaar en seker baie meer? Vir my is daar sekerlik baie “heiliges”, in die tradisionele sin van die woord wat dui op ‘n goeie mens wat sy lewe aan die welvaart van ander wy, wat tussen ons rondloop wat nie in die oog van die denominele kerk hulle werk doen nie.
Niemand sien die moeders op hulle knieë en die vinnige treetjies van die yskas na die stoof. Niemand sien die vaders wat op en af ry en “verlore” kinders soek, dalk iewers op ‘n straat met ‘n naald in ‘n arm. Een van die pragtige getuienisse nou die dag in die kerk was ‘n ouma wat vertel het hoe hulle ‘n kleinkind oor baie jare weer en weer ophelp, saam met die polisie, sosiale werkers, rehabilitasie-personeel en al die wonderlike mense wat hulle lewe wy aan hulpverskaffing, sodat boosheid nie seëvier nie. Kinders word letterlik uit die hel van verslawing teruggeruk en versorg.
Ons fokus is vandag op onsself – ons eie heiligheid-status. Ons is lede van die Kerk van Jesus – die kragtige en alomteenwoordige onsienlike Liggaam van Jesus wat die wêreld verander en nederlaag vir boosheid beteken. Die chaos van politiese en sosiale straatstemme, wat verdraaide en verwarrende krete van opstand en konfrontasie uitskel, is genoeg om enigeen in ‘n kokon van stilte in te jaag.
Jongmense is honger vir die groter waarheid, iets wat saak maak, iets wat blywende waarde sou kon hê. Dit vind hulle in ‘n motief vir aanstigting om ‘n waardige beweegrede vir optrede te verkry. Of dit nou polities of sosio-ekonomies is, is dit gewoonlik iets wat oor landsgrense strek en op die wêreld-verhoog afspeel. Dit is ‘n kenmerk van die huidige geslag jong-volwassenes, wat algemeen as Gen-Z bekend staan. Hulle is meer geleerd en meer tegnies bemagtig as enige vorige geslag. Hulle oog is op globale tendense eerder as lokaal en selfs nasionaal. Dis eenvoudig nie genoeg om net goed te wees vir die mense om jou nie – jy het ‘n stem op die internasionale platform en dis daar waar die verskil deur individuele stemme in ‘n groep, gemaak word. Hopelik sal die realiteite en kompleksiteite duidelik word en ‘n sekere mate van rasionele denke seëvier.
Dit bring ons terug na die belofte van Pinkster. Jesus staan by sy dissipels, gereed om te vertrek terwyl die oorweldigende wonder van sy Opstanding net 40 dae oud is. Hy sê hulle moet wag. (Handelinge 1:8) Iets gaan gebeur wat hulle sal bemagtig om die grootse Boodskap van Jesus die wêreld in te vat. Hy praat globaal, maar dis nie die eerste prioriteit nie. Eerste op die lys is Jerusalem, dan Judea, dan Samaria en dan eers die eindes van die aarde.
Jerusalem was net daar by hulle – hulle eie mense. Mens sou kon sê die mense van hulle huishouding. Judea was deel van die klein, middel-van-die-wêreld-streek waar Jesus geloop, genees en gepraat het. ‘n Mens sou kon dink aan Judea as jou familie.
Dan Samaria, waar Jesus sy dissipels ingelei het met die transformerende werk van die Heilige Gees reeds aktief in hulle binneste. In hulle was die haat vir die Samaritane van kleins af ingebrand. Geen Jood sou in Samaria vertoef om te gesels of veral nie te eet nie. Terwyl Jesus met ‘n vrou – nogal ‘n vrou met wie geen Joodse man in die openbaar sou gesels nie – daar by die put praat, gaan die dissipels in die dorpie om kos te koop – kos uit gehate hande, wat die wonder van versoening en liefde reeds voorberei. Twee wonderwerke – ‘n verstote vrou word die boodskapper en die hele dorp kom luister na die Messias toe hulle die ongewone oortuiging in haar stem hoor en ‘n Joodse leermeester wat by Samaritane kuier.
Verder – die uithoeke van die wêreld. Die dissipels sou seker nooit kon dink hoe gou hierdie profesie van Jesus sou waar word nie. Net tien dae later is daar mense van die eindes van die aarde of die uithoeke van die wêreld in Jerusalem en die Kerk word gebore met vuur en tale.
Daar was mense uit al die nasies onder die son in Jerusalem. (Handelinge 2:5) Die geluid van die wind en die vuur wek normale nuuskierigheid in hulle om te weet wat aangaan. Hulle is daar vir die Fees van Weke – die oesfees. Miskien het ‘n paar al uit gewoonte niks verwag nie. Alles sou maar seker soos gewoonlik verloop met ‘n lekker kuier hier en daar. Die geluid en die mense wat met hulle in hulle eie tale praat, is genoeg om die gewone ongewoon te maak.
Die geboorte van die Kerk was ‘n buitelug-byeenkoms. Dit was van die eerste dag af nie moontlik om die Kerk van Jesus, die Heilige Gees-gebore kragtige Kerk, in ‘n gebou te huisves nie. Dit is die kenmerk van die ware Kerk van Jesus nog steeds. Dit is letterlik ‘n kerk sonder mure, die onsigbare Kerk.
Die Kerk is die straat-stem wat globaal die geskiedenis skuif. Dit is die kreet van LIEFDE, wat die verskil maak waarna almal so smag. Dit is in die Kerk van Jesus, nie die kerk in mensgemaakte geboue en deur mensgemaakte leringe geskei en verdeeld, waar die ware heiliges bekroon en beloon word, nie met goud in allerhande standbeelde of bekers gegiet nie, maar die goud van ‘n hemelse kroon en die spesiale kosbaarhede in God se skatkis. (Openbaring 3:18;4:4; Maleagi 3:17)
Deur die geskiedenis het die Kerk homself begrens tot organisasies en kompromie en sy “stem” verloor. Geld, seks en mag het verwoesting gesaai en dit gaan nog aan. Net soos deur die hele Ou Testament waar dieselfde boosheid Israel geteister het, het God die oorblyfsel bewaar en die ware profete geroep en beskerm. Die Kerk voel elke nou en dan die suiweringsvuur van die Heilige Gees sodat die kaf afgeskei en verbrand word. As kerk-skandes die voorblaaie van ons nuuskanale oorheers, is dit asof elke Christen die skor, skel-stem van duiwelsvermaak “hoor”, om nie te praat van die schadenfreude van die ongelowiges nie.
Dit behoort ons glad nie te ontstel nie. God sal nie kompromie duld nie. Dit is eerder onverstaanbaar met hoeveel geduld en genade Hy korrupte leiers bedek, totdat hulle skande ontbloot word. Een ding is seker – die oordeel kom.
Hoor wat sê die Here vir Amos.
Ek, die Here God, hou die sondige koninkryk dop,
Ek gaan hom wegvee van die aarde af!
Maar tog, Ek sal nie die nageslag van Jakob heeltemal
uitroei nie, sê die Here.
Ek gaan die bevel gee en vir Israel skud tussen die nasies
soos graan in ‘n sif geskud word,
en nie ‘n korrel sal op die grond val nie. (Amos 9:8,9)
Lees gerus die hele hoofstuk om God se herstel na oordeel te begryp.
Samuel het tussen die stout seuns van Eli in ‘n disfunksionele “kerk” grootgeword en ten spyte daarvan een van die grootste profete van Israel geword.
Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here. (1 Samuel 3:19,20)
Ons heiliges is deel van die buitelug-byeenkoms wat die strate met waarheid en liefde vul. Ons kan nie hierdie Pinksterfees laat verbygaan nie, sonder om die Heilige Gees te ervaar, sodat ons die beloofde krag ontvang om die getuie te wees en ons strate te transformeer.
Dit is die ingesteldheid van ons harte wat die gewone die ongewone maak.
God deel sy Plan met sy profete. Oordeel gaan altyd gepaard met waarskuwing en geleentheid vir belydenis.
Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit
bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie. (Amos 3:7)
Pinkster is ‘n Oesfees, ‘n fees van siele vir die Koninkryk. Laat ons bid en wag op ‘n magtige werk van God in ons midde. Ons stem in aanbidding maak die woonplek van God by ons. Ons is die sleutel-stemme op die “strate” van ons gemeenskap om die waarheid te bring.
U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel weerklink! (Psalms 22:4)
Ons wil soos van ouds die magtige dade van God aanskou.
Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan ‘n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit. (1 Samuel 3:11)
Verwag die ongewone!