299.  Wees net

Wat sal ek doen?  ‘n Bekende uitroep van ons ou mensdom in swaar tye wat die vrees en moedeloosheid van ‘n onderstebo wêreld laat weerklink.  Dit staan lynreg teen die uitroep: wat moet ek doen, wat aksie veronderstel en eerder ‘n hoopvolle toekomsvisie weerspieël.

Ons kan maar net om ons kyk om te sien dat die wêreld deurmekaar is.  Enige historikus wat sy sout werd is, sal kan bevestig dat dit maar altyd so was.  Net soos vandag, was wêreld-magte en -leiers oor vele eeue in staat om die lewe van die individu te vernietig of minstens te kompliseer.

Wat sal en moet ons doen?  In moedeloosheid en wanhopigheid gryp ons na die Bron van ons lewenskrag – die Woord van God met sy menigvuldige beloftes van voorsiening en uitkoms.  Almal wat die lewenspad in die Voetspoor van die Nasarener stap, weet dat uitkoms soms traag lyk en vinnige oplossings wat so dringend versoek word, draal.

In die tyd wat ons wag vir dit wat ons dink ons lewe soveel beter sou  maak, lees ons in Psalm 37:

Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is,

woon en werk rustig voort. (37:3)

Tipies in die Hebreeuse tradisie van herhaling met ‘n ietwat ander klem sodat die hoorders die boodskap kan onthou volg die volgende versies.

Vind jou vreugde in die Here,

en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Laat jou lewe aan die Here oor

en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Dit is ‘n oproep tot kalmte en geloof.  Eeu-oue woorde wat vandag nog geld en die krag van waarheid in ons lewe manifesteer.  Dawid “praat” met sy siel en “raas” met sy eie binneste oor die ontsteldheid wat opwel.  

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper.  (Psalms 42:6 en 43:5)

In ons studie van Matteus, is dit heerlik om aan die voete van Jesus te sit en die bevestiging van hierdie woorde aan ons te hoor.  Dawid het amper ‘n duisend jaar voor Jesus in sy aardse lyf, geleef.  Jesus bevestig sy woorde, woon en werk rustig voort.

Hoe doen ons dit?  Aksie in geloof is soms die stilwees-en-vertroue-soort.  (Jesaja 30:15)

“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.

“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Matteus 5:13-16)

Sout en lig.

Na die Saligsprekinge wat eintlik krete van geseëndheid in enige lewensomstandighede is, bring Jesus sy lering nader aan die karakter van elke individu in die Koninkryk van God.

Die karakter van dissipelskap word verduidelik in die metafore van sout en lig.  Dit wys op die invloed van Christenskap vir die goeie wanneer dit die sekulêre samelewing binnedring.

Sout was baie waardevol in die antieke wêreld.

Een van die eienskappe van die wêreld waarin ons lewe, is die verlaging van standaarde – eerlikheid, ywer in werk, sorgvuldigheid, morele norme. Oral is daar versoeking vir kompromie, luiheid, korrupsie en roof.

As Christene behou ons die Koninkryk-standaard van absolute suiwerheid in spraak, gedrag, en selfs gedagtes.

Sout was ‘n algemene preserveermiddel.

Sout bewaar teen bederf.  As die Christen die sout van die aarde moet wees, moet hy ‘n sekere antiseptiese invloed op die lewe hê.  Hy moet die reinigende agent in enige samelewing wees waarin hy leef.  Dit maak dit makliker maak vir ander om goed te wees. Moet nooit onderskat hoe kragtig ‘n atmosfeer van eerlikheid en goedheid is nie.

Sout is gebruik vir geur.

Kos sonder sout is ‘n flou en smaakloos en selfs weersinwekkend.

Christenskap is vir die lewe wat sout vir kos is.  Dit gee geur aan die lewe.

Nutteloosheid is rampspoedig.

Jesus beveel sy volgelinge om lig in die wêreld te wees net soos Hy. (Johannes 9:5).  Jerusalem word beskryf as ‘n lig vir die nasies.  Ons, die Kerk van Jesus, is die Nuwe Jerusalem.

Geen mens het sy eie lig aangesteek nie.  In die Heilige Plek van die Tabernakel word die lig van die Kandelaar (die Kerk) deur die Heilige Gees (olie) aangesteek.  Die lig is Christus, nie ons nie.  Ons dra die lig van Christus.  Ons lig is aangesteek in die teenwoordigheid van God – die Allerheiligste Plek.

‘n Lamp wat in die huise van ou Judea gebruik is, was in die vorm ‘n sous-boot, gevul met olie waarin die pit gedryf het.  Dit was nie so maklik om ‘n lamp aan te steek in die dae toe daar nog geen vuurhoutjies was nie.  Ideaal gesproke is dit sorgvuldig in stand gehou en daarom is die olie noukeurig nagegaan.

‘n Lig is ‘n gids om die pad te verlig.  Dit is ons plig om die standpunt in te neem wat die swakker broeder ondersteun, om te lei waar die minder moediges sal volg.  Die wêreld het leiers nodig.  Daar is mense wat wag en hunker na ‘n leier om die standpunt in te neem en die ding te doen wat hulle self nie sou waag nie.

‘n Lig waarsku teen gevaar.  Christene verlig die lewenspad met Koninkryk-karakter en waarsku teen die gevare.

Sing maar die liedjie uit ons Sondagskooldae:

Jesus laat ons skyn soos ‘n helder glans.

skitter soos die sterre aan die hemeltrans! 

   in die donker wêreld, skyn dan, skyn –

   jy in jou klein hoekie en ek in myn.

Of Jesus roep my vir ‘n sonstraal…

Mense moet ons goeie werke sien. Ons moet bekend staan vir goedheid.

In die Grieks is daar twee woorde vir goed:

  • agathos – goeie kwaliteit
  • kalos – nie net goed nie, maar ook mooi en aantreklik.

Die woord wat hier gebruik word, is kalos.

Goeie werke behoort aandag te trek, nie na onsself nie, maar na God.

Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.  (Filippense 2:14-16)

Wees net jou eie self in Christus.  Die groot wêreld-omwentelinge is God se realm.  Hy is in beheer.  

Ek openbaar my mag aan die nasies: al die nasies sal die oordeel sien wat Ek bring, die mag waarmee Ek teen hulle optree. (Esegiël 39:21)

Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. (Psalms 46:11)

Dit sal niks help om oor wêreld politiek te bekommer nie.  Ons leiers gaan maar voort in die tradisie van die Romeinse keisers.  Hulle dink hulle is God self en verval in magslus en eiewaan.

Wees net… jy in jou klein hoekie en ek in myn.


Lewer kommentaar