364. Gemene media manewales

Dit is meestal ‘n nuwe inspirasie uit die Woord wat my laat skryf. Terwyl ek dink aan die Psalm wat in gebed aan my “gegee” is om te lees en die uitbreiding van die kennis, wysheid en seën wat spruit uit so ‘n lekker lang lees-sessie, verlang ek.  Ek verlang sommer na ‘n eeu terug toe nuus en inligting nie so oorrompelend beskikbaar was soos nou nie. Weet ek regtig hoe dit was sonder daaglikse nuus, opskrifte wat uitlok, video-materiaal was prikkel, kommentators by die dosyne, feite en valsheid wat vermeng en verwronge wêreld-gebeure voor my neus verby sleep?

Die goeie ou dae op die plaas, geïsoleerd en vredevol – regtig?  Hoe het die nuus versprei?  Die buurman op sy perd wat aandoen en vra of jy gehoor het Kruger het oorlog verklaar. Oorlog teen die Engelse.  Dit was sekerlik net min of meer die bewoording.  Wie het geweet hoe ryk Engeland nou regtig is en met hoeveel slaankrag van ‘n wêreldryk ‘n koningin op die “modder-eiland” (soos hulle geskinder het) ‘n klompie ongesofistikeerde plaasboere, wat net hulle eie besluite wil neem en ‘n lewe in ‘n onvriendelike, moeilike omgewing uitkerf, sou wou verpletter?

Ek dink verder terug. Nuus was altyd belangrik.  Die dorpie Nasaret waar Jesus grootgeword het, was op ‘n kruispad van twee groot handelsweë wat  antieke Israel deurkruis het – van Damaskus en noord daarvan in Mesopotamië tot in Egipte en uit die Ooste (dink maar aan sy en speserye) na die Mediterreense See.  Die handelsroetes was belangrike nuusbronne, hoofsaaklik mondelings.  Dit het beteken dat Jesus grootgeword het met wêreldnuus uit ‘n groot verskeidenheid bronne.  Sonder twyfel is die nuutste brokkies in die dorpies oorvertel, met dalk net al die interpretasie, oordrywing en selektiewe beklemtoning wat vandag aan ons opgedis word.

Dit was ‘n tyd waarin die nasies gewoel het.  Rome was magtig, maar oos van Palestina was die Parthiërs en Sassaniede, magtige Iraniese heersers van 247 vC tot ongeveer 224 nC.  Die Romeine het teruggedeins vir die hoofsaaklike stam-georiënteerde magsbasis van die Parthiërs, gebou op Hellenistiese tradisies.  Die Sassaniede was ‘n gesentraliseerde monargie met ‘n sterk staatsideologie wat op Persiese identiteit en Zoroastrianisme gebaseer was. Na die verowering van Gallië (moderne Frankryk, België en dele van Switserland) in die Weste was Germania (noordelike Europa) ‘n volgehoue bedreiging.  Verskeie oorloë is deur die “barbare” uitgelok en deur Rome met sy superieure weermag en menigtes soldate uit al die verowerde wêrelddele (slaaf-soldate) gevoer.  Inderdaad oorlog en gerugte van oorlog in die woorde van Jesus. (Matteus 24:6) Hy vermaan sy dissipels om nie daardeur verskrik te word nie.

Met ‘n oorsigtige en selfs oppervlakkige heenblik oor die antieke tyd voor Jesus en die afgelope tweeduisend jaar, is dit maklik om te sien dat dit nog nooit anders was.  Oorlog is iewers, altyd.  Net toe die verstommende nuus van die Berlynse muur in Duitsland die val van die magtige Sowjet-Unie inlei, het ‘n wrede oorlog op Europese bodem uitgebreek.  Die Bosniese oorlog was, soos alles oor geld en mag met ‘n goeie skoot godsdiens ingemeng. Die seksuele vergrype van onder andere die VN-soldate wat moes help om ‘n oplossing te bewerkstellig en massamoord in ‘n stad wat deur die VN as veilig verklaar is, staan as ‘n skandvlek teen die organisasie, wat veronderstel is om vrede in die wêreld te bevorder.

Vandag…nou ja.  Daar is geen tekort aan nuusbronne.  Die versigtige beoordeling van dit wat beskikbaar is, is die grootste uitdaging. Oorlog woed, wild en woes. Rooi opskrifte wat die nuutste verwikkelinge aankondig blêr oor ons skerms en hordes joernaliste, analiste en ander kundiges werk kliphard om die inligting te verwerk en dit oor te dra aan mense wat in die verbygaan, tussen werk-en lewenseise, moet weet wat aangaan.

Habakuk het sy visioen opgeskryf sodat diegene dit in die verbygaan maklik kan lees.  Toe die Galdese bedreiging oor sy volk hang, het hy die woorde geskryf, kort en kragtig, wat in die kreet van die Hervorming vandag nog ego: Die regverdige sal deur die geloof lewe. (Habakuk 2:2,4 OAB) 

Die woord vir geloof in Hebreeus is ook die woord wat gebruik word vir getrouheid en waarheid.  God se getrouheid en waarheid staan vas en ons kan ons lewe daarop waag.  Dit is die bron, die fontein van lewe.

Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig. (Psalm 36:10)

Wat sal ons dan van hierdie dinge sê, skryf Paulus in Romeine 8.  As God vir ons is, wie kan teen ons wees.  Sy woorde lees soos ‘n lafenis in ‘n warm woestyn van nuus vir ‘n skroeiende siel. Hy skryf oor die skepping, in die verslawing van verganklikheid, in die kraampyne van hoop, wat sug om vrygemaak te word in die hoop van die heerlike vryheid van die kinders van God. (8:21,22)

Dit is ‘n hoop wat in die onsienlike sien, fokus op die groter werklikheid van dit wat ons glo.

Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. (8:5)

Ons is immers verlos in hoop. Maar die hoop wat gesien kan word, dit is nie regtig hoop nie; want wie hoop nog op wat ‘n mens reeds kan sien? Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. (8:24,25)

Net verder kom ons by die aller-belangrike verklaring wat ons hart en sinne moet bestuur en bewaar– alle dinge werk mee ten goede.  Geen gemors is te groot vir God om uit te sorteer, om om te keer en tot jou voordeel te laat werk.

Dit is nog nie die einde van die hoofstuk nie. Ons ken die woorde.  Laat die Heilige Gees dit weer in ons hart inbrand.

Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 

Soos daar geskryf staan:

“Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer, word ons as slagskape beskou.” 

Ons is werklik die slagskape van die tyd.  Elke Christelike waarde van waarheid, integriteit, eerlikheid, reinheid, eerbaarheid en alles wat lof verdien, word aangeval en onderdruk.  Die agenda van propaganda is misleiding en manipulasie. Dit is belangrik om ons nuus met omsigtigheid en wysheid te beoordeel en veral…sonder vrees.  Dit is nie noodsaaklik om oor alles ‘n mening uit te spreek nie.  Dit is super-belangrik om wysheid van God af te bid, wat onvoorwaardelik belowe word, sodat ons nie dubbel-hartige mense word nie.  (Jakobus 1:5-8)

Lees weer sonder die gevaar van oor-familiariteit.

Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

Volgende keer gesels ons oor God se perspektief oor die nasies en die Miktaam-psalms. 


Lewer kommentaar