Onsself.
Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe. Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons ‘n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid, terwyl ons nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig. (2 Korintiërs 4:16-18)
Elke kind van God weet hy moet bid. Dit is een van die kern-waarhede van ‘n verhouding met die Here. Natuurlik is daar woorde betrokke, soos in enige verhouding wat begin en volhou met woorde. Dit is ons lewenslyn, die Heilige Gees-asem in ons lewe om die waarheid te kan onderskei en die sagte stem van ons Hemelse Vader te herken.
As Christene is ons grootliks bewus van die behoefte rondom ons. Dis ook reg so. Ons voorbidding is van kern belang. Ons vra – dis die eerste stap in die opdrag van Jesus in Matteus 7:7. Ons vra vir ons lewe en behoeftes, vir ander se lewe en welstand en vir die wêreld om ons.
Die ander twee opdragte in dieselfde vers is intens persoonlik – soek en klop. Dit is nie sommer ‘n lysie behoeftes wat genoem word net omdat die Here belowe om te sorg, ons vrese in vrede te omskep en ons lewe in stand te hou nie. Soek en klop is individueel en geheim – die misterie in die werklikheid van elke dag.
Elke geloofsheld in die Bybel het God op ‘n persoonlike en unieke manier ervaar. Daardie ontmoeting wat vir ons in die Bybel uitgespel word en op soveel maniere aangemoedig word, is die kern van ons lewenswandel met insig en oorwinning. Soek en klop is ons gebed vir onsself totdat ons die Teenwoordigheid van Jesus betree en beleef.
Ons moet seker wees dat ons die Gewer van al die gawes waarvoor ons vra, kan vertrou. Dit is eintlik dom om nie die God, tot Wie jy jou gebed rig, se karakter te ondersoek nie. God openbaar homself in elke woord wat ons in die Woord lees. Dit is noodsaaklik om Hom te ken in al sy glorie, sodat ons gebede met geloof, vertroue, liefde en lofprysing vervul kan wees. Dit is hoe ons daagliks meer van God leer om soos Hy te wees – konstante transformasie – die paaie van geregtigheid waarop Hy ons lei. (Psalm 23:3)
In elke Bybelstudie, stiltyd met die Woord, lees en leer ons God se hart, sy karakter, sy omgang met die mens. Dis die doel van Bybelstudie. Hoe meer ons leer, hoe dieper word die begeerte om soos Jesus te wees en ons honger en dors na die geregtigheid te versadig. Dit vuur weer eens die soek-aktiwiteit aan, want ons honger word gestimuleer met die voeding wat ons kry.
Klop het gewoonlik te doen met ‘n deur. Mens klop nie aan ‘n gordyn of aan ‘n opening nie. Dit is ‘n deur wat toe is en waarvan die ander kant nie sigbaar is nie.
In die Bybel is ‘n deur simbolies van openbaringskennis. Hier in Matteus 7 praat Jesus van klop en belowe daar sal oopgemaak word. Dit is duidelik dat Hy betrokke is, Hy het die sleutel, Hy draai die deurknop en is reg daar waar die deur oopgaan.
In die derde hoofstuk van Openbaring lees ons twee maal van ‘n deur.
Aan die getroue gemeente van Filadelfia belowe Jesus ‘n oop deur wat niemand kan sluit nie. Dit is die tweede deel van die versie wat ons lei na ‘n dieper insig met betrekking tot die deur.
Al is jou krag min, het jy vasgehou aan my woord, en het jy my Naam nie verloën nie. (Openbaring 3:8)
Dit is daar by die openbaring van wie Jesus is, die grondslag, die sleutel tot openbaringskennis, waar die vyand sal aanval en ons krag uitput. Daarom belowe Hy dat niemand dit sal kan sluit nie. Geen aanval kan ons verhinder om te weet wie Jesus is en Sy karakter en beloftes te ken sodat dit ons staande hou.
Net verder aan praat Jesus met die louwarm gemeente, Laodisea. Sy woorde is skerp en direk. Hy spreek die gruwelike staat van halfhartige geloof aan; mense wat voorgee dat hulle die Verlosser ken en wie se lewens van die teendeel spreek – die skynheiligheid van naam-christene wat die krag van die Evangelie verloën.
Net nadat Hy in 3:18 die wonder-advies die derde hoofstuk vir ‘n louwarm kerk gee; die terapie vir ‘n mentaliteit van voorgee – goud deur vuur gelouter, wit klere en oogsalf, praat Hy weer van ‘n deur. Die sagte stem van liefde wat terugwen, wat in genade weer klop.
Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe, en saam met hom eet, en hy saam met My. (3:20)
Dit is die hoogste belofte – Jesus wat ons beloon met Sy teenwoordigheid sodat Hy ons gebrokenheid en verwonding oor die rustigheid van ‘n maaltyd, die Brood en Wyn van sy Teenwoordigheid, kan heel.
Dit is duidelik ‘n deur met twee kante – een opdrag en een belofte. Ons moet klop met die belofte van ‘n oop deur wat niemand kan sluit nie. (Matteus 7:7 en Openbaring 3:8). Meer nog, dis ‘n deur wat die Teenwoordigheid van Jesus self waarborg. Hy staan nie en wag vir ons om te klop nie. Hy klop sodat ons kan weet Hy is daar, gereed en betrokke.
Dit is natuurlik alles dieselfde deur – die deur van ons hart, ons innerlike wese.
Ek sal vir hulle ‘n onverdeelde hart gee. ‘n Nuwe gees sal Ek in hulle binneste laat posvat. Ek sal die hart van klip uit hulle liggame verwyder, en Ek sal vir hulle ‘n hart van vlees gee, (Esegiël 11:19)
Met ‘n nuwe hart kyk mens anders na die lewe en omstandighede. Dit is al wat ons in staat stel om die onsigbare te “sien” en daarom die ewige heerlikheid van God se werk te ken. Daarom word die oë van ons harte verlig.
…en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels, (Efesiërs 1:18)
Hoe kan ons die heerlike rykdom sien? Klop aan die deur sodat Jesus oopmaak en ons aansit aan die tafel. Trek jou wit klere aan en salf jou oog. Dit is die onsigbare dinge wat ewigheidswaarde het.