356. Poorte van lof

[Nuwejaar na 2026]

Dis feestyd!  Ons is nou net klaar met die bome en balle van Kersfees.  Nou maak die wêreld gereed vir ‘n raserige spektakel met vuurwerke en skares rondom Nuwejaar.  Terwyl ‘n deel van die aardbol nog slaap om op Oujaarsdag wakker te word, begin die verste eilande in die Stille Oseaan, op die lyne van tyd, afgemerk op kalenders en horlosies, die skote van feesviering afvuur oor ‘n nuwe dag wat net so aanbreek soos al die ander, maar met ‘n spesiale naam.

Is dit werklik ‘n rede vir ‘n fees?  Ek het deur my lewe verskeie mense uit die voormalige Sowjet-unie en Oos-Europa, die Oekraine ingesluit, ontmoet en is altyd verstom oor die verskille in benaderings oor die Feestyd.  Nuwejaar word met groot fanfare gevier, want dit was toegelaat,  In ‘n totaal  outoritêre sekulêre gemeenskap was Kersfees verbode vir die jonger mense.  So is dit aan my verduidelik.  Die ouer mense, wat aan kerk toe gaan op Kersfees, gewoond was, is wel toegelaat om daarmee voort te gaan, maar dit was maar ‘n gedempte, drukkende atmosfeer – niks feestelik rondom ‘n ete, met Kersklappers en kroontjie-hoede van papier.

Die feestyd het my weer dankbaar gemaak dat ek in ‘n Westerse samelewing woon, waar die beginsels van die gemeenskap op Christelike waardes baseer is, of dit nou erken word of nie.  Ons is vry om rondom die ware inhoud van die Feestyd ons feeste te vier.  Dit doen ons met baie musiek, tuisgemaak en professioneel, tuisgemaakte Kers klappers met Skrif, wat almal om die tafel uitlees, sodat die Woord van God sy ereplek inneem.

Ons het al baie in Bodemklippe oor feeste en krone geskryf.  Israel se aanbidding-kalender was (en is nog steeds) in sewe jaarlikse feeste uitgeleef.  Die krone van loon vir die gelowige word nou in ons leeftyd die wonder van ‘n Christelike lewe – die kroon van die Lewe, die onverganklike kroon en die krone van Glorie, Geregtigheid en Vreugde.

Net so, het ons uit die onlangse studie van Openbaring, die onmiddellike toepassing van die simboliek wat daar beskryf word, om die onsienlike realm in verstaanbare woorde en beelde te verduidelik, dieper begryp.  Die Nuwe Jerusalem as die ware en onsigbare Kerk van Jesus, die Liggaam, met strate van goud waar ons nou op loop.  Goud wat deur vuur gelouter is, is ons getuienis van wonderwerke, God se ingrepe in ons lewe en antwoord op gebed.  Dit is die goud waarop ons loop, deurskynend omdat dit ‘n refleksie van die glorie van God uit ons lewe is.

In die laaste hoofstuk van Openbaring word die Poorte van die heilige Stad beskryf – reusagtige pêrels, twaalf van hulle, drie in elke windrigting – as toegang tot die stad.

Dit is verbysterend om te dink dat elke hek een groot pêrel is. Pêrels was veral waardevol. Hulle is met groot risiko uit die see gehaal. 

Behalwe ondenkbare en onaardse rykdom wat sulke pêrels sou weerspieël, is daar soveel meer in die simboliek van ‘n pêrelpoort.

Van alle edelstene was die Romeine liewer vir pêrels as enige iets anders.

Die drink van pêrels wat in asyn opgelos is, was algemeen.  Daar word gesê dat Cleopatra ‘n pêrel ter waarde van $100 000 opgelos en gedrink het. Valerius Maximus het by ‘n fees ‘n pêrel om voor elke gas gesit om te drink, en hy self, vertel Horatius, het ‘n baie spesiale pêrel van ‘n oorring, opgelos in wyn, ingesluk sodat hy kon sê dat hy ‘n miljoen sestertii in een sluk verkwis het.

Die gelykenis het dit bevestig toe Jesus in Matteus 13:46 gepraat het van die pêrel van groot waarde, wat alles werd was wat jy besit het. Poorte van pêrel beeld ontoeganklike rykdom uit.  

Pêrels word gemaak wanneer ‘n weekdier, soos ‘n oester, ‘n irritasie bedek met blink lae van ‘n “stof” wat perlemoer genoem word, om homself te beskerm. In natuurlike pêrels is hierdie irritasie dikwels ‘n parasiet of ‘n stuk sand wat diep in die “hart” van die dop binnedring.  Die vorming van ‘n pêrel is ‘n verdedigingsmeganisme teen ‘n indringer.  Dit vorm ‘n kaleidoskopiese, glansryke pêrel in ‘n misterieuse, “geheime” of weggesteekte proses.

Die “poort” na die ware Kerk, die Nuwe Jerusalem, wat die teenwoordigheid van God is, is die “irritante” van ons lewens wat ons getuienis vorm.  God “vorm” ons kosbaarste juweel diep in ons hart en op die skoonheid van die wonderwerk van saligheid, uitkoms en redding in ons innerlike wese, gaan ons in.

Lank gelede skryf Jesaja oor die heilige Stad van God, die kosbare teenwoordigheid van die ware God waar ons, die burgers van die Koninkryk, woon.

Daar sal nie langer iets oor geweld in jou land gehoor word nie, of oor verwoesting en vernietiging binne jou grense nie. 

Jy sal jou mure Verlossing noem, en jou poorte Lof. (Jesaja 60:18)

Is daar in die lied van die ou profeet die sleutel tot die poort van die heilige Stad, ons toevlug en beskerming in alle omstandighede?

Aanbidding is nie iets wat God “nodig” het nie.  Ons vertel nie van Sy grootheid en wonderdade sodat Hy goed voel of beter van ons dink nie.  Ons aanbid as ‘n uitroep van ons prioriteite.  Ware aanbidding is ‘n lewe van gehoorsaamheid, ‘n ernstige omgang met die Woord van God en die verklaring van God se ereplek as Eerste en Enigste in ons lewe.

Dit is juis hoekom lofprysing en aanbidding so ‘n belangrike plek in moeilike tye het.  As die duisternis om ons digter word, verwarring en misleiding ons omring, dan roep ons God aan, Sy Naam, wat ‘n uitdrukking van sy karakter is.  As ons die volle impak van die Naam van ons Jesus aanroep en uitroep oor alles om ons, is dit ons bedekking, ons verdedigingsmeganisme, die perlemoer van glorie en redding in alles wat met ons gebeur.  

Met ‘n uitroep van aanbidding aktiveer ons God se beloftes van Saligheid. Terwyl die “irritante” van gebrokenheid en onvolmaaktheid, geweld en leuens, ons wêreld oorheers en in ons siele indring, roep ons God se perlemoer om die vervloeking in ‘n seën te verander (Nehemia 13:2) en alles ten goede te laat meewerk. (Romeine 8:28)

Dit is ‘n kenmerk van “ons” wêreldbeskouing dat redding en herstel moontlik is.  Geen gemors is te groot vir ons God om dit om te keer en tot ons voordeel te verander.  Verskeie antieke filosowe het daarop aangedring dat die wêreld so boos is dat slegs totale vernietiging en dan vervanging met alles nuut, die oplossing sou kon wees.  

Die Evangelie het goeie nuus.  Geen sonde (die gevolge van verkeerde keuses wat tot vernietiging lei en veroorsaak dat jy jou lewenspotensiaal misloop) is te groot vir die reddende Hand van Jesus.

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.  (Jesaja 1:18)

Soos ons geleer het, was skarlaken die diep en kragtige kleursel wat nie maklik uitgewas het nie.

Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.  (Psalms 100:4)


Lewer kommentaar