‘n Edelmetaal, waardevol, duursaam, blink en mooi – dit is hoe enigiemand wat iets van goud af weet, dit sou kon beskryf. Die geleerdes het dalk ‘n hele lang lys van eienskappe waarvan ons oppervlakkige kennis nie weet nie. Die begeerte om goud te delf is deel van die ontdekkingsgeskiedenis van soveel lande. Dit was die dryfveer om die koue noorde van die Amerikaanse kontinent aan te durf en die oorsaak van ‘n uitgerekte oorlog in Suid-Afrika, om nie te praat van al die ander wêrelddele waar die stormloop van delwers impak op die landskap en politiek gehad het.
Die Bybel praat dikwels van goud. Dit was reeds in antieke tye ‘n kosbaarheid en buite die bereik van die meeste mense – ‘n kenmerk van rykdom en status. Goud word in Genesis 2 genoem. Abram se rykdom word in terme van goud, silwer en beeste bereken. Sommer gou daarna lees mens van goue juwele en goud as betaalmiddel. (Genesis 24)
In die fyn uiteensetting rondom die bou van die Tabernakel is goud dikwels aangewend. Alles in die Heilige Plek en die Allerheiligste was van goud gemaak of met goud oorgetrek. Ons weet die Kandelaar in die Heilige Plek was goud, die tafel met die toonbrode is met goud oorgetrek, so ook die wierook-altaar voor die voorhangsel en die Verbondsark in die Allerheiligste. Dit was simbolies van die volhoubaarheid en ewige voortbestaan van alles wat aan God behoort. Nebukadneser het die Tempel toebehore noukeurig gestoor. Dit bly indrukwekkend dat die bannelinge onder die guns van Kores die goue Tempel-elemente kon terugneem Jerusalem toe. God het selfs in die wrede goddelose Babilon die Tempel, sy Huis, se toebehore bewaar totdat dit op die regmatige plek weer herstel kon word.
Een van die uitstaande elemente van die Nuwe Jerusalem, waarvan daar in Openbaring gepraat word, is strate van goud. Dit was altyd vir my vreemd dat mens op ‘n straat van goud sou wou loop. Miskien was dit net om die oorweldigende rykdom van God se stad uit te beeld. Sou dit ‘n teken wees dat geen aardse stad ooit naby strate van goud sou kon kom, om die meeste van die beste te kan bekostig? Dit dui beslis op iets goddelik en bonatuurlik.
Dit was ‘n heerlike ontdekking om die simboliek en wonder van die strate van goud te leer. In die Ou Testament was goud ‘n betaalmiddel, ‘n teken van rykdom en status en die juwele van mans en vrouens, maar ook die begin van die simboliese leerstelling van die proses om goud te suiwer.
Hy sal gaan sit as iemand wat silwer smelt en suiwer.
Hy sal die Leviete reinig en hulle soos goud en silwer suiwer.
Hulle sal aan die Here behoort, en offers in geregtigheid bring. (Maleagi 3:3)
Dieselfde gedagte van God wat goud in sy kinders bewerk met die suiweringsproses van vuur word in Sagaria 13:9 genoem.
En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos ‘n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, ‘Hulle is my volk,’ en hulle sal sê, ‘Die Here is ons God.’ ”
Dit is maar net ‘n paar van baie voorbeelde.
In die pen van die Nuwe Testament se skrywers word die simboliese eienskappe van goud en die proses om goud te suiwer as geestelike beginsel verder uitgebou. Dit is in hierdie konteks wat ons die betekenis van strate van goud begin verstaan.
In die vraag wat Paulus aan die Korintiërs vra, impliseer hy dat ons, die volgelinge van Jesus oor goud beskik om mee te “bou”.
Of iemand nou op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi – elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel. (1 Korintiërs 3:12,13)
Die verwysing na vuur, dui weer op die suiweringsproses waarvan daar in die Ou Testament gepraat word. Die fondament is die saligheid wat ons kry deur die Kruisdood van Jesus te aanvaar. Ons het klaarblyklik ‘n keuse waarmee ons bou – blywende dinge of dinge wat in die vuur sal vergaan.
Vuur in die Bybel dui op ‘n proses van suiwering. Dit is inderdaad die simbool van die Heilige Gees want dit is Hy wat oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Petrus het by die vuur gesit toe hy in die voorhof van die Hoë Priester gekonfronteer is met sy assosiasie met Jesus. Dit is simbolies van sy “vuurdoop” van verraad waarvoor hy moes bely en toe in sy verhouding met Jesus herstel is.
God se vuur is tugtiging en teregwysing, nie met die oog op oordeel en verwerping nie, veel eerder insig en korreksie met die oog op herstel. Dink net hoe wonderbaar is God om in sy volmaakte liefde ons die spesifieke teregwysing deur die Heilige Gees te kommunikeer. Ons is nooit onseker nie. Net soos die kritiek wat na die kerke in Openbaring 2 en 3 geprofeteer word, is die doel van kritiek korreksie en remedie, sodat ons beeld van Jesus nie vervaag nie. Ons weet presies wat God verwag in teenstelling met die menigte gode van die Grieke en Romeine. Watter een presies was nou so kwaad dat dit met my so sleg gaan?
Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – ‘n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word. (1 Petrus 1:7)
Dis hier op aarde waar ons op die strate van goud in die Nuwe Jerusalem, die ware Kerk, loop. Dit is geloof wat getoets word. Hoe sal ons die boosheid oorwin?
Húlle het hom oorwin,
op grond van die bloed van die Lam,
en op grond van hulle getuienis. (Openbaring 12:11a)
Die bloed van die Lam is ons fondament. Ons getuienis is goud wat deur vuur gelouter is. Hoe sal ons weet dat God kan verlos en red, wonderwerke doen en magtiglik in ons omstandighede kan ingryp as ons nie die “vuur” van gebrokenheid ervaar en deurstaan nie? Dit is geloof wat deur vuur gelouter is, kosbaarder as goud wat ons lewenswandel kenmerk. Dit is hoe ons loop – op goud. Dit is die kenmerk van ‘n pad saam met God – ‘n straat van goud.
Omdat jy sê, “Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,” en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie, raai Ek jou aan om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is, sodat jy ryk kan wees; en wit klere, sodat jy jou kan aantrek, en die skaamte van jou naaktheid nie sigbaar word nie; en salf om aan jou oë te smeer, sodat jy kan sien. (Openbaring 3:17,18)
Kosbaar en duursaam, blink en mooi – sielsgoud gekoop by die Koopman van Openbaring.