322.  Rebels en siek

Die hele wêreld worstel met siekte.  Mediese versekering, regeringsfondse vir medies, openbare gesondheidsplanne is hoog op politieke agendas.  Dikwels is die grootste vrees nie die dood self nie, maar die lyding en siekte voor die dood.  Dan hoor mens van iemand wat sommer in sy slaap  dood is, of skielik oorval is en hoop heimlik dat dit jou oorkom, eendag… nie nou nie…maar wanneer die tyd daar is.

Die mediese wêreld worstel met kroniese siektes, die “doodsvonnis” van sekere toestande, rare verskynsels wat nie genoeg navorsing kan genereer nie, kinders wat ly en allerhande virusse en kieme waarteen almal veg.  Inentings en voorkomende toetse is die onderwerp van skerp debatte en woedende opinies.

Een van die wonder-verhale van die Ou Testament is die genesing van Naäman waaroor ons verlede keer gesels het. (2 Konings 5)  Ons het gepraat oor sy arrogansie, sy verwagting en die grootse geestelike skuif wat in sy lewe plaasgevind het.  Al sy verwagtinge en planne moes buig voor die profeet van God.  Sy bediendes pleit by hom om aan die woorde van Elisa te onderwerp en sy genesing spruit uit in die proses van sewe maal bad in die Jordaan, nie die groot riviere van Sirië nie, die nederige Jordaan van Israel in die mond van die profeet.  

Sy gehoorsaamheid het groot krag.  Die sewende keer is ‘n triomf.  Hy is gesond.  Sy afgryslike melaatse vel is “soos die van ‘n seuntjie en hy was rein” sê die Bybel.

Van sy arrogansie bly in die proses niks oor nie.  Hy gaan terug na die man van God en verklaar sy volle bekering voor Elisa.  Daar is geen God op aarde behalwe in Israel.  

Sy woorde is interessant.  In daardie tyd het die mense (ook die Hebreërs) geglo God is territoriaal.  Naäman hou vas aan hierdie gedagte wanneer Elisa nie sy geskenk wil aanvaar nie.  Dit is in sy kop ook nie meer betaling nie – eerder ‘n geskenk – ‘n mens sou kon sê ‘n klein simbool van dankbaarheid.  Ja werklik! Die hele drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere (5:5) wat hy saamgebring het.  

‘n Genesing uit die Hand van God word nie in goud en silwer bereken nie.

Elisa wen die argument oor die aanvaarding van die geskenk, ten spyte van sterk aandrang van Naäman.  Hy aanvaar niks.  Hy word nie beloon vir God se werk nie.  

Naäman se brein werk oortyd.  Hy vra twee muilvragte Israel-grond, sodat hy die terra (grondgebied) van Israel met hom kan saamneem om vir homself “heilige grond” te skep om die ware God te aanbid.  Hy vra vooruit vergifnis vir sy teenwoordigheid in die tempel van sy afgod wat hy onder die verpligting van sy koning sal moet besoek.   Elisa en hy neem baie  vriendelik van mekaar afskeid, maar…

Gehasi, Elisa se slaaf, het ‘n missie.  Hy het die goud gesien, die silwer en veral die klere.  Jitte, daar op sy deurdrumpel is die weelde van Sirië aan hom vertoon en sy begeerte kry die oorhand.  Hy sê vir Elisa van sy plan om iets van Naäman te aanvaar en hardloop.  Hy het sy storie reg.

Gehasi gee ‘n gefabriseerde verskoning waarom Elisa kwansuis sy gedagte verander en wel van die weelde sal vat.  Gehasi vra sommer baie – 34 kilogram silwer en twee stelle klere.  Dalk was sy hele oudag in sy kop.  Naäman is so bly om iets te gee hy maak die 68 kilogram silwer, toegebind in geldsakke en twee stelle klere, met twee slawe om dit vir Gehasi te dra.  Die grootsheid van die lewe – sommer maklik en vinnig vir hom.

Net anderkant die bult, vat Gehasi sy nuutgevonde rykdom by die slawe en steek dit in sy kamer weg.  Hy laat die manne gaan en gaan terug na Elisa.

Die dialoog wat volg is die inhoud van ons idioom: Vanwaar Gehasi? wanneer mens met agterdog oor ‘n leuen iemand se teenwoordigheid bejeën.

…en hy inkom en by die profeet gaan staan, vra Elisa vir hom: “Waar kom jy vandaan, Gehasi?”

Hy het geantwoord: “Ek was nêrens heen nie.” (5:25)

Elisa se verwyt is skerp… met ‘n vervloeking daarby.

Hy sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees by jou toe iemand van sy wa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Moes jy dié geleentheid aangryp om silwer en klere in die hande te kry, of olyfboorde en wingerde, kleinvee en grootvee, slawe en slavinne? 

Die melaatsheid waarmee Naäman aangetas was, sal vir altyd aan jou en jou nageslag sit.”

Toe hy van Elisa af weggaan, was hy klaar melaats, wit soos sneeu. (5:26,27)

Elisa “sien”, met geestelike insig, Gehasi se hele aftree-plan – die geld, die klere, die boerdery en die slawe.  Gehasi se ongehoorsaamheid weerhou hom van al die genot van sy plan.  Al die rykdom kan hom nie van melaatsheid genees nie.  Hy moes dit geweet het.  Naäman het daar aangekom met ‘n fortuin en siek soos ‘n verarmde.  Sy rykdom het niks gehelp nie. 

Gehasi se melaatsheid is ‘n simbool van die geskarrel na welvaart en toekoms-sekuriteit – die afgode van ons tyd.  Dit is waarvoor almal werk. 

Net so skielik soos Gehasi se melaatsheid, oorval ‘n mediese krisis ‘n mens en alle perspektief skuif.  Die melaatsheid van rykdom en status, die grootsheid van die lewe en die aansien van andere, kleef aan die mensdom en die nageslag soos die wit swere van siekte. As kinders nie geleer word wat werklik belangrik is nie, sal hulle die melaatsheid van wêreldse ambisie verwerf.

Kom ons lees saam Jesus se remedie vir die melaatsheid van ons dag:

Die sorge van die lewe (Matteus 6:25-33)

“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie

Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 

Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng

En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 

As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 

Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

CS Lewis som dit so op:

You can’t get second things by putting them first; you can get second things only by putting first things first.” 

“Al hierdie dinge” kom in die pakket van die Koninkryk.  Dit is deel van die belofte van die Verbond – oorvloed van voorsiening. 

Daarby ingesluit: genesing!


Lewer kommentaar