[Kersfees 2024]
Een donker nag in ‘n klein dorpie in die middel van die wêreld het die mensdom fundamenteel verander. Niks van alles wat was, sou ooit weer dieselfde wees nie. Die oorgrote meerderheid van die mensdom het nie eers kennis geneem van die oomblik toe die hemel die aarde raak en engelsang oor ‘n weiveld ‘n paar herders geroep het om getuies vir die mees belangrike gebeure in die geskiedenis van die mensdom te wees.
Dit was nog koud daar buite by die lammers waar die herders om ‘n vuurtjie wag gehou het oor die eenjaar-oud lammers wat ‘n paar weke later by die Tempel moes sterf. Die Paasfees was een van die groot feeste van die jaar en baie lammers moes gereed gemaak word om deur die priesters goedgekeur te kon word om die hoë standaard van “volmaaktheid” te haal.
Daar in die nag het die engel verskyn en die woorde gepraat wat in die heel eerste Kersliedere hulle plek gevind het om oor eeue en eeue te ego.
“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Lukas 2:14)
Oorbekend? Dalk nie meer nie. Vandag se dae word die ware Kersliede skaars gespeel. Alles gaan oor Santa, Vader Kersfees, Elf on the Shelf, en geskenke wat oor kinders se gedrag gaan met geen boodskap van genade of vergifnis iewers te vinde. Dit is noodsaaklik om die woorde van waarheid te sing.
‘n Babastem uit ‘n stal het God as mens by die mens aangekondig – Seun van die mens – die titel wat Jesus vir homself gebruik het uit die woorde van Daniël. (7:13; 8:17)
Gewone mense is tot getuie geroep, grootse denkers van ver af is met die tekens in die hemel nader gebring. ‘n Despoot het gehoor, gevrees en gemoor.
En hier is ons duisende jare later met al die tekens van Kersfees wat ons omring. Net soos die mense van die eerste eeu, ken ons ook die woorde van die profete wat oor honderde jare voor die gebeure van daardie nag, die woorde van waarheid gespreek en gesing het. Was dit die singende Jesaja wat in werklikheid die eerste Kerslied geskryf het?
Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee.
Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem:
Wonderbare Raadgewer,
Magtige God,
Ewige Vader,
Vredevors. (Jesaja 9:6)
Is ons ou wêreld nie net so of meer nog die volk wat in duisternis ronddwaal, wat ‘n groot lig gesien het. Dit is ons wat in ‘n stikdonker land woon oor wie ‘n lig skyn.
Ek het al soveel keer in my Kersboodskappe geskryf oor Jesus en Lig. Hy is die enigste mens ooit wat woorde gepraat het, wat niemand in die hele geskiedenis ooit gepraat het nie. Hy het gesê: Ek is die Lig van die wêreld, om nie eers die kragtige omvang van die ander stellings wat Hy oor homself gemaak het, te noem nie. Kom ons vertoef by lig en die bron van lig in duisternis.
Daar is baie te sê oor vuur en baie mense skryf oor die grootse oomblik in die oertyd toe vuur ontdek is. Vuur is een van die vier klassieke elemente van die aarde, saam met lug, water en grond. Ons weet die son is ‘n vuurbal – God se lig wat altyd brand. Sonder die son is die weerstelsel van die aarde en al die ander elemente van geen waarde. Dis son is die essensiële element om alles in stand te hou.
Die mens se klein afskynsel van die son is vuur. Vuur om die nag warm en lig te hou, om wapens te maak, om te vernietig, om te sein, te kook en alles beter of slegter te maak – dit hang net af hoe dit gebruik of misbruik word.
Vuur en lig was altyd elemente in die simboliese uitbeelding van God. Jesus is die Son van geregtigheid. (Maleagi 4:2) Die vuurkolom in die woestyn het die volk gelei. Lig is redding. Duisternis is verwarring. Lig maak warm. Duisternis spreek van koue.
Ek kan my net voorstel hoe die herders se vuurtjie “verdwyn” het in die lig van die engel en die “klankwind” van die engelkoor daardie nag net buite Bethlehem.
Die mens se vuur wyk voor die Heilige Vuur van God. In die kerkgeskiedenis oor baie jare het die Heilige Vuur van God in die persoon van Jesus gestalte gekry. Dit is die boodskap van Kersfees. Die baba wat gebore is, het nie klein gebly nie. Al die onskuld en hulpeloosheid van ‘n baba het gegroei in ‘n man wat die aarde op alle vlakke sou verander. Hoe mens ookal oor die lewe van Jesus sou kon dink – dit verwerp of dit aanvaar – mens word verskeie kere in ‘n kalenderjaar gedwing om daaroor te dink.
Vandag staar ons in ‘n krip met ‘n baba, maar ons doen dit in die skaduwee van die Kruis. Hy het gesterf EN opgestaan uit die dood, daarom kan ons hierdie Ligfees vier. Ons kan bid dat ons harte met die Helige Vuur van God gevul word en ons woorde ‘n brandende kool in die verwarring van leuen-oorheersing sal wees.
Die Heilige Vuur van God word spesifiek met die triomfantelike Jesus, soos Hy in Openbaring 1 beskryf word, geassosieer.
Ek “skenk” julle die woorde van ‘n gedig deur die Walliese digter, Grahame Davies, as Kersgebed vir 2024. Die gedig is ‘n pragtige samevatting van die Heilige Vuur van Eden tot nou – alles is Jesus. Dit is die kern van ons Fees. Jesus in alles van toe tot nou en altyd vorentoe. Hy wat WAS en IS en wat KOM! Kersfees is Jesus, die hele Jesus, die volheid van die boodskap van sy hele Wese, met ander woorde sy Dood en Opstanding.
Die gedig is deur Britse koning gekies om op die kroningsgeleentheid opgevoer te word. Op sy opdrag is dit getoonset deur ‘n Britse komponis, Sarah Class en gesing deur die Suid-Afrikaanse sopraan, Pretty Yende.
Die uitvoering daarvan was ‘n hoogtepunt. Die woorde van die gedig dwing mens tot trane. Pretty se rok is deur ‘n Franse ontwerper, wat bekend is vir sy dramatiese en grootse skeppings, gemaak. Ek heg die YouTube skakel aan sodat die audio-visuele eindproduk in Westminster Abbey aanskou en geniet kan word.
Hier is die lirieke soos dit op Instagram deur die komponis gepubliseer is.
You sever us from Eden with a sword
And lead us through the desert by your light
You make your prophets’ word a burning coal
And tend the lonely temple light at night
You keep your silence in the desert blaze
And speak your secrets in the lightning storm
You hide the sun’s face like a candle flame
And send a star to keep a stable war,
And fill our hearts with sacred fire
The blessing of the rosebud and the briar
Come fill our hearts today with sacred fire
With sacred fire
With sacred fire
Your love can make the hearts within us burn
And let the firelight reveal our shame
You call the broken fellowship to feast
And teach us to forgive in tongues of flame
Your wisdom is the sunlight and the snow
Your beauty is the rosebud and the brier
Teach us to know the shadow and the light
And fill our hearts today with sacred fire
And fill our hearts with sacred fire
The blessing of the rosebud and the briar
Come fill our hearts today with sacred fire
With sacred fire
With sacred fire