Boosheid kom in golwe. Dit vang jou onverwags soos ‘n frats-golf sommer skielik tussen die ritmiese klop van die see. Die golf wat jou voete onder jou uitspoel is sommer ‘n pakket van teleurstelling, belediging, verwonding en woede. Ander mense se sonde in jou lewe wat jou hart verskeur in een oomblik. Woorde wat wond, sonder verskoning en sonder waarskuwing. So ‘n storm van seermaak wat oor jou vloed, laat al die skanse opgaan – selfbehoud en grense stel is mos nie verkeerd nie.
Die seer van ander mense se sonde in jou lewe is alombekend. Jesus het dit self gesê: Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. (Lukas 17:1)
Laat struikel? Dit klink dalk sagkens gestel vir die diep verwonding waarmee jy in jou hart sit. Is dit regtig net ‘n metafoor van ‘n baksteen in jou pad wat jou toon laat bloei? Of is dit eerder wat die Griekse woord impliseer – ‘n lokval wat jou siel laat bloei en jou hart in pyn laat krul. Natuurlik is dit albei. Dit is verstommend hoe aanstoot ‘n vastrapplek in jou denke kan kry. Dit is sommer gou ‘n denkpatroon wat wortel skiet en jou gedagtes begin oorheers.
Ons kan eintlik dankbaar wees dat Petrus so impulsief gepraat het. Hy het verseker soms gepraat sonder om te dink, maar in die geval van vergifnis het hy dalk mooi gedink.
Petrus se vraag aan Jesus oor hoeveel keer om te vergewe, is werklik insiggewend, aangesien hy gedink het, dat hy baie vrygewig was. Volgens die Rabbi’s moes ‘n mens jou broer drie keer vergewe en die vierde keer was onverskoonbaar.
Petrus het egter probeer om die standaard te oortref deur sewe keer aan te bied – twee keer meer as die rabbi’s, plus een om spesiaal groots voor te kom. Maar Jesus se antwoord ruk die mat van grootsheid heeltemal onder die voete van die dissipels uit. Sewentig maal sewe, sê Hy. Die hele konsep van beperkte vergifnis is heeltemal vernietig. Dit impliseer dat daar geen beperking op vergifnis moet wees nie.
Jesus se antwoord stel ‘n lewenstyl van vergifnis voor—‘n aanhoudende houding van vergewensgesindheid, wat beklemtoon dat ons nooit moet ophou vergewe nie.
Om hierdie beginsel te versterk, vertel Jesus die gelykenis van die onbarmhartige dienaar. (Matteus 18:21-35) In hierdie verhaal is daar ‘n dienaar wat van ‘n groot skuld van 10 000 talente (ongeveer R30 miljoen) vergewe is, maar weier om ‘n baie klein skuld van 100 denarii (minder as R100) van ‘n mede-dienaar te vergewe. Hierdie kontrasterende skuld illustreer hoeveel ons deur God vergewe is en hoe dit ons noop om ander te vergewe, ongeag hoe groot die oortreding teen ons voel.
Die punt hier is dat die skuld wat ons aan God verskuldig is, oneindig groot en onbetaalbaar is, maar dat Hy ons nogtans vergewe het. Ons skuld het ons in slawerny laat beland, net soos die skuld van die bediende sou veroorsaak dat hy en sy hele gesin in slawerny verkoop word. Dit was dikwels ‘n lewenslange straf.
Die sonde van die mens het die lewe van God se Seun gekos – Jesus het vir ons gesterf. Daarom moet ons, in die lig van die groot vergifnis wat ons ontvang het, die kleiner oortredings van ander vergewe. Niks wat ons moet vergewe, kom selfs naby aan wat ons van God ontvang het nie.
Jesus beklemtoon dat ons vergifnis teenoor ‘n medemens ‘n voorvereiste vir God se vergifnis is. Hy sê dit duidelik in die Bergrede: “Salig is die barmhartiges, [merciful] want hulle sal barmhartigheid ontvang” (Matteus 5:7), en in die Onse Vader: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe”. (Matteus 6:12)
Net om seker te maak dat ons die frase in die Onse Vader goed verstaan beklemtoon Jesus net verder aan: “As julle ander mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander nie hulle oortredinge vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie”. (Matteus 6:14-15)
C.S. Lewis beklemtoon in sy geskrifte dat vergifnis nie maklik of natuurlik kom nie, maar eerder ‘n geestelike dissipline is wat aangeleer moet word. Om te vergewe beteken om die seer en wrok wat ons ervaar, voortdurend los te laat, selfs wanneer dit weer en weer in ons geheue opkom. Lewis noem dat dit nuttig kan wees om ons eie foute in herinnering te roep wanneer ons sukkel om ander te vergewe.
In Lukas lees ons die dissipels het gevra vir meer geloof. Dit is asof hulle hulle eie onvermoë om Jesus se standaard te bereik, besef het.
Onvergewensgesindheid word vergelyk met ‘n geestelike abses wat die siel vergiftig. Dit is ‘n gif wat ons verhouding met God belemmer, ons gebede verhinder en ons geestelik laat agteruitgaan. Vergifnis is die enigste geneesmiddel, al is dit moeilik. Dit vereis dat ons heeltemal aan Jesus oorgegee lewe en soms vereis dit die innerlike genesing van die Heilige Gees vir die diepste seer.
Jakobus 2:13 herinner ons: “Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.
Dit is liefde wat baie sondes bedek (1 Petrus 4:8), en liefde wat versoening en vrede bring waar daar konflik is. (Spreuke 10:12; 17:9)
| On the lord’s prayerWe believe that God forgives us our sins; but also that He will not do so unless we forgive other people their sins against us. There is no doubt about the second part of this statement. It is in the Lord’s Prayer; it was emphatically stated by our Lord. If you don’t forgive, you will not be forgiven. No part of His teaching is clearer, and there are no exceptions to it. He doesn’t say that we are to forgive other people’s sins provided they are not too frightful, or provided there are extenuating circumstances, or anything of that sort. We are to forgive them all, however spiteful, however mean, however often they are repeated. If we don’t, we shall be forgiven none of our own. [CS Lewis] |
Die gelykenis van die onbarmhartige dienaar leer ons die onmeetbare waarde van God se vergifnis en die roeping om ander te vergewe. Wanneer ons vergewe, sing ons in harmonie met God. Ons kan dit nie uit ons eie krag doen nie—ons moet totaal op die Heilige Gees staatmaak om hierdie dissipline van vergifnis te leef.
Miga 6:8 som dit pragtig op:
“Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?
God se belofte is om jou wonder te verbind en te genees.
He has sent Me to heal the brokenhearted. (Jesaja 61:1)
Die gevolge van onvergewensgesindheid in ons lewe is baie erg. Dit blok die kanaal van seën wat uit God se liefdesdaad aan die Kruis vloei. Dit is eintlik te erg om oor te dink. Dink diep en stap die pad van vergifnis. Dit is in alle opsigte die moeite werd. Die Here weet wat jou verwond, Hy ken jou seer en Hy is in staat om jou te genees en te beskerm, maak nie saak hoe erg die aanval teen jou is nie.
Die enigste vereiste is ‘n besluit. Maak die besluit terwyl jy eintlik niks voel nie. Besluit om te vergewe terwyl jy bid dat die Here jou moet help. Mens kan nie op jou eie hierdie pad loop nie. Die Heilige Gees gee jou die krag. Dis ‘n proses van onderwerping aan die Woord van God. Dit lei na ‘n lewe van uitnemendheid – ware vrymaking en oorwinning.
Weer Lewis:
He knew that offenses come to each of us regularly, and that we are prone to rationalize and justify our unforgiveness of the offender. He also knew that when we do so, we erect a barrier of sin between us and God which blocks our own forgiveness, as well as our prayers and fellowship with him, and leads to backsliding. Unforgiveness is a spiritual abscess that poisons the soul, the only remedy for which is forgiveness, no matter how difficult.