In smeltkroes-tye van die lewe vind ons dikwels mens-woorde maar swak en oppervlakkig en God-woorde die krag en hoop wat ons red. Dis God-woorde wat transformeer en nuut maak, wat troos en versterk, wat ‘n skuilplek is en ‘n lied in die nag op ‘n hart skryf. (Job 35:10; Psalms 42:9; 77:6)
Woorde is kragtig. Daaroor het ons al dikwels gepraat. Net soos die Woord verklaar, is woorde ‘n eenheid van energie wat uitgaan en dinge uitrig. God gebruik die sekerheid wat ons uit die natuurwette en swaartekrag aflei, wat elke dag ons lewe beheers, om die krag van sy Woorde te beskryf.
Ja, soos reën en sneeu
uit die hemel afkom
en nie daarheen terugkeer nie,
maar die aarde deurdrenk
en plante laat voortbring,
dit laat uitspruit,
en so saad gee vir die saaier
en voedsel vir dié wat eet,
net so sal my woord wees
wat uit my mond uitgaan:
Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie,
maar doen wat Ek wil hê,
en die doel bereik waarvoor
Ek dit gestuur het. (Jesaja 55:10,11)
Wie kan ooit die drama rondom die eersgeborene-seën van Esau en Jakob vergeet – die bedrog, die verwyte, die ontnugtering. (Genesis 25)
Hoekom kon hulle pa, Isak, nie sy “fout” regmaak nie? Ekskuus tog, kom ons doen hierdie ritueeltjie van voor af. Ek besef nou dit was die verkeerde seun hier voor my. Dit is egter nie wat gebeur het nie. Die spesiale seën is uitgespreek, die woorde het uitgegaan oor Jakob en was van ewigheidswaarde. Jakob en Esau se hele lewe het verander in ‘n oomblik van woorde. Die woorde uit Isak se mond het vasgestaan en die toekoms bepaal.
As ons dit weet, met hierdie kennis toegerus is, sal ons nie dan ons “ore oopmaak en luister nie”?
As julle aandagtig na My luister,
sal julle eet wat goed is,
sal julle julle aan ryk kos verlustig.
Maak julle ore oop en kom na My toe;
luister, sodat julle kan leef! (Jesaja 55:2,3)
Sit regop en luister. Maak ‘n stilte en dink diep. God praat. Hy sê:
Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.” (Matteus 11:28-30)
Ons lewenseise met die godsdiens wat verwag word, kan uitputtend wees. Om goed te wees is ‘n konstante stryd met gereelde nederlae. Jesus rig sy uitnodiging aan almal wat deur die lewe en sy eise vermoei is.
Hy bied die diep dinge van God aan. (Job 11:7)
Jesus is die weg na God, die weg na vrede en verligting – in ‘n juk met ‘n las. Dit is ‘n kernwaarheid van ‘n Koninkrykslewe.
Die juk wat Jesus bied, pas goed en skaaf nie wonde nie. Dit is “Handgemaak” vir elke individu gevorm deur die volmaakte liefde van jou Skepper.
‘n Juk wat seermaak, is die juk van godsdiens, die “jy-mag-nie”-wettisisme en eie pogings om die regte dinge te doen.
In nederigheid buig ons om Jesus se juk op te neem, in onderwerping aan God en sy manier van dinge doen. ‘n Koninkrykslewe is volkome oorgawe aan die passie en doelstellings van Koninkryksake – met ander woorde, die groter perspektief van die hemel.
In Palestina is os-jukke van hout gemaak. Die os is gemeet. Dan is die juk volgens die mate uitgekerf. Die os is teruggebring om die juk te pas. Die juk is noukeurig aangepas, sodat dit goed sou pas en nie die nek van die dier irriteer en seermaak nie.
‘n Draaglike juk is ‘n juk wat goed pas – die Koninkrykstaak wat spesiaal vir jou gemaak is. Wat God ook al stuur, is gemaak om ons behoeftes en ons vermoëns presies te pas.
Die rabbi’s het dikwels gesê hulle las was hulle lied. Dit was op hulle gelê ter wille van die mense van God.
Ons las is die houding van aanbidding en lofprysing in watter omstandighede ook al. ‘n Ligte las trek ons nie af nie, maar gee ons die tamboeryn om te dans op die liedere van verlossing.
U is vir my ‘n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing. (Psalms 32:7)
U bied vir my beskutting;
U vrywaar my van nood;
met jubelkrete van bevryding
omring U my. (2020 -vertaling)
Waarom liedere van oorwinning en bevryding, as ons nooit ‘n ontsnapping, ‘n bonatuurlike aanraking wat ons vrywaar, nodig het nie? Die liedere van verlossing is dans op die “goue strate” van getuienis. Dit is die ligte las van Jesus wat ons in staat stel om deur omstandighede te dans. Jesus se “las” is volle vertroue in Sy voorsiening en getrouheid, sonder om dubbel-hartig in geloof te wees. (Jakobus 1)
Die Psalmdigter is baie bewus van die “juk” in Psalms 32.
Hy gaan voort met die woorde van God, die sleutel tot ‘n maklike juk en ‘n ligte las. Die leiding van God, geskryf in ons harte met sy oog op ons – wat ‘n voorreg! (Jeremia 31:33)
Ek wil jou insig gee,
Ek wil jou die pad leer
wat jy moet loop.
Ek wil jou raad gee,
my oog oor jou hou. (32:8 – 2020)
Om die leiding van die Here te volg, is die maklik-passende juk, die ligte las. (Jeremia 6:16)
En dan:
Moet julle nie soos ‘n perd,
soos ‘n muil sonder verstand,
gedra nie:
Met toom en stang moet sy krag
beteuel word,
anders bly hy nie by jou nie. (32:9, 2020)
Die sleutel tot hierdie vers is onderwerping in nederigheid. (Jakobus 4:7; 1 Petrus 5:5)
Jesus sê reguit dat dit sy eie kenmerke is – sagmoedig (vriendelik) en nederig van hart.
Want Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, dat julle moet doen soos Ek aan julle gedoen het. (Johannes 13:15)
Onthou die WWJD-armbande? Hier is dit! Sagmoedig en nederig van hart – net soos Hy.