306.  Woedende wind en storms

In ons weeklikse Bybelstudie gesels ons oor Jesus wat die storm op die Meer van Galilea stil maak – wonderlik, bekend en geliefd.  (Matteus 8:23-27)  Dit is ‘n gebeurtenis so in ons kennis van die Evangelies ingebrand, dat dit dalk oorgesien en in oorbekendheid verby gevee sou kon word.  By elke lees daarvan, het ons die geleentheid om dieper te krap en weer te kyk.  Ons gebed is altyd die woorde van die blinde man (Lukas 18:41): Here, dat ek kan sien.  Ons wil nie net lees nie, maar kyk, waarlik sien en luister.

Jesus en sy dissipels vaar in ‘n skuit op die meer na die oorkant.  Hulle was seker min of meer in die middel, ver van land af, toe ‘n hewige storm losbreek.

Hierdie was ‘n baie alledaagse toneel op hierdie lewegewende varswater-massa in ‘n droë land.  Die Meer van Galilea is klein, slegs 20km van noord na suid en 13km van oos na wes op sy wydste punt.  Die Jordaan-vallei maak ‘n diep kloof in die oppervlak van die aarde, en die Meer van Galilea is deel van daardie kloof.  Dit is 207m onder seevlak, met ‘n klimaat wat warm en gunstig vir boerdery is, maar ook gevaarlik.  Die heuwels en valleie vorm ‘n reuse trog en wanneer die wind deur dit waai, bars ‘n storm op die meer los – baie skielik en baie woes.

Die woorde in die Grieks is baie beskrywend.  Die storm word ‘n seismos genoem, wat die woord vir ‘n aardbewing is.  Die golwe was so hoog dat die boot in die tonnels van die golwe verdwyn het, terwyl die kruin van die golwe oor hulle getoring het.  

Jesus het geslaap.  In hul oomblik van vrees het die dissipels Hom wakker gemaak.  Hy het opgestaan en die wind en weer aangespreek.  Die storm het kalm geword.

Dit beteken dat in teenwoordigheid van Jesus die mees verskriklike uitbarstings van die natuur kalm word. 

Wat my die meeste aanspreek is die kalmte en vreesloosheid van Jesus.  Hy was heeltemal ontspanne.  Dit is duidelik uit die sinnetjie: Jesus het geslaap.  Dit is nogal iets om te slaap terwyl sulke verskriklik luidrugtige natuurgeweld om jou woed.  Dit golwe het oor die skuit geslaan.  Daar was heel moontlik ‘n bedreiging dat die water in die boot gevaarlik kan raak en met die reuse deinings kon hulle nie vinnig genoeg die water uitskep nie.  Almal moes vasklou en nie in die duisternis van stormwolke oorboord val nie. 

Die dissipels doen wat almal van ons in storms moet doen en heel moontlik wel doen.

Hulle het na Jesus uitgeroep.  Hulle roep was paniekerig en vol vrees.  In die weergawe van hierdie gebeure soos deur Markus (4:35-41) opgeteken, het hulle uitroep met ‘n verwyt gepaard gegaan: Gee U dan nie om dat ons vergaan nie.

Die storm het losgebars ten spyte van die teenwoordigheid van Jesus in die boot.  As kind van God sou mens kon dink dat die storm hoegenaamd nie ‘n bedreiging moes gewees het nie. Hoekom het Jesus se teenwoordigheid nie die storm afgeweer nie?  

Ons lewe is in die “boot” saam met Jesus op die “water” wat ons lewe simboliseer.  Die boot is simbolies van die Koninkryk van God.  Ons swem nie doelloos in die “see” van die lewe nie.  Ons is in die boot saam met God en ons is oppad na die ander kant, ten spyte van die storm.

Ons “roei” en werk om iewers te kom en net so skielik soos daardie dag op die Meer van Galilea, breek ‘n storm los en die deinings gooi die water in die boot, sodat ons lewe met verwoesting en selfs die dood, bedreig word.  Wat ook al ons tref, moet ons altyd weet ons Redder slaap rustig daar by ons in die boot.

Net ‘n roep het Hom laat opstaan en optree.  Heel menslik sou ek kon dink dat hulle Jesus wou laat rus en self die storm hanteer.  Dit storm het hulle oorweldig.  Dit is toe die noodkreet en verwyt kom.  Hoekom sou Hy nie self wakker word en die krisis afweer nie?  Hy wag dat hulle uitroep.

Hoe het hulle gedink dat Hy die storm se gevolge vir sou hanteer?  Miskien was daar nie tyd om te dink wat moet gebeur nie.  Wat wel duidelik is, is die wonder van die storm wat kalmeer hulle net so oorweldig soos die storm self.  Die antwoord op gebed kom met groot verwondering.  Hoe kan die mag van die natuur aan hierdie man onderwerp?

Jesus noem hulle kleingelowiges toe hy hulle vrees en paniek sien.  Hy beskryf hulle geloof as gebrekkig aan vertroue.  Jesus gebruik dit as ‘n liefdevolle teregwysing en ‘n sagte verwyt, soos ander plekke in die Evangelies.  (Matteus  6:30; 8:26; 14:31; 16:8; Lukas 12:28)  ‘n Ander manier om dit te stel is om te praat van “onder-ontwikkelde” geloof in teenstelling met blatante ongeloof (apistis).

The most incredible thing about miracles is that they happen, sê G.K. Chesterton.  Hy sê verder: The believers in miracles accept them (rightly or wrongly) because they have evidence for them. The disbelievers in miracles deny them (rightly or wrongly) because they have a doctrine against them.  

Was die dissipels verbaas oor die wyse waarop hulle gered is?  Hoe sou dit moes gebeur?  Die grootsheid van wind en weer, waaroor niemand op aarde beheer het nie, wat Jesus gehoorsaam en op Sy bevel kalm word, was in die oomblik van uitkoms groter as die storm self.

Was daar enige twyfel in hulle harte?  Die blote feit dat hulle lewend aan die ander kant van die meer gekom het, was getuienis van die wonderwerk.  Dit was baie duidelik uit die oorvertelling van al drie sinoptiese Evangelies.

Miracles are a retelling in small letters of the very same story which is written across the whole world in letters too large for some of us to see. C. S. Lewis

Daar is kalmte en troos in die teenwoordigheid van Jesus Christus. Wanneer die storms van twyfel probeer om die fondamente van die geloof uit te pluk, is daar ‘n standvastige sekerheid in die teenwoordigheid van Jesus.  

Dit is nie moeilik om ons te kyk en die “storm” te sien nie.  Dit is ook heel moontlik dat die deinings van die golwe jou oorweldig en paniekerig maak.  By jou slaap jou Redder – roep uit.  Die natuur en alle ander lewensrampe is aan hom onderworpe.  Net soos die lied sê: Die wind en golwe ken nog sy Naam.

Ons kan net ‘n bietjie verder kyk na die betekenis van wind.  In Openbaring is wind dikwels simbolies van rampspoed en vernietiging, hoewel dit nie altyd so in die Bybel gebruik word nie.  Jesus vergelyk die Heilige Gees met ‘n wind (Johannes 3) om die onverklaarbaarheid van die werking van die Heilige Gees te verduidelik.  Op Pinksterdag het die Heilige Gees neergedaal soos die geluid van ‘n stormwind.  Dit was duidelik dat niemand die geluid kon ignoreer nie.

In Openbaring (7:1,2) staan vier engele by die hoeke van die aarde en hou die winde terug, sodat die kinders van God geseël kan word teen die vernietiging van die rampe.  

Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël.

Honderd vier en veertig duisend is geseël – twaalf maal twaalf – die stamme van Israel vermenigvuldig met die twaalf apostels – die perfekte kubus met plek vir al die gelowiges. Dit is die Nuwe Jerusalem, die (onsigbare, ware) Kerk, die Liggaam van Jesus.  Die Nuwe Jerusalem is die stad sonder ‘n Tempel want God woon in die hele stad.  Dit is ons.

Ons is die kinders van die Koninkryk, met die Bloed van die Lam gekoop en agter die Woord waar Hy voor op die wit perd sit, met klere wat in bloed gedoop is.  (Openbaring 19:11-16).  Ons is die leërskare met fyn, helder, wit klere wat saam die boosheid van hierdie wêreld beveg.

Hoe sal ons oorwin?  Met die Bloed van die Lam en die Woord van ons getuienis. (Openbaring 12:11)

Ons kan nooit dink dat dinge net deur Jesus se tweede koms sal verander.  Ons het alles wat nodig is om die hele wêreld te verander – NOU.  Die krag van die Evangelie is al wat nodig is om al die gemors van hierdie wêreld op te los.

Jesus het gekom.  Op die dag van Pinkster het Hy gekom om in ons almal te wees.  Hy is hier.  Hy het belowe Hy sal by ons wees vir tyd en ewigheid.

En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20)

Hy is by ons in die lewensskuit op die stormsee van ons lewe.  Hy maak die wind stil en bedaar die golwe.  Hy is hier en Hy is Almagtig, die Skepper en Heerser van die heelal.  

Ons kan net soos die dissipels verstom staan oor die wonder van die antwoord op ons gebede.


Lewer kommentaar