297.  Kom gesels, enige tyd

Soos altyd het die jaar met ‘n spoed begin.  Hier aan die einde van die eerste maand het ‘n roetine sy beslag gekry en die trapmeul van die lewe is aan die gang.  As jy nie aanstap nie, val jy af – so eenvoudig soos dit.  Tyd is gewetenloos.  Nou ja, dalk moet ek nie so negatief wees oor die verloop van tyd nie.  Ek sal maar sê tyd is gevoelloos, sonder simpatie.  Daar is ‘n onkeerbare tik van tyd wat almal – jonk en oud, siek en gesond, ryk en arm, elke moontlike lewensomstandigheid – oor dieselfde kam skeer.

Leo Tolstoy het gesê: The two most powerful warriors are patience and time.  Soos ek hier sit hoor ek die horlosie aan die muur tik.  Ek kan dink of skryf, die tik, tik, tik verander nie.  Ek kan terugkyk op die uur en dink aan wat ek gedoen het, en vorentoe kyk na die volgende uur en besluit wat gedoen moet word.  Tyd is in my hand, vasgevang in my besluit en tog kan ek dit nie vashou of stop nie.

Net sodra ek so daaraan dink, is daar amper ‘n paniekerigheid wat opborrel.  Is ek verantwoordelik met die tyd aan my toegeken?  Gebruik ek my tyd goed?

Een van die kort sinnetjies in die Skrif wat ‘n element van die dag-vir-dag, uur-vir-uur lewensverloop vasvang, is in 1 Tessalonisense 5:17: 

Bid gedurig.

Bid sonder ophou – sê die OAB en die 2020 vertaling.

Ons het almal ‘n goeie idee van gebed.  As iemand vir jou vra wat gebed is, sal jy nie skrik of rondkyk nie.  Ek is seker elkeen sal kalm aan ‘n definisie van gebed kan dink.  Jy sou ook kon erken dat jy bid.  As ‘n Christen weet jy mos gebed is belangrik.  Dit word voorgehou deur die Bybelskrywers, die predikers, die leraars – almal wat hulle ophou met die geestelike versorging van die Kerk van Jesus. 

In die eenvoudigste definisie van gebed word dit so verduidelik: Gebed is ‘n aksie van kommunikasie met ‘n bonatuurlike wese of mag. 

‘n Aksie van kommunikasie – gebed is ‘n “doen”-woord.  Dit is ‘n aktiwiteit, ‘n gebruik van tyd, wat kommunikasie met God beskryf. 

As Paulus skryf dat ons sonder ophou, gedurig met God moet kommunikeer, veronderstel dit God wat sonder ophou met ons in gesprek sal wees.  Die heel vroegste gebed was ‘n dialoog, nie ‘n monoloog nie.  Die eerste gesprek van God met Adam was ‘n kalm tyd met warm woorde van skepping en verwondering.  Adam moes dit wat God gemaak het, benaam.  Dit is wat die afstammelinge van Adam, die mensdom, nog steeds mee besig is – ons noem dit wetenskap.

God het kuiertyd in die dag ingebou – die aandwind, die koel tyd van die dag. (Genesis 3:8)  Die sonde het die gesprek vertroebel, want God moes hulle soek.  Hy was gereed vir kommunikasie, ten spyte van die sonde wat die volmaaktheid van alles omvergewerp het.  Hy roep hulle uit hulle wegkruipplek en herstel die gesprek.  Die gesprek gaan voort…en het nog nooit opgehou nie.

Is dit moontlik dat in die onkeerbare en uitputtende daaglikse roetine ons die kuiertyd verpas?  As ons ‘n afspraak maak met vriende, word tyd en plek afgespreek.  Ons kuier nie elke dag nie, net op spesiale tye, afsonder-tye, waarvoor ons uitsien en waarvoor ons voorberei.  Dit is ‘n goeie beginsel vir gebed ook.

Maar wat van die tydsaspek wat met die woord gedurig beskryf word?  Sal ons dan met niemand anders behalwe God ooit weer praat nie.  Dit is nie moontlik om met twee mense gelyk te praat nie – hoogstens beurtelings.

Dalk is kommunikasie nie altyd praat nie.  Kommunikasie is ‘n ingesteldheid, ‘n beskikbaarheid, ‘n teenwoordigheid vir spontane gesprek.  In ‘n kantoor, of by die huis is ons teenwoordigheid die sleutel.  Dit is die waarde van iemand naby jou – kollega, familie of gesinslede.  Dit is daardie kort gesprekke van ‘n paar woorde, raad vra, dank uitspreek, kommentaar lewer.

Een van die geleerdes beskryf gebed as ‘n twee-rigting geestelike verhouding waarin ons met God praat maar ook na Hom luister.  Dit is soos ‘n gesprek van ‘n kind met sy pa.  Dit is dood natuurlik om sy pa te vra wat hy nodig het, raad en leiding te vra en dankie te sê vir die wonder van voorsiening en beskerming.

Gedurig? Vier en twintig uur per dag?  Wel, as die Bybel sê sonder ophou, bedoel dit dalk net presies wat die woorde beteken.  Inderdaad, die heeltyd, sonder onderbreking.

Gebed is nie altyd ‘n gesprek nie.  In die definisie hierbo is dit ‘n twee-rigting geestelike verhouding.  Ouers praat nie onophoudelik met elke kind nie, maar die kinders woon in die ouerhuis en is sonder ophou bewus van die beskikbaarheid en toegang tot hulle ouers.  

Net so woon ons in die Teenwoordigheid van ons hemelse Pa.  Ons praat nie altyd nie, maar leef in bewustheid van die beskikbaarheid – sonder onderbreking – van die Raadsman, Ewige Vader, wonderlike Redder wat ons in elke oomblik van die dag kan raadpleeg.  Ons kan vra, dankie sê, bewondering uitspreek en so, sonder ophou, ‘n hele bestaan in  kommunikasie met die Allerhoogste God voer – wat ‘n voorreg!

Bid ons soos ons dink oor dinge?  Dit is ‘n goeie beginpunt vir onophoudelike gebed.  Dit is ‘n dissipline wat inskop en triomfantelik seëvier oor elke vrees-gedagte, woede wat uitbars, bitterheid wat opwel en weer jou hart verwond, mense wat frustreer – elke boosheid van ons dag.  Dit is die wonder van ‘n skietgebed – Nehemia se geheime wapen teen sy vyand in sy grootse taak om die muur van Jerusalem te herbou.

Andrew Murray sê daar bestaan nie so iets soos onbeantwoorde gebed nie.  Jesus sê:

“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.  (Matteus 7:7,8)

Beteken hierdie wonder-woorde van Jesus nie dalk net wat daar staan nie?

Kom gesels – enige tyd, altyd, al die tyd.


Lewer kommentaar