Die ouer mense in ons lewe het net ‘n manier gehad om iets te sê. As my ouma my geroep het en ek antwoord met ‘n vae: Ek kom nou, dan sê sy: Ja, en Krismis ôk!
Ons is al weer daar. Krismis kom inderdaad. November spoed verby in ‘n warboel van aktiwiteite om die jaar af te sluit en dan is Desember op ons. Soos altyd, is dit ons uitdaging om die ware inhoud van hierdie heerlike Christus-fees wat lustig deur ‘n goddelose wêreld saamgevier word, te verskaf. As ons nie met intensionaliteit die Feestyd benader nie, kan ons ook dalk verval in al die, meestal kosbare, tradisies en rituele, sonder om die fokus van ons eie hart te bepaal.
As ons dink aan Kersfees dan dink ons noodwendig familie, vakansie en lekker kos. Ons het elkeen ons eie besondere manier om Kersfees te vier. Dis vir my ‘n gunsteling tyd van die jaar. Kuns- en handwerk-uitstallings, winkelvensters, Kersmarkte en mooi musiek omring my en ek geniet die kreatiwiteit en skoonheid van ons mensdom, te midde van donker en gewelddadige nuus en onbeskryflike menslike lyding.
In werklikheid kan die lewe van Jesus nie in kompartemente verdeel word nie. Elke Kersfees vier ons nie net die geboorte van Jesus nie, maar die volle impak van Sy persoon op ons wêreld. Niemand kan dit ignoreer nie. Die Kruis van Jesus staan stewig vasgeplant oor die tydlyn wat ons eeue verdeel, of mens nou moderne name soos Algemene Era gebruik of die meer bekende, voor Christus en na Christus. Dit is juis Sy dood wat die viering van Sy geboorte moontlik maak.
In die duisternis van ‘n wrede oorlog in Europa en die skokkende nuus uit die Midde-Ooste, vier ons die Fees van Lig en Lewe en besef weer hoe kosbaar is ‘n mens se lewe in die diepe betekenis van die Advent-woorde – Hoop, Vrede, Vreugde en Liefde. Dit is die volheid van God in ‘n mens kort opgesom.
‘n Ronde duisend jaar voor Jesus se geboorte het Dawid die wonder van God in die mens wat Jesus was, beskryf:
Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig. (Psalm 36:10, OAB)
Jesus het baie gesê oor die oog. Die manier waarop ons na die lewe kyk bepaal ons hele lewenshouding. Hier is die sleutel van ‘n blik op die lewe sodat ons die ware lewe kan ervaar:
Jou oog is ’n lamp vir jou liggaam. ’n Suiwer oog laat die lig instroom sodat jou binneste geheel en al lig word. 23Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker. As die lig wat jy gedink het jy het, in werklikheid donkerte is, hoe pikswart is jou donker dan nie! (Matteus 6:22,23, NLV)
Dit is met die regte manier van kyk dat ons Jesus werklik sal sien as die Fontein van Lewe, ware lewe en die Lig waarin ons uitkyk verlig sal wees. Daar is egter baie dinge wat so ‘n lewenshouding vertroebel.
Een daarvan is klagtes. ‘n Goeie ou Afrikaanse woord is murmurering. Daar is ‘n wysie in die woord wat mens die gekerm en gekla laat “hoor”. Een prediker het dit vir my op ‘n manier verduidelik dat ek nooit sal vergeet hoe disrespekvol en vol rebellie ‘n houding van ontevredenheid voor die Here kan wees.
Doen alles sonder kla of teëpraat. Dan sal julle as onberispelike kinders van God bo verdenking staan. Julle sal skoon lewe in ’n wêreld vol oneerlike en perverse mense. Skyn in hierdie donker wêreld soos helder sterre, (Filippense 2:14,15)
Na aanleiding van hierdie Skrif het die prediker verduidelik dat as ‘n kind van God kla oor omstandighede of ander mense in sy lewe, hy eintlik sy vinger na God uitsteek en sê: Ek hou nie van wat jy, God, in my lewe doen nie en as ek God was sou ek dit anders gedoen het.
Dit was geweldig om sulke weerspannigheid in woorde te hoor. Dit het die essensie van onvergenoegdheid vasgevang. Sulke rebellie word in die Bybel met heksery gelyk gestel.
Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery;
eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. (1 Samuel 15:23)
Ons weet almal self-bejammering lei tot slegte besluite. Dit is die oomblik wat ek self op die troon van my hart gaan sit en ander se optrede slegs in die lig van eie belang interpreteer.
Daar is net een remedie vir self-bejammering en rebellie wat uit onvergenoegdheid voortspruit en dit is dankbaarheid. Dit is nie net ‘n dankgebed vir nou en dan nie – veel eerder ‘n lewenstyl van dankbaarheid. Hoe sal ons onthou?
Die Woord is ons swaard teen die aanval van ons vyand. Aanbidding en lof is ons bedekking en veilige hawe teen daardie verterende vuur van aanstoot en ontevredenheid in ons binneste.
Kersfees met al sy uitdagings, plaas ons dikwels in ‘n posisie van hartseer en verlange – geliefdes wat ver is, geld tekort, struweling en stryd met familie of vriende, siekte en swakheid en ‘n rits ander dinge wat elkeen kan opnoem wat “verkeerd” is.
Kan ons ons oog ophef en die gebed van die blinde man bid: Here, laat ek kan sien? Dan alleen sal ons Jesus “sien” as die Fontein van lewe en die Lig waarin ons ware lig sien sodat die duisternis in ons oorwin word.
Uit die Amplified Bible as toerusting vir ons tyd:
Let your character or moral disposition be free from love of money [including greed, avarice, lust, and craving for earthly possessions] and be satisfied with your present [circumstances and with what you have]; for He [God] Himself has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. [I will] not, [I will] not, [I will] not in any degree leave you helpless nor forsake nor let [you] down (relax My hold on you)! [Assuredly not!]
6 So we take comfort and are encouraged and confidently and boldly say, The Lord is my Helper; I will not be seized with alarm [I will not fear or dread or be terrified]. What can man do to me? (Hebrews 13:5.6)