In my opvoeding en vormingsjare het ek stadig en seker verlief geraak op Europa en alles wat daarmee saamgaan – lewenstyl, kos en tuinmaak, huis en haard met al die pragtige materiaal en meubels, koffie in snoesige caffés, tee in fyn koppies en teepotte met musse wat die teepot insuleer sodat een van die rituele wat die kreatiwiteit en uitnemendheid van ‘n ganse kultuur van die Westerse wêreld vier, uitgerek word na ‘n tweede en selfs derde koppie. Ek wou meer weet, meer ervaar en die enigste manier waarop dit kon gebeur, was om dáár te wees – in die middel van dit alles – in die middel van Europa self. Dit was ‘n lewensdoel – iets waarvoor geld en tyd opgeoffer moes word.
Ek skryf uit die leefkamer van ‘n woonstel in die middel van Rome, Italië. By die venster kyk ek uit op verskeie terras- en daktuine met olyfbome in terracotta-potte, tuimelende bougainvilleas in helder kleure tussen kamperfoelie (“honeysuckle”) wat uitbundig by geute oprank en ‘n heerlike geur by die venster inwaai. Die mure is ligpienk, bruin-pienk, mosterd-geel, donker geel, lig bruinrooi, bruin ligrooi en al die omgekeerde moontlike kleur-kombinasies van die son en ruïnes in ‘n antieke Italiaanse stad. Tussen die verf wat gemaklik bars en die pleister wat plek-plek afval, is daar verrassende fyn verfwerk om die vensterrame wat ‘n reliëf-effek met tromp l’oeil-afronding bewerk. Ek vergaap my aan die ou stad, wat kreun onder die voete van honger toeriste wat die beperkings van grendel-reëls in die pandemie met passie en determinasie weg-trap.
Dis warm. Die son skyn verblindend. Die strate is vuilerig omdat die afgelope staking van vuilgoed-verwyderaars net onlangs opgelos is. Hier en daar sien mens die opruim-werk wat die oorhand begin kry.
Ek het die voorreg om saam met my hele familie – drie seuns, twee skoondogters en twee kleinkinders ‘n hele twee weke in Rome te spandeer. Dit is die droom-vakansie. Almal doen hulle eie ding, maar kom dan bymekaar vir saameet en kuier. Die twee jongstes reis hier en daar – noord per trein na Florence, Siena en Pisa en dan suid per boot om die Amalfi-kus. Ons verken die stad – weer. ‘n Neef uit Engeland en sy vrou sluit by ons aan vir die laaste naweek net om die feestyd op ‘n hoogtepunt af te sluit.
My verhouding met Rome het amper veertig jaar gelede begin.
As deel van my nagraadse studie, het ek ‘n tyd in Nederland deurgebring. In die middel van die verblyf het ek en my man ‘n reis per trein deur ‘n paar Europese stede beplan. Kersfees in Zürich – ons eerste wit Kersfees, Nuwejaar in Lugano in die Italiaanse kanton van Switserland waar ons die stiptelikheid en netheid van die Switsers in kombinasie met die styl en kos van die Italianers kon geniet.
Toe af na Rome om ‘n afspraak vir my man se nagraadse studie na te kom. Die eerste deel van ons reis in die winter van 1984/5 was nie te vreeslik koud nie, maar soos ons nader aan Januarie gekom het, het die kwik geval. Rome was verrassend snerpend. Ons het gestap en bus gery, in snoesige restaurantjies gesit en oor verlate piazzas gedrentel. Die tweede dag in Rome het dit begin sneeu – vir die eerste maal in dertig jaar. Soos ons reeds in Switserland ervaar het, was die sneeu in die winter deel van die landskap en almal en alles was daarop ingestel. Lewe en werk het onbelemmerd voortgegaan.
Nie in Rome nie.
Die kruisings was swart-bruin poele gesmelte sneeu wat soos ‘n wafferse modder-plaasdrif in reënseisoen gelyk het. Ons het die hotel verlaat en stasie toe aangestryk vir ons geskeduleerde vertrek uit Rome vir nog ‘n afspraak in Keulen, Duitsland. Die sypaadjies was ‘n skaatsbaan en ek het hard op my tas gesteun om nie te gly nie. By die stasie was dit chaos. Daar het ons verneem dat geen trein gaan vertrek nie. Die treindiens is gestaak want die wisselaars was vasgevries – in die noorde van Europa word die wisselaars verhit.
Ons is toe terug hotel toe vir een nag. Die volgende dag het ek met die bagasie in die hotel se voorportaal bly sit, sodat my man stasie kon loop en uitvind of daar enige hoop op ‘n nuwe bespreking is. Hy het lank weggebly. Die tou by die passasierskantoor was ‘n dik bondel mense wat druk en stamp en stoot tot by ‘n gekontroleerde deur wat net een persoon toelaat. Dit was weer ‘n groot fiasko van onbevredigende antwoorde in gebroke Engels.
Ons het weer vir die nag in die hotel gebly. Die concierge was ‘n vriendelike, ouerige man met beperkte Engels en het op alles met ‘n reeks si, si, si, si geantwoord – die spreekwoordelike Italiaanse ja-broer. Ons was baie bekommerd. Daar was geen manier wat ons kon uit nie. Die lughawe was toe en die treine vas.
Ons het maar weer ‘n draai deur Rome gestap. By die wonderskone Trevi-fontein, waar mens veronderstel is om ‘n munt oor die skouer te gooi sodat jy na Rome kan terugkeer, het my man gaan staan vir ‘n foto met sy duim afwaarts gedraai om sy misnoeë met ons situasie te wys.
Die aand het ons saam gebid. Ons reis sover was absoluut wonderlik, veral ons Nuwejaar in Lugano, waar ons in ‘n pragtige kamer van die Katolieke kerk se reeks alkohol-vrye hotelle gebly het en die jaar saam aan die Here opgedra het. Dit was die eerste Nuwejaar na ons troue en toe ons die vuurwerke hoor en sien, het ons gebid – vir onsself en al ons dierbares. Dit was ‘n natuurlike uitvloeisel van ‘n opvoeding van ‘n Oujaarsaand-ete gevolg deur ‘n middernagdiens in die kerk.
In die kamer in Rome het ons die probleem met geen sigbare uitkoms aan die Here opgedra. Die volgende dag het my man uit die hotel uitgeloop met ‘n huppel in sy stap en ‘n uur of wat later teruggekom met twee kaartjies in ‘n slaap-kajuit vir die aand. Hulle het verwag dat die treine weer sou begin loop teen die middag se kant.
Ons kon daardie aand op die trein klim vir ‘n 24-uur rit na Keulen. In die kajuit saam met ons was ‘n vriendelike Italiaanse familie. Ons het water, lemoensap en toebroodjies ingepak omdat ons geweet het die trein vol sou wees. Ons het nie die eetwa se kapasiteit vertrou nie.
Die trein was propvol. Mense het in die gangetjies geslaap. Op ‘n stadium het ek besluit om op te hou drink, want dit het onmoontlik geword om by ‘n toilet uit te kom. Die Italianers het ons gehelp om die beddens op te slaan en ons kon heerlik slaap. Ek het in die nag wakker geword en die gordyntjie weggestoot. Ons was op ‘n stasie in Switserland. Dit het gesneeu, maar alles was skoon en netjies. Die maan het helder op die wit landskap geskyn – ‘n sprokiestoneel.
Dit het vir ons ‘n besondere “kode” geword – ‘n “Rome-dag”. Dit was ons manier om te sê hier is uitkoms, waar dit nie so gelyk het nie.
Die afspraak in Rome daardie Januarie het aanleiding gegee dat my man genooi is vir ‘n konferensie van die VN in… Rome. In April 1987 het ons ‘n hele twee weke in Rome deurgebring. Ek kon die stad verken, terwyl hy gewerk het. Ons het die naweek ‘n kar gehuur en na die Amalfi-kus gery waar ons twee nagte in Positano oorgebly het. Ons het weer die Trevi-fontein besoek – hierdie keer met ‘n glimlag, maar geen munte oor die skouer nie.
In 2015 is ons oudste seun in ons huis met ‘n Italiaanse meisie getroud – ‘n siviele seremonie want dit is die Europese manier. Sy het haar studies klaargemaak en begin werk in Washington DC. Haar droom was om die kerk-troue in Rome te hou. In Junie 2016 het ons gesin, verskeie lede van die groter familie en selfs ‘n paar vriende in ‘n fabelagtige mooi kerk – St Ignatius de Loyola, die stigter van die Jesuïete – die prag-troue meegemaak. Sjampanje en versnaperinge op die kleiner piazza voor die kerk, voordat ons ‘n kort entjie na die hotel waar die onthaal was, kon stap. Die gaste het deur die strate geloop, en vertoef by een van die bekendste landmerke in Rome – die Trevi-fontein – wat nou al sentraal in ons herinneringe gestaan het.
Wat ‘n feesdag was ons “Rome-dag” met ‘n vreugdevolle troue – ‘n uitsonderlike seën wat ons met groot dankbaarheid uit die Here se hand ontvang het.
Sewe jaar later, 2023, kondig ons skoondogter aan dat sy ‘n sabbatsreis in Italië gaan deurbring – ‘n tyd in Rome vir navorsing en dan ‘n vakansie by haar ouers in die suide. Dit was ‘n geleentheid om die vakansie te reël wat ons dikwels oor gedroom het – Italië met al sy sjarme en styl.
Ons het gedink, gebid, beplan en bespreek. Die kaartjies was gunstig, met die bykomende bonus dat dit ‘n tien-uur direkte vlug uit ons tuisdorp sou wees.
Die tyd het nadergekom.
Die weke voor die reis was ek besig. Pinkster is vir my ‘n belangrike Christen-fees en ek het in die groepe wat ek op Zoom en in persoon elke week ontmoet, spesiale klem op die fees van krag gelê.
Die week voor ons reis het die lugdiens se loodse ‘n staking aangekondig met die dreigement dat vlugte gekanselleer gaan word, presies op die tyd wanneer ons vlug geskeduleer is. Ek was baie besig en het net vlugtig van die nuus kennis geneem.
Dinsdagoggend het ek voorberei vir ‘n groep waar ek die laaste sessie van drie as gasspreker sou praat. Omdat dit verkiesing in ons provinsie is, het ek in Handelinge 23 die vers gesoek wat sê mens moenie jou leiers beledig nie. Die klem van die studie was op die Koninkryk van God. As ons onsself in die politiek begewe met woede en frustrasie, leef ons nie die vryheid wat God bedoel het nie. Ons verhewe lewe word vir ons uitgespel in die beloftes van die Woord wat die inhoud van ons toekoms is. Ons moet verantwoordelike, biddende burgers wees. Lees maar vers 5.
Met my Bybel oop het my oog op vers 11 geval.
Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen.
Ek was ingenome met die feit dat ek Rome in die Bybel raak lees, maar het sterk gevoel om weer te lees. Ek het dadelik gebid en my bereidwilligheid aan die Here verklaar om vir hom te “getuig”. Miskien was Rome nie net vir my eie plesier en vakansie nie. Ek sou graag wou doen wat God beplan.
Net na die Bybelstudie-sessie, het die vrouens vertel van die staking. Ek het ook ‘n boodskap van my man gekry dat ek hom moet bel. Toe ek bel, was hy bekommerd oor die woonstel-bespreking waarvan die geld die volgende dag middernag sou deurgaan en dan nie-terugbetaalbaar word. Ek het aan hom genoem dat ek die Skrif in Handelinge gekry het. Ek was oortuig dat ons vlug sou voortgaan – net op grond van die Woord wat ek gelees het. Hy het dit onmiddellik aanvaar en gesê ons gaan voort.
In die kar oppad na ‘n verjaardagete het ek dit aan ‘n vriendin genoem. Sy was onmiddellik positief en het my geloof aangemoedig. Die volgende dag het die woonstel-geld deurgegaan. Ons was vas.
Soos gewoonlik as ek ‘n kragtige vers raak lees, lees ek die hele hoofstuk. Handelinge 23 vertel van ‘n sameswering van 40 Jode wat gesweer het om nie te eet of te drink voordat hulle Paulus doodgemaak het nie. Sy suster se seun het die Romeinse bevelvoerder van die komplot vertel en so is Paulus onder die beskerming van ‘n klein weermag (400 soldate en 70 ruiters!) na Caesarea geneem. Paulus self het ‘n perd gekry om op te ry.
Die staking het vir my soos ‘n sameswering teen my gevoel. Ek het die Here gevra vir ‘n oplossing en beskerming teen verlies.
Twee dae later het die lugdiens 111 vlugte gekanselleer. Dieselfde vriendin het my gebel en gesê sy “gee” vir my Hebreërs 11:1 – ook drie eens langs mekaar.
Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Haar geloof en aanmoediging was kragtig. Ons het bly vashou. Die volgende oggend is die nuus aangekondig dat die lugdiens en loodse tot ‘n vergelyk gekom het en alle vlugte voortgaan soos geskeduleer.
Ons vlug was op tyd en het effens vroeg in Rome geland. Die son het bloedrooi oor Groenland opgekom.
Hier is ek weer in Rome – op die vleuels van ‘n getuienis van uitkoms en geloof. Elke dag is ‘n “Rome-dag”.