Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van •Christus Jesus. (Filippense 1:4-6)
Ons gaan voort met ons klein reeksie oor vas as geestelike dissipline. Dit is ‘n uitnodiging om fees te vier om die bruidstafel van die Allerhoogste.
Soos ons in die eerste sessie gesê het, wil ons soos Jesus wees. Dit is ons normale Christelike lewensdoel – daagliks – nie af en toe nie. Jesus is ons voorbeeld in alles.
Julle is immers hiertoe geroep, want •Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg. (1 Petrus 2:21)
‘n Dissipel is nie belangriker as sy leermeester nie; maar as hy sy opleiding voltooi het, sal hy sy leermeester se gelyke wees. (Lukas 6:40)
Jesus het gesê Hy sal ons openlik beloon.
‘n Voorbeeld hiervan was die lewe van Daniel. Daniel het vier regeringsveranderings oorleef – ‘n absolute wonder in die antieke wêreld. Dat hy in die hoogste range van vier keisers kon dien, so goddeloos en wreed as wat hulle kom, sonder enige oorweging vir enigiets of enigiemand anders as hulself, kan slegs toegeskryf word aan God se hand en voorsiening om Sy wil deur Daniël se teenwoordigheid in die paleis te volvoer.
Hoekom het daardie magsmaniakke nie net Daniel geduld nie, maar hom naby gehou, so naby, dat hy op kits-basis kon raadgee.
Sy wysheid was welbekend. Hy het bonatuurlike insig getoon EN was nie bang om dit te kommunikeer nie. Sommige geleerdes is van mening dat die meeste mense bewus was van die betekenis van die woorde op die muur van die Belshazzar se fees, maar daar was nie een wat die moed gehad het om dit te sê nie, want hulle het geweet dit sou die einde van hul lewe beteken. Om die boodskapper te moor, was ‘n maklike vertoning van absolute mag en totale minagting van lewe. (Daniël 5)
Belshazzar was baie ontsteld en kon geen oplossing vind nie. Hy is in sy toestand van depressie heeltemal verneder (5:9), so erg dat hy na sy koningin geluister het, wat voorgestel het, dat hy Daniel raadpleeg, wat duidelik nie by die fees teenwoordig was nie. Die agtergrond van die koningin se kennis oor Daniël, was Nebukadneser se getuienis van die wysheid wat Daniël tydens sy bewind getoon het.
Belshazzar verwoord Daniel se reputasie in sy groet:
Ek het van jou gehoor, dat die gees van die gode in jou is, en dat helder insig en buitengewone wysheid in jou gevind is. (5:14)
In die eerste hoofstuk van Daniël lees ons:
Daniël was egter vas van voorneme dat hy homself nie sou besoedel met die koning se kos en die wyn wat die koning gedrink het nie. Hy het toe die toesighouer oor die paleisamptenare vergunning gevra dat hy homself nie hoef te besoedel nie. (1:8)
Daniel moes baie jonk gewees het toe hy die verskriklike, wrede beleg van Jerusalem gesien het met ‘n ondenkbare nederlaag daarna, sy mense in ballingskap geneem in ‘n toestand van slawerny, sy koning se oë uitgesteek en sy land vernietig. Maar, hy was reeds in die weë van sy God opgevoed en was baie bewus daarvan om nie deel te neem aan die uitlokkende prag en praal wat hom in Babilon aangebied is nie.
Babilon was baie gevorderd en moes ‘n groot kontras gewees het in argitektuur, onderrig, instellings en luuksheid. Daniel het die beste geneem, sonder om homself te “ontheilig” met al die koning se lekkernye – ‘n les in ‘n leefstyl van vas.
Later in hoofstuk 10 was hy op ‘n ernstige vas om die antwoord op sy gebed te vind en daarmee het sy ernstige en kragtige gebed en vas dissipline die vastrapplek van die Prins van Persië gebreek, wat die boodskapper wat God gestuur het om met Daniël te praat, verhinder het. Geen wyn, geen brood of keur-vleis vir drie weke – ‘n Bybelse gids om jou vas te kies. Dit was vir Daniel baie duidelik dat sy roetine onderbreek moes word vir spesiale insig en gebed-waaksaamheid. Hy het gekies wat om te eet en nie te eet nie. Hy bid oor die einde van die ballingskap en met gebed en vas maak hy die pad vir die eerste ballinge om na Jerusalem terug te keer en die stad, Tempel en stadsmuur weer op te bou. (Ezra en Nehemia)
Kos is ‘n seën. Om sonder kos te wees is ‘n pad na die dood, daar is geen twyfel daaroor nie. Die lewe is ‘n konstante stryd om gevoed en gesond te bly en soos ons weet uit ons moderne medisyne en nuwe navorsing, is dit onder andere kos wat ons siek maak. Moderne geïndustrialiseerde voedselproduksie is een van die oorsake – baie vinnig, baie gerieflik en selfs baie lekker – suiker en ander aanvullings word bygevoeg om dit te laat verkoop. Geld, soos oral, speel ‘n groot rol in voedselvoorsiening regoor die wêreld.
Vir sommige mense is kos ‘n afgod. Trots en voorgee omring eetgewoontes regoor die wêreld. Terselfdertyd leef miljoene mense met daaglikse honger en vrees vir die dood wat dit mag bring. Voedsel-sekuriteit is ‘n groot seën en behoort ‘n bron van dankbaarheid teenoor God te wees wat voorsien.
In ons wêreld is voedselveiligheid ‘n gegewe en die meeste mense neem dit as vanselfsprekend aan. Die probleem is die teenoorgestelde van honger – eerder vraatsug of grade daarvan. Honger word maklik en vinnig gestil. Sommige leef in vrees vir die gevoel van honger. Die drang om te eet, is oorheersend.
Dit is die eerste hindernis in die geestelike dissipline van vas.
God het al die voorsiening vir voeding in die Tuin van Eden gegee. Elke boom was aangenaam om te sien en goed vir kos. (Genesis 2:8-9; 16-17)
Om te eet is om gevul te wees met. Dit is hoekom ons die Nagmaal eet en drink – simbolies van die liggaam en bloed van Christus. In elke happie verklaar ons dat ons met Christus gevul is.
Jesus het die Nagmaal NA ‘n ete ingestel – die gewone Pasga-ete. Terwyl hy dit gedoen het, het Hy vir ons gesê: Onthou My!
Ons doen dit in ‘n eenvoudige daaglikse ritueel. Ons “onthou” Jesus wanneer ons oor die tafel bid tydens etes. Ons gebruik dikwels ‘n bietjie rym, iemand anders se poging, om ‘n dankie te sê omdat dit is wat ons moet doen.
Wat sou anders wees as ons Jesus werklik by elke ete onthou? Sou ons gewoontes verander? Sou die ete anders gemaak en geniet word?
As ons glo wat ons bely om te glo, behoort die antwoord op al bogenoemde ‘n klinkende JA te wees. Dit is ‘n goeie beginpunt om Jesus met elke maaltyd te verbind – ‘n hart-, brein- en maag-verbinding wat baie waardevol is.
Dit is die uitdaging vir ons maaltyd-gebede. Maak dit ‘n tyd om Jesus te onthou.