328.  Nou al in die hemel

Dink net!  Dit is eintlik die diepste begeerte van elke volgeling van Jesus.  Sê dit vir ‘n kind en in die opregtheid van onskuldige opgewondenheid sal hulle dadelik instem.  Kom ons gaan! Hemel toe! Waar is dit en hoe sal ons daar kom?  Dan is die entoesiasme skielik gedemp, want die hemel, waar God is, Sy woonplek, is seker ver in die heelal en ons het nog nie ruimtetuie wat ons soontoe kan neem nie. God is daar doer in ‘n hemelse paleis so onbereikbaar soos die verste planete van die verste sonnestelsels.

Dis nie waar nie! Die Bybel skets ‘n hele ander prentjie.  God is naby, toeganklik, bereikbaar, net ‘n uitroep ver weg en dan… is Hy net hier by my, teenwoordig in my naglied, die huisvriend in my eensaamheid en die koning in my “kerk” van aanbidding.

Die wonderbeeld van Jesus wat Johannes in Openbaring 1 beskryf is majestueus, asembenewend en uniek.  Dis ‘n droombeeld vol simboliek. Die eienskappe van ‘n bonatuurlike figuur word aan die mens gekommunikeer.  Die volheid van die godheid van Jesus is in ‘n “prentjie” beskikbaar sodat alles wat Hy is in een oogopslag duidelik is.

Dit is groots en anders.  Johannes sê hy was in die gees toe hy dit gesien het.  Waar was hy?  In die krag van die Heilige Gees het hy die onsienlike binnegegaan en die hemel gesien.  Waar is dit?  Net hier naby, hier by ons.  Dit is wat ons nie kan sien nie.  Dit is die plek wat Jesus gaan voorberei het.  Hy het dit belowe voor die Kruisiging.

In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. (Johannes 14:2)

Na die dood en opstanding van Jesus verander als.  Die woonplek van God is nou by die mense. 

Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. (Openbaring 21:3)

3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” (Johannes 14:3,4)

Jesus verduidelik vir die dissipels dat wie hom gesien het die Vader ook ken.  Hy praat van die woonplek by die Vader en die feit dat ons die Vader sien.  Hierdie woorde is alles gepraat voor sy dood en opstanding.

As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

In die eerste hoofstuk van Openbaring “sien” Johannes Jesus staan tussen die Kandelare.  Die Lampstaander of Kandelaar is ‘n bekende beeld in die Heilige Plek van die Tabernakel.  Johannes self verklaar sy beeld in 1:20.  Die Kandelare is die kerke – die sewe gemeentes wat simbolies is van die hele kerk.  Sewe is die getal van volmaaktheid en volledigheid. 

Hy verklaar ook die sewe sterre wat hy in Jesus se hand sien.  Dit is die engele van die sewe gemeentes.  Hoekom sou die engele met sterre gesimboliseer word?  Is hulle so majestueus dat Johannes hulle nie sou kon beskryf nie?  Tog praat hy later in Openbaring met die engel wat so wonderbaar in voorkoms is, dat Johannes wil neerval en hom aanbid.  Die engel keer hom en noem ‘n mededienaar.  (Openbaring 22:8)

Daar het onder sommige Jode bygelowe ontstaan met betrekking tot die sterre.  Die sterre is met engele geassosieer en meer en meer uitvoerende magte is aan die engele as hemelwesens toegeken.  Dit kon ‘n dwaling meebring want reeds in Jesaja waarsku God teen die toerekening van goddelike mag aan die sterre.

Jy sloof jou af met jou baie planne.

Laat hulle maar aantree en jou verlos – die sterrewiggelaars,

die sterrekykers wat elke maand bekend maak wat jou gaan oorkom.  (Jesaja 47:13, Afr20)

Die ster as die simbool van ‘n engel is in lyn met ander interpretasies van die leraar en beskermer van ‘n kerk. 

Die verstandiges sal skyn soos die glans van die hemelkoepel, en hulle wat baie gelei het tot regverdige optrede, sal skyn soos die sterre –

vir altyd en altyd.  (Daniël 12:3)

Judas (1:12, 13) praat van dwaalsterre in verband met diegene wat afdwaal en in selfsug die ware missie van die Kerk van Jesus verraai.  

Volgens Openbaring 12:4 het die draak ‘n derde (altyd simbolies van ‘n betekenisvolle minderheid) van die sterre van die hemel saamgesleep en op die aarde neergegooi.  Dit verwys na die val van Lucifer en die rebelse engele wat die mense mislei.

Maar die mees opwindende doel wat engele in die verloop van Openbaring leef, waar hulle, net terloops, baie aktief is, is in die tweede en derde hoofstukke waar God die engel van die gemeente aanspreek.  Mens sou kon wonder hoekom God nie direk met die leraar of ander verteenwoordiger sou praat nie.  Hy praat met die engel van die gemeente.

In die uitspraak van God wat Hy aan die engel van die gemeente kommunikeer, herinner God die kerke dat hulle reeds in ‘n hemelse dimensie leef en daarom met ‘n ander, unieke perspektief in die geestes dispensasie moet leef.  Die kerke word “van bo af” beskou, uit God se oogpunt.

Dink net hoe belangrik hierdie perspektief is.  Dit plaas alles wat op aarde gebeur in ‘n ander lig, interpreteerbaar uit ‘n ander verwysingspunt. Nie net vanuit ‘n “aardling” se oogpunt nie, maar, meer belangrik, uit God se oogpunt.

Die mens is die enigste wese wat saligheid kan ervaar.  Hierdie geweldige, glorieryke ervaring is uitsluitlik vir die mens op aarde.  Geen hemelse wese weet wat saligheid, om deur God nuut gemaak te word, is.  Daarom sê Paulus aan die Efesiërs dat die Kerk die wonders van God aan die hemelse wesens verkondig – goeie en slegte hemelwesens.

Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die Kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word,  (Efesiërs 3:10)

Hoe wonderlik is dit nie?  Om die ryk, geskakeerde wysheid van God aan die ganse heelal – vleeslik en geestelik – te vertoon met ons lewe wat nuutgemaak is deur die Bloed van Jesus – die wonder van saligheid, die opstanding in die liggaam volgens Filippense 3:10,11.

Jesus staan tussen die Kandelare – simbolies van die sewe gemeentes van Openbaring, simbolies van die Kerk en kerke deur al die eeue, die hele geskiedenis.  Jesus is lewend en aktief tussen sy eie, sonder voorkeur oor denominasie of menslike verdeeldheid.

Die sterre, die engele, van die gemeentes bring aan ons God se boodskap van saligheid, belydenis en herstel – al die dinge wat uniek aan die Christendom is.


Lewer kommentaar