Die wêreld waarin ons leef slaag daarin om daagliks die modder van kwansuise moderne sosiale wysheid en politieke stoeiery oor ons te slinger. Met ‘n oorweldigende verskeidenheid inligting in ons hand en byderhand in ‘n sak of handsak, is dit nie moeilik om gou op te dateer en die nuutste verwikkeling te weet nie. Ons het ‘n bad nodig – elke dag – net soos ons skoon bly van die fisiese stof en vuil van die omgewing.
Vir ongelowiges is dit maar die normale verloop van die lewe. Vrees kry ‘n houvas op ‘n gemoed, moedeloosheid en hopeloosheid word ‘n denkpatroon en allerhande behandelings word aangewend om paniek te bedaar.
Ons gelowiges het toegang tot die Arms van ‘n almagtige, liefdevolle God wat ons Pa is en altyd beskikbaar is. Boonop het ons Sy woorde tot ons beskikking in ‘n “biblioteek” vol beloftes wat vrees uitdryf, hoop herstel en die beste vir die toekoms waarborg. In Sy omhelsing praat Hy wonder-woorde van kalmte en rus reguit in ons gemoed uit ons eie gees wat herbore is, nuut gemaak deur die skeppingskrag van die Heilige Gees.
Ons as Koninkrykskinders hanteer saam met die res van die mensdom die gebrokenheid van ons wêreld. Al verskil is ons toegang tot die Bron van alles wat goed en mooi is, wat opbou en nie afbreek nie en wat ons lewe op ‘n diep vlak beskerm in bonatuurlike voorsiening wat belowe word. Ons eie vooropgestelde idees kan goddelike voorsiening verhinder en dis juis op daardie vlak waar ons weer en weer nederig aan die lewenspad waarop ons gelei word, onderwerp, sodat ons leer om God dieper en meer te vertrou. Net die Heilige Gees kan ons oortuig van ons eie gebroke denke en woorde.
Baie jare gelede is ons eerste baba in Duitsland gebore. Soos dit gaan met kindergeboorte was daar ‘n hele reeks nuwe teorieë en filosofieë oor die geboorteproses en babasorg, wat in ‘n reeks voorgeboortelike klasse gekommunikeer word. Een van die oorheersende tendense was ‘n terugkeer na die natuurlike geboorteproses, teen ingryping van ginekoloë en ander spesialiste. Hoewel daar meer as 300 000 babas daagliks wêreldwyd gebore word, meeste van hulle in Afrika en heel moontlik ver van moderne fasiliteite af, hoor mens dikwels van dinge wat by geboorte verkeerd loop.
Dit is juis hierdie gedagtes wat my na die Woord van die Here toe dwing terwyl die tyd nader kom vir die geboorte van ons derde kleinkind, die eersteling van ons jongste seun. Uit die voorgeboortelike klasse hoor ek die “nuwe” denke oor geboorte en babasorg. Dit klink alles wonderlik, meeste nie so nuut nie. Die vriendekring wat saam verwag, deel hulle drome oor die geboorte en berei voor vir water-geboortes en tuis-geboortes onder die toesig van ‘n vroedvrou. Ons kinders besluit om die hospitaal te vertrou indien ingrepe nodig is. In Duitsland het my man die ginekoloog se spesialis-kennis vertrou en hom gemaan om in te gryp en ma en kind se lewe te red, indien nodig.
In my voorbereiding vir die Paasfees in April, lees ek weer Psalm 22. Dawid is belas en bevrees en voel dat God hom verlaat het. Net soos Jesus aan die Kruis, in die oomblik van intense verlatenheid, roep hy uit na juis die God wat hy voel het hom verlaat. Maar ek lees verder en kom by vers 10. My hart bokspring sommer en ek weet die Here ontbloot my weggesteekte vrees.
In die Multi-vertaling Bybel waarin ek lees, word die betekenisvolle alternatief in rooi letters aangehaal.
Want U het my die eerste lewenslig laat sien, (uit die geboortekanaal getrek) en my veilig laat rus aan my moeder se bors.
Soos gewoonlik gryp ek sommer ‘n klomp ander vertalings sodat ek die woorde kan indrink en letterlik vol word van die Woord.
Pragtige Engelse vertalings van hierdie kragtige woorde, dryf die laaste gryntjie ongemak oor die geboorte wat voorlê uit my kop en hart.
Yet you brought me out of the womb;
you made me trust in you, even at my mother’s breast. (NIV)
Yet you brought me safely from my mother’s womb
and led me to trust you at my mother’s breast. (NLT)
Die skoonfamilie arriveer van die Ooskus van Kanada na ‘n vyf-uur vlug en so teen rytyd vir die lughawe – 7nm – laat my skoondogter weet sy ry nie meer saam om haar ouers te gaan haal nie. Sy dink die proses het begin en gaan kyk of sy bietjie rus kan kry, soos wat hulle in die geboorte-klasse aanbeveel is om te doen. Ek verwelkom die familie in die spaarkamer en almal gaan bed toe.
Ek is soos gewoonlik vroeg wakker en vat my foon net voor vieruur in die oggend. Die boodskap staan in goud geskryf: Baba gebore net voor eenuur vannag – mamma en baba doodreg en gesond.
Eers later die dag kom hulle terug van die hospitaal waar hulle die huistoe gaan groenlig kry. Dit is eers toe dat ons hulle keuse van ‘n naam mag weet. Meer nog. Onse meisiekind is by die huis gebore onder die toesig van twee vroedvroue. Toe hulle teen tienuur die aand die vroedvrou bel en die verloop van die kraam verduidelik, toe is sy besig met twee ander bevallings. Sy bel ‘n kollega wat haar tuisgeboorte-toerusting, net vir ingeval, in haar kar se kis sit. Toe sy by hulle huis arriveer, het sy geweet dis te laat vir die hospitaal. Sy bel toe ‘n kollega en hulle hanteer ‘n heel natuurlike kraam, sonder pynverdowing, net daar in ons kinders se huisie.
Antwoord op gebed! Tuisgeboorte-toerusting byderhand sonder vooraf waarskuwing. Kan ek dalk my verbeelding laat gaan en die hele proses in die onsienlike realm “sien”? Engele onder opdrag wat die voetstappe rig van almal wat betrokke is. Besluite in die hemel geneem onder die gesag van die Woord van God.
Kan toeval, geluk of lot ooit my woordeskat binnedring? Nooit, maar nooit! Eerder wonderwerke, guns en Woordkrag is my “verduideliking” vir groot genade en oneindige dankbaarheid.
Terwyl ons wag dat hulle met kleinste huis toe kom, is my Verse of the Day:
U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. (Psalm 139:13,14)
Net om seker te maak die wonderwerk word verder onderstreep om nooit vergete te raak nie, is die volgende dag se Verse of the Day:
Soos wat jy nie weet watter weg die gees volg in die gebeente
binne die buik van ‘n swanger vrou nie,
net so ken jy nie die werk van God wat alles doen nie. (Prediker 11:5, Afr20)
Ek sit en skryf met ‘n arm vol baba. Ek doen die oggendskof… soos gewoonlik.