Kom ons begin by die begin. Ja werklik: In die begin het God die hemel en aarde gemaak – daardie begin. Dit is die begin van alles en sonder dit kan ons God nie ken nie. Mense weet gewoonlik dat God die aarde in ses dae gemaak het en die sewende dag gerus het. Dis ‘n wonderlike storie. God praat die Skepping in bestaan in sodat die hele projek ‘n lewe van sy eie kry en begin produseer, dupliseer en manifesteer.
Dink net aan die wonder van grond en wat dit aan die mensdom gee. Dit is so van die begin af. Op die derde dag het God die waters versamel sodat droë grond sigbaar geword het. Die grond het ‘n lewe van sy eie gehad want God spreek die potensiaal van grond uit sodat die aarde begin voortbring. Die grond het lewe laat uitspruit.
Toe het God gesê: “Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.”
So het dit gebeur.
Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. 13Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag. (Genesis 1:11-13)
God het ‘n tuin geplant sodat die prag van die Skepping in die wonder van die mens weerkaats kon word. Die mens het die Skepping in al sy glorie beleef, as die kroon daarvan. In die afronding van die Skepping op die sesde dag met die skepping van die mens het God die tydelike en die ewige verbind met ‘n spesiale dag – ‘n dag sonder einde.
Die sewende dag was ‘n rusdag, die mens se eerste dag. Daar was geen aand en môre ná die aanbreek van die sewende dag nie. Dit was bedoel as die ewige rus van God waarin die mens moes leef. Die tydelike van die Skepping wat in ses dae afgemeet is, is verbind met die ewige rus – die aardse met die hemelse in ewige verbinding, ewige konneksie, die Sabbat.
In so ‘n wonder-geleentheid is ‘n patroon gevestig, ‘n patroon van kommunikasie – letterlik ‘n aandpraatjie. In die koeligheid van die aandwind het God kom gesels. In daardie gesprek is die karakter van die Bron van alle goedheid en skoonheid openbaar in die volle glorie van die Teenwoordigheid van die Almagtige Skepper-God. Jesaja sing daarvan:
Weet jy dit nie? Het jy dit nie gehoor nie?
‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde.
Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie –
ondeurgrondelik is sy insig. (40:28)
Die gesprek wat daar begin het, het nog nooit oor al die eeue opgehou – nie eers in die donderende, oorverdowende, lewensveranderende, skepping-vernietigende omstandighede toe die mens homself as God verhef en self die troon van kennis van goed en kwaad bestyg.
Skielik moes die mens wegkruip omdat die kennis en ervaring van waarheid en glorie nooit met sonde vermeng nie, maar… nie buite hoorafstand nie. Geen sonde kan ooit die roepstem van God verdoof nie. Dit is die woorde wat oor al die eeue, oor alle mense weerklink:
Adam, waar is jy?
Dit is die essensie van die Christelike geloof. Ons het ‘n God wat ons soek en roep. Die Christendom gaan alles oor ons Skepper-God wat ons terug nooi in die prag en rus van die Tuin, in Sy Sabbatsrus sonder vrees en woede.
Die Skepper-God se grootse Plan van Redding was reeds in plek. Die Verbond wat Hy met homself maak, terwyl Abraham slaap, bring ons terug in die rus. Dit gaan nie oor ons misrabele pogings om ‘n groot en heilige God tevrede te stel nie. Dit gaan oor God en God alleen, Sy liefde, Sy toenadering en Sy plan. Die Verbond kom voor die Wet – Abraham voor Moses. In die Wet openbaar God sy karakter, binne die Verbondsverhouding wat deur Hom onderhou en behou word.
Oor die eeue wat volg word die priesters, profete en konings opgeroep om die Sabbat te herstel. Die sleutel tot die Sabbatsrus is die gesprek van die aandkoelte. Weer sing Jesaja:
As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is,
sal julle julle aan ryk kos verlustig.
3 Maak julle ore oop en kom na My toe; luister, sodat julle kan leef!
Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit, getrou aan die bestendige liefde vir Dawid. (55:2b en 3)
Dawid – werklik? Dawid met sy onbestendige huis, rebelse kinders, wrede generaals, baie oorlog, bedrog en owerspel – Dawid? Ja, Dawid. Dawid ken die Skepping-gesprek, die Tuin se rus. Dit is Dawid wat sing:
…want ‘n dag in u voorhowe is beter as duisend daarbuite.
Ek wag liewer op die drumpel van die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid. (Psalm 84:11)
Dit is die klimaks van die Sabbat van Versoening, na die Dood en Opstanding van Jesus – die kulminasie van die drievoudige manifestering van die Sabbat – Pinksterdag, die geboorte van die Kerk van Jesus. Die Gesprek van die Tuin is herstel – in ‘n hemelse taal.
Hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos daar geskryf staan:
16“ ‘Daarna sal Ek terugkom en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal die bouvalle daarvan herbou en dit herstel,
17sodat die res van die mensdom die Here kan soek,
ja, al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is.
So sê die Here, wat hierdie dinge doen’ (Handelinge 15:16,17)
Die herstel van die Gesprek, om in die Sabbatsrus in te gaan, sodat die beste plek op aarde ‘n geheime plekkie by God is sodat ons kan rus in die koelte van die aandwind – die Sabbat van die Skepping, die Verbond en die Versoening.
Dit is genesing. Dit is herstel. Dit is waar die toekoms beslis word.