325.  Soos nog nooit

Nuut het sy eie bekoring.  ‘n Hele proses word ingesluit in die woord nuut.  Nuwe dinge kom met vereistes van tyd, geld, aandag en verwagting.  Nuwe dinge word mooi verpak, of dalk in die geval van ‘n huis, bietjie reggemaak sodat dit darem ‘n gevoel van nuut kan hê.

Daar is twee woorde in Grieks vir nuut.  Neos dui op onlangs of nuut in tyd, maar dit beteken ‘n nuwe weergawe van iets wat van tevore reeds bestaan, soos ‘n nuwe potlood waarvan daar baie voorheen gemaak is.

Kainos aan die ander kant beteken ‘n nuwe soort, totaal anders in aard van enigiets wat voorheen bestaan het.  Dit is die woord wat Paulus gebruik in 2 Korintiërs 5:17.

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. [My beklemtoning]

Net die woord skepping impliseer al iets baie besonders – iets uit niks – ‘n nuwe ding wat niemand ken.  Dit is die soort nuut wat ons is as wedergebore Christene – nuut, oorgemaak en heeltemal uniek.

Hierdie nuutheid is so duidelik in die lewe van Petrus.  Hy is een van die binnekring van Jesus se Twaalf.  Hy is op die Berg van Verheerliking saam met Jesus en ervaar die hemelse, bonatuurlike verskyning van geloofshelde uit die verlede. (Matteus 17:1-13; Markus 9:2-10 en Lukas 9:28-36)  Hy ervaar die openbaringskennis daar by die “poorte van die hel” in Caesarea Filippi, wat oor sy lippe tuimel wanneer hy Jesus as die Christus, die Seun van die Lewende God identifiseer. (Matteus 16:13-20)

Petrus is naby Jesus, naby genoeg om te hoor en te luister.  Jesus waarsku sy dissipels oor die moeilike dae in Jerusalem.  Hy vertel al hoe meer detail van die arrestasie deur die godsdienstige leiers, die Kruis, die verwarring en verwoesting, maar ook die Opstanding en ‘n herontmoeting in Galilea.  Hy haal Sagaria (13:7) aan om aan hulle te kommunikeer dat hulle sal uitmekaar spat as die “herder getref word”.  

Al die waarskuwings “help” nie eintlik dat die dissipels “beter” reageer op die oorweldigende en vreesaanjaende gebeure wat met Jesus se inhegtenisname in die Tuin van Getsemanè begin.

Petrus is egter baie braaf.  Hoewel hy hom aanvanklik uit die voete maak, vind ons hom in die binnehof van die Hoë Priester se huis, ‘n omgewing wat hom blootstel as ‘n volgeling van die Man wat daar by die hoogste van die Joodse leiers ondervra word.

Dit is hier, in die hart van die woedende boosheid en haat om Jesus te veroordeel, wat Petrus ontken dat hy Jesus ken.  Na die eerste konfrontasie sou mens dink dat hy liewer sou wegkom, maar hy bly.  Hy val terug tot op die stoep, waar iemand anders hom konfronteer.  Hy sweer dat hy Jesus nie ken nie.  

Twee maal?  Moes Petrus nie besef het dat hy “in gevaar” is nie en dat hy te swak is om die vrae van bediendes te antwoord?  Tog hou sy hart hom naby.  Hy kan eenvoudig homself nie sover kry om weg te gaan nie.  Sy diepe liefde vir Jesus, sy vriend wat in groot moeilikheid is, hou hom vas.

Die derde konfrontasie is die finale nederlaag.  Petrus moes iets gesê het, want hy word op sy aksent uitgeken.  Geen Galileër is toegelaat om die seën in ‘n sinagoge uit te spreek nie, omdat hulle aksent vir ‘n Judese oor so afstootlik was.  Met vloeke en ‘n eed ontken hy sy assosiasie met Jesus.

Die Bybel vertel die waarheid duidelik en eerlik.  Daar word geen skandale weggesteek nie.  Hierdie is ’n verwoestende verloëning, en tog word dit sonder verskoning of versagting neergeskryf.

Matteus volg Markus se feite noukeurig.  Markus bevat selfs nog meer detail (Markus 14:66-72).

Markus is bekend vir sy bron – Petrus self.

Dit is merkwaardig – die verhaal van Petrus se verloëning, vertel deur Petrus self.

Eerder as om hierdie gebeure te onderdruk, het Petrus dit ‘n noodsaaklike deel van die Evangelie gemaak.  Sy getuienis is dat Jesus vergewe.  Hy het Petrus vergewe en Hy het dit gedoen met een kyk van liefde, so volmaak en so vol verlossingskrag, dat Petrus gegroei het tot ‘n grootsheid wat sy vorige oormatige selfvertroue nooit kon voorstel nie.

En toe het die haan gekraai.

Die hanekraai was nie die stem van ‘n voël nie. Die huis van die Hoëpriester was reg in die middel van Jerusalem. ‘n Regulasie in die Joodse wet het dit onwettig gemaak om hoenders in die Heilige Stad aan te hou, weens die risiko van besoedeling.

Die wagwisseling van die Romeinse wagte om 3vm is die hanekraai genoem.  Op daardie uur was daar ‘n trompet in die Kasteel van Antonia geblaas.  Die Latynse woord vir hierdie trompet geskal was gallicinium, wat “hanekraai” beteken.  

‘n Trompet is die simbool van God se stem.  Jesus kyk en Petrus “hoor”.

Die besonderhede van die verhaal vervaag.  Liefde het Petrus moed gegee om te wees waar die ander dissipels nie sou gaan nie.  Hy het die nag in gegaan om te huil, maar die blik van liefde uit die oog van Jesus het hom veilig gehou.  Dit het hom teruggebring na sy broers.  

Dit is liefde wat ‘n menigte sondes bedek.  Petrus skryf dit self. (1 Petrus 4:8)

Dit is, soos ons weet, nie die einde van die verhaal nie.  Die dissipels se ontmoeting met die verrese Christus word in al die Evangelies opgeteken.  Johannes gee ons meer insig.  Jesus ontmoet hulle in Galilea, soos Hy belowe het. 

Johannes skryf oor die wonder-gesprek tydens die strandbraai tussen Jesus en Petrus. (Johannes 21)  Petrus herken Jesus van ver af.  Hy spring uit die boot om hom tegemoet te hardloop.  Wat ‘n heerlike weersiens!  Dink net die skeppingskrag in die innerlike wese van ‘n mens as hy die “mens” wat hy geken het, sien as lewend uit die dood en duidelik die God wat hy geglo het Hy is.  Alle twyfel word uit forseer deur die werklikheid van Jesus daar by hulle.

Dit is die verrese Christus in Petrus wat hom ten volle toerus met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag.  Petrus praat duisende in die Koninkryk in.  Hy “stap” in die voetspore van “sy” Jesus as hy die verlamde by die Tempel oprig. 

Petrus is nuut, soos niks wat nog ooit was nie.  Uit ‘n donker nag van verraad is die skeppingskrag van God se geestelike geboorte so duidelik.  Dit is die krag van ‘n nuwe skepsel in Christus.  

Dis ons.


Lewer kommentaar