321.  Daar is ‘n profeet

Die waarde van ‘n storie kan nooit onderskat word nie.  Soveel van ons is die produk van woorde, gesproke en geskrewe.  Rakke vol boeke en ander mense se gedagtes in klank is die kleur en rykdom van ons lewe.  Goeie herinneringe aan kindwees draai so dikwels om storie-tyd, die goeies en die slegtes, die vrae wat daaruit spruit en daardie spesiale vergenoegdheid aan die einde van ‘n goeie storie. 

Stories het impak.  Skielik is die omgewing anders in die lig van die woorde wat ons hoor of lees.  Dit bly by ons, leef in ons, word verwerk en …dalk vergeet.  Daarom is ons eie storie so belangrik.  Dit bly van kardinale belang om ons eie storie op te skryf en nie te vergeet nie, veral as dit God se Woord en God se gedagtes is wat ons lewe bepaal.  Hoeveel spesiale oomblikke van wonderwerke en uitkoms is vergete omdat ons dit nie neerpen nie?  Dit klein detail is verstommend.  

Dit was ‘n toevallige getuienis wat my ouma en oupa tot ‘n dieper lewe gelei het, toe hulle moes hoor dat daar mense is wat hande oplê en bid vir genesing.  Dit was ‘n vreemde gebruik daar ver op ‘n plaas, op daardie stadium nie gepreek of beoefen nie.  Toe my ouma dodelik siek is en die mediese moontlikhede maar vaag en hopeloos lyk, het sy onthou van die ou plaas-besoeker se opmerking oor sy broer se maagkanker.  Een of ander pastoor het vir hom gebid en nou is hy al terug by die werk.  Sommer net so – hoorsê oor honderde myle van ‘n onbekende mens.

Dis toe sy soek…en vind.  In ‘n kantoor in Johannesburg se middestad het ‘n pastoor sy botteltjie olie uitgehaal, haar gesalf en vir haar gebid.  Sy het beter geword, na ‘n paar weke heeltemal gesond en is eers twaalf jaar later aan iets anders dood.

Dit is die woorde waarmee ek groot geword het.  Toe lees ek van iets soortgelyk in die Bybel.  Ontspan gerus en blaai na 2 Konings 5 – die verhaal van Naäman en die slawe-dogtertjie se storie.  

Eers moet ons besef hoe ‘n belangrike man Naäman was – hoof van die leër van Aram (Sirië), ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet het en groot sukses in sy amp as “professionele” soldaat geniet het.  Hy weet van oorwinning, eerbetoning en die aansien wat hy in die hoogste kringe van sy land geniet.  

Maar hy is siek.  Nie sommer verkoue wat sal oorgaan nie.  Melaats – ‘n doodsvonnis met geen hoop op genesing nie.

In sy huis is ‘n slawe-dogtertjie uit Israel, wat sy soldate op een van sy groot oorwinnings van haar ouers en familie en alles wat bekend was, weggevoer het en onder dwang na sy land gebring het.  Hoe oud was sy?  Dalk selfs so jonk as tien of elf – ons weet nie, maar die Bybel noem haar ‘n dogtertjie.  Sy het al baie dinge geweet.  Sy het stories gehoor en haar stories het haar toegerus om vir ‘n koninklike amptenaar raad te gee.

Sy het geweet van Elisa en sy wonderwerke.  Sy het geweet dat siekte ‘n antwoord, ‘n oplossing in gebed het.  Dink net.  Sy het die hoorsê-getuienis oorgedra en die gevolge is ‘n hele hoofstuk in ‘n antieke geskrif.  Daar is ‘n profeet in Israel wat die antwoord op die onmoontlike het.

Daar is geen twyfel dat Naäman desperaat was.  Hy “gebruik” sy kontakte.  Hy gaan na die koning en die koning praat met die koning van Israel. Wat is beter as dit – konings praat oor Naäman se siekte en die oplossing word op die hoogste vlak gesoek…maar nie gekry nie.  

Naäman vertrek met ‘n fortuin in geskenke.  Lees maar in vers 5.  Tot die bewoording van die brief aan die koning van Israel word weergegee met geen melding van God of ‘n profeet.

Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

Die koning van Israel verval in paniek en sien die hele navraag as ‘n diplomatieke uitlokking tot oorlog.  Sy vrees vir die koning van Sirië verdof sy insig tot so ‘n mate dat hy al sy waardigheid verloor.  Sy klaaglied word ook opgeskryf:  Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”

Elisa hoor van die koning se ineenstorting.  Hoe?  Dit is duidelik die koninklike navraag en Naäman se nood is in die realm van God se beplanning, daar geplaas deur die getuienis van ‘n slawe-dogtertjie uit Israel (simbolies van die Koninkryk van God in die Nuwe Testament).

Elisa is nie beïndruk met sy eie koning se paniek en vrees nie.  Dit is duidelik in sy reaksie: Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is.”

Naäman kom met groot verwagting by Elisa aan.  Hy het gekry waarvoor hy gekom het – die profeet waarvan daar vertel is.  Nou begin dinge volgens sy beplanning verloop…of nie?

Sy verwagting word duidelik uitgespel. (Verse 11 en 12)

Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”

Elisa kom hom nie tegemoet soos hy verwag het nie.  Hy stuur ‘n boodskapper met sy “genesing-resep”.  Die profeet ignoreer sy aansien, sy posisie, sy status en al sy geskenke.  Niks wat Naäman ken en aan waarde heg “werk” hier by die befaamde profeet.  Hy word niks beter as een van sy bediendes behandel.  Hy sal dit nie vat nie!  Hy wip hom en ry weg.  Skielik is sy hele siekte en nood in trots en arrogansie opgeslurp en hy is bereid om huis toe te gaan sonder dit waarvoor hy gekom het.

Naäman se bediendes “red” sy missie.  Hulle is gewoond aan die gebrek aan protokol en ritueel in hulle eie nederige bestaan.  Weer is die woorde van die laagste in die samelewing die deurslaggewende faktor.  Hulle pleit by hom om die woorde van die profeet te gehoorsaam.

Die Jordaan was maar ‘n ou stroompie in vergelyking met die groot riviere van Sirië, maar die Jordaan was die rivier van die Koninkryk.  Dit was die rivier in die mond van die profeet.

Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. (Openbaring 22:1)

Naäman wil die opdrag van die profeet aanpas om hom te pas.  Hoekom sal die riviere van Sirië nie werk nie?

Dit is belangrik om te weet dat die mense van die antieke tyd geglo het dat gode territoriaal is.  Die volk van Israel was woedend vir Agab toe hy ‘n Baäl Tempel in Samaria bou op aandrang van sy vrou Jesebel.  Baäl het volgens hulle toegang verkry tot die gebied wat onder die God van Israel se heerskappy was.  Dit is eers tydens die ballingskap in Babel dat die volk besef het God is oral en steeds by hulle, selfs in die gebied van die afgode van Babel.

Die Jordaan is in Israel net soos die Rivier met die water van die lewe van Openbaring in die Nuwe Jerusalem, die Koninkryk van God is.  Die riviere van die wêreld het nie die water van die lewe nie, want hulle is nie in die mond van die profeet nie.  Die woorde wat die profeet uitspreek is kragtig en gehoorzaamheid is die sleutel.

Naäman is gehoorsaam – uiteindelik – seker dikbekkerig en vol weersin, maar hy pak die proses aan.  Sy genesing is nie ‘n kits “swaai van die arm” soos hy verwag het nie.  

Sewe keer – die volmaakte getal.  God se Plan, nie jou verwagting nie.  Die volmaakte proses om jou genesing te werk.  Sal jy jou onderwerp aan die proses, die groter wonderwerk van innerlike transformasie net soos die hoofletter ego van Naäman moes buig voor die woorde van die profeet?

Sekerlik het sy bui gesak teen die sewende keer.  Sy vernedering was volvoer.  Sy genesing het uitgespruit en in sy nederigheid, die vrug van die proses, gaan hy weer na Elisa met sy eie woorde van krag en bekering.

Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. 

En toe wil hy betaal.  Hy het tog nie al die goud en silwer verniet saamgedra nie.  Is daar ietsie van sy eie plan nog oor?  

Dit sal ons volgende keer bespreek.


Lewer kommentaar