Die nasies is vir Hom soos ‘n druppel aan ‘n emmer, soos ‘n stoffie op ‘n skaal. As Hy die eilande op ‘n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies.
Al die nasies is soos niks teenoor Hom, hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie. (Jesaja 40:15,17)
Die “sake van die nasies” wat mens daagliks in die nuus soos ‘n vuishou tref, is een van die moderne lewe se grootste uitdagings. Dan is daar natuurlik die moontlikheid om kommentaar te lewer op verskeie sosiale media platforms. Opinies vlieg rond soos warrelwinde van grimmigheid en ontevredenheid, met klagtes en katterigheid wat die stof opjaag en gewone rasionele denke verdof.
Mens kan ook maklik verstrik raak in die “sonde van die nasies” wat uiteindelik maar alles oor mag, seks en geld gaan. Ongelukkig is die sonde en die sake van die nasies nie beperk tot die politiek op globale en nasionale vlak nie. Kerke en kerklike organisasies “ding mee” om die kwaadpraat en kwaaddoen van boosheid en vernietiging aan te hits. Die skandale van die denominasies is te veel en te vinnig en kan mens in swaarmoedigheid laat verval. Is daar dan geen verskil tussen die sogenaamde Christelike kerke en die gruwels van die wêreld?
Ek moet myself dikwels troos dat God in beheer is en dat die ware Kerk van Christus die onsigbare liggaam van ons geliefde Jesus is. Die Koninkryk van God ly nie aan ‘n leierskap-krisis soos dit wat mens om jou waarneem nie. God is koning, Hy is die Koning van die konings – ou Hebreeus se intensiewe vorm. In die daaglikse modderpoel van kerk-skandale en politiek is dit nodig om te was. Ons “bad” is water van die Woord. (Efesiërs 5:26)
God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon. (Psalms 47:9)
Hy maak nasies groot en laat hulle omkom; Hy brei nasies uit en voer hulle weg. (Job 12:23)
Die Here vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke. (Psalms 33:10)
Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? (Psalms 2:1)
Kom ons kyk weer na die Skrif in Jesaja 40. Die nietigheid van die nasies was ‘n groot troos op ‘n stadium toe die politiek van ons land teleurgestel het, met demokrasie wat sy loop neem en die “verkeerde” mense aan bewind bring.
Dit was goed om te hoor dat die nasies ‘n stoffie op die skaal is, ‘n druppel aan die emmer. Ek het gejuig dat God in beheer van my lewe is en die “stoffies” tot my voordeel sal rig. Meer nog… ek het gelees van ‘n skaal. As die nasies ‘n stoffie is, wat maak eintlik saak op die skaal. Hoe vind die skaal balans?
Waaraan dink ons as ons dink aan ‘n skaal? Die vierkantige, voet-grootte badkamerskaal met syfertjies wat heen en weer draai of ‘n digitale blokkie wat die lotgevalle van jou eetgewoontes bepaal? Of dink jy aan die bekende simbool van die Reg van ‘n vrou met ‘n blinddoek wat die skaal van argumente hanteer?
Die Bybel het baie te sê oor skale. Meeste verse gaan oor oneerlike skale wat die kern van finansiële en handel-transaksies was. Dit was ook een van die gruwels van uitbuiting by die geldwisselaars in die Tempel wat Jesus se woede in ‘n daad van vernietiging omskep het.
In Openbaring lees ons van die swart perd, simbolies van die ekonomie. Die ruiter hou ‘n skaal vas wat dui op skaarste en betaling. Die kommoditeite word geweeg en gewaardeer om geldwaarde te bepaal. Dit is die wêreld se manier.
God is ‘n God van oorvloed. Hy laat jou beker oorloop (Psalms 23) en voorsien met ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol. (Lukas 6:38)
Maar as die nasies stoffies op die skaal is, dan is daar ‘n skaal. As ons dink die nasies is belangrik en vir God die stoffies is, wat beslis geen verskil aan die balans van die skaal sal maak nie, wat sal die skaal laat tiep?
Uit God se perspektief is sy liefde vir die mens en die Koms van sy Seun die uitstaande gewigtige sake van elke dag sedert die Skepping. Dit is die kern van alles wat ons is en verstaan.
Die Kruis van Jesus aan die een kant van die Skaal kan net uitbalanseer met die siele van mense. Dit is die Skaal van Saligheid – die groot Plan, die uiteindelike oplossing van alles en die hoogtepunt van die gehele geskiedenis van die mens.
Dit is die groot gedagte, maar wat van my elke dag se stryd en sonde te midde van die boosheid en gebrokenheid van alles om my?
God se skaal werk in alles.
U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer;
U het ons in ‘n net gevang, ‘n swaar las op ons gelê;
U het ons deur mense laat vertrap, ons het deur vuur en water gegaan;
maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe. (Psalms 66:10-12)
In elke beproewing aan die een kant van die skaal word ons uitgelei na oorvloed wat God voorsien. Dit is IN die vallei van doodskaduwee waar die feestafel gedek word en die beker oorloop. (Psalms 23)
Dit is in die stryd waar ons God se karakter van getrouheid en liefde ervaar. Die skaal is regverdig en perfek gekalibreer na die behoefte en vermoë van elke geliefde individu wat sy lewe in God se Hand plaas. Dit is nodig dat ons opkyk en met ‘n hemelse perspektief na ons rykdom van beloftes uitreik, sodat ons kan sien dat God se skaal nooit onregverdig gestel is. Hy hou dit in sy Hand en Hy is nie geblinddoek nie. Sy oog is op jou.
Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou. (Psalm 32:8)